MATTEUS SE VERHAAL OOR JESUS (6)

MATTEUS SE VERHAAL OOR JESUS (6) – Jan van der Watt

3.7 Matt 13: Koninkryksgelykenisse

 

Hoofstuk 13 vorm die middelpunt van die Evangelie. Hier vertel Matteus ons wat presies die koninkryk van God (die hemele) is wat Jesus bring. Wat is dit en hoe werk dit? Weer bring Matteus vir ons ‘n klomp van die verhale (gelykenisse) bymekaar wat Jesus verkondig het. Elke gelykenis vertel ‘n storie. Al hierdie klein stories saam vertel weer ‘n groter storie.

Miskien het jy by min of meer die volgende uitgekom:

Kyk of jy die gelykenisse met die volgende uiteensetting kan verbind:

Die saaier (verkondiger) verkondig die woord, wat nie deur almal op dieselfde wyse ontvang word nie (dit is ook die boodskap van die Evangelie tot nou toe, het ons gesien). Die Christene, wat die evangelie aanvaar het, word egter nie uit die wêreld weggeneem nie, maar leef saam met die ongelowiges in die wêreld tot met die finale oordeel. Die koninkryk begin ook nie groot nie, maar die inherente krag van die koninkryk is so groot dat dit oor die hele wêreld sal groei. Daarom is dit die heel kosbaarste skat wat jy kan soek en kry. Jy moet alles wat jy het daarvoor opoffer. Aan die einde, met die finale oordeel, sal die Christene van die nie-Christene geskei word. Dan sal die beloning kom.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




MATTEUS SE VERHAAL OOR JESUS (5)

MATTEUS SE VERHAAL OOR JESUS (5) – Jan van der Watt

Volgens Matteus weet die wêreld nou wat Jesus se boodskap is, en Jesus het wys dat Hy betroubaar is en van God af kom deur die wonders wat Hy gedoen het. Nou weet sy dissipels genoeg en is hulle reg om die boodskap verder te gaan verkondig.

 

In hoofstuk 10 stuur Jesus sy dissipels dus uit. Soos in die geval van hoofstukke 8-9 help Matteus ons ook hier om sommer ‘‘n klomp inligting oor sendingwerk hier bymekaar te bring.

3.5 Matt 11: Reaksies op die boodskap van die dissipels

Die dissipels het toe gaan preek en nou wonder ‘n mens hoe suksesvol hulle was – die reaksies was egter verskillend. Weer stel Matteus ons nie teleur nie. Hy versamel vir ons van die reaksies op Jesus se boodskap in hoofstuk 11.

3.6 Matt 12: Aan wie behoort jy?

  • Daar is eers die konfrontasie oor die Sabbat, wat eintlik ‘n konfrontasie is met Jode wat dink dat om die Sabbatswette presies te hou soos dit in die Jodedom verstaan word, noodsaaklik is om God se kind te wees. Jesus is nie so nie. Hy is die Heer van die Sabbat – dit is belangriker om hom te dien as om wette te probeer navolg. Hier sien ons dus hoe Jesus wetsgodsdiens na verhoudingsgodsdiens verskuif.
  • Hf 12 eindig met ‘n belangrike opmerking rondom die vraag aan wie jy behoort: in 12:46-49 word Jesus se ware familie beskryf – nie sy fisiese familie nie, maar almal wat hom navolg is sy familie, God se familie. Jy kan dus ook deel daarvan wees.
  • In die laaste bespreking van Matteus gaan ons na die gelykenisse van die koninkryk kyk.

     

    Skrywer: Prof Jan van der Watt

     




    MATTEUS SE VERHAAL OOR JESUS (4)

    MATTEUS SE VERHAAL OOR JESUS (4) – Jan van der Watt

    Deel 2: Die boodskap van Matteus

     

    3.3 Jesus begin preek en werk

    Nou lees ons iets belangriks wat ons sommer baie van Matteus se Evangelie leer:

     

    Mat 4:23 en 9:35 ‘omraam’ hoofstukke 5-9. Die twee verse sê dieselfde: Jesus het gepreek en Jesus het wonders gedoen. As ons nou na hoofstukke 5-7 kyk, is dit die Bergpredikasie – een lang preek van Jesus, terwyl in hoofstukke 8-9 die wonders van Jesus in ‘n ry bespreek word. Wat in hoofstukke 5-9 staan illustreer dus hoe Jesus gepreek het en wat se wonders hy gedoen het.

    3.3.1 Matt 5-7: Die Bergpredikasie

    Ons het reeds in detail kyk na die bergpredikasie gekyk. Dit wys vir ons hoe Jesus se preke gelyk het.

    3.3.2 Matt 8-9: Wonderverhale (3-3-3)

    Die volgende val op as mens hierdie hoofstukke lees.

    Daar is ‘n patroon – daar word eers drie wonders vertel, dan word dit onderbreek, weer drie met nog ‘n onderbreking en dan nog drie. Dit wys vir ons dat Matteus bewustelik die wonders so georden het. Hy het wonders wat Jesus op verskillende tye gedoen het, bymekaar gemaak en dit so saam vir ons aangebied. Onthou, die groot belangstelling vir hulle was die boodskap en nie noodwendig die feite soos dit agter mekaar gebeur het nie. Matteus wil vir ons die ‘gevoel’ gee van wat dit beteken dat Jesus wonders doen.

    Die wonders het beslis iets te doen met die preke (boodskappe) van Jesus, soos ons dit ook in die Bergpredikasie gelees het. Wat is die verhouding? Hoekom dink jy was dit belangrik vir Jesus se preke dat Hy wonders gedoen het?

    Wel, om iets te sê is een ding, maar om iets te bewys is ‘n ander. Jesus kom beweer dat Hy van God af kom, die Messias is en mense kan red. Wie sê dit is waar? Die funksie van die wonders is om die boodskap te ondersteun en waar te maak. Die Jode het geweet dat goeie dinge van God af kom. As Jesus nou goeie dinge doen wat gewone mense nie kan doen nie moet dit beteken dat God op ‘n spesiale manier in Hom werk. Dit bewys die wonders. Gewone mense kan dit nie doen nie en dit bewys dan dat Jesus nie sommer ‘n gewone mens is nie. Hy kom van God af.

    Volgende keer gaan ons voort by Matteus 10.

     

    Skrywer: Prof Jan van der Watt

     




    MATTEUS SE VERHAAL OOR JESUS (3)

    MATTEUS SE VERHAAL OOR JESUS (3) – Jan van der Watt

    3. Matteus vertel die verhaal van Jesus op sy manier

    Matteus het sy verhaal baie sistematies opgeskryf. Hy het verhale met toesprake afgewissel. Ons gaan die eerste deel van Matteus van nader bekyk.

     

    Die doop van Jesus kan vergelyk word met sy ‘salwing’ (soos die konings of profete van die ou tyd). Van nou af is Hy dus gereed en moet die werk waarvoor hy gekom het, begin. Die eerste ding wat Jesus doen is om sy grootste vyand vierkantig in die oë te kyk.

    ‘n Lekker bybelstudie sal wees om te kyk waar die duiwel, demone of bose magte in Matteus bespreek word en wat elke keer gebeur. As jy lus is, doen dit gerus.

    Jesus begin preek kry vir hom ‘n gemeente

    “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” (4:17). Twee belangrike dinge word gesê: a) die mense moet hulle bekeer, met ander woorde, hulle moet hulle na God toe draai soos Hy in Jesus na hulle toe kom, b) God se finale heerskappy (koninkryk) is naby. Dan sal hy al sy vyande vernietig en vir ewig heers. Dit is wat Jesus se koms beteken. As hy sy dissipels roep, sê hy dit presies vir hulle: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.” (4:19) – hulle moet mense gaan ‘uitvis’ uit die wêreld om hulle so deel van die koninkryk te maak.

    In die volgende gedeelte gaan ons na die boodskap van Matteus kyk.

     

    Skrywer: Prof Jan van der Watt