JOHANNES DIE DOPER – ‘N NUWE TYD BREEK AAN EN DIE PAD WORD GELYKGEMAAK (2)

JOHANNES DIE DOPER – ‘N NUWE TYD BREEK AAN EN DIE PAD WORD GELYKGEMAAK (2) – Jan van der Watt

i) Hoekom was Johannes die Doper so belangrik?

Johannes is volgens die Nuwe Testament belangrik, want:

 

 

  • Hy is die wegbereider van die Messias, Jesus, die Koning wat na sy volk toe kom (Lees Mat 3:3 
  • Hy is die een wat weer na ongeveer 400 jaar se stilte die profetiese stem van God laat hoor (Lees Mk 6:15, 11:9; Luk 1:76). Die mense van Jerusalem het geweet dat Johannes ‘n profeet was (Lees Mk 11:32)

  

Die laaste profete waarvan ons lees in die Ou Testament het na die terugkeer in ballingskap en die opbou van Jerusalem gepreek, honderde jare voor Jesus. Toe was daar ‘n tydperk van eeue waar daar nie profete opgetree het nie. Die Jode het egter almal verwag dat as God weer kom om sy beloftes waar te maak en sy mense te kom haal, sal die profete weer begin praat.

 

  • Hy merk die oorgang tussen die era van die Ou Testament en die Nuwe Testament (Lees Mat 11:2-19; Luk 16:14-18).

 

Kyk mooi wat in die verse staan: a) In Mat 11:12 (Sedert die dae van Johannes die Doper tot nou toe breek die koninkryk van die hemel vir homself ’n pad oop, en mense wat hulle kragtig inspan, kry dit in besit). Volgens Matteus begin die era van die koninkryk van God – wat Jesus gaan bring – by Johannes. b) In Luk 16:16 (Tot op Johannes was dit net die wet en die profete. Van toe af word die koninkryk van God verkondig) eindig die wetsera (die Ou-Testamentiese era) met Johannes en begin die koninkryksera daarna. Vir Matteus begin  Johannes God se verlossingstyd, maar Lukas dink hy eindig die ou tyd – dit wys dat hy in die middel van die twee eras staan – of die begin of die einde. In alle geval is sy posisie maar net die een wat die pad berei, wat die weg wys. 

 

  • Jesus dink baie van hom: Lees: – Mk 9:12… Johannes die Doper word Elia genoem.

   – Mat 11:11-15… Wie is so belangrik soos Johannes?

 

Hoe belangrik is gelowiges gemeet aan Johannes die Doper?…………………………………………..

 

Maar wie was Johannes die Doper. Daaroor volgende keer meer.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Laat sy liefde jou lei: Seёn Hy wérklik gehoorsaamheid?

Laat sy liefde jou lei: Seёn Hy wérklik gehoorsaamheid? – Milanie Vosloo

Met blydskap sal julle drink van die fonteine van redding! In daardie wonderlike dag sal julle sing: “Dank die Here! Prys sy Naam! … Sing vir die Here want Hy het wonderlike dinge gedoen. Laat almal in die wêreld dit hoor.” Jesaja 12:3,5

 

Miskien wonder jy soms: Seёn God régtig gehoorsame kinders van Hom meer as ander? Waarom lyk dit dan so of hulle wat “sonder” Hom leef, meer voorspoedig as ander is?

 

Die antwoord hierop leer die Woord ons is ‘n duidelik JA! Ons regverdige Here belowe telkemale sy goedheid, seёn en trou aan sy gehoorsame kinders. Maar God se seёn is heel dikwels anders verpak as die normale tasbare en sigbare voorspoed-dinge. Ons Vader se seёn kan natuurlik materiёle en aardse rykdomme ook insluit, maar heel dikwels manifesteer sy genade-geskenke juis in die onsigbare kern van ons hart.

 

Soos wanneer ons in sy teenwoordigheid stil word en ervaar hoe Hy ons sommer net met liefde toevou. Of wanneer ons onverklaarbare vrede ervaar te midde van die ergste storms om ons woed. Of dalk wanneer Hy deur ander mense onverwagse spatsels liefde oor ons strooi. Heel dikwels is God se seёn bondels genade en beskerming waarsonder ons lewens – onwetend – radikaal anders sou wees.

 

Leef elke dag jou lewe maar net in totale afhanklikheid, getrouheid en gehoorsaamheid aan jou Vader en hou jou oё ingestel op die sagte pastelle van sy reёnbooggenade.

 

Voorsiener-God, help my om U met ‘n dankbare hart getrou te volg in dié wete dat u goedheid altyd my deel sal wees.

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

  

 

Skrywer: Milanie Vosloo

 




JOHANNES DIE DOPER – ‘N NUWE TYD BREEK AAN EN DIE PAD WORD GELYKGEMAAK (1)

JOHANNES DIE DOPER – ‘N NUWE TYD BREEK AAN EN DIE PAD WORD GELYKGEMAAK (1) – Jan van der Watt

deel 1 – Johannes die Doper

Die evangelie van Jesus begin met Johannes die Doper; daaroor is al vier evangelies dit eens. Johannes die Doper speel egter ‘n belangrike rol in die die Nuwe Testament, belangriker as wat ons soms dink. Geleerdes meen dat mense in die tyd van Jesus meer van Johannes die Doper geweet  en gedink het hy is belangriker as Jesus. Selfs Josefus, die skrywer van die Joodse geskiedenis, skryf ‘n langer stuk oor Johannes die Doper as oor Jesus. Johannes was ‘n prominente figuur in daardie tyd wat selfs die koning aangevat het – dit sou uiteindelik sy dood kos. 

 

 

Voor jy verder na die diagram kyk – wat weet jy alles van Johannes die Doper?

…………………………………………………………………………………………………………………………………………..

…………………………………………………………………………………………………………………………………………..

 

Ek weet nie of jy geweet het hoeveel inligting ons regtig oor Johannes die Doper in die Nuwe Testament het nie. Dit is nogal baie – kom ons gaan van hulle deur:

 

JOHANNES DIE DOPER IN DIE NUWE TESTAMENT

 

Johannes se geboorteverhaal

Johannes se geboorte aangekondig – Luk 1:5-25; Johannes se geboorte – Luk 1:41,57-66. Hy word groot – Luk 1:80.

 

Inleidende (en belangrikste) verhale oor sy prediking en doop

Matt 3:1-17; Mk 1:2-11; Luk 3:1-22; Joh 1:6-8, 19-36; Prediking teen Herodes Luk 3:19-20; Hy het vir almal gepreek – Matt 21:31-32

 

Hoe het hy geleef?

As arm woestynswerwer – Matt 3:4; 11:18; Mk 1:6. In die omgewing van die Jordaan – Joh 10:40-41.

 

Verskille oor wat Jesus en Johannes leer – Johannes se groot vraag aan Jesus

Johannes vra of Jesus die Messias is – Matt 11:2-19; Luk 7:18-35. Vrae oor vas, gebed en Sabbat – Matt 9:14-17; Mk 2:18-22; Luk 5:33-39; 16:14-18.

 

Johannes se doop vs. Jesus se doop – dit verskil

Johannes se doop met water – Mk 11:30; Luk 20:3; Hand 18:25-19:10; Joh 3:22-30; 4:1. Jesus doop met die Heilige Gees – Matt 3: 11; Mk 1:8; Luk 3:16; Joh 1:33; Hand 1:5; 11:6.

 

Hoe belangrik was Johannes die Doper volgens Jesus?

Baie belangrik Matt 21:23-27; Selfs soos Elia – Matt 17:11-13; Maar tog nie regtig so belangrik as dit by Jesus kom nie – Joh 5:33-36; Matt 11:2-29; Luk 7:18-35.

 

Sy verdere verhouding met Jesus

Mense verwar Jesus met Johannes die Doper (wat uit die dood opgewek is – Matt 16:14; Mk 6:14-16; 8:27-33; Luk 7:7-9; Hy was onbelangrik in die teenwoordigheid van Jesus – Matt 3:11; Mk 1:7; Joh 1:26, 30; 3:27-30; Hand 13:24-25.

Tronk toe en sy dood

Matt 4:12; 14:1-10; Mk 1:14; 6:17-29 – Herodes vang hom en onthoof hom

 

Uit hierdie inligting sien ons dat die Nuwe Testament vir ons ‘n redelike volledige prentjie gee van Johannes die Doper – van sy geboorte af, sy prediking, sy lewe en selfs hoe hy dood is. Waarom was dit vir die vroeë Christene so belangrik om so baie van Johannes te weet?

 

As jy nou die prentjie van Johannes die Doper “aanmekaar” moet sit, wie dink jy was hy, waaroor het hy gepreek en vir wie?

…………………………………………………………………………………………………………………………………………..

…………………………………………………………………………………………………………………………………………..

 

As jy dalk eers wil lees wat Josefus, die Joodse geskiedskrywer oor Johannes te sê gehad het, hier is dit:

 

Wel, party van die Jode het gedink dat die vernietiging van Herodes se weermag van God af kom en dat dit geregverdig was, as straf vir wat hy aan Johannes gedoen het, wat die Doper genoem is; Herodes het hom doodgemaak, hy (Johannes) wat ‘n goeie man was. Hy het die Jode opdrag om deugsaam te leef, beide wat hulle regverdige optrede teenoor mekaar as was hulle toewyding teenoor God betref en om hulle daarom te laat doop.  Die was (met water) was vir hom aanvaarbaar as hulle daarvan gebruik maak, nie alleen om van hulle sonde ontslae te raak nie, maar vir die reiniging van hulle liggame, met die veronderstelling dat die siel vooraf deeglik deur regverdigheid gereinig is. Toe baie mense in skares na hom toe gekom het – hulle was behoorlik meegevoer deur sy woorde – het Herodes begin vrees dat die groot invloed wat Johannes oor die mense gehad het, hom die mag en die neiging sou gee om ‘n rebellie op die been te bring, want die skare het gereed gelyk om enigiets te doen wat hy vra. Herodes het dit toe goed gedink, deur Johannes dood te maak, om enige moeilikheid wat Johannes mag veroorsaak te verhoed en om so nie vir homself moeilikheid op die hals te haal deur ‘n man te spaar wat hom sou laat jammer kry as dit te laat is nie. Gevolglik is Johannes, weens Herodes se suspisieuse geaardheid, as gevange na Magerus, die vesting wat ek vantevore genoem het, gestuur waar hy doodgemaak is. Die Jode is nou van mening dat die vernietiging van Herodus se weermag was sy straf en was ‘n teken van God se afkeur van hom. (Ant. 18.2 §116-119).

 

 Maar hoekom was Johannes die Doper so belangrik? Daarna kyk ons volgende keer.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




JESUS PREEK – DIE BERGPREDIKASIE (2)

JESUS PREEK – DIE BERGPREDIKASIE (2) – Jan van der Watt

Deel 2 – Jesus preek verder oor wat van sy mense verwag word

 

3. Ware godsdiens (en beloning – dit is nie wat Christenskap jou kos nie, maar die loon wat jy kry)

 

3.1 In hoofstuk 6 verander die tema van die Bergpredikasie. Die eerste sin (6:1) gee al ‘n aanduiding van waaroor dit gaan: “Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie, want dan kry julle geen beloning van julle Vader wat in die hemel is nie”  

 

Wat sou jy uit bogenoemde opmerking oor wat godsdiens presies is, aflei?……………………..

……………………………………………………………………………………………………………………………….

 

Godsdiens is duidelik iets tussen jou en God en nie om mense te beïndruk of om eie eer te soek nie.

 

3.2 Gebed… om met jou pa te praat (6:5-15)

 

Lees 6:5-15 en gee in jou eie woorde weer wat goeie opregte gebed beteken…………………

………………………………………………………………………………………………..

 

Hier word die klem weer op die verhouding tussen mens en God in plaas van eie eer geplaas.

 

Die ‘Ons Vader’ gebed is ’n gebed van ‘n kind aan sy/haar vader – daarom word dit aan die ‘Vader’ gerig. Vaders in daardie tyd het 3 belangrike funksies gehad: om die gesin na buite (in die publiek) te verteenwoordig, om die gesin te versorg en om die gesin te beskerm teen gevaar. Vir die drie dinge word daar in die Ons Vader gebid. Eers word daar gevra dat die publieke beeld van die Vader uitgebrei en sterker gemaak word (Laat….u Naam, u Koninkryk, u wil…). Dan word gevra vir brood, maar met die erkenning dat die Vader vir die brood sorg. Dan word daar gevra vir beskerming – bewaar ons van die bose en as ons foute gemaak het, moenie dit teen ons hou nie. Vergewe ons, want ons wil goeie kinders wees en bly. So is die gebed ‘n gebed van ‘n kind van God wat gelowig sy kindskap teenoor die Vader erken. Die gebed is dus meer as om te vra; dit is ook om te gee, jouself te gee.

 

3.3 Vas

 

Die meeste hedendaagse Christene vas nie meer nie. Waarom nie?

 

Lees Mat 6:16-18 en sê hoe jy dink hierdie verse verstaan moet word……………………………..

………………………………………………………………………………………………………………………………..

 

Lees dan ook Mat 6:19-21 en sê waar die werklike loon en skatte vir die gelowige gevind moet word……………………………………………………………………………………………….

…………………………………………………………………………………………………………….

 

3.4 Lojaliteit: Beginsel van die onmoontlikheid om twee here te dien

 

Lees Mat 6:24 en sê wat jy daaruit aflei vir die gelowige se alledaagse lewe?…………………..

………………………………………………………………………………………………………………………………..

 

3.5 Fokus in die lewe

 

Een van die wonderlikste dele in die Bybel kry ons in Mat 6:25-34. Belangrike mense soos Franciskus van Assisi is byvoorbeeld deur hierdie gedeelte beïnvloed, juis omdat dit die gedeelte God se sorg en ons absolute afhanklikheid daarvan so sterk beklemtoon.

 

Lees 6:25-34 en sê vir jouself wat dit beteken vir jou eie geloofslewe………………………………

………………………………………………………………………………………………………………………………..

 

4. Loop die reguit pad

 

In hoofstuk 7 verander die aanslag van Matteus weer. Hy verduidelik wat te midde van die lewe gevra word. Moenie op ander se foute konsentreer nie (7:1-6), maar vra liewer God om jou te help en te gee wat jy nodig het (7:7-12). Bly op die regte pad en oppas vir valse profete wat jou van die pad af wil kry (7:13-20). ‘n Mens sal immers aan jou vrugte geken word wat jou dade in ooreenstemming met die wil van God is. Wie wil oorleef, moet sy lewe op hierdie boodskap van Jesus bou.

 

Gaan deur hoofstuk 7 en kyk of jy alles wat in die boonste paragraaf gesê word, kan kry……….

……………………………………………………………………………………………………………………………

 

As jy 7:1-6 lees, dink jy jy mag vir ander sê waar hulle foute maak?Moet ‘‘n mens maar altyd stilbly? Motiveer jou opinie…………………………………………………………………………….

……………………………………………………………………………………………………………………………

 

Beteken 7:7-12 dat jy altyd alles gaan kry waarvoor jy vra? Motiveer jou antwoord………..

……………………………………………………………………………………………………………………………….

 

In hoofstuk 7:12 is daar ‘n belangrike opmerking wat eintlik alles opsom: ‘Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen; want dit is die wet en die profete’. Dit staan bekend as die sogenaamde goue reël wat ook in die Jodedom bekend was. Jyself en jou eie belange word die maatstaf vir jou optrede teenoor ander. Die veronderstelling is dat jy jou eie belange so sterk op die hart dra, dat jy altyd die beste vir jouself sal wil hê. Hier word daardie ‘beste vir jouself’ op ander geprojekteer.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt