7 April: God luister… die eerste keer. – Jan van der Watt

Luk 18:1-17 (fokus 18:9-14)

Die Here is nie doof nie – Hy kan goed hoor.

In hoofstuk 18 vertel Jesus die storie van ʼn vrou wat aanhou neul het tot die landdros dit nie meer kon hou nie. Hy het uiteindelik gedoen wat sy gevra het, net om van haar ontslae te raak. Baie mense lei uit hierdie storie af dat ons God se arm moet bly draai tot Hy ingee. Dit is egter nie wat Jesus hier sê of bedoel nie. Kyk mooi, die punt van die gelykenis is dat God juis nie soos daai landdros is nie. Hy is anders. Jy hoef Hom nie te smeek of te soebat om na jou te luister nie. Nog minder hoef jy Hom te probeer manipuleer of te forseer. Hy hoor jou die eerste keer.

Luister maar na die tollenaar in 18:13. Toe Hy opreg in ʼn smeekgebed sy hand na die Here toe uitsteek, het die Here dit gevat en sy lewe nuut gemaak. Die Fariseër, aan die ander kant, se gebed is ook gehoor, maar nie verhoor nie – hy wou God manipuleer, asof God hom iets sou skuld. Daarom druk hy lyste vol van sy eie prestasies in God se hand met die hoop dat dit God sou beïndruk. Maar so werk gebed nie.

Jy hoef God nie te probeer beïndruk of te probeer manipuleer in gebed nie. Kom soos jy is en sê opreg wat jy wil sê. Hy luister.




6 April: Jy sal niks vir die Here kan wegsteek nie. – Jan van der Watt

Luk 17:20-37 (fokus 17:20-37)

ʼn Verkoopsman klop eendag aan ʼn huis en ʼn tiener maak oop – die musiek weergalm, oral staan vuil borde en ʼn sigaret hang uit sy mond. “Is jou ma by die huis?” vra hy. “Wat dink jy?” vra die tiener.

Ons maak ook baie so – as ons dink niemand sal weet of ons herken nie, laat ons ons maskers val. Dit is asof ‘n mens vergeet wat eintlik van hom verwag word en dan doen hy dinge wat eintlik nie regtig “hy” is nie. Die versoeking is veral groot op plekke waar ons dink mense ken ons nie – as ons op reis is, of anoniem in ʼn groot winkelsentrum stap of agter die stuurwiel van ons kar ons humeur verloor.

Soos daai verkoopsman sal die Here ook onverwags aan ons deure kom klop. Dan sal ons niks kan wegsteek nie. Daarom moedig die Here sy mense aan om hulle lewenshuise reg te hou. As gelowige moet jy nie skaam wees as die Here skielik kom aanklop nie, of jy nou in ‘n kar sit of in ‘n winkelsentrum stap.




5 April: Verkeerde verwagtings versuur jou lewe. – Jan van der Watt

Luk 16:19-17:19 (fokus 17:7-10)

Ons verwagtings is die inkleurkryt van ons lewens. Jou lewe gaan altyd ingekleur word deur wat jy van die lewe, mense, of God verwag.

Kyk maar na Luk 17:7-10. ʼn Werker swoeg die hele dag lank en word dan aan die einde van die dag boonop nog kombuis toe gestuur om kos ook te gaan maak. As die werker verwag het dat sy baas eers vir hom ʼn koppie koffie en leunstoel moes aandra, sou hy baie ongelukkig gevoel het. Tog het hy nie gekla nie – as die “werker” het hy geweet hy moes die kos ook maak. Dis sy werk. Daarom is dit nie vir hom ‘n verrassing nie. Omdat hy die regte verwagtings gehad het, was hy tevrede.

Net so is dit met jou lewe. Wat jy van die lewe verwag, bepaal jou houding teenoor die lewe. As jy dink die lewe skuld jou iets, gaan jy altyd ongeduldig en selfs ongelukkig voel. Dieselfde geld vir jou godsdiens. God is wel goed vir jou, maar jy moenie jou lewe inkleur met die verwagting dat Hy jou die hele tyd moet bedien of jou iets skuld nie. Dan gaan jy gedurig ongelukkig wees omdat God nie doen wat jy wil nie. So sal jy God die “slaaf van jou verwagtings” maak en dit mag nooit gebeur nie. Teleurstelling is dan jou voorland.

Verkeerde verwagtings van God sorg vir ʼn verkeerde houding teenoor die lewe – jy moet liewer jou lewe inkleur met wat God van jou verwag: om Hom voluit te dien.




4 April: Moenie te veel na geld ruik nie. – Jan van der Watt

Luk 16:1-18 (fokus 16:1-18)

Elke munt het twee sye, sê die spreekwoord.

Sonder geld is ons verlore; vra maar vir iemand wat nie geld het nie. Ons almal het al agtergekom hoe belangrik 50c is as ons dit nie het nie. Geld het ʼn baie positiewe sy.

Maar geld kan ons lewens ook bevoeter, veral as dit ons baas raak. As geld ons baas op ons lewenspad word, beheers dit sommer ook al ons ander verhoudings. By die werk gaan dit net oor geld, by my vriende gesels ons daaroor… oral is dit net geld. Miskien ly ons familie die meeste, want hulle moet die hele tyd hoor hoe duur goed is, hoe hard jy moet werk en dat geld nie aan bome groei nie. Soos as ons te veel knoffel geëet het, is die gevaar dat ons nie agterkom dat ons so na geld “ruik” nie. Ander ruik dit eerste, omdat hulle eerste agterkom hoe my verhoudings met hulle in die mag van geld vasdraai.

Iets waaraan die Bybel ʼn mens altyd herinner is dat jy die een is wat die keuses maak, ook as dit by geld kom. Of jy geld gaan gebruik en of geld jou gaan gebruik, hang van jou af. Kies reg.