Laat sy liefde jou lei: Skuldvrye liefde

Laat sy liefde jou lei: Skuldvrye liefde – Milanie Vosloo

Moet niks aan ander mense skuld nie, behalwe om absoluut lojaal en vol liefde teenoor hulle te wees. As jy ander mense liefhet, het jy die hele wet van God nagekom. Romeine 13:8

 

Hoe graag sou ons nie almal skuldvry wou wees nie! Dink net wat ’n verligting dit sal wees as een of ander weldoener vandag al jou skuld betaal en jou boonop ’n paar miljoen gee vir enige toekomstige uitgawes en skuld. Meer nog: dink net wat ‘n heerlikheid dit sal wees as iemand al dié dinge waaroor jy so skuldig voel, eenvoudig uit jou lewe kon wegneem!

Nouja, ons dierbare Vader is nie ‘n aardse filantroop wat sakke vol geld aan almal uitdeel nie. Tog bied Hy ons soveel meer: Hy gee aan ons skuldvrye siele! Sy liefde wis eenvoudig al die dinge waaraan ons hart so swaar dra, uit. Die bloed van sy Seun haal ons uit die rooi van ons lewens en gee aan ons ‘n spierwit bladsy van vrede.

 

God gee hierdie vergifnisliefde gratis, maar vra daarmee saam dat ons, uit dankbaarheid teenoor Hom, self ook hemelse weldoeners sal wees. Hy vra hard en duidelik dat ons aan diegene wat iets aan ons skuld, ook die skoon bladsy van onvoorwaardelike vergifnis sal gee.

 

Deel jy die liefdesmiljoene wat God jou gee, ruimskoots aan ander uit? Gaan spreek vandag almal wat jou iets “skuld”, vry!

 

Genade-God, ek wil uit dankbaarheid oor my skuldvrye status u vergifnisliefde aan almal om my uitdeel. Help my om vrygewig in my liefde te wees asseblief?    

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning. Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

 Skrywer: Milanie Vosloo

 




Laat sy liefde jou lei: Om geloofsséker te wees

Laat sy liefde jou lei: Om geloofsséker te wees – Milanie Vosloo

Elkeen wat glo en bely dat Jesus die Christus is, is uit God gebore … 1 Johannes 5:1a

 

Glo jy met oortuiging dat jy deur die verlossende bloed van Jesus Christus gered is? Of gebeur dit soms dat die debatte in die media en ander mense se sieninge jou aan kindskap laat twyfel?

1 Johannes 5:1-11 gee ‘n duidelike antwoord op hierdie tipiese twyfelvrae wanneer Johannes sê dat daar drie is wat getuienis aflê oor ons geloof: die Gees, die water en die bloed en al drie is dit eens. (5:7). Jy kán dus seker wees oor jou redding deur die volgende te onthou:

 

  • Jy is met water gedoop. Daardeur het God bevestig dat Hy jou in sy reddende genade wil insluit en dat Hy die sonde waarin jy gebore is, volkome wil weg was.
  • Christus se bloed het vir jóú gevloei. Die dag toe Hy uitgeroep het: “Dit is nou afgehandel!” (Joh 19:30b), het sy bloed bevestig dat Hy alles vir jou redding gedoen het.
  • Die Gees is in jou. As jy Christus as jou Saligmaker gekies het, is die Gees van Waarheid in jou hart. Hy self sal dan in jou die sekerheid plaas dat jy vir altyd sy kind is.

 

Hoor vandag wéér die sekerheid: God het aan ons (aan jóú) die ewige lewe gegee, en dié lewe bestaan in ‘n hegte verhouding met sy Seun. Hy wat deel het aan die Seun, het nou reeds die ewige lewe…(1 Joh 5:11,12a)

 

Dankie vir die absolute sekerheid dat ek u geliefde kind is, Vader!

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning. Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

 Skrywer: Milanie Vosloo

 




Laat sy liefde jou lei: Soms maak sy stem nie sin nie

Laat sy liefde jou lei: Soms maak sy stem nie sin nie – Milanie Vosloo

Toets My hierin of Ek nie vir julle die vensters van die hemel sal oopmaak nie. Ek sal voorspoed op julle laat reёn wat meer as genoeg vir julle sal wees!” Maleagi 3:10b

 

Het jy al beleef dat die Gees met jou praat en jou vra om iets te doen … wat op daardie stadium nie sin maak nie? Dan sal jy verstaan hoe Moses gevoel het toe God vir hom sê dat hy ‘n opstandige volk man-alleen deur die woestyn moet lei. Of hoe Noag moes wonder oor God se plan toe hy ‘n reuse skip op droё grond moes bou en hoe onseker Maria was toe die engel vir haar sê dat sy as máágd swanger gaan raak.

 

Ons Vader se opdragte maak nie altyd vir ons klein mensverstandjies sin nie. Tog is Hy in sy alwysheid altyd besig met ‘n veel groter plan: ‘n Plan waarvan ons die uiteinde waarskynlik eers ééndag sal sien.

 

Wanneer jy dus duidelik deur die Gees gelei word om iets te doen en jy selfs bevestiging daarvan in die Woord ontvang, kan jy maar – ongeag die vreemdheid daarvan – glo en vertrou dat jou Vader jou op ‘n ongelooflike manier gaan gebruik. 

 

Moses het deur die krag van God die volk tot by Kanaän gelei, Noag en sy gesin is wonderbaarlik van die vloedwaters gered en Maria het die vreugde beleef om die Messias in die wêreld te bring. Dink net wat God deur jóú gehoorsaamheid kan doen!

 

Help my om U gewillig te volg, Vader. Selfs wanneer ek niks verstaan nie.

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning. Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

 Skrywer: Milanie Vosloo

 




Laat sy liefde jou lei: Het jy al gesê: “Stuur my.”?

Laat sy liefde jou lei: Het jy al gesê: “Stuur my.”? – Milanie Vosloo

Toe het ek die Here hoor vra: “Wie kan Ek met ‘n boodskap stuur? Wie sal vir ons gaan?” Ek het geantwoord: “Here, ek sal gaan! Stuur my!” Jesaja 6:8

Het jy al iewers in jou hart gehoor hoe die Gees jou oproep tot ‘n sekere taak? Het Hy dit op jou hart gelê dat jy iets moet doen, ‘n boodskap aan iemand moet bring, ‘n verskil in mense se lewens moet maak of die verlossingsboodskap aan iemand te bring? En … wat was jou antwoord? Het jy soos Jesaja destyds sonder aarseling gesê: “Here, ek sal gaan!”?

 

Indien jy wel gehoorsaam aan sy roepstem was, sou jy waarskynlik ervaar het hoe Hy dit absoluut vir jou moontlik maak om daardie taak te doen, hoe Hy woorde in jou mond lê en hoe Hy jou uit jou skoene uit seёn. Hopenlik het daardie eerste ervaring van gehoorsaamheid jou aangemoedig om elke dag in sy diens te staan en beleef jy keer op keer hoe Hy jou toerus vir sy opdragte.

 

Die wonder van ons Here is dat Hy gewone, maar gewillige, mense in sy diens gebruik. Meer nog, dat Hy al die nodige wysheid, krag, lewensmiddele en toerusting gee wat ons vir die taak nodig het.

 

Weet vandag: God roep jou wél. Hy het immers vir elkeen van ons baie spesifieke roepings. Weet ook dat, wanneer jy “ja” sê, Hy jou op ‘n duisend maniere vir jou gehoorsaamheid sal vergoed.

 

Ja Here, ek wil en sal doen wat U my vra. Gebruik my waar U my nodig het.

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning. Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

 Skrywer: Milanie Vosloo