Laat sy Liefde jou Lei: Hy gee sin aan die lewe

Laat sy Liefde jou Lei: Hy gee sin aan die lewe – Milanie Vosloo

Hy gee sin aan die lewe

Ek het my lewenspad oordink en het teruggedraai om volgens u voorwaardes te lewe. Psalm 119:59

Wanneer ons klein is, lyk die wêreld so ongekompliseerd en wonderlik. Ons kan skaars wag om groot te word. Dan word ons groot … en dan is daar min van die storieboekverhale wat in ons eie lewens realiseer. En dis dan die tyd wat ons maklik oor die aard, doel en sinvolheid van die lewe kan worstel.

 

Die harde lewensfeit is: ons ís nie in ‘n feёverhaalwêreld nie omdat ons mensdom lank gelede reeds gekies het om ‘n lewe buite die volmaakte te leef. Ons mensdom het onsself sedert die skeppingsdae uit die hemelse Walt Disney-storieboeke geskryf. En daarom is die realiteit van die lewe gebrokenheid wat kristalliseer in pyn, ongemak, probleme en moeilike tye. Hoe gouer ons dit aanvaar, hoe makliker verstaan ons die lewe en hoe meer weet ons dat ons nie kan bekostig om één dag sonder ons hemelse Vader te leef nie. Om in God te glo, sê H Newbegin, is om te weet dat die reёls van die spel regverdig sal wees, en die uitkoms van die spel baie meer veelseggend as wat jy ooit kan dink.

 

Aanvaar vandag die realiteite van die lewe in die lig van die groter waarheid: die feit dat jou liefdevolle Vader jou te midde van alles veilig in sy hand het. Dis meer as ‘n realiteit. Dis ‘n ewige waarheid.

Here Jesus, U gee sin aan my lewe selfs wanneer ek twyfel aan die lewe se sinvolheid!

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

milanie_boeke_advertensie

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Gee die lig aan

Laat sy Liefde jou Lei: Gee die lig aan – Milanie Vosloo

Gee die lig aan

Dus staan die saak só: Wie suinig saai, sal karig oes; wie ruimskoots saai, sal volop oes. 2 Korintiёrs 9:6

Daar’s tye wanneer dit regtig goed met ons gaan en ons selfs wonder waarom ander so sukkel om met lewensvreugde te leef. Ja, wanneer die heerlike somerson van vreugde-voorpoed ons harte verwarm, vergeet ons dikwels hoe koud en ongenaakbaar die winters van die lewe kan wees. Dis dan maklik om doodluiters die luike van ons harte vir ander toe te maak sodat hul donker nie ons wêreld betrek nie.

Somer-oorvloedtye is goddelike tye wat aan ons gegee word om te geniet. Maar somertye is ook wérkgeleenthede. Wanneer die warm sonskynstrale ons harte verwarm en ons in sy oorvloed-seёn blom, wil ons Vader ook hê dat ons ander se winterharte sal verwarm deur ‘n deel van ons somervreugde uit te deel. Dis dan wanneer Hy sê: Daar moet ‘n balans wees tussen julle huidige oorvloed en julle gebrek. Dan kan julle oorvloed weer vir julle gebrek aangewend word. Op só ‘n manier kom daar ewewig. Soos daar geskryf staan: “Die een met baie, het nie te veel gehad nie; en die een met ‘n bietjie, nie te min nie.”(2 Kor. 8:14-15)

Winston Churchill het gesê: Ons maak ‘n bestaan uit wat ons ontvang, maar ons skep ‘n lewe deur te gee. Besluit om jou hartsvenster van liefde elke dag wawyd oop te maak sodat jy die goddelike genade wat jy ontvang het, ook op ander kan laat skyn.

Vader, wys my waar ek vandag u lig kan wees.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Leef … ook in winterhart-tye

Laat sy Liefde jou Lei: Leef … ook in winterhart-tye – Milanie Vosloo

Lééf … ook in winterhart-tye

Stry die goeie stryd vir dit waarin ons glo. 1 Timoteus 6:12a

Min van ons hou van die winter. Koue klim mos pens en pootjies binne in ons lywe. Net so is dit allermins lekker wanneer winter in ons harte kom woon het. Wanneer die yswinde dreig om ons harte stukkend te waai en ons uitgelewer voel aan die wêreldse wreedheid, wil ons mos sommer net ‘n donskombers oor ons kop trek en wens dat alles wat ons omkrap, sommer net sal verdwyn …

Hieroor sê Coenie Burger: As die “wintertye” om ons dreig, kan ons onthou dit is nie die einde van die wêreld nie. Dit beteken maar net dit is weer tyd om nie net te lewe nie, maar om te leer ván die lewe; om nie net te glo nie, maar om te leer glo.

Miskien is jou hart op die oomblik, ondanks die temperatuur daar buite, op ‘n vriespunt. Dinge soos verliese, konflik, uitermatige spanning, aanhoudende bekommernis en sieldodende depressie is nooit lekker nie. Maar miskien is dit juis nóú die tyd om meer as ooit by jou Vader se voete te sit en om Hom te vra:

Here, leer my om, te midde van alles om my, te lééf. Hou my brose hart in u hand vas en wys my sagkens die pad wat ek moet loop. En Vader, help my om juis nou te gló: om met alles in my onwrikbaar te wéét: U is my getroue Vader-God.

Ek weet U ís getrou – selfs ook in my grootste nood, liewe Heer.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Sien jouself deur sy lig

Laat sy Liefde jou Lei: Sien jouself deur sy lig – Milanie Vosloo

Sien jouself deur sý lig

Die prag van die son is anders as die prag van die maan. Net so sal dit wees wanneer ons uit die dood lewendig word. 1 Korintiërs 15:41

Jy weet lankal jy’s uniek en spesiaal in God se oё. En tog is daar dae wanneer jy vreeslik in jouself twyfel. As jy vandag weer so bietjie tiener is, jouself met ander vergelyk en jou dan nie na waarde ag nie, kan jy gerus net weer in God se oё kyk. Daarin sal jy die wáre weerkaatsing sien van hoe jy régtig lyk. Jy sal hoor hoe God vir jou sê:

  • My kind, jy is vir my beeldskoon! Want wanneer ek na jou kyk, sien ek jou die volmaakte mens wat ek bedoel het jy sal wees.
  • Ek sien in jou die potensiaal wat ek in jou geplant het, die drome wat Ek vir jou beplan het en dit waartoe jy regtig in staat is.
  • Ek sien in jou liefde. Dié volmaakte liefde wat ek voor jou geboorte reeds in jou hart geplant het. 
  • Ek sien in jou die weerkaatsing van die spierwit lig wat uit jou straal nadat die bloed van my Seun jou geheilig het.  

As die donker van wonder-oor-jouself oor jou lewe toesak en jy vreemd alleen voel in die mens wat jy is, kan jy maar net diep in jou Vader se oё kyk. In sy lig sal jy jou werklike waarde sien!

Dankie Here, dat ek vir U, sonder voorbehoud, móói, goed en spesiaal is.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

Skrywer: Milanie Vosloo