5 Januarie – Eerlikheid is die lig van die siel – Jan van der Watt

Lees: Mat 5:1-48 (fokus: 5:33-37)

‘“Dit help ook nie dat julle by julleself sweer nie. Wat help dit in elk geval om iets te sê soos: ‘Ek sweer ek praat nou die waarheid?’ Dit kan niks aan julle omstandighede verander nie. Sê liewers net ja en gaan doen dit. Of sê nee en doen dit. Hou julle woord. Doen wat julle sê.’ (5:36-37)

ʼn Eienskap van Christene is dat hulle veronderstel is om te doen wat hulle sê. Hulle “ja” moet hulle “ja” wees en hulle “nee” hulle “nee” (5:36-37). Dit is ʼn hoë eis wat Jesus aan ons stel. En dit sny tot in die hart van ons Christenskap, want eerlikheid en integriteit is pilare waarop ons Christenskap staan.

Die werklikheid lyk dikwels anders. Iemand het eendag gesê dat as ʼn besigheidsman vir hom sê hy’s ʼn Christen, raak hy baie agterdogtig en versigtig. Natuurlik kan ʼn mens nie veralgemeen nie, maar dit is so dat daar mense is wat die hoë eise van eerlikheid wat Jesus vir ons stel, misbruik. Hulle gebruik die naam ‘Christen’ om so die indruk te skep dat hulle heeltemal betroubaar is… iets wat jy dikwels sommer baie gou agterkom nie so is nie. ʼn Mens kry dus dikwels die gevoel dat juis hierdie lofwaardige en goeie eienskappe van eerlikheid en integriteit skaars begin raak.

Dit is jammer dat dit so is, want eerlikheid is die lig van die siel. Dit is ʼn lig wat na binne en buite skyn… As jy eerlik is met jouself sal jy ook eerlik met ander kan wees, en natuurlik omgekeerd. As jy eers vir mense begin jok, sal dit ook vir jou maklik wees om vir jouself ʼn rat voor die oë te begin draai. Jy sal allerhande verskonings vir jouself begin uitdink wat jy in jou binneste weet nie reg is nie en dit nog begin glo ook… en so begin jy vir jouself jok.

En hoe meer jy vir jouself jok, hoe makliker sal dit word om dit te doen. So word die liggie van eerlikheid al dowwer en dowwer tot jy jouself nie meer kan vertrou nie. En dit sal op ander afsmeer. Hulle sal gou agterkom dat hulle jou ook nie meer kan vertrou nie. En wat het dan geword van jou ‘ja’ of ‘nee’? Wel daar sal net vraagtekens daaroor bly staan.

Wees daarom eerlik – in die eerste plek met jouself. Hou die donker kolle van “oneerlike verskonings soek” of “feite verdraai” uit jou lewe uit. Want as jy eerlik is met jouself sal jou lig van eerlikheid helder na binne en buite bly skyn. Dan sal jou “ja” ʼn “ja” vir almal wees. Hou jou woord… doen wat jy sê, want dit is wat die Here van ʼn Christen verwag.




4 Januarie – Nie status of geld nie, maar liefde – Jan van der Watt

Lees: Mat 4:1-25 (fokus 4:1-11)

 Jesus het skerp gereageer: “Gee dadelik pad van My af, Satan! Die Bybel sê: ‘Jy moet net die Here as jou God aanbid. Hom alleen moet jy dien!’ (4:10)

 Iemand het eenmaal gesê: ‘Wie God dien ter wille van geld of status, sal die duiwel ter wille van meer daarvan dien’ en dit is seker! As jy, jou status en jou eer die ‘god’ in jou ‘gods-diens’ word, sal jy agter enigiets aanloop wat ‘jou en jou status’ kan bevorder, of dit nou God of Satan is, want eintlik loop jy maar op die ou einde net agter jouself aan.

Dit was die plan waarmee die duiwel Jesus so heimelik wou uitvang. Hy het al sy kaarte daarop gesit dat Jesus meer van homself en sy eie eer gaan hou as van God. Kamma onskuldig het die duiwel aan Jesus voorgestel om klippe in brode te verander of van die tempel se dak afspring. Die duiwel het goed geweet dat die Jode destyds geglo het dat hulle nuwe Messias juis daardie buitengewone dinge sou kom doen sodat hulle hom kan uitken. Die duiwel het daarop gereken dat Jesus dit graag sou wou doen omdat as die Jode dit sou sien hulle Hom onmiddellik as hulle messias-koning uitroep – en wat ʼn status en eer was dit net nie. Dadelik sou Jesus as koning van die Jode op die troon sit… wie sou sulke eer kon weerstaan?

Die vangplek was natuurlik dat Jesus so self ʼn nuwe meester sou hê vir wie Hy gehoorsaam… die duiwel self. Hy sou vir die duiwel luister en nie vir God nie. So sou God se plan vir sy lewe misluk het. Mense sou Hom dadelik Messias wou maak en Hy sou nooit by die kruis vir ons uitgekom het nie.

Gelukkig het Jesus God nie vir geld of status gedien nie, maar uit liefde en toewyding, anders sou die duiwel Hom miskien kon uitvang. ʼn Oorgegewe lewe vir God het die verskil gemaak sodat Jesus dwarsdeur die stof van bedrog wat die duiwel opgeskop het, kon sien.

Jy moet ook versigtig wees vir die duiwel – hy is ʼn spesialis ‘bedrog-opskopper’. Oppas dat hy jou nie so goed laat voel dat jy die ‘god’ in jou ‘gods-diens’ begin word nie. Die beste medisyne daarteen is natuurlik om in liefde en toewyding baie naby aan die Here te leef.




3 Januarie – Jesus verander alles – Jan van der Watt

Lees: Mat 3:1-17 (fokus: 3:13-17)

Toe praat ’n stem skielik uit die hemel. Dit was God self. Hy het gesê: “Dit is my Seun vir wie Ek baie lief is. Hy verskaf My baie vreugde!’ (3:17)

Doop is soos ʼn brug waaroor ʼn mens stap… jy stap van een wêreld af na ʼn ander een toe.  Jesus was so tussen 30 en 40 jaar oud toe Hy gedoop is (3:13-17). Sy doop was ook vir Hom die oomblik toe Hy oor sy brug gestap het. Hy het na sowat 30 ‘stil jare’ waarskynlik in sy familie se houtwerkwinkel in Nasaret agtergelaat om so ʼn wêreld wat in nood roep binne te stap. Daar sou elke voetstap van die hemelse Geneesheer die wêreld skud.

 

Hy sou vure kom aansteek (3:11)… vure van die Gees wat die wêreldse duisternis sou verdryf en menseharte sou verlig. Met sy bloed sou Hy sonde en boosheid afwas sodat mense se lewens wit soos sneeu kon word (3:11). Hy sou strepe kom trek tussen reg en verkeerd, ja, Hy sou die koring van die kaf kom skei (3:12). Hy sou die deure van die doderyk kom oopsluit en die mag van Satan kom breek (3:12). En bowenal sou Hy God se wil kom doen en Hom blymaak.(3:17).

 

Ja-nee, die segging: “Die wêreld sal nooit weer dieselfde wees nie”, was nog nooit so waar as daai dag met Jesus se doop nie. Toe het die poorte van die hemel werklik oopgegaan… God het oor sy geliefde Seun gepraat en sy geliefde Seun het in die wêreld kom doen wat God wou hê. Toe Jesus oor sy brug gestap het, het nie net die aarde nie, maar ook die hemel en hel begin gebewe. En ons voel daai trillings vandag nog in ons lewens.

 

Dink jy nog genoeg na oor die wonder van God se liefde in jou lewe… voel jy nog die trillings van sy voetstappe wat die donker in jou lewe lig maak, jou hartseer genees, jou glimlag terugsit?




2 Januarie – Die lewe is maar “soet-suur” – solank dit net meer soet as suur is. – Jan van der Watt

Lees: Mat 2:1-23 (fokus 2:13-18)

‘’n Engel van die Here het in ’n droom vir Josef kom sê: “Word wakker! Vat die Kindjie en sy ma en vlug dadelik Egipte toe. Bly daar totdat jy weer van my hoor. Herodes is op soek na Jesus. Hy wil Hom doodmaak.”’ (2:13)

Die lewe bly maar soet-suur. Wat kan soeter wees as die geboorte van die Redder van die wêreld? Maar wat kan suurder wees as die bedrog, haat en moord wat soos slange deur die soet van die lewe seil?

Dit is hoe die verhaal van Jesus ook begin. Toe die wêreld van blydskap saam met die engele hosanna sing oor die geboorte van die Seun van God, het die donker wolke van bedrog, haat en moord uit die paleis van koning Herodus hierdie godsvreugde verduister. In Herodus se hart was nie ʼn lied van vreugde oor die Verlosser nie, maar het die swaar note van moord hom in die nag wakker gehou. In die donker van die nag het hy planne beraam om die Koning van die wêreld dood te maak.

Ook in ons lewens moet ons verwag dat die suur deur die soet gaan loop – dis hoe die lewe is, selfs vir die geliefde Seun van God. Ons mag egter nooit toelaat dat ons soet versuur nie, ja, dat die soet so versuur word deur alles dat ons dit nie meer kan proe nie. Ons moet die soet van die lewe bly proe en doelgerig nastreef, al loop die suur daaroor. Al gebeur wat mag die swartgalligheid ons nie oorweldig nie. Ons moet God se goedheid steeds daardeur bly sien.

Kyk net na die pogings van Herodus: al die boosheid van die wêreld kon God se goeie nuus nooit demp of sy planne nooit stuit nie. Dit hoef ook ons lewensvreugde nooit te demp of te stuit nie – juis omdat ons die Kind ken wat gebore is en die dieselfde Vader het wat Hom so versorg het.

God het jou lief en daarom sal jou soet altyd meer as jou suur wees… Lê jou lewe weer in oorgawe in sy liefdeshande, en proe die soet van die lewe.