25 Januarie – Moenie met sonde speel nie – dit vreet jou dalk op!. – Jan van der Watt

Mat 19:16-20:16 (fokus 19:16-30)

‘Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik’ (19:26)

Iemand vra eendag wat van Noag se ark geword het. “Wel”, kom die antwoord, “hy het seker die twee termiete in die ark vergeet”. So is dit met sonde. Ons moet dit nie op die verkeerde plek vergeet nie, want dan vreet dit alles op.

Die dilemma met sonde is dat dit aan die begin so onskadelik lyk. Kyk na ‘n termiet: jy kan dit tussen jou vingers stukkend druk, maar dit is tog instaat om ‘n ark op te vreet as jy dit net ‘n kans gee.

Die ryk jongman het alles gedoen wat reg was (19:20). Jesus het egter die termiet in sy lewe raakgesien en dit vir hom gewys (19:21-22). Hy was lief vir geld, wat op sigself nie verkeerd is nie, behalwe as jy te lief raak daarvoor en dit jou lewe begin beheers. En dit is wat met die jongman gebeur het. Hy was té lief vir geld en dit het sy lewe so opgevreet dat daar niks vir Jesus oorgebly het nie.

Na sy gesprek met Jesus is hy daar weg met termiet en al – en ons hoor nooit weer van hom nie. Soos die ark het hy verdwyn.

Sulke termiete kom skelmpies en ongemerk. En daar is nie net een soort nie. Sonde kom op baie maniere. En die termiet weet hy het gewen as hy ons hoor sê: ‘Ag nee wat, dit is nie so erg nie’.

Moenie met die termiete in jou lewe speel of hulle onderskat nie. Dit is maar net aan die begin dat hulle so onskadelik lyk. Speel liewer met hulle klaar terwyl jy nog kan. En die goeie nuus is: Jy hoef dit nie alleen te doen nie… vir God is alles moontlik!




24 Januarie – Vergifnis is bitter-soet. – Jan van der Watt

Mat 18:21-19:15 (fokus 18:21-35)

 Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?” Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer (18:21-22)

 Mark Twain het op ʼn keer gesê vergifnis is soos die geur van ʼn blom op die hak van die een wat dit stukkend trap. En hy was reg – vergifnis is altyd bitter-soet.

Vergifnis is bitter omdat vergifnis na seerkry kom. Dit is soet, omdat vergifnis genees wat seergekry het. Maar as dit by ware vergifnis kom, is dit die soet wat in die lug bly hang.

Dit is bitter, omdat vergifnis vra dat die een wat seergekry het van homself af moet wegkyk, ja, van homself moet vergeet. Soet, omdat jy deur iets van jouself op te offer, jy iets terugkry – die persoon wat jy vergewe. Vergifnis maak wat stukkend gegaan het heel. Dit sit hande wat uitmekaar geglip het weer inmekaar.

Dit is bitter, omdat vergifnis ʼn mens altyd aan realiteit van jou eie gebrokenheid herinner. Soet, omdat daar is iets goddeliks aan vergifnis is – om soos God nie die verkeerde teen iemand te hou nie. Dit gee jou die kans om telkens weer oor te begin met die lewe en geleenthede wat God jou gegee het.

Dit is bitter, omdat vergifnis van iemand wat nie regtig jammer is nie, is soos om ʼn prentjie op water te teken. Dit verdwyn in die golfies wat teen die rant van die prentjie stukkend slaan. Soet, omdat vergifnis wat aanvaar word die oorwinning van genade vier, genade wat seermaak toemaak.

Die Bybel se raad is goeie raad: Kyk verby die bitter van die hak wat trap ter wille van die soet van die blom daarna.




23 Januarie – Laat ons dinge uitpraat!?. – Jan van der Watt

Mat 18:1-20 (fokus 18:15-20)

‘As ’n ander gelowige jou op die een of ander manier sleg behandel het, dan moet jy die saak alleen met hom gaan uitpraat’ (18:15)

Help uitpraat regtig? Ek wonder.

Daar is mense wat op grond van Mat 18:15 gedurig alles wil uitpraat. As hulle met iets ontevrede is dan moet dit nou ‘uitgepraat’word. En dit gaan nou nie oor gesonde saampraat wat ‘n eerlike oplossing vir die probleem soek nie. Dit gaan oor mense wat agter die Bybel wil wegkruip om hulle gevegte voort te sit. Die arme ou teenoor wie hulle dan gaan “uitpak” is dikwels totaal uit die veld geslaan om te hoor wat die “uitpakker”, of is dit nou “uitvreter?”, van hom dink en wat hy alles verkeerd sou gedoen het. En dit maak baie keer nog dieper seer. Die “ons is mos nog vriende want ons is Christene” aan die einde van so ʼn uitvreetsessie is dikwels meer skynheiligheid as iets anders, want die kanse vir daardie verhouding om reg te kom, is maar skraal. Dan liewer maar in stilte vergewe en vergeet. ‘n Mens kan in alle geval dikwels baie meer regmaak met dade as met woorde.

Mat 18 sê juis die teenoorgestelde – dit sê eerder dat ons alles wat ons kan, moet doen om verhoudings te beskerm en te bewaar. Ons verhouding met ons broers en susters moet oop, eerlik en liefdevol wees. Dit moet juis hierdie openheid en liefde wees wat dit moontlik maak om dinge opreg met mekaar te bespreek. In so gesprek is daar nie verrassings wat seermaak nie, maar ʼn eerlike soeke na mekaar… nie om uit te vreet nie, maar om te mekaar te vind.

As daardie openheid en liefde nie daar is nie… wees dan liewer maar versigtig met die uitpratery.




22 Januarie – Moenie aanstoot gee nie. – Jan van der Watt

Lees: Mat 17:1-27 (fokus 17:24-27)

 Maar ons moenie hierdie mense aanstoot gee nie (17:27)

 In 17:24-27 leer Jesus ons ʼn interessante les. Terwyl Jesus-hulle eendag so gesels kom dit uit dat Jesus eintlik nie aan sy Pa se huis, die tempel, belasting hoef te betaal nie, want ‘n kind betaal mos nie belasting aan sy pa nie. Tog betaal Jesus dit. Hoekom? En dit is die les: Om nie mense aanstoot te gee nie. Jesus doen liewer wat Hy nie hoef te doen nie, net om nie mense onnodig seer te maak nie.

Hier kom ons by ʼn grysgebied. Wat is die verhouding tussen wat ons volste reg is om te doen en die belange van ander (al is hulle verkeerd)?  Dit lyk of Jesus die antwoord soek met ‘n tweede vraag: wat gaan die meeste skade veral aan ander doen? Probeer dit agterkom en jy het die antwoord. Om belasting te betaal gaan niemand regtig skade doen nie. (Die geld kom buitendien van God af en daarom kan ‘n mens dit maar vir God teruggee, soos die visstorie vertel – 17:27). Aan die ander kant, om nie te betaal nie, gaan net moeilikheid veroorsaak. Jesus kies liewer die pad wat nie ander aanstoot gee nie, al vra dit van iets Hom.

Reg is dus nie altyd reg nie, nie as dit ander skade kan aandoen nie. Jesus was dus reg om op hierdie punt sy regte prys te gee, want dit was ter wille daarvan om nie aanstoot te gee nie.

Dit is egter nie die einde van die saak nie. Wanneer is die regte van ander so buitensporig dat jy liewer moet doen wat vir jou reg is, al beteken dit dat jy aanstoot gee? Wanneer ander se regte God se regte begin eenkant toe skuif. Jy moet ander nie aanstoot gee nie, maar God nog minder.