Die Handelinge van die Apostels: Paulus op die Areopagus Deel 3 (Hand 17:29-31) – Francois Malan

17:29 Na Paulus se positiewe aansluiting by die Griekse kunstenaars se insig in die hoë waarde van die mens as nageslag van God (17:28), keer hy terug na sy ontmaskering van die Grieke se tempels wat nie die Skepper van die hemel en die aarde kan huisves nie (17:24) en van hulle kultus asof die Gewer van lewe, asem en alles wat vir die lewe nodig is, behoeftes sou hê dat die mens Hom daarmee moet bedien nie (17:25). In vers 29 ontmasker Paulus die Grieke se afgodsbeelde wat hulle beskou as hulpmiddels om hulle gode waarlik te ken, asof die gode soos mense is en lyk. ‘Aangesien ons dan God se geslag is, moet ons nie dink dat die goddelike, soos hulle klein goue of silwer huisbeeldjies, of soos hulle groot publieke marmerbeelde is nie – ’n beeld wat gevorm is deur die vaardigheid en ingewing van ’n mens.’   Dit bly menslike skeppings sonder lewe en asem en sonder die moontlikheid om lewe en asem aan mense te gee. Hulle moet tot die besef kom dat die Skeppergod gans anders is as die menslike gode wat deur kunstige mense geskep word. Wat onder ons staan as ons skeppings kan tog nie die Godheid afbeeld wat oor ons staan as ons Skepper en Onderhouer van ons lewe nie. Paulus praat hier uit die wet van God wat beeldediens verbied (Eks 20:4-5) en uit die profete wat die spot dryf met afgodsbeelde wat mense vir hulleself maak uit die oorskiet van hulle braaivleishout (Jes 44:9-19), wat nie eers self kan loop nie maar rondgedra moet word, nie kan help of antwoord as jy in nood na hulle roep nie (Jes 46:5-7), gode wat kan omval (Jes 40:19-20; vgl. Ps 115:4-5; Ps 135:15-18). 

17:30 Vir die Atheners, wat so trots is op hulle kennis, wysheid, kuns en kultuur, vat Paulus al hulle dwalings met hulle afgode, tempels en kultusse saam onder ‘n verdoemende uitspraak – dit is tye van onkunde (âgnoia). Hulle erken hulle onkunde oor die ware God met hulle altaar aan die onbekende God. Hulle dwaal omdat hulle nie die ware God ken  nie! So het Petrus ook die Israeliete en hulle leiers in Jerusalem beskuldig dat hulle uit onkunde (ágnoia) hulle Leidsman tot die lewe doodgemaak het (Hand 3:17). Paulus het van die inwoners van Jerusalem en hulle leiers wat Jesus veroordeel het, gesê dat hulle Jesus, vir wie God as hulle Verlosser gestuur het, nie herken het nie (agnoéō, Hand 13:27). Jode en heidene word beskuldig van onkunde oor die ware God. In Romeine 1:18-23 wys Paulus na die toorn van God oor die sonde van die mense, want hoewel God sy ewige krag en goddelikheid van die skepping af in sy werke duidelik bekendgemaak het, het hulle Hom nie as God vereer of gedank nie. Hulle het die heerlikheid van die onsterflike God verruil vir beelde van sterflike skepsels.

Maar God het die tye van onkunde van die mensdom oorgesien (huperoráō bo-oor kyk, besluit om dit nie in ag te neem of in berekening te bring nie) en nou beveel Hy (parangéllō aankondig wat moet gebeur) dat alle mense oral hulle moet bekeer (metanoéō jou manier van lewe verander as gevolg van ’n algehele verandering van denke en houding oor sonde en geregtigheid, oor hoe om met God en medemense versoen te lewe). Hy roep mense om hulle geheel en al te werp op die God wat naby ons is (Hand 17:27), in wie ons leef, beweeg en bestaan (Hand 17:28) wat vir ewig in ons kom woon (Joh 14:16-17,23; 15:4: Bly in My, soos Ek in julle), om Hom te soek en te vind (Hand 17:27).

17:31  God roep die mensdom tot bekering want Hy het ’n dag bepaal waarop Hy die hele mensdom (oikouménê) regverdig (dikaiosúnê om te doen wat reg is volgens wat God vereis) gaan oordeel. Dit sê Paulus by die Areopagus, die ou setel van die regters waar hulle ’n oordeel moes vel oor mense se lewens en optrede. In ’n grot langs die Areopagus is die drie godinne van wraak met koekies vereer (wraakgodinne, die Erinúes, waarin die Atheners geglo het, in Latyn  Furiae of Dirae). In Athene is hulle vereer as die godinne van die aarde en die onderwêreld, met vlerke en slange in die hare geteken. Wanneer iemand vervloek word het hulle ingetree, ook as iemand sy ouers verwaarloos. Hulle kon die vrug uit die aarde van so iemand weerhou. Hier kondig Paulus die eindoordeel oor alle mense op die aarde aan, op ’n dag wat die ‘onbekende’ god, die Skeppergod, in wie elke mens lewe, beweeg en bestaan, bepaal het (hístêmi  om daar te wees, bepaal). Oor elkeen sal dit ’n regverdige oordeel wees (dikaiosúnê wat reg is in God se oë; Ps 9:9 Die Here oordeel die wêreld in geregtigheid; oor die nasies spreek Hy met billikheid reg; Ps 96:13; 98:9; Rom 2:5,16;  ). 

Vir die spesifieke oordeel het God ’n Man aangewys (orízō om iemand aan te stel vir ’n spesifieke taak; Joh 5:22 Jesus sê: Die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die volle oordeel aan die Seun oorgegee). Aan die aanstelling van Jesus as Regter oor die hele wêreld het God geloofwaardigheid gegee vir almal (pístin paschōn pasin – alliterasie –  aan almal versekering gegee dat dit sal gebeur, aan almal geloof in Hom gegee) deur ‘die Man’ uit die dood op te wek. Die opwekking van Christus kan verstaan word as ’n versekering dat God vir Jesus aangestel het as die Wêreldregter, én dat God die geloof gee om in die Man te glo (pístis word gebruik vir wat geglo kan word, vertroue, geloofwaardigheid, geloof in Christus, en vir ‘n belofte). Vir Paulus is geloof in Christus en sy opstanding van kardinale belang (vgl. 1 Kor 15:14: As Christsu nie opgewek is nie, is ons verkondiging sinloos, en ook julle geloof sinloos. 1 Kor 15:17 As Christus nie opgewek is nie, is julle geloof vergeefs en is julle steeds in julle sondes. 1 Kor 15:32 As dooies nie opgewek word nie, laat ons eet en drink want môre sterf ons). Daarom is bekering noodsaaklik, en wel bekering tot geloof in die opgestane Jesus, wat van sonde verlos en wat ook gaan oordeel.

Paulus se Areopagusrede sluit met die oproep tot bekering tot die lewende God in die lig van (kathóti gee ’n rede in die lig van ’n feit) die wêreldoordeel deur die Man wat deur God uit die dood opgewek is as bewys daarvan aan almal. Paulus daag die regters van die Areopagus voor die Wêreldregter om hulle tot Hom te bekeer.

Die resultaat van die Areopagusrede (Hand 17:32-34)

17:32 Die Jode kon nie aanvaar dat die Messias moes ly nie. Hulle verwag ’n gesalfde koning wat Israel weer sal opbou tot ’n groot wêreldmag. Vir die Grieke was die opstanding van die liggaam uit die dood ondenkbaar. Hulle het die liggaam beskou as die kerker van die siel. Met die dood word die siel bevry van die liggaam en word deel van die ewige Rede, sê die Stoïsyne, of soos die Epikureërs verkondig het, die siel sterf saam met die liggaam en alles is verby. So het die Jode die goddelikheid van Jesus om die sonde van die wêreld te kan dra, ontken, en die Grieke dat Jesus mens geword het om ook ons liggaam te laat opstaan uit die dood.

Daar is drie reaksies op Paulus se preek. Die een deel lag hom uit en maak neerhalende grappe oor sy leer (chleuazō   gekskeer met iemand deur hom te bespot of te beskimp (soos met Jesus aan die kruis toe die Joodse volksleiers aangehou het om smalend te sê: ‘Ander het Hy gered, laat hy homself red as hy die Christus van God , die Uitverkorene is;’ die Romeinse soldate: ‘As jy die koning van die Jode is, red jouself!’ en die een misdadiger wat Hom aanhoudend gelaster en gesê het: ‘Jy is mos die Christus, of hoe? Red jouself en ons!’  Luk 13:35-39).  

Die ander Grieke het gesê: ‘Ons sal jou hieroor ook weer hoor’ – die werkwoord ‘om te hoor’ is in die Griekse medium wyse, wat beteken dat hulle Paulus weer wil hoor tot hulle eie voordeel. Daar is dus tog ’n positiewe ingesteldheid teenoor Paulus se boodskap wat vir hulle moontlik iets kan beteken, maar die saak word uitgestel ad kalendas Graecas, volgens die Griekse kalender. Dit is ’n idioom wat beteken ‘nooit,’ omdat die Grieke verskillende kalenders het wat nooit pas nie. Dit was maar net ’n beleefde manier om te sê ons stel nie werklik belang nie.

17:33 So het Paulus uit hulle midde vertrek. Hy verlaat die byeenkoms by die Areopagus, maar kort daarna ook die stad Athene, (18:1) wat so onverskillig staan teenoor sy boodskap.

17:34 Daar was egter wel ’n paar bekeerlinge wat gelowig geword het deur die werking van die Heilige Gees in hulle harte deur Paulus se dringende oproep tot bekering. Onder hulle word ’n man en ’n dame genoem. Dionisius as Areopagiet was skynbaar een van die regters op Athene se hoër hof wat by die Areopagus hulle hofsittings gehou het. Van die vrou Damaris is verder niks bekend nie, maar sy was waarskynlik ’n vername vrou, en getuie dat die gemeentes van die Here vroue ingesluit het, soos Lidia in Filippi. Dionisius en Damaris was moontlik leiers in die klein gemeente van Athene. Die Griekse Ortodokse Kerk beskou haar as ’n heilige en ’n straat in die huidige Athene is na haar vernoem. Benewens die twee was daar nog enkele ander gelowiges saam met die twee genoemde leiers. Ook hier los Paulus dus ’n gemeente van die Here met sy vertrek.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Paulus op die Areopagus Deel 2 (Handelinge17 vers 26-28) – Francois Malan

17:26 In die teks word voortgebou op die Bybelse geskiedenis van God se skeppingswerk in vers 25.  ‘Uit een (mens) het Hy elke nasie (éthnos) van die mensdom gemaak om op die hele aangesig van die aarde te woon nadat Hy die voorgeskrewe tye (kairoi geleenthede vir spesifieke gebeure; tydperke; eras) en die grense van hulle woonplekke toegeken het (orízō ’n taak/funksie toeken; ’n definitiewe besluit neem). Reeds met die skeiding van die waters en die droë land is begin met die toeken van die aarde as die mens se woonplek (Gen 1:10; Ps 104:9). In Genesis 10 word van die verspreiding van die nasies vertel – Jafet se nageslag het tot in Griekeland gaan woon (Gen 10:4); Deutr 32:8 ‘Toe die Allerhoogste vir die nasies hulle besittings gegee het, toe Hy die mense in volke opgedeel het, het Hy vir hulle hulle grense bepaal.’ Gen 11:8: Die Here het hulle verstrooi oor die hele aarde. Ook die tydperke van ’n nasie se kom en gaan is deur die Here aan elkeen toegeken (Job 12:23 ‘Hy maak nasies groot en vernietig hulle; laat hulle uitbrei en tot niet gaan). Jes 41:4: Wie het die verloop van dinge van die begin af bepaal?

Vir die heidense Grieke wat dikwels hulle afgod verbind het aan ’n spesifieke gebied, ’n stad of ’n land, sê Paulus dat daar een Skepper-God is wat oor al die gebiede en nasies op die aarde regeer. Die stad Athene het ook sy tyd van hoogbloei gehad en het beleef hoe hulle tyd uitgeloop het en ander stede, soos Sparta, en ander lande, soos Rome, oor hulle begin heers het. Die gebiede en tye, sê Paulus, word ook deur die Skepper-God bepaal.

17:27 In Grieks is verse 26-27 een sin met een hoofwerkwoord in vers 26 ‘Uit een mens het Hy elke nasie gemaak…’ (gevolg deur al die byvoegings oor hulle gebiede en tye). Dit het God gedoen ‘met die doel dat hulle God sal soek, deur (soos ’n blinde) soekend na Hom rond te voel om Hom moontlik te vind’ – die werkwoord psêlafáō  ‘aanraak, voel of probeer vind, is in die optatief (wensende wys) wat ’n vervulbare wens uitdruk.

Vir Paulus is dit egter nie ’n filosofiese of rasionele soeke na God soos vir die Griekse wysgere nie, maar die verlange van die hele mens na ’n persoonlike verhouding met God. Jakobus het reeds in Hand 15:17 vir Amos aangehaal dat die Here sal kom ‘sodat die res van die mensdom, ja al die nasies, God kan soek.’ Paulus haal Jesaja 65:1 aan waar die Here sê ‘Ek is gevind deur diegene wat nie na My gesoek het nie .’  Om God te vind is die sin van menswees; ook deur aanraking. So het die hele skare Jesus probeer aanraak vir genesing deur sy krag (Luk 6:19); het die vrou wat aan bloedvloeiing gely het die soom van Jesus se kleed aangeraak vir haar genesing deur sy krag (Luk 8:44,6) en het die opgestane Jesus sy dissipels genooi om aan Hom te vat, Luk 24:39). God het die mens gemaak om Hom te soek. Dit is die doel en sin van die lewe vir die mens.

‘Want Hy is nie ver van elkeen van ons nie.’ Die naam Jahweh, ‘Die Ek is,’  wat 6 823 keer in die Ou Testament voorkom vir die God van die verbond met Israel, beteken dat Hy teenwoordig is; Ps 145:18: ‘Die Here is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom in waarheid aanroep.’ Die Here is naby en ver van ons af, (Jer 23:23-24: ‘Ek is nie ’n God wat net naby is nie, sê die Here, Ek is ’n God wat ook ver weg is…Ek is oral, in die hemel en op die aarde’ -’n oneindige afstand en ’n oneindige gemeenskap. In Jesus het Hy so naby ons gekom dat Hy sigbaar en tasbaar geword het, ja, Christus in ons (Gal 2:20) is nader aan ons as wat een mens aan ’n ander kan kom.

17:28 ‘Want in/deur Hom(Griekse en verwys na ‘in, in noue gemeenskap met, deur’) leef ons (dzáō lewe in die sin van dat Hy die lewe aan ons gee), beweeg ons (kinéō beweeg, kom, gaan) en bestaan ons (eimí om te bestaan of om te wees – met sekere karaktertrekke). Dat die mens in God leef was nie ’n onbekende begrip vir Paulus se gehoor nie (Die Griekse wysgeer Epimenides uit die 6e eeu v.C. het dit reeds gesê. Die Romeinse wysgeer Seneca (1-65 n.C.) het gesê: ‘God is naby jou, met jou en in jou daarom moet jy hom in jou diepste wese vereer.’ Die panteïstiese mistiek het gesê ‘God is in alles en alles is in God.’ Die Grieke het dit op Zeus van toepassing gemaak. Paulus praat egter van die God van die Bybel. Job 12:10: ‘God het al wat lewe in sy mag, die asem van elke mens.’ In Kolossense 1:16-17 sê Paulus:  ‘alles is in Christus geskep…deur Hom en tot Hom…en in Hom hang alles saam;’  en in Romeine 11:36 ‘Want uit God en deur Hom en tot Hom is alle dinge.’ God het met elke mens ’n doel dat die mens Hom sal soek om sy wil te doen. Hy voorsien ook wat nodig is vir die soektog, in Hom beweeg ons. In Ps 32 sê Dawid: ‘My tye is in sy hand.’ Hy reël my dag se program. Om tot en vir Hom te lewe is die doel en sin van die mens se lewe. Jesaja 40:11 sê: Soos ’n herder versorg Hy sy kudde, dra Hy die lammers aan sy bors  en sorg vir die lammerooie. Jes 40:29 ‘Hy gee die vermoeides krag.’

Sommige van die Griekse digters het gesê:  ‘Ons is ook van sy (génos) nageslag/kinders’ – waarskynlik verwys Paulus na die digter Aratus (315-240 v.C.) wat dit sou gesê het. Die gedagte kom ook voor in die Zeusgedig van die Stoïsynse leier Kleanthes (320-230 v.C), Zeno se opvolger. Die Grieke het Zeus beskou as die vader van alle gode en mense. Daarom het hulle die mens vergoddelik. Paulus wil hulle wys dat ’n volk wie se digters en wysgere so ’n diepe insig in die godheid het, moet hulleself nie so verlaag tot aanbidding van afgode en afgodsbeelde nie (Hand 17:16), of tot ’n minderwaardige begrip van ’n god wat deur mensehande bedien word asof hy aan iets behoefte sou hê (Hand 17:25). As die geslag van God moet hulle tot kennis kom van die een God wat bo alle mense en dinge verhewe is en aan almal lewe, asem en alles gee (Hand 17:25). Paulus verstaan dit in die sin van Genesis 1:27 dat die mens na die beeld van God geskep is, wat sy asem in die mens se neus geblaas het (Gen 2:7). Efesiërs 4:6 sê ‘Daar is een God en Vader van almal, wat oor almal en in almal is;’ Ef 3:15: ‘..die Vader van wie elke geslag in die hemel en op die aarde sy naam ontvang.’  Paulus beklemtoon egter in sy briewe dat die kindskap van God in verbondenheid met Christus slegs aan die gelowiges geskenk word: Galasiërs 4:5 God het sy Seun gestuur…sodat ons as sy kinders aangeneem kan word.’ In 1 Kor 8:5-6 sê hy: ‘Al is daar sogenaamde gode in die hemel of op die aarde, en net so baie ‘gode’ en baie ‘here,’ vir ons is daar egter één God, die Vader, uit wie alles is en ons vir Hom, en één Here, Jesus Christus, deur wie alles is en ons deur Hom.’  In Romeine 8:14-17 sê Paulus dat die Heilige Gees in ons gelowiges woon om ons aan die Seun van God te verbind sodat ons deur ons band aan Christus kinders van God word.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Paulus op die Areopagus Deel 1 (Hand 17:22-25) – Francois Malan

17:22 Paulus het, soos ’n Griekse redenaar, in die middel van die Areopagus gaan staan. Paulus staan voor die Atheners wat na sy nuwe vreemde leer kom luister. Die toespraak/preek van Paulus is stilisties fyn opgebou met ’n aanknoping by sy gehoor se godsdienstigheid, wat ook die tema van sy rede is. Die ‘onbekende God’ is die hoofdeel van sy preek, met drie motiewe: 1 God is die Here van die skepping; 2 die mens is God se skepping; 3 God en mens is eie familie, daarom is afgodsbeelde sinloos. Die slot is ’n oproep tot bekering, met aankondiging van die komende oordeel en die verkondiging van die opstanding van Jesus. Hierdie rede bevat ’n ryk woordeskat vol Griekse stilistiese kunsvorms soos alliterasie, woorde met dieselfde klank, opeenhoping van woorde met dieselfde stam. Griekse filosofie word ingespan met ’n paar Ou Testamentiese klanke, Joodse gedagtes word vervleg met stoïsynse vorms om ’n Bybelse getuienis aan die Griekse denkers te lewer. Die Bybelse basis vir Paulus se preek is Jesaja 40-42 wat aan die einde van die ballingskap geskryf is rondom 500 v.C. Daar gaan dit om die onbekende Skepper God vir wie niemand kan peil nie (40:12-18,26,28; 42:5), wat aan al die mense op die aarde die asem gee, die lewe aan alles wat op die aarde beweeg (42:5), oor sy Dienaar wat hier is om ons te kom verlos (40:9-11; 41 42:1-4) en oor die dwaasheid van die afgodsdiens aan mensgemaakte beelde (40:19-20; 41:7,22-24,28-29; 42:8,17), oor die oordeel (41:1-4; 42:25), die oproep tot bekering (40:1-2,31; 42:10,18). 

Die aanknoping by sy gehoor is ‘n lofprysing van hulle: ‘Atheners, ek het gesien (theōréō met volgehoue aandag waargeneem) dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is’ (deisideimonesterous die vergrotende trap van die woord met die stam deimōn wat ’n demoon of ’n god of die siel van’ n mens kan aandui. Die woord word gebruik vir godsdienstigheid maar ook vir bygelowigheid). Die digter Sophocles (496-406 v.C.) het dit reeds van die Atheners gesê, maar hy het die woord theosebestátos ‘uiters godsdienstig’ gebruik met theos ‘god’ as stam en in die oortreffende trap. Hy het gesê hulle oortref alle volke met hulle eerbewyse aan die gode. Paulus gebruik die woord in ’n positiewe sin vir die Griekse oor, maar vir ’n Joodse oor sou die deimón daarin na afgode ruik. Paulus het hulle godsdienstigheid gesien in hulle baie afgodsbeelde en tempels, wat hulle toewyding aan hulle gode bewys, iets waaroor hy eintlik verontwaardig was (17:16).

17:23 ‘Want soos ek deurgegaan het en julle tempels en beelde deeglik deurgekyk het…’ (Deeglik deurkyk, anatheōréō, van naby bekyk en diep nagedink oor die implikasies daarvan. tempels en beelde, sebásmata, kan verwys na die plekke van aanbidding of na die voorwerpe van aanbidding) ‘…het ek ’n altaar (bōmós ’n altaar op ’n voetstuk) gekry waarop geskryf is (perfektum, nog duidelik leesbaar en daarom waarskynlik gegraveer): “Aan ’n onbekende god.”

Die opskrif bewys die ongewone godsdienstigheid van die Atheners. Hulle onkunde omtrent die onbekende god roep om ’n boodskap van ’n god wat vir hulle vreemd en nuut is. Die opskrif op hulle altaar is ’n uitnodiging aan die prediker wat dit as sy ‘skrifbewys’ vir die Atheners voorhou.

‘Wat julle onwetend aanbid, is wat ek aan julle verkondig.’  Paulus beroep hom op die Atheners se bewustheid van hulle onkunde, hulle insig dat hulle dié God van hulle opskrif nie ken nie, hoewel hulle dit nie so sien nie. Hulle meen hulle vereer hom met die altaar wat hulle aan hom opgedra het. Die opskrif is ironies ’n kritiek op die Atheners se trots oor hulle filosofiese kennis, wat die ware God nie ken nie, maar vir gelowiges is dit die heel belangrikste kennis. Eintlik is dit ’n aanklag teen die hele heidense wêreld wat God nie ken nie. Ten spyte daarvan dat Hy daagliks sy goedheid openbaar om reën en kos te gee (Hand 14:17), openbaar Hy Hom ook aan alle mense in sy skeppingswerke (Rom 1:19-20). Paulus antwoord op hulle verlange na kennis. Hy begin by hulle geloof in ’n onpersoonlike god – ‘wat julle aanbid,’ (Griekse onsydige vorm van ‘wat’). In die volgende verse vertel hy vir hulle van die lewende God wat die Skepper en Regter is van alle mense. 

17:24 ‘Die God wat die wêreld (kósmos heelal, geskape wêreld) gemaak het en alles daarin (son, maan, sterre, water, grond, berge, mense, diere, plante), Hy wat die Here is (kúrios, Eienaar en Heerser) van die hemel en die aarde, woon nie in handgemaakte tempels nie.’  Nou praat Paulus nie meer van godsdienstigheid nie, maar van die God van die Bybel, Skepper, Onderhouer en Heer oor die Skepping. Paulus se preek by die heidene begin met ’n geloofsartikel oor God en sy eerste gebod in Eksodus 20, met die prysformule wat dikwels in die Ou Testament voorkom, bv. Jesaja 42. Paulus gee daaraan ’n Hellenistiese kleur deurdat hy met die kósmos begin. Die woord wat orde, sieraad, skoonheid beteken is eerste deur Pythagoras, die Griekse wiskundige en wysgeer (ongeveer 580-500 v.C.) gebruik in die betekenis van wêreldorde of heelal in teenstelling met chaos, wat wanorde en woestheid beteken. Die kósmos het ’n debatspunt van die wysgere geword. Daarna praat Paulus van die hemel en die aarde, wat eintlik eerste geskape is, voor die mens (vgl. Jes 42:5). Die Maker en Heer van die heelal kan tog nie in ’n mensgemaakte tempel woon nie. Dit het Salomo van sy tempel gesê (1 Kon 8:27) en ook verskeie Griekse filosowe. Daarmee word alle tempels as onwaardig vir die Maker en Heer van die heelal verklaar (soos Stephanus in Hand 7:48-50 ten aanhore van Saulus getuig het met verwysing na Jesaja 66:1-2).

17:25 Na die polemiek teen die tempel volg die bestryding van die offerdiens. God wat alles gemaak het, het geen behoefte aan iets waarmee mense-hande vir Hom kan bedien of versorg nie (therapeúō om iemand te help met nederige werkies, of: om iemand te kan genees). Die kultus, die verering van God, was gesien as die versorging van die gode. Dit was orals in Athene te sien. Die dwaasheid van die heidene se kultus het die profete lank voor Paulus al ingesien (Jes 46:1 wys na gode wat rondgedra word; Jes 57:6. julle bring drankoffers en graanoffers vir julle afgodsbeelde; Jer 10:5 hulle moet gedra word want hulle kan nie loop nie). Griekse en Romeinse skrywers soos Xenophon (430-345 v.C.) en die Stoïsyn Seneca (1-65 n.C.), Paulus se tydgenoot, het ook die dwaasheid van die kultus uitgewys, omdat God niks nodig het nie. In Ps 50:10-13 sê die Here, die diere op duisende heuwels behoort aan Hom, en die voëls op die berge, en die insekte van die veld. Hy het geen behoefte aan offers nie. God het niks nodig nie! Dit word gestaaf deur die volgende sin:

Hy, God wat alles skep, onderhou en besit, gee aan almal lewe en asem en alles wat hulle nodig het. zōê ‘lewe’ en pnoê ‘asem’ klink in Grieks eners. Die Grieke het gedink die naam van hulle hoofgod, Zeus, kom van die stam zōê lewe.’ Daarmee stem die Hebreeuse êyê ‘Ek is’ vir Jahweh, ‘Die Ek is,’ in Eks 3:14 tot ’n mate saam. Maar Zeus is nie ‘die lewende,’  ‘die lewensasem’ van alles wat geskep is nie. Die God van die Bybel het die lewensasem in die eerste mens se neus geblaas (Gen 2:7) en vorm elke kind in die moederskoot (Ps 139:13-16). Paulus gebruik Bybelse terme en deur sy gebruik van Griekse woordspel en aanknopingspunte probeer hy sy gehoor lei na die God van die Bybel. ‘En alles anders (wat God se skepsels nodig het) word bygevoeg vir balans met die byvoeging by die skepping ‘en alles wat daarin is’ in vers 24. God skep alles en gee alles. Alles is sy geskenk.  Daarmee word nie alle tempeldiens en offers afgewys nie, maar die do ut des-gedagte teenoor God: ‘gee aan God sodat God aan jou gee.’ Terwyl God in niks van ons afhanklik is nie, is ons vir alles van Hom afhanklik, tot vir ons lewe en ons asem (Jes 42:5). Daarom is ons vir alles op Hom aangewys. Dit word in die volgende verse verder uitgewerk.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Paulus en Silas vlug na Berea (Hand 17:10-15) – Francois Malan

17:10  Die hele gemeente wat daardie aand bymekaargekom het, het vir Paulus en Silas dadelik na Berea, suid-wes van Thessalonika, gestuur. Deur die nag het hulle die ongeveer 90 kilometer oor die berge begin aflê. Of die gemeente hulle te perd of te voet op die pad wat die noordelike Masedonië met die suidelike Griekeland verbind, weggestuur het, word nie gesê nie. Hulle moes Thessalonika net onmiddellik verlaat.

Met hulle aankoms in die stad Berea het Paulus en Silas na die Joodse sinagoge gegaan. Al het die Jode in Thessalonika hulle weggejaag, begin Paulus-hulle weer in Berea om die evangelie, die goeie nuus oor Jesus, eerste aan die Jode te bring. Berea is nie vir hulle ’n toevlugsoord waarheen hulle gevlug het nie, maar ’n nuwe geleentheid vir verkondiging van Jesus as God se Seun wat Hy as Verlosser vir die wêreld gegee het (Joh 3:16; vgl. Hand 17:2-3).

17:11 Die Jode van Berea was meer ontvanklik vir die woord van die Here as die Jode van Thessalonika (eugenésteroi oorspronklik: van beter geboorte, wat later ‘meer ontvanklik’ – ‘open-minded’ geword het). Hulle het die woord met alle gretigheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek om te sien of die dinge so is. Hulle het elke dag die Skrifte bestudeer om te sien of dit wat Paulus sê ooreenstem met wat die Skrifte sê. Die Jode het nie slegs op die Sabbat byeengekom nie, maar blykbaar daagliks. Dit was vir Paulus-hulle ’n heel ander gesindheid as die Jode in Thessalonika, ’n vars briesie wat die Here bewerk het om hulle te laaf na hulle vlug uit Thessalonika. 

17:12 Baie van hulle het in Jesus as die Woord van God geglo en ook ’n aansienlike getal van die vername Griekse vroue en mans. Dit is nie duidelik of die Grieke reeds godvresendes was, en of hulle uit die Griekse heidendom tot geloof in Jesus gekom het nie. Die gemeente het later ’n aansienlike bydrae gelewer tot Paulus se kollekte vir die armes in Jerusalem, sodat hulle vir Sopater saam met Paulus met die kollekte na Jerusalem gestuur het (Hand 20:4).

17:13 Toe die Jode in Thessalonika egter hoor dat Paulus die woord van God ook in Berea verkondig, het van hulle na Berea toe gegaan. Soos die Jode uit Antiogië eers in Ikonium en daarna saam die skare in Listra gaan ompraat het (Hand 14:19) het Thessalonika se Jode ook die skare in Berea teen Paulus kom opsweep en ’n oproer in Berea veroorsaak soos in Thessalonika (17:5). In Thessalonika het hulle Paulus-hulle beskuldig dat hulle die hele wêreld in opstand teen die Romeinse regering bring (17:6). Hulle beskou dit as hulle plig om die verkondiging van die evangelie van Jesus orals met oproere uit te wis. Dit begin telkens as hulle jaloers word (13:45; 17:5) en gekrenk word oor hoe vinnig die evangelie in die stad versprei. Die jaloesie in hulle harte motiveer die geweld teen Jesus se dienaars.

17:14 ‘Die broers…’  Deur die werking van die Heilige Gees het daar reeds ’n gemeente ontstaan uit die Jode wat die Skrifte so ernstig bestudeer het om Paulus se boodskappe te toets en die groot groep Griekse vroue en mans wat almal tot geloof in Jesus gekom het. Toe die oproer begin besluit die gemeente dadelik om Paulus ver weg te stuur, buite bereik van die Jode van Thessalonika. ’n Paar van die gemeentelede begelei hom na die Adriatiese see toe om ’n skip te kry om hom uit Masedonië weg te neem. Die visioen van die Masedoniese man, wat om hulp kom vra het, is vervul deur die drie gemeentes wat Paulus telkens gedwonge agtergelaat het, in Filippi op versoek van die magistrate, in Thessalonika deur die borggeld wat die gelowiges moes betaal as versekering dat Paulus-hulle die stad verlaat, en in Berea waar ’n volgende oproer deur die Jode van Thessalonika georganiseer is. Paulus se reisgenote en helpers, Silas en Timotheus, bly in Berea agter om die gemeente op te bou. Van Timotheus is daar laas in Listra gehoor dat hy saam met Paulus begin reis het (Hand 16:1-5). 

17:15 Die paar gelowiges uit Berea wat vir Paulus vergesel het see toe, het tot in Athene by hom gebly. Athene is ongeveer 350 km van Berea af. Hulle het waarskynlik per skip daarheen gevaar. Die gemeente wou seker maak Paulus kom veilig weg uit Masedonië waar die Jode sy bloed soek. Die gemeentelede wat hom vergesel het gaan terug na Berea met ’n boodskap van Paulus dat Silas en Timotheus so gou as moontlik na hom in Athene moet kom.

Volgens 1 Thess 3:1 het Paulus ’n ruk na hulle aankoms in Athene vir Timotheus teruggestuur na Thessalonika om hulle in hulle geloof te gaan versterk en te bemoedig om nie deur hulle beproewinge van koers af gebring te word nie.

1 Thess 2:14 vertel dat die gelowiges in Thessalonika onder hulle eie mense gely het. Silas is blykbaar saam met Timotheus na Masedonië toe gestuur, waarskynlik na Filippi (vgl. Hand 18:5). Toe Silas en Timotheus terugkeer na Paulus, het hy al van Athene af na Korinthe vertrek om daar te begin werk. Timotheus bring toe goeie nuus oor die geloof van die Thessalonisense. Daarop skryf Paulus 1 Thessalonisense, wat hy waarskynlik saam met Timotheus na hulle toe stuur (vgl. 1 Thess 1:1). Nadat Timotheus weer terug is in Korinthe, word hy later moontlik vir ’n derde keer Thessalonika toe gestuur met 2 Thessalonisense.

Skrywer: Prof Francois Malan