10 Februarie – Geniet die Sabbat. – Jan van der Watt

Mark 2:13-28 (fokus 2:23-28)

‘Jesus onderstreep toe weer: “God het die sabbat vir mense gegee om te geniet soos God dit bedoel het. Mense moenie allerhande reëls maak om die sabbat ’n belangriker dag te probeer maak as wat dit is nie. Dit gaan in die eerste plek oor mense en nie oor die sabbat nie. Die Seun van die mens het volle seggenskap oor die sabbat.’ (2:27)

 

Moenie die Here se Sabbat steel nie… dit is syne wat Hy vir jou gegee het om te geniet. Moet dit dus ook nie mors nie.

In 2:27 verduidelik Jesus wat Hy bedoel. Dit gaan nie eintlik oor die dag nie, maar oor jou as mens en hoe jy die dag tot eer van die Here geniet. So wou Hy die fout van die Fariseërs regmaak. Hulle het die Sabbat verkeerd verstaan: Hulle het die Sabbat so vol reëls gepomp dat kwalik nog vir ‘n mens ‘n plekkie oorgebly het om te lewe. Hulle het skoon vergeet waaroor die dag eintlik gaan.

Die Sabbat is daar om te lewe; vir God te lewe en dit te geniet ook. Die Here wil jou uit jou alledaagse sloer uithaal en jou weer kans gee om raak te sien hoe lekker dit is om voluit vir Hom te lewe. Hy wil hê jy moet net weer ‘n slag rondom jou kyk na wat Hy alles vir jou gee om te geniet. Daarom is daar  iets van ‘n uitbundigheid, ‘n lewendigheid in die Sabbat.

Die Sabbat wil jou nie in reëls toesluit nie, maar jou vrylaat in God se goedheid en genade. Dit wil jou saam met God laat feesvier en laat geniet wat Hy vir jou gee.

Dit is lekker om eenmaal ‘n week herinner te word aan die genot van die lewe saam met God. Die Sabbat is eintlik die lewe wat wink. Om die waarheid te sê, dit wil jou eintlik leer hoe om elke dag van jou lewe te leef.

Moenie die Sabbat van die Here “steel” deur nie te geniet wat Hy jou gegee het nie.




9 Februarie – Maak die regte keuses. – Jan van der Watt

Mark 1:29-2:12 (fokus 2:1-12)

 Jesus vra hulle toe: “Wat is die maklikste om vir die lam man te sê: ‘God vergewe jou sonde’ of ‘Vat jou matras en loop?’ Om dit egter te laat gebeur is heeltemal ’n ander saak. Julle weet dat iemand net sonde kan vergewe as hy die mag het om dit te doen’ (2:7)

 

Slim mense sê dat ‘n mens se brein vol ‘voetpaadjies’ is. Sê nou jy het ‘n probleem en jy  moet oor iets besluit. Jou brein loop dan ‘n ‘pad’ om daai besluit te neem. As jy weer voor so ’n probleem kom, vat jou brein sommer dieselfde pad, want hy voel hy ken mos die pad. As jou brein dus ‘n paar maal op dieselfde pad loop as iets met jou gebeur, word dit ‘n gewoonte – dan word dit soos ‘n voetpaadjie in jou brein. Jou brein word gewoond dat as daardie vraag of probleem opduik, is daardie die pad (keuse) om te loop. Ja, as dieselfde ding weer met jou gebeur dink jy eintlik nie eers meer mooi nie… jy vat sommer die gewone uitgetrapte voetpad. So vorm gewoontes. En dit is nie altyd so maklik om daardie voetpad te laat toegroei nie.

Sondige gewoontes werk net so. Om ‘n ou klein witleuntjie te vertel, lyk nie gevaarlik nie en dit werk miskien goed om my uit ‘n moeilike situasie te kry. Volgende keer gaan dit makliker en uiteindelik gebeur dit sommer outomaties dat ek in moeilike situasies leuns in alle rigtings vertel. Jy doen dit later sonder om eers mooi na te dink oor waarmee jy besig is… die voetpad lê daar!

Om onsself te help, moet ons dink voor ons doen; moet ons die mag van slegte gewoontes breek. Jy moet die verkeerde voetpaadjies laat toegroei en nuwe, ja, regte voetpaadjies uittrap. Jy moenie dink jy gaan die sonde uitoorlê as jy daai verkeerde voetpaadjies net so los nie. Jou voete sal maar altyd daai pad wil vat. Hulle gaan uiteindelik dongas word waaruit jy nie sal kan kom nie. Maak hulle betyds toe…

Jesus kan jou nogal help om nuwe paadjies uit te trap. Volg net die aanwysings wat Hy vir jou lewe gee.




8 Februarie – Moenie vir koue pampoen skrik nie. – Jan van der Watt

Markus 1:1-28 (fokus 1:1-13)

‘Satan wou kyk of Hy Jesus iets kon laat doen waarvan God nie hou nie.’ (1:13)

 

‘n Engel van die Here verskyn eendag onverwags aan ‘n vroom man. “Skrik jy nie eers nie?” vra die engel toe hy so skielik voor die man staan. “Nee, ek skrik net vir lede van die vyand se span”, sê die man. In ‘n sekere sin is dit waar, en in ‘n sekere sin ook nie.

  • Die duiwel is niemand se speelmaat nie en daarom moet ons maar skrikkerig versigtig wees as ons sy reuk naby ons optel. Dit voorspel gewoonlik niks goeds nie. Ons moet dus skrik as ons agterkom dat hy naby ons is. En daar is goeie rede voor. Die duiwel het die geneigtheid om so onskuldig te lyk dat jy eintlik voel jy wil van hom hou. Maar die oomblik dat jy dink dit is veilig, is jy in sy kloue. Dit is baie keer hoe sonde werk: as ons geweet het wat die gevolge sou wees van wat ons doen, sou ons dit waarskynlik nie gedoen het nie.
  • Maar aan die ander kant hoef ons glad nie bang te wees vir die duiwel nie, want Jesus is daar. En Jesus het die duiwel klaar ‘n deeglike pak slae gegee. In 1:13 lees ons dat al probeer die duiwel sy bes, hy niks kan regkry as Jesus naby is nie. Ons moet die duiwel nooit te veel krediet gee asof hy so vreeslik sterk is nie. As hy langs Jesus staan, lyk hy na niks anders as ‘n verloorder nie – en dit is hy ook. Ons moet versigtig wees vir hom, maar moet hom nooit sterker maak as wat hy regtig is nie.

Jou pad gaan verseker vandag met dié van die duiwel kruis. Jy hoef nie te skrik as Jesus by jou is nie, want die duiwel hou nie daarvan om naby Jesus te kom nie. Jy moet wel skrikkerig wees, want hy gaan jou probeer uitvang, soos wat hy met Jesus probeer doen het.




7 Februarie – Jesus maak jou nuut. – Jan van der Watt

Mat 27:57-28:20 (fokus  28:16-20)

 Ek wil hê julle moet iets vir My doen: die wêreld is nou julle sendingveld. Gaan oral na almal toe en daag hulle uit om My sonder enige voorwaarde of verskonings te volg.’ (28:19)

 

‘n Familie van ‘n ver plaas af kuier op ‘n keer in die stad. In ‘n hotel sien die pa ‘n ou vrou by ‘n hyser instap. ‘n Minuut later stap ‘n pragtige jong vrou uit dieselfde hyser uit. “Wag net ‘n bietjie”, sê hy vir sy seun, “Ek wil net gou vir Ma deur daai masjien sit”.

Dit is nogal ‘n masjien om van te droom: ‘n masjien wat jou jonk maak en nuut maak; ‘n masjien wat jou nuwe lewe gee. Dit is eintlik wat gebeur as jou pad met Jesus s’n kruis. Jy kry nuwe lewe. Eenvoudige vissermanne word mense met ‘n roeping om die goeie nuus die wêreld vol te gaan vertel (28:19-20). Mense wat self niks het om te gee nie, word die draers van God se skatte; sondaars word Godskinders…

Daai vrou het jonger uit daai “masjien” uitgestap. Sy het méér lewe gekry. Om uit die “hyser van God” te stap beteken ook om méér en voller te kan leef. As jy uit God se “hyser” uitstap wag God vir jou met uitdagings en avonture. Uitdagings om te gaan uitdeel, te gaan vertel, te gaan versorg. God wil jou gebruik om regtig ‘n verskil te gaan maak. In ‘n sekere sin gee God nie die nuwe lewe vir ons om lekkerder te leef nie – dit ook – maar eintlik om ander te help om ook lekkerder te leef. Meer nog, om hulle te help om daardie lekkerder lewe te ontdek.

Ja, God wil hê jy moet die een wees wat ander mense van “God se masjien” te gaan vertel… sodat hulle ook nuut kan word.