13 Januarie – Volg Jesus, eerlik!. – Jan van der Watt

Lees: Mat 10:22-11:19 (fokus: 10:34-42)

Jesus sê: ‘Ek het nie gekom om almal net te paai of tevrede te hou nie. My boodskap maak ook vyande.’ (10:34)

ʼn Ongeskikte vrou vra ʼn groentewinkeleienaar vir ʼn halwe kopslaai. Hy verduidelik dat hulle nie eintlik slaai in die helfte deel nie, maar sy hou vol. Hy stap na sy assistent toe en sê: “Gee vir daai ongeskikte ou vrou ʼn halwe kopslaai”. Toe hy omdraai staan die vrou reg agter hom. Vinnig sê hy toe: “En geen die ander helfte vir hierdie pragtige dame”. Wat maak dit van die man? Wel, ʼn mens sou baie dinge kon sê, maar ‘eerlik’ is nie een van hulle nie.

Christene kan ook maar baie keer so lyk – ons kan ons passies baie vinnig verander: nou ʼn Christen en netnou nie. Ons verander maklik ons storie, hang net af wie agter ons staan. Dit is nie hoe Christenskap lyk nie en as dit is hoe ons gaan optree gaan God se ‘winkel’ in hierdie wêreld toemaak by gebrek aan ‘verkoopsmanne’. Ons kan nie uit twee monde praat nie en ook nie met wit leuens alles probeer toeverf nie. Ons Christenskap vra van ons om eerlik te wees, al gaan dit ons maar ongewild maak. Christenskap is ʼn keuse om ʼn pad te loop – en as ons daardie keuse gemaak het, moet ons daardie pad reguit en eerlik loop.

Ons moenie sê ons is nie gewaarsku nie. Die Here het uit sy pad uit gegaan om vir ons te sê dat ons somme moet maak: ons moet mooi uitreken of ons bereid is om deur dik en dun by Hom te staan, want dit gaan nie altyd maklik wees nie (10:34-37). As ons ons berekeninge gemaak het en besluit het om die pad saam met Hom te loop, moet ons dit eerlik en opreg doen sonder om elke nou en dan ʼn ander storie te hê.

Dit is jou keuse.




12 Januarie – Jy, ʼn sendeling. – Jan van der Watt

Lees: Mat 9:27-10:21 (fokus: 10:1-5)

 ‘Gaan vertel hulle van God se nuwe wêreld wat hier is. Gebruik die toerusting wat Ek vir julle gegee het.’ (10:7)

 Die woord “sendingwerk” laat ons gewoonlik aan beelde dink van verre lande met snaakse name, mense met vreemde tale en klere, tropiese woude waar dapper Christene tussen steekvlieë en muskiete die Evangelie verkondig.

Eintlik beteken die woord baie meer as dit: die sendingveld begin vir die gelowige nooit verder as ʼn meter van hom af nie. Dit sluit die plek en mense in waar sy voet die volgende oomblik gaan val. Kyk maar na Jesus – Hy stuur sy dissipels eerste na die mense rondom Hom, ja, na sy eie mense toe (10:5-6).

Iewers waar jou voet vandag mag val, gaan daar iemand wees wat dalk al gehoor het, maar nog nie geluister het nie. Jy mag dalk die een wees deur wie die Here daardie persoon wil laat luister. Dit beteken allermins dat jy die Bybel oral moet uitpluk en rondswaai. Dit beteken egter wel dat jy in jou lewenstyl ʼn “gestuurde” van die Here moet wees. As die geleentheid kom, moet jy nie onkant gevang word nie.

Moet jouself ook nooit as “gestuurde” onderskat nie, want jy is nie alleen nie. God is ook daar. En dit is nie jy wat die dinge moet laat werk nie. Hy doen die eintlike werk. Moet dus nie vir God probeer ‘werkloos’ maak deur alles self te probeer doen nie.  Heelwat Russiese Christene vertel dat na die val van kommunisme hulle juis so tot bekering gekom het – nie deur ʼn geprekery in kerke nie, maar deur mense wat vir hulle dáár was om vir hulle die pad na God toe te wys.

Jy moet die wegwyser wees vir mense wat die weg soek.




11 Januarie – Jy moet Jesus nooit onderskat nie. – Jan van der Watt

Lees: Mat 9:14-26 (fokus: 9:18-26)

 ‘Jesus draai om en kyk vir haar: “Jou dae van bekommernis is verby. Omdat jy so vas geglo het in wat Ek vir jou kan doen, sal daardie siekte jou nooit weer pla nie.” En die vrou was van daardie oomblik af gesond!’ (9:22).

 Mense kan maklik blapse maak, nie omdat hulle graag wil nie, maar omdat hulle nie van beter weet nie. Een van die matrose op die skip waarmee eeue gelede tabak in Suid-Amerika ontdek is, het met van die tabak in sy tuisdorp in Europa gaan spog. Ewe kordaat het hy rook deur sy neus geblaas. Die verbaasde dorpenaars het gedog hy’t ʼn towenaar geword en hom daar en dan ter dood veroordeel. Dit was die einde van hom en sy oëverblindery.

Net so lees ons van mense wat die blaps gemaak het om uit onkunde met Jesus te spot en Hom uit te lag omdat hulle gedink het Hy praat onsin toe hy ʼn dogtertjie wou lewendig maak.(9:24). Om iemand lewendig te maak is tog nie moontlik nie. Natuurlik is dit nie moontlik nie – nie vir gewone mense nie. Maar juis daar lê die verskil – Jesus is nie ʼn gewone mens nie, al is daar vandag nog mense wat dit graag wil glo. Hulle probeer hulle bes om Jesus met allerhande stellings en koerantberigte so klein soos ʼn gewone mens te probeer sny. Hy kan volgens hulle nie wonders gedoen het nie, kon Hy nie uit die dood opgestaan het nie, kon niks meer as ʼn gewone mens gewees het nie.

Miskien moet hulle maar mooier kyk na wat Jesus in mense se lewens doen. Hulle moet kyk wat gebeur met mense wat bereid is om hulle hande in die hand van Jesus te sit sodat hy dit styf kan vashou (9:25). Hulle sal sien sulke mense se oë gaan oop vir Jesus wat by hulle is en nuwe lewe begin deur hulle vloei.

Jesus is nie regtig ʼn wonderwerker of towenaar wat met oëverblindery besig is nie; Hy is ʼn geneser. ʼn Wonderwerker doen wonders om gesien te word, nes die man met die tabak. Dit bring jou nêrens nie. ʼn Geneser wil egter stukkende mense heelmaak en nuutmaak – en dit doen Jesus. Hy is soveel meer as ʼn gewone mens. Sy liefde, krag en genade bied soveel meer as wat ʼn gewone mens kan gee.

Jy moenie die blaps maak om Jesus ʼn gewone mens te wil maak nie. Dan gaan jy niks van Hom verwag nie en nog minder kry. Wie bereid is om met oop arms en hande voor die hemelse Geneesheer te gaan staan sal sy hand van genesing oor hulle lewens voel vou. Gee die Geneesheer kans om jou hand in syne te vat, en jy sal ervaar wat die dogterjie in die verhaal ervaar het.




10 Januarie – Vergewe, al is dit swaar – Jan van der Watt

Lees: Mat 9:1-13 (fokus: 9:9-13)

Ek gaan jou ’n goeie rede gee om weer te begin glimlag. Ek gaan sorg dat God nie meer vir jou kwaad gaan wees oor jou sonde nie.(9:2).

Ons kan soms op die snaakste maniere oor ons godsdiens redeneer. Ons logika is dikwles baie soos die ou sʼn wat baie graag wou leer duik, maar nie kon swem nie; toe tap hy eers sy swembad leeg.

Neem nou maar ʼn Christen wat ʼn fout maak, byvoorbeeld, egbreuk pleeg. Hy word beskinder en skeef gekyk en wat nog alles. Natuurlik is dit wat hy gedoen het nie reg nie. Maar hy het nie ʼn klomp leeus nodig wat hom verder verskeur nie, maar ʼn dokter wat hom gesond moet maak. En wie sal in so geval eerste vir diens aanmeld? Jesus, natuurlik (9:12-13), en as ons sy kinders is sal ons saam met hom dáár wil wees, gereed met die noodhulptassie vol liefde en begrip.

Ongelukkig gebeur dit te veel dat Christene se noodhulptassie eerste wegraak. Ja, die oordeel van Christene is soms die hardste en vergifnis die skaarste. So tap hulle die swembad leeg en dink hulle kan dan nog ʼn perfekte duikslag maak. Nee, die hele boodskap van Jesus gaan oor genade en vergifnis; daarsonder is die swembad leeg. Jesus wil juis naby mense wees wat geval en seergekry het. Dit is waar Hy op sy beste is – om genesing van sonde te bring. By stukkende mense klink die simfonie van liefde en ondersteuning die soetste. Snaaks genoeg is dit juis Christene wat Jesus dikwels van sulke stukkende mense wil weghou…

Ons moet onthou – ons is Jesus se mense, nie omdat ons foutloos is nie, maar omdat ons ook die Dokter eenmaal nodig gehad het en nog steeds nodig het. Hy wil graag hê dat jy na mense sal help soek wat Hom nodig het, juis omdat jy sy genesende krag self ken. God se liefde is genoeg vir die stukkendste mens en God wil hê dat jy daardie genesende liefde oor sulke mense se wonde gooi. Is daar iemand wat jy ken wat daardie liefde nodig het?