2 Februarie – Wees gereed!. – Jan van der Watt

Mat 25:1-30 (fokus 25:1-13)

Julle moet nou nie dieselfde fout maak as hierdie vyf wat nie gereed was nie. Wees altyd gereed vir die koms van die Here! Hierdie waarskuwing is belangrik, omdat ons nie presies weet wanneer Hy gaan kom nie. Dit bly ’n verrassing.’ (25:13)

Het dit jou nie ook dalk gepla nie… die ding met die arme meisies wat so graag die troue wou bywoon en nie toegelaat is nie? Dit alles net omdat hulle olie opgeraak het en hulle wou goed doen – hulle het nog olie gaan haal om nie met dooie lampies die bruidegom te ontmoet nie (25:11-12). Kon die bruidegom nie maar net die sleutel gedraai en die deur oopgemaak het nie? Wat sou dit hom gekos het?

Maar tog moet ‘n mens besef hierdie storie nie oor die bruidegom gaan nie, maar oor die meisies, ja eintlik oor ons. Die meisies het geweet die bruidegom kom, maar het nie moeite gedoen om gereed te wees nie. Hulle het gedink ander dinge is belangriker as om hulle lampies vol te maak. Toe was hulle nie reg toe hulle reg moes wees nie. Dit is die fatale fout wat hulle gemaak het. En die fout kom met ‘n  ongenadiglike harde boodskap – die Here kom net een maal en as Hy kom moet jy reg wees, anders mis jy Hom. En ons ken nie sy tydtafel nie. Hy kan enige tyd kom en wag nie tot jy eendag reg is nie. As jy nie reg is nie stap Hy verby en is dit dalk vir jou neusie verby.

Watter opsies is daar dus vir jou? Net een: wees gereed! Anders is dit dalk te laat.




1 Februarie – Die Here kom weer!. – Jan van der Watt

Mat 24:29-51 (fokus 24:37-44)

Dit is nie presies seker wanneer die Seun gaan kom nie, maar wanneer dit gebeur, moet julle reg wees.’ (24:44)

 

Die vroeë Christene het mekaar soms gegroet met ‘n Aramese woord “Maranata”. Dit was bietjie dubbelsinnig, want afhangende van hoe ‘n mens die woord uitspreek, kan die woord beteken: “Die Here kom” of “Here, kom!” So het hulle mekaar elke dag herinner dat die Here enige dag kan kom; meer nog, dat hulle ook daarna uitsien dat die Here gou moet kom.

Met daardie verwagting moet ons as Christene vandag ook leef… wagtend op die Here wat enige tyd weer kan kom. En as Hy kom moet Hy jou op die regte plek kry en moet jy met die regte dinge besig wees. Ja, jy moet reg wees as die Here weer kom (24:45-47).

Die besef laat ‘n mens anders na die lewe kyk. Wat jy elke dag doen moet al klein stukkies hemel hier op aarde wees… stukkies ‘hemel’ omdat elke ding wat jy doen die Here bly behoort te maak. Dit moet een toets deurstaan: sal die Here gelukkig wees as Hy kom en Hy kry my hiermee besig? Sal Hy saam met my oor die grappie kan lag wat ek besig is om te vertel, of sal hy tuis voel op die plek waar ek op daardie oomblik is?

En dit laat ‘n mens anders dink oor wat jy doen en sê, want as jy die toets deurstaan is jy gereed… Dan kan jy ook ander groet deur elke dag te sê: Maranata!




31 Januarie – Die Here se voetstappe is oral. – Jan van der Watt

Mat 23:29-24:28 (fokus 24:1-14)

[Hierdie dagstukkies kom uit ‘n dagboek geskryf deur Prof Jan van der Watt. Hy maak gebruik van Die Boodskap. Dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.]

Dan sal die einde van hierdie wêreld kom. Dit sal natuurlik ’n nuwe begin vir elke gelowige beteken’ (24:14)

Toe iemand eendag in ‘n argument sê dat ons die bestaan van God nie kan bewys nie, want ons kan Hom nie sien nie, het ‘n ander een gesê: “Ons kan Hom miskien nie sien nie, maar ons kan sy voetstappe hoor”. En dit is waar. Luister net…

Ons hoor sy voetstappe elke dag rondom ons. Party is hard en ander is sag. As Jesus in Mat 24 byvoorbeeld praat van die “tekens van die tye”, praat hy van oorloë, aardbewings, swaarkry en sulke dinge. Dit is nogal harde voetstappe. Hierdie is nie “spesiale” dinge wat net aan die einde van die tyd voorkom nie – dit het deur al die eeue heen nog gebeur, omdat God nog altyd daar was. Dis so algemeen en alledaags – tog is dit die tekens van God wat weer sal kom.

Dit is verstaanbaar: as ‘n mens in ‘n aardbewing staan, of bomme val op jou, besef jy wie jy regtig is: ‘n magtelose spikkeltjie in ‘n baie groter heelal. Daar is groter magte wat die heelal beheer en daarvan vertel die ‘tekens van die tye’. Dit mag alledaags wees, maar dit is groter as jy… en juis dit herinner jou aan die werklikheid wat groter as jy is. Daarom herinner dit jou aan God. So weerklink sy teenwoordigheid in jou ore. Party mense kan dalk maak asof Hy nie daar is nie, maar sy voetstappe kan jy nie stilmaak nie.

Die vraag is of ‘n mens jou daaraan steur?




30 Januarie – Moenie speel nie, wees opreg. – Jan van der Watt

Mat 23:1-28 (fokus 23:23-26)

Sowaar, julle is soos iemand wat die buitekant van ’n skottel silwerskoon maak maar dit binne-in net so vuil los. Dit is vir julle baie belangrik hoe mense van buite lyk… Sorg eers dat die binnekant mooi skoon is.’ (23:25-26)

Miskien het jy al die storie gehoor: Toe ‘n outjie uit ‘n boom val skreeu hy: “Here help!” Skielik hak ‘n tak sy broek en hy besef hy kan nou self regkom. Toe sê hy: “Toemaar Here, ek het reggekom”.

As daar nou een ding is waarvan die Here niks hou nie, is dit speletjies… godsdiensspeletjies.   As jy die Here nodig het, moet Hy dáár wees. Maar as alles goed gaan, kom jy sommer maar self reg (of so dink jy miskien). Dit is regtig soos ‘n speletjie wat jy met God speel… en ek dink ons kan die speletjie ‘kom as jy nodig is’ noem. Wie hierdie soort van godsdienstige speletjie speel verstaan nie dat godsdiens beteken nie: God het jou vriend geword met wie jy in ‘n intieme verhouding staan. Jy kan Hom nie sommer roep of wegstuur soos jy wil nie. Dit het nie vir die Fariseërs gewerk nie en dit sal ook nie vir ons werk nie (23:27-28).

Twee van die pilare waarop os verhouding met God staan is eerlikheid en opregtheid. God speel nie speletjies met ons nie. Hy het ons opreg lief en stel nie net partymaal in ons belang nie. Daarom wil Hy ons hand vat… elke dag en vir altyd.

Vat ook die Here se hand in opregtheid en eerlikheid. Wees opreg met die Here: as jy twyfel, praat eerlik met Hom… Hy luister. As jy onseker van iets is, sê dit ook opreg vir Hom… Hy sal verstaan. Onthou, die Here wil jou hê soos jy is, maar dan die regte jy… ja, die opregte jy! En Hy wil jou nie net partymaal hê nie.

‘n Mens mors eintlik jou godsdiens op as jy speletjies speel, want jy vergeet die meeste van die tyd dat God by jou is.