JOHANNES DIE DOPER – ‘N NUWE TYD BREEK AAN EN DIE PAD WORD GELYKGEMAAK (5)

JOHANNES DIE DOPER – ‘N NUWE TYD BREEK AAN EN DIE PAD WORD GELYKGEMAAK (5) – Jan van der Watt

ii) Vir wie het Johannes gepreek?

Dit lyk of Johannes die sogenaamde geestelike leiers in Jerusalem, daar by die tempel, in sy visier gehad het.

 

 

  • In Mat 3:7 word die Fariseërs en Sadduseërs by name genoem as Johannes oor die oordeel van God praat. Hulle moenie dink die feit dat hulle as Jode gebore is (kinders van Abraham) dat dit hulle saak met die Here regmaak nie. Hulle moet soos kinders van God leef. Dit beklemtoon Lukas veral.
  • Hy het ook nie gehuiwer om die morele verval in die samelewing aan te spreek nie. Selfs die leier, koning Herodes, het deurgeloop. Lees alles daarvan in Mat 14:3-4; Luk 3:19.

 

Baie mense het na Johannes toe gekom en is gedoop. Dit was baie gewone mense wat na Johannes gestroom het, maar ons het ook gesien dat die belangrikes daar opgedaag het. Johannes se kritiek en boodskap was egter veral teen die meer gesiene priesters, familiehoofde, Fariseërs en Sadduseërs en selfs ander belangrike mense in die samelewing gerig wat nie meer vir God geleef het nie, maar vir hulleself. Hulle het nagelaat om die basiese dinge wat God vra te doen, soos om vir die armes te sorg en hulle nie uit te buit nie.

 

iii) Waarom het Johannes nou juis gedoop?

Doop is nie net deur Christene gebruik nie. Doop was wat ons noem ‘n oorgangsrite. Mense wat onrein was, het hulle gewas met water (is gedoop) en dan was hulle rein. Hulle het dus oor die grens van onrein na rein gegaan. Sondaars is gedoop en het van sondaars oor die grens na vergeefde mense gegaan. Doop was dus die plek waar die oorgang van een toestand na ‘n ander “gemerk is in die openbaar”. As Johannes iemand doop gaan die persoon die grens oor van iemand wat sondig na iemand wat nie wil sondig nie, maar gehoorsaam aan God wil bly. As Jesus iemand doop, gaan daai persoon die grens oor van iemand wat nie aan Jesus behoort nie, na iemand wat aan Jesus behoort.

 

Die Johannesevangelie maak ‘n addendum: Johannes moes doop sodat God vir hom kon wys wie regtig die Messias is. Lees maar Joh 1:33-34.

 

iv) Hoe is Johannes dood?

Johannes se kop is afgekap, omdat hy so eerlik en reguit met koning Herodes was. Hy het hom aangespreek oor sy onsedelikheid en die feit dat hy met sy broer se vrou getrou het. (Lees die interessante verhaal in Mk 6:17-29). As ons egter na die verhaal van Josefus oor Johannes kyk, dan was daar ‘n politieke rede waarom hy doodgemaak is, Herodes was bang dat al die mense wat na hom toe oorstap miskien soos ‘n revolusie teen die Romeine kan lyk. Daarom het hy hom uit die weg geruim.

 

Die twee weergawes is nie presies dieselfde nie, maar hoef nie te bots nie. Beide kan waar wees. Die een gaan oor Johannes se politieke rol en die ander een oor sy morele rol.

 

v) Wanneer het Jesus begin preek?

Daar is twee moontlikhede wat altwee in die Nuwe Testament genoem word:

 

  • Jesus begin preek terwyl Johannes ook nog aan die preek is (Joh 3:22-23).
  • Jesus begin eers preek nadat Johannes gevang is (Mat 4:12-17; Mk 1:14).

 

Veral as ‘n mens Johannes lees, lyk dit of Jesus ‘n dissipel van Johannes die Doper kon wees wat later op sy eie begin preek het. Redes is bv. dat Johannes Jesus gedoop het, dat Jesus se boodskap en die van Johannes baie dieselfde klink (Mat 3:2; 4:17; Mk 1:4,15); dat van Johannes se dissipels Jesus begin volg.

 

In die volgende artikel gaan ons kyk na Jesus se doop deur Johannes.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




JOHANNES DIE DOPER – ‘N NUWE TYD BREEK AAN EN DIE PAD WORD GELYKGEMAAK (4)

JOHANNES DIE DOPER – ‘N NUWE TYD BREEK AAN EN DIE PAD WORD GELYKGEMAAK (4)

deel 2 – Johannes se preke

Johannes die Doper het die pad vir Jesus voorberei. Dit het hy gedoen deur sy kragtige prediking en deur mense te doop.

i) Wat het Johannes gepreek?

 

Die samevatting en tema van sy preke was: “Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe” (Mk 1:4). Hulle moes dus van hulle sondes ontslae raak en hulle voluit met God assosieer. Dit gaan oor bekering – doop – vergifnis.

 

Lees Mat 3:7-12 saam met Luk 3:9-14 vir ‘n opsomming van Johannes se prediking.

    • Wat is die inhoud van sy preke? ……………………………………………………………………..

……………………………………………………………………………………………………………………

 

Hy preek veral oor Jesus:

Johannes het wel baie te sê gehad oor God se oordeel wat aan die kom is (Mat 3:7-8), maar sy hooftaak was om oor Jesus te getuig, met ander woorde, om die pad gelyk te maak vir die koning wat kom. Kom ons kyk wat sê hy alles oor Jesus (dieselfde opmerkings in ander NT boeke word nie hier herhaal nie:

 

Mat 3:3

Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit.

Mat 3:11

Hy wat ná my kom, is my meerdere

Mat 3:11

en ek is nie eers werd om sy skoene uit te trek nie.

Mat 3:11

Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop.

Mat 3:12

Hy het sy skop in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Sy koring sal Hy na die skuur toe bring, maar die kaf sal Hy met ’n onblusbare vuur verbrand

Mat 3:14

Ek moet eintlik deur U gedoop word en U kom na my toe?

Joh 1:29

Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!

Joh 1:30

Ná my kom daar ’n Man wat my vóór is, want Hy was voor my reeds daar

Joh 1:31

Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar ek het gekom en ek doop met water sodat Hy aan Israel bekend gestel kan word

Joh 1:32-34

Ek het duidelik die Gees soos ’n duif uit die hemel sien kom, en Hy het op Hom gebly. 33Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Die Een op wie jy die Gees sien kom en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’34Ek het dit self gesien en daarom getuig ek: Hy is die Seun van God.

Joh 3:27-30

Niemand besit enige bevoegdheid om iets te doen as dit nie uit die hemel aan hom gegee is nie. Julle is self my getuies dat ek gesê het: ‘Ek is nie die Christus nie. Ek is maar net voor Hom uit gestuur.’ Die bruidegom is die een aan wie die bruid behoort; maar die vriend van die bruidegom staan en luister of hy kom en is baie bly wanneer hy die stem van die bruidegom hoor. Daarom is ek nou met blydskap vervul. Hy moet meer word en ek minder.

 

‘n Merkwaardige verhaal is wat gebeur het toe Johannes in die tronk geland het. Daar, agter die tralies het hy aan Jesus begin twyfel…

 

Lees Mat 11:2-6 en sê wat was Johannes se probleem en kyk op jy kan agterkom waarom Jesus hom antwoord soos Hy dit inderdaad doen………………………………………………………

……………………………………………………………………………………………………………………………

 

Vir ons is dit maklik om te sê Jesus is die Messias. Maar destyds is die Messias verwag, maar niemand het geweet wie hy is nie. Hy moet eers uitgeken word. Maar hoe ken ‘n mens die Messias uit. Daar was kriteria: a) Hy moes lyk soos die Skrifte sê hy sou lyk. Met ander woorde, hy moes die profesieë vervul. b) Hy moes wys hy is met die krag van God vervul deur wonderlike dinge te doen. As die lewe van die persoon met die Skrifte klop en wat hy doen klop met die teenwoordigheid van die krag van God, dan moet ‘n mens begin om te oorweeg of die persoon nie die Messias is nie. Ons sien in die NT hoeveel maal daar na Jesus verwys word wat die OT se voorspellings waar maak. Dit wys Hy is die een wat die Skrifte voorspel het. Die wonders wat Hy doen, wys God is aan sy kant.  As Jesus vir Johannes in Mat 11:4-6 antwoord, dan verwys Hy na wonders wat in die OT voorspel word – dit is wat gaan gebeur as die Messias kom.

  

Volgende keer antwoord ons die vraag: Vir wie het Johannes gepreek?

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Laat sy liefde jou lei: God gee nét genoeg

Laat sy liefde jou lei: God gee nét genoeg – Milanie Vosloo

Dié wat baie (manna en kwartels) opgetel het, het niks oorgehou nie. Dié wat min opgetel het, het nie te min gehad nie. Daar was net mooi genoeg vir elkeen om van te eet. Exodus 16:18b

 

Die meeste van ons hou daarvan as ons lewens min of meer georganiseerd is; as ons weet waarheen ons oppad is, wat ons moet doen en hoe ons dit behoort te doen. Dis mos maar menslik om in beheer te wil wees. Juis daarom vind ons dit dikwels frustrerend as ons na God se wil vra … en voel of Hy nie antwoord nie. Dis ook nie altyd maklik om in die duister te wees oor wat Hy vir ons toekoms beplan nie.

 

Die feit is: God laat Hom nie voorskryf deur ons menslike vereistes, ons horlosies en manier van leef nie. Hy doen dinge op sý unieke en soewereine manier: ook wanneer en die manier hoe Hy ons op ons vrae en gebede antwoord. Boonop maak ons Vader dit ook duidelik dat Hy ’n ”Een-tree-op-’n slag-God” is. Hy gee dit wat ons vir vandag nodig het, vandág. Môre sorg Hy vir môre. Soos Hy in Eksodus 16 manna en kwartels dag-vir-dag aan sy volk gee, so sal Hy ook vir ons dit gee wat ons op hierdie tydstip nodig het. Niks meer nie en niks minder nie!.

 

Dit help nie om vandag al môre se antwoorde te probeer bymekaarmaak nie. God gee een woord op ’n slag.

 

Here, dankie dat U stukkie-vir-stukkie die antwoorde sal gee wat ek nodig het.

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

  Skrywer: Milanie Vosloo

 




JOHANNES DIE DOPER – ‘N NUWE TYD BREEK AAN EN DIE PAD WORD GELYKGEMAAK (3)

JOHANNES DIE DOPER – ‘N NUWE TYD BREEK AAN EN DIE PAD WORD GELYKGEMAAK (3) – Jan van der Watt

ii) Wie was Johannes die Doper?

As ons Johannes die Doper kon raakloop… wat sou ons sien?

 

 

  • Ons sou hoor van sy spesiale geboorte wat natuurlik vooruitkyk na ‘n spesiale lewe. (Lees Luk 1:5-25, 39-41, 57-66 – sien jy enigiets spesiaals?…………………………………………………

……………………………………………………………………………………………………………………………). Soos met Jesus word Johannes se geboorte deur ‘n engel aangekondig en gaan dit met wonders saam. Die kind is nog nie eers gebore nie, toe hy al die teenwoordigheid van Jesus erken (Luk 1:39-41).

  • As ons na sy kleredrag kyk en kyk wat hy geëet het, kom hy nie uit ‘n paleis nie, maar uit die woestyn… die profeet uit die woestyn, waar God so lank met sy volk deurgetrek het en so naby hulle gekom het. Hy lyk dus soos die ou profete en vervul die ou profesieë. Lees bv. Jes 40:3; Mal. 3:1-3; Sag 13:4; 2 Kon 1:8. 

 

Heelwat wetenskaplikes verbind Johannes die Doper met die gemeenskap – waarskynlik Esseners – wat by Kumraan langs die Dooie see gewoon het. Hulle was ‘n klomp priesters wat gerebelleer het teen die afvalligheid van die priesters in Jerusalem rondom die tempel. Hulle het gevoel dat daai priesters te veel toegewings maak teenoor die heidense Romeine en so die egte geloof verlaat. Hulle het te veel na die pype van die heidene gedans. Uit hierdie groep, wat ‘n strenger godsdiens voorgestaan het, kom Johannes waarskynlik. Daarom is hy wetsgehoorsaam en leer sy volgelinge so (Mk 2:18).

  

  • Die reaksie op Johannes was oorweldigend. Daar is eintlik onder die meeste geleerdes konsensus dat Johannes uit menslike oogpunt belangriker was onder die Jode as Jesus:
    • Johannes is bekend en doop baie mense uit groot gebiede. As jy iemand doop beteken dit dat die persoon hom “by jou groep aansluit”. (Mk 1:5). Daarom weet hulle in die hart van Jerusalem ook deeglik van hom as profeet (Mk 11:32). Hulle stuur selfs afvaardigings om te kom kyk of hy nie dalk ‘n belangrike profeet is nie (Joh 1:19).
    • Daar was selfs nadat Jesus begin preek het nog ‘n sterk groep (dissipels) wat Johannes en nie vir Jesus gevolg het nie (Mk 2:18; 6:29; Joh 1:35; 3:22-26).
      • Hulle het Johannes ook begrawe na sy dood (Mk 6:29)
      • Daar is vandag nog reste van die Johannes die Doper groep.

 

iii) Waar doop hy?

 

 Dit is nie seker waar Hy oral gedoop het nie, maar die mees waarskynlike plek is naby Jerigo, noord van die Dooie see in die Jordaan. In Joh 3:23 staan daar dat Johannes by Enon naby Salim gedoop het, wat sowat 30-70 kilometer noord van Jerusalem was. Dit beteken dat hy waarskynlik by verskillende plekke in die Jordaan gedoop het.

 

As jy vir iemand moet vertel wie Johannes die Doper as persoon was, wat sou jy sê?…………………….

…………………………………………………………………………………………………………………………………………….

…………………………………………………………………………………………………………………………………………….

 

Ons het nou na Johannes die persoon gekyk. Nou gaan ons na sy preke kyk.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt