Laat sy Liefde jou Lei: Hou aan skyn, medegelowige

Laat sy Liefde jou Lei: Hou aan skyn, medegelowige – Milanie Vosloo

Hou aan skyn, medegelowige!

Julle twyfel mos nie een oomblik daaraan dat wat julle vir die Here doen die moeite werd is nie. 1 Korintiërs 15:58c

Hierdie ou wêreld het ‘n manier om ons batterye pap te maak. Die kanse is soms goed dat ons, nog voor ons ons voete by die huis uitgesit het, alreeds deur een of ander vorm van negatiwiteit aangeval is. Misverstande, bekommernis, slegte nuus, dinge wat ons ontstel … lê en wag dikwels vir ons by ons by die voetenend van die bed.

Dis sulke dae wanneer ons wonder hoe op aarde ons tog God se lig kan wees. Hoe kan ons sy heerlikheid uitstraal as ons nie eens in staat is om één dag in vrede en liefde te leef nie? Waarom kies Hy nie maar ander engele om Hom hier op aarde te verheerlik nie? Wesens wat onaangetas deur die swakheid en sondigheid van die wêreld kan opereer?

Die waarheid is: God wil nie hemelliggame gebruik om sy verteenwoordigers hier op aarde te wees nie. Hy het ons gewone sterflinge uitgekies om die hoof van hierdie skepping te wees en sy ewige lig uit te straal.

Moenie toelaat dat die wêreld en sy dinge jou moeg en moedeloos maak nie. Jou God – die Een van die Lig – is in jou. Daarom is jy in staat om, ongeag alles, wél sy lig op aarde te wees. Probeer vandag maar net wéér! Deur Hom kán jy.

Here, maak my asseblief elke dag óór. Maak my só nuut dat U lig en waarheid werklik deur my kan skyn.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Leef elke stukkie van jou lewenspad

Laat sy Liefde jou Lei: Leef elke stukkie van jou lewenspad – Milanie Vosloo

Lééf elke stukkie van jou lewenspad!

Die liggaam wat doodgaan, vergaan heeltemal, maar die liggaam waarmee ons weer lewendig word, sal nooit vergaan nie. 1 Korintiërs 15:42

Die lewe is soms vol verruklike skoonheid. Tye wanneer dit vir ons voel of ons eenvoudig wil bars van vreugde en geluk. Wanneer die wêreld om ons net so mooi lyk soos wat ons harte voel. Dan is daar dié tye wanneer gevaar, boosheid, pyn, hartseer …die slegte op ons toesak en wanneer ons wonder of daar dan nog enige iets goed van ons en ons lewens hier op aarde kan kom. Meestal egter, is ons lewens ‘n eenvoudige sloergang waarin ons ritmies van een dag tot die volgende opstaan, werk, leef en slaap. Sulke tye is dit maklik om verveeld te wonder of daar dan nie iets meer opwindends is as die gewóne roetine-lewe nie.

Die geheim van ‘n vervullende lewe is om die droё Karoo-tye met dieselfde passie as die oasetye te leef. Dis om elke berg wat voor jou lê as ‘n gawe vir groei te sien, om die donker dieptes as ‘n naby-aan-God-geleentheid te ervaar. Om met oorgawe te leef is om in die reёn te kan lag, omdat jy weet die reёnboog is op pad en om in sonskyndae te jubel omdat jy opnuut besef: God bly steeds dié Lig! En ons in Hom kinders van die ewigheid.

Ons leef elke dag ‘n nuwe stukkie van ons menslike pelgrimsroete: ‘n pad wat gevul is met die heerlike verskeidenheid wat ons léwe noem.

Here, help my om van elke dag die heel beste te maak.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Is jy te hard op jouself?

Laat sy Liefde jou Lei: Is jy te hard op jouself? – Milanie Vosloo

Is jy te hard op jouself?

Ek wil aan julle ‘n diep waarheid vertel wat God aan ons bekend gemaak het. Dit is dat ons nie almal sal sterf nie, maar ons almal sal verander word. 1 Korintiёrs 15:51

 

Party mense is nooit tevrede met hulself nie! Dis diegene wat ongenadige hoё eise aan hulself stel, altyd beter wil doen en nie sal rus voordat hulle ‘n berg tot bo geklim het nie. Die ergste van alles is dat hulle so halfpad teen die afdraende af weer aan ‘n nuwe uitdaging beplan.

 

As jy een van daardie nimmereindigende drywers is wat jouself altyd tot hoёr hoogtes druk, maak jy tien-teen-een ‘n reuse sukses van alles wat jy aanpak. Oor jou sal God heelwaarskynlik eendag sê: Welgedaan, my kind, jy het jou lewe behoorlik gelééf!.

Máár … soos so baie dinge in die lewe, kán dit wees dat jy soms net té hard op jouself is, té veel wil vermag en daarom met tye … uitgebrand en moedeloos raak. As dit so is, is jy verseker nie binne die wil van God nie. Nêrens in sy Woord sê Hy dat ons ‘n ongebalanseerde altyd móét-doen-mens moet wees nie. Inteendeel, Jesus was ‘n wonderlike voorbeeld van iemand wat geweet het wanneer genoeg, genoeg is. Daarom het Hy dikwels, ondanks sy besige program, tyd gemaak om rus by sy Vader te vind.

Doen jy dalk dinge “té”? Want dan sukkel God se gebalanseerde lig om deur jou te skyn!

Here, leer my om my rus in U te vind en nie in die dinge wat ek vermag nie.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Waar’s die engele heen?

Laat sy Liefde jou Lei: Waar’s die engele heen? – Milanie Vosloo

Waar’s die engele heen?

Hy (Elia) het gaan lê en onder die besembos aan die slaap geraak. Maar ‘n engel het hom aangeraak en gesê: “Staan op en eet!” 1 Konings 19:5

Daar’s soveel wonderlike verhale in die Bybel waar engele aan God se kinders verskyn het. Daar waar die Here se kinders raad, bemoediging, wysheid of teregwysing nodig gehad het, het Hy dikwels in die vorm van engele verskyn. Die twee engelname waarvan ons lees is Gabriel en Michael. Hulle name word dan ook heel dikwels verbind met boodskappers of beskermers van God.

Vandag hoor ons ook al hoe meer verhale van mense wat engele gesien het en kort-kort verskyn daar ‘n nuwe boek oor die werklikheid van engele ook in ons moderne eeu. Die feit is, engele is steeds tussen ons besig om in opdrag van God op te tree, ons te lei, te beskerm of ons die pad te wys. Miskien is hulle juis nóú, in ‘n tyd waarin die wêreld deur geweldige veranderinge gaan en geloofskwessies dikwels in twyfel getrek word, aktief tussen ons besig, want engele is juis in diens van die Here ter wille van die gelowiges. Hebreёrs 1:14 lees: Die engele is tog maar net diensknegte. Hulle is geestelike wesens wat God uitstuur in belang van daardie mense wat gered gaan word.

Leef elke dag bewustelik binne God se teenwoordigheid. Hoor, sien, voel en beleef Hom in die alledaagse. Hy is vandag meer as ooit op verskillende manier … bý jou!

Dankie dat U my op soveel verskillende maniere met U-self omring, Here.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo