JESUS WORD GEKRUISIG EN BEGRAWE (4)

JESUS WORD GEKRUISIG EN BEGRAWE (4) – Jan van der Watt 

b) Hoe het Johannes die kruis gesien?

  •  Johannes sien die kruis uit ‘n heeltemal ander lig. Hy lê die klem nie op die vernedering van die kruis nie, maar die kruis is die plek waar Jesus “verhoog” en verheerlik is. Lees die volgende gedeeltes en kyk of jy kan agterkom wat Johannes wil sê: Joh 3:15; 12:22-28, 30-33; 17:1………

………………………………………………………………………………………………………………………………………

 

  • Johannes vertel ook sy kruisverhaal om die mag en koningskap van Jesus te beklemtoon. Kyk na die volgende voorbeelde:
  • Jesus sweet nie druppels soos bloed in die tuin van Getsemane nie en Judas hoef hom ook nie te kom soek of selfs te soen nie. Jesus gee Homself oor (Lees Joh 10:17-18 in die lig van 18:1-11). Sou jy sê Jesus word hier beskryf as die magtelose gevangene of die Persoon in beheer en waarom?……………………………………………………………………….

………………………………………………………………………………………………………………………..

  1. Wie is die een wat die beste daarvan afkom in die verhoor voor die Joodse Raad? (Joh 18:19-24) ………………………………………………………………………………………………………….
  2. Jesus is koning van ‘n groter koninkryk: Lees Joh 18:36-37 waar Jesus dit self sê. Van watter koninkryk dink jy is Hy koning?…………………………………………………………………
  3. Pilatus is die hoof aardse regter. Gaan die plekke na waar Pilatus praat en som sy uitspraak oor Jesus op (Joh 18:37; 19:4, 6, 10-12, 15, 19-22)…………………………………..

………………………………………………………………………………………………………………………..

Jesus is dus gekruisig as koning wat in beheer is en self sy lewe gee. Pilatus, as die menslike regter, kon maar net rondskarrel in die ontkenning dat Jesus enige skuld het. 

 

Skrywer.:  Prof Jan van der Watt

 

 




Laat sy liefde jou lei: Jy = sy spesiaal geweefde mens!

Laat sy liefde jou lei: Jy = sy spesiaal geweefde mens! – Milanie Vosloo

Toe ons nog in die sonde geleef het asof God nie eens bestaan nie, hete God ons kom haal. Saam met Christus het Hy vir ons n nuwe lewe gegee. Ons kon weer oor begin. Efesiërs 2:4

 

Wat ’n voorreg dat ons Skepper vir elkeen van ons ’n unieke patroon gebruik het toe Hy ons gemaak het en dat Hy ons volgens daardie spesiale patroon stekie vir stekie aanmekaar geweef. Daarna het Hy ons met verwagting in hierdie wêreld neergesit sodat ons iets van sy grootheid en liefde teenoor mekaar kon leef.

 

As ons met soveel sorg gemaak is, waar het dinge dan verkeerd geloop? Wanneer het die perfekte gemaakte mens se steke losgetrek? En waarom hang daar nou dikwels net toiings aan aan ons harte? Omdat die gebrokenheid van hierdie stukkende wêreld ’n manier het God se patroonmense uit mekaar te skeur! Ongehoorsaamheid, skuldgevoelens, seerkry, verwerping, bekommernis en ’n duisend ander dinge is alles instrumente in die hand van Satan wat hy inspan om van ons uitgetorringende mense te maak: Mense wat skeefgetrek en losgeskeur  is … en daarom ongelukkig is. Maar, dank Vader, dat ons nie so hoef te bly nie! Dat die genade van God elkeen van ons weer … en weer oorweef.

 

Liewe mede-toiingmens, kom ons kniel maar net elke dag in groot dankbaarheid voor ons gróót Ontwerper-van-lewe in die wete dat elkeen van ons, ondanks alles, sy kosbare kunswerk bly.

 

Here Jesus, neem my losgeskeurde menswees en maak my heeltemal oor. Ja, maak my nuut in my liefde vir U. myself en ander.

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

  Skrywer: Milanie Vosloo

 




JESUS WORD GEKRUISIG EN BEGRAWE (3)

JESUS WORD GEKRUISIG EN BEGRAWE (3) – Jan van der Watt

deel 2 – Wat is die betekenis van die kruis volgens Paulus en Johannes?

Die kruis, wat eintlik in daardie tyd ‘n skande was, het die sentrum van die boodskap van die Christene geword. Dit was die plek waar die verlossing werklikheid geword het. Wat beteken die kruis volgens die Nuwe Testament vir ons?

 

 

a) Hoe het Paulus die kruis gesien?

 

  • Die kruis is die kern van sy boodskap: Wat sê Paulus in 1 Kor 2:1-5 oor die kruis?……………

……………………………………………………………………………………………………………………………………

Lees nou ook 1 Kor 1:18-25 oor hoe die ander mense die kruis en boodskap van Jesus gesien het. In Fil 2:8 word die kruis dan ook ‘n vernedering in die uiterste graad genoem. Sien ook Gal 5:11. In Gal 6:12 noem Paulus dat die kruis nie ‘n gerieflike boodskap was nie, maar dat dit vervolging veroorsaak het. Nogtans het die Christene nooit daaroor die boodskap verander of laat vaar nie. Ons moet ook onthou dat die opstanding nooit deur Paulus los van die kruis gesien word nie. In 1 Kor 2:2 sê Paulus dat sy enigste boodskap die kruisboodskap is, maar in 1 Kor 15:16-18, as hy sy brief afsluit, sê hy dat sonder die opstanding alles tevergeefs is – die kruis en opstanding gaan saam.

  • Aan die kruis word Jesus soos ‘n sondaar in ons plek: Lees 2 Kor 5:20-21. Wat gebeur alles omdat Jesus bereid was om ons sonde op Hom te neem? ……………………………………………………

…………………………………………………………………………………………………………………………………….

  • Die kruis is die plek waar Christus vir ons skuld sterf: Lees Kol 2:14. Die oortreding waarvoor die persoon gekruisig word, is per geleentheid aan die kruis aangebring. Dan kon mense lees wat die oortreding was. In Jesus se geval hang Hy aan die kruis, maar die oortredings waarvoor Hy daar hang is nie syne nie, maar ons s’n. Wat dink jy is die betekenis hiervan vir jou verhouding met God? …………………………………………………………………………………………………….

…………………………………………………………………………………………………………………………………….

  • By die kruis verander ‘n mens se status en begin jou nuwe lewe: Vanweë dit wat aan die kruis gebeur het, is Paulus vir die wêreld dood en die wêreld is vir hom dood (hier gaan dit oor sy status wat nie meer deur die wêreldse dinge bepaal word nie). Nee, Hy is nou ‘n nuwe mens in die wêreld van God (Lees Gal 6:14-16). Lees ook 2 Kor 5:16-19 om Galasiërs beter te verstaan.

 

  • By die kruis word die vriendskap tussen God en mens, asook tussen mense onderling herstel: Ef 2:13-18 beskryf hoe God die grense tussen nie-Jode en Jode afgebreek het. (Die skeiding tussen Jode en nie-Jode was nogal skerp in daardie tyd. Die Jode het gevoel dat as iemand ‘n kind van God wil word, moet hy of sy ‘n Jood word. Paulus sê nee. Met die kruis het Jesus dinge kom verander. Daar is nou ‘n nuwe familie waarin almal welkom is). Jesus het deur sy kruis dit reggekry dat almal vriende en kinders van God kan wees. Beskryf in jou eie woorde hoe jy Ef 2:13-18 sien. Lees nou Kol 1:20 en sê hoe jy dink hierdie vers by Efesiërs se boodskap aansluit.

……………………………………………………………………………………………………………………………………..

  • Aan die kruis sterf “iets”/iemand. Ons ou mens het so saam met Christus aan die kruis gesterf sodat ons ook saam met Hom kan leef: Lees Rom 6:5-11 en verduidelik hoe jy dit verstaan……

.……………………………………………………………………………………………………………………………………

Die volgende is belangrik om hierdie gedeelte mooi te verstaan: Paulus sien Jesus as die verteenwoordiger van almal wat aan Hom behoort. Wat met hom gebeur, gebeur met al sy mense (as ‘n kaptein van ‘n krieketspan die loot wen, geld dit van sy hele span). Gelowiges is dus “ingesluit” by wat met Jesus gebeur. Die “ou mens”/sondige mens is dus in die oë van God aan die kruis dood en Hy het elkeen wat glo in sy oë opgewek as nuwe mens, ja, as kind van God. Die kruis is dus die draaipunt van die oue na die nuwe. Daar gaan ‘n mens deur die dood na die lewe. Lees ook Gal 2:19-20 en verduidelik in die lig van wat Romeine 6 sê wat jy dink Paulus hier bedoel…………………………………………………………………………………………………………..

……………………………………………………………………………………………………………………………………..

 

 

 Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




JESUS WORD GEKRUISIG EN BEGRAWE (2)

JESUS WORD GEKRUISIG EN BEGRAWE (2) – Jan van der Watt

Daar is ‘n hele klomp interessante dinge wat rondom die kruisiging van Jesus gebeur het:

 

  • Die tyd van Jesus se dood: Jesus is met die Joodse paasfees dood – dit was waarskynlik die belangrikste fees van die Jode. Hulle het toe veral die verlossing van die volk deur God uit Egipte gevier. Die politiese atmosfeer was ook kwaai gelaai, want daar het duisende Jode in Jerusalem saamgetrek vir die fees. Dit is die rede waarom Jesus en sy dissipels in die tuin van Getsemane gaan slaap het. Dit was soos ‘n kampeerterrein buite die stad, want die stad self was vol mense. Die Romeine het egter die situasie mooi dopgehou, want sulke saamtrekke kon maklik hand uitruk. As Jesus gekruisig word, is dit dan ook as politieke gevangene. Bokant sy kruis staan daar dat Hy as die “koning van die Jode” gekruisig is, met ander woorde, dit was sy oortreding – Hy het voorgegee om die koning van die Jode te wees volgens die uitspraak van Pilatus.
  • Die twee howe – Joods en Romeins: Die Romeine was die politieke heersers van die Joodse gebied. Hulle het die Jode onder leiding van die hoëpriester toegelaat om oor hulle eie sosiale en godsdienstige sake besluite te neem. Daarvoor het hulle ‘n spesiale raad gehad, naamlik, die Sanhedrin. Die Jode wou van Jesus ontslae raak, omdat hulle gedink het Hy is ‘n lasteraar en moeilikheidmaker. Daarom verhoor hulle hom eers (Mk 14:53-65). Volgens Johannes het hulle egter nie die reg gehad om iemand ter dood te veroordeel nie (Joh 18:31). Daarom het hulle hom na die politieke leier gestuur – hy kon Jesus ter dood veroordeel en het dit ook onder druk van die Jode gedoen.
  • Die verraad van Judas: Judas het Jesus verraai, maar waarom was dit nodig (Markus 14:10-11)? Jesus hulle het in die tuin van Getsemane tussen baie ander mense die nag gaan deurbring. Jesus was ook nie van Jerusalem self nie. Hy het uit die noorde, uit Galilea, gekom en was dus nie so bekend nie. Paulus, wat toe ook ‘n jong Fariseër in Jerusalem was, het Jesus glad nie ontmoet nie. Aangesien daar ook nie ligte en sulke dinge in die tuin was nie, sou die soldate maklik ‘n fout kon maak en die verkeerde persoon kon vang. Daarom het hulle iemand saamgevat wat presies geweet het waar om Jesus te kry en toe hulle daar kom, moes hy Jesus spesifiek identifiseer, in sy geval deur Jesus te soengroet (Mk 14:45).
  • Die instelling van die nagmaal: Dit is nie maar per toeval dat Jesus by sy laaste ete die nagmaal ingestel het nie. Etes in die destydse wêreld was eintlik sosiale gebeure. Jy het net saam met jou beste vriende geëet en familie en vriende het dit ook gereeld gedoen. Deur nou vir die dissipels te vra om by die etes elke keer aan Jesus terug te dink, het beteken dat hulle gereeld aan Hom bly dink as hulle vriend. Die gedagtes moet hulle dan telkens herinner aan wie hulle is en wat Jesus vir hulle gedoen het. Deur dit aan ‘n ete te bind beteken dat hulle nooit sal vergeet om dit te doen nie, want hulle moet altyd eet.
  • Petrus verloën Jesus: Petrus het sulke goeie bedoelings gehad. Hy het vir Jesus gesê dat hy Hom nooit in die steek sal laat nie en toe die toets kom dop hy dit… sommer ‘n paar maal. Hy verloën Jesus. Hy was bang hy sou saam met Jesus gekruisig word – later is hy wel vir Jesus gekruisig. Die rede waarom hy dit nie die eerste keer kon doen nie, is omdat die werklike kruisweg van redding kan net eenmaal en deur een Persoon gestap word – Jesus. Geen mens nie, nie eers Petrus nie, kon dit doen nie. Daarom hardloop Jesus se dissipels sommer al in die tuin van Getsemane al almal weg (Mk 14:50).  
  • Jesus se gebed: Jesus bid dat die lydensbeker van Hom weggeneem moet word… (Mark 14:32-41). Tog moet sy wil nie seëvier nie, maar die van sy Vader. Hiermee word die menslikheid van Jesus beklemtoon. Hy het nie sommer maar net in die dood ingestap nie, maar het ook die normale menslike vrese gehad. Ons dink dikwels dat dit nie moeilik vir Jesus was om kruis toe te gaan nie, maar die Hebreërskrywer noem Jesus die begin en voleinder van die geloof (Heb 12:2). Hiermee bedoel hy dat toe Jesus voor die kruis gestaan het, het iets heeltemal nuuts op Hom gewag – niemand het na die dood nog vir ewig weer opgestaan nie. Jesus kon dus net in God glo wat Hom sou opwek. Nogtans was sy geloof sterk genoeg om die heilspad enduit te loop.
  • Jesus was eintlik onskuldig: Dat Pilatus nie gedink het Jesus is skuldig of dat Hy die dood verdien nie, word in die Evangelies beklemtoon. Pilatus was selfs sy hande in onskuld. Dit maak die skuld van die mense wat Hom wou kruisig nog groter.

 

Volgende keer kyk ons na die betekenis van die kruis volgens Paulus en Johannes.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt