Laat sy Liefde jou Lei: Glo jy die beste?

Laat sy Liefde jou Lei: Glo jy die beste? – Milanie Vosloo

Glo jy die beste?

“Word wakker, jy wat slaap; staan op tussen die dooies uit, en Christus sal jou verlig.” Efesiёrs 5:14b

Ons kan onsself soveel nonsens wysmaak! Dis waarom ons dan die geneigdheid het om die slegste van ‘n situasie of ander te verwag.

En dan … maak ons die verkeerde aannames. Ons neem aan dat dinge net nie goed gaan uitwerk nie, dat ander mense die slegste van ons dink en dat ons nie iets kan doen nie omdat ons in ‘n patroon verval het om die lewe deur negatiewe brille dop te hou.

 

Om positief te leef beteken nie dat ons naïef oor die werklikheid is en onrealistiese verwagtinge het nie. Dit beteken eenvoudig dat ons met ‘n gesuiwerde hart leef wat met verwagting na ‘n situasie en mense kyk. Doen ons dit, is dit asof ons in die proses ‘n positiewe uitkoms visualiseer en onbewustelik en bewustelik werk om daardie prentjie te laat realiseer.

 

Positiewe mense is gelukkige mense juis omdat hulle dit regkry om hul opbouende gedagtes op ander te projekteer. Omdat hulle glo dat daar goeie dinge gaan gebeur, is hulle deel van ‘n positiewe sisteem wat die beste wél laat gebeur. Omdat hulle die beste van ander glo, weet mense dit en probeer hulle om in alle gevalle aan daardie verwagtinge te voldoen.

 

Gaan leef vandag met ‘n hart wat gevul is met positiewe denke oor dit wat gaan gebeur, ander mense én jouself. Jy sal verras wees oor die eindresultaat!

 

Here, ek glo in ‘n lewe van geloof, hoop … en liefde!

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

milanie_boeke_advertensie

 

 

 

 

 


 Skrywer: Milanie Vosloo




MATTEUS SE VERHAAL OOR JESUS (4)

MATTEUS SE VERHAAL OOR JESUS (4) – Jan van der Watt

Deel 2: Die boodskap van Matteus

 

3.3 Jesus begin preek en werk

Nou lees ons iets belangriks wat ons sommer baie van Matteus se Evangelie leer:

 

Vergelyk Mat 4:23 met 9:35 Wat val jou op?Kyk nou waaroor gaan hoofstukke 5-7 en 8-9 respektiewelik. Kan jy enige verband sien tussen wat in hoofstukke 5-7/8-9 gebeur en wat in die verse staan wat jy gelees het?………………………………………………………………………………..

………………………………………………………………………………………………………………………….

 

Mat 4:23 en 9:35 ‘omraam’ hoofstukke 5-9. Die twee verse sê dieselfde: Jesus het gepreek en Jesus het wonders gedoen. As ons nou na hoofstukke 5-7 kyk, is dit die Bergpredikasie – een lang preek van Jesus, terwyl in hoofstukke 8-9 die wonders van Jesus in ‘n ry bespreek word. Wat in hoofstukke 5-9 staan illustreer dus hoe Jesus gepreek het en wat se wonders hy gedoen het.

 

3.3.1 Matt 5-7: Die Bergpredikasie

 

Ons het reeds in detail kyk na die bergpredikasie gekyk. Dit wys vir ons hoe Jesus se preke gelyk het.

 

3.3.2 Matt 8-9: Wonderverhale (3-3-3)

 

Gaan hoofstukke 8-9 deur en skryf neer wat jou opval………………………………………………………………

……………………………………………………………………………………………………………………………….

 

Die volgende val op as mens hierdie hoofstukke lees.

 

Daar is ‘n patroon – daar word eers drie wonders vertel, dan word dit onderbreek, weer drie met nog ‘n onderbreking en dan nog drie. Dit wys vir ons dat Matteus bewustelik die wonders so georden het. Hy het wonders wat Jesus op verskillende tye gedoen het, bymekaar gemaak en dit so saam vir ons aangebied. Onthou, die groot belangstelling vir hulle was die boodskap en nie noodwendig die feite soos dit agter mekaar gebeur het nie. Matteus wil vir ons die ‘gevoel’ gee van wat dit beteken dat Jesus wonders doen.

 

Die wonders het beslis iets te doen met die preke (boodskappe) van Jesus, soos ons dit ook in die Bergpredikasie gelees het. Wat is die verhouding? Hoekom dink jy was dit belangrik vir Jesus se preke dat Hy wonders gedoen het?

 

Wel, om iets te sê is een ding, maar om iets te bewys is ‘n ander. Jesus kom beweer dat Hy van God af kom, die Messias is en mense kan red. Wie sê dit is waar? Die funksie van die wonders is om die boodskap te ondersteun en waar te maak. Die Jode het geweet dat goeie dinge van God af kom. As Jesus nou goeie dinge doen wat gewone mense nie kan doen nie moet dit beteken dat God op ‘n spesiale manier in Hom werk. Dit bewys die wonders. Gewone mense kan dit nie doen nie en dit bewys dan dat Jesus nie sommer ‘n gewone mens is nie. Hy kom van God af.

 

Daar is nog meer – die Jode het die Messias verwag. Hy was aan die kom, maar hoe het hulle geweet wie is hy? Hoe kon hulle hom herken? Twee dinge was belangrik: a) die profesieë van die Ou Testament moes waar word, met ander woorde, hulle het na die Bybel gaan kyk; b) hy moes wys dat hy van God kom, God se krag deel en dit het Jesus deur die wonders ook gedoen. Jesus het dus aan beide eise voldoen en daarom was die Christene seker hy is die Messias.

 

Jesus het nie net wonders gedoen ter wille van wonders nie, maar om te wys dat Hy werklik die Messias is. 

 

Volgende keer gaan ons voort by Matteus 10.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




MATTEUS SE VERHAAL OOR JESUS (3)

MATTEUS SE VERHAAL OOR JESUS (3) – Jan van der Watt

3. Matteus vertel die verhaal van Jesus op sy manier

Matteus het sy verhaal baie sistematies opgeskryf. Hy het verhale met toesprake afgewissel. Ons gaan die eerste deel van Matteus van nader bekyk.

 

3.1  Matt 1-2: Geboorte van Jesus

 

Ons het reeds na die geboorteverhale gekyk. Dit sou miskien goed wees om jouself te verfris en terug te gaan om net weer te gaan kyk wat daar alles oor die geboorteverhaal van Jesus in Matteus staan. Kyk net weer in die lig van wat hierbo staan hoe groot rol die Ou-Testamentiese aanhalings speel. Die verhaal konsentreer ook nie op die herders en skape soos Lukas nie, maar op politieke dinge – Herodes, die koning wat nie van Jesus hou nie, mense uit ander lande, politieke moord op onskuldige kinders, ens. Daar moet ‘n nuwe koninkryk kom… en dit bring Jesus…

 

3.2 Matt 3-4: Voorbereiding         – Johannes die Doper, die versoeking en die eerste dissipels

 

Matteus 3-4 is Matteus se manier om jou in die verhaal van Jesus ‘in te lei’. Matteus is nie so geïnteresseerd in die kindertyd van Jesus nie, maar val – na die geboorteverhaal – sommer met die deur in die huis. Maak ‘n lysie van al die dinge wat Jesus volgens hoofstuk 3-4 gedoen het.

 

Die doop van Jesus kan vergelyk word met sy ‘salwing’ (soos die konings of profete van die ou tyd). Van nou af is Hy dus gereed en moet die werk waarvoor hy gekom het, begin. Die eerste ding wat Jesus doen is om sy grootste vyand vierkantig in die oë te kyk.

 

Die versoeking  van Jesus

 

Dat Jesus se openbare  bediening met die versoeking begin is belangrik – daar sien ons wie die werklike vyand is:  nie Herodes of die Romeine nie, maar die duiwel en die bose magte. Jesus kom nie om die Jode polities te verlos van die Romeine nie, maar om die wêreld geestelik te verlos van die mag van die bose. Die verhaal van Jesus begin dus by sy konfrontasie met die duiwel en eindig daarmee as hy gekruisig word en opstaan. Dit vorm die ‘raam’ van die Evangelie. Deur die hele Evangelie probeer die duiwel Jesus dwarsboom, maar sonder sukses. Hy verloor elke keer.

 

‘n Lekker bybelstudie sal wees om te kyk waar die duiwel, demone of bose magte in Matteus bespreek word en wat elke keer gebeur. As jy lus is, doen dit gerus.

 

Jesus begin preek kry vir hom ‘n gemeente

 

Jesus begin daarna met sy openbare bediening en Matteus gee ook sommer vir ons die tema van sy preek: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” (4:17). Twee belangrike dinge word gesê: a) die mense moet hulle bekeer, met ander woorde, hulle moet hulle na God toe draai soos Hy in Jesus na hulle toe kom, b) God se finale heerskappy (koninkryk) is naby. Dan sal hy al sy vyande vernietig en vir ewig heers. Dit is wat Jesus se koms beteken. As hy sy dissipels roep, sê hy dit presies vir hulle: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.” (4:19) – hulle moet mense gaan ‘uitvis’ uit die wêreld om hulle so deel van die koninkryk te maak.

 

In die volgende gedeelte gaan ons na die boodskap van Matteus kyk.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




MATTEUS SE VERHAAL OOR JESUS (2)

MATTEUS SE VERHAAL OOR JESUS (2) – Jan van der Watt

2. Hoe het Matteus se gemeente gelyk?

Ons het gesê dat die Evangelies van mekaar verskil, ook omdat die evangelies vir verskillende gemeentes of groepe geskryf is. (As jy bv. vir tipiese Jode skryf, gaan jy dit anders doen as wat jy vir Grieke skryf wat die Ou Testament eintlik nie ken nie).

 

 

2.1    Matteus is waarskynlik vir ‘n Joods-Christelike gemeente geskryf, met ander woorde, Jode wat die Jodendom verlaat het en nou Christene is. Hulle weet natuurlik nog baie van die Joodse tradisies, die Ou Testament is vir hulle belangrik, hulle ken al die profesieë en die tempel met al die gebruike ken hulle nog goed. Daarom speel al die dinge ‘n sterk rol in Matteus.

 

Vat weer jou Bybel en blaai deur Matteus:

– Kyk hoeveel aanhalings uit die Ou Testament jy kan kry

– Kyk na hoofstuk 5: Kyk hoe word daar oor die tien gebooie gepraat. Wat sê die gedeelte is die verhouding van Jesus met die tien gebooie? (kyk veral 5:17-20).

 

2.2    Matteus se gemeente was waarskynlik in Antiogië in Sirië (kyk op die kaart hieronder of jy Antiogië kan kry). Dit sou beteken dat dit Joodse Christene was wat gevlug het vir die Joodse vervolgings in Jerusalem (lees bv Handelinge 7-8). Hierdie area het ook die ‘tweede hoofstad’ van die Christene naas Jerusalem geword. Dit is ook die stad waar Paulus en Barnabas eers gewerk het voordat hulle deur die gemeente op hulle sendingtogte uitgestuur is. Dit was dus ‘n belangrike groep Christene.

 

2.3    Die groep was wel nog Jode van geboorte, maar hulle was Christene in oortuiging. Vir hulle was daar nie ‘n breuk tussen hulle en die Joodse geskiedenis van Moses en Abraham nie. Jesus was die Messias wat voorspel is en almal wat Jesus aanneem is so eintlik deel van die volk van God, ja, deel van sy Koninkryk met God as koning. Die ander Jode, wat Jesus nie aangeneem het nie, het dus die pad byster geraak. Dit was egter nie so maklik om die ander Jode daarvan te oortuig nie en die Christene was natuurlik ook nie altyd so seker wat dit beteken om Christene te wees nie – hoe presies moet hulle nou lewe en wat presies het verander, sou hulle sekerlik baie oor gewonder het. Matteus help hulle daarmee.

 

Matteus het sy eie manier om die storie te vertel. Daarna kyk ons volgende keer.

 

mm2

 

Skrywer: Prof Jan van Der Watt