Laat sy Liefde jou Lei: Jy bly altyd syne

Laat sy Liefde jou Lei: Jy bly altyd syne – Milanie Vosloo

Jy bly áltyd syne!

“ … Gelukkig is hulle wat nie sien nie, maar tog tot geloof kom.” Johannes 20:29b

Geloof is nooit onwankelbaar nie. Dis selfs vir die sterkste geloofsreus moontlik om soms van koers af gegooi te word en dan in God se liefde en genade te begin twyfel. Wanneer jy deur ‘n geloofskrisistyd gaan, is dit altyd goed om weer by sy Woord te gaan stilstaan en te hóór hoe jou Here persoonlik vir jou sê:

  • Ek het jou by jou naam geroep. Jy is Myne. Wanneer jy deur diep water gaan, sal Ek by jou wees … Wanneer jy deur vuur stap, sal jy nie verbrand nie. Die vlamme sal jou nie verteer nie. Want Ek is die Here jou God …(Jesaja 43:2,3a)
  • Een ding weet ek vas en seker: Niks kan ons ooit van Christus se liefde skei nie. Nie dood of lewe of engele of duiwelse magte nie; nie ons vrees vir vandag of ons kommer vir môre nie … Ja, hoegenaamd niks daarbo of onder in die dieptes of elders in die skepping sal ons ooit kan skei van die liefde wat God in Christus Jesus ons Here vir ons het nie. (Romeine 8:19)
  • Maar die Gees self neem ons gebedsbehoeftes voor God op met versugting wat nie in menslike taal verwoord kan word nie. (Romeine 8:26)

Jy ís syne, niks sal ooit ‘n verskil maak aan sy liefde vir jou nie en Hy hoor elke woord van jou stom gebede!

Dankie dat ek U s’n is … en bly, Here!

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Aan wie gee jy die eer?

Laat sy Liefde jou Lei: Aan wie gee jy die eer? – Milanie Vosloo

Aan wie gee jy die eer?

“… Ek loof en prys U, God van my voorouers: U het my wysheid en krag gegee; U het my ingelig oor wat ons van U gevra het; U het my ingelig oor die droom van die koning.” Daniёl 2:23

 

Dis maklik om ‘n mens se eie geloofsreis te oorskat! Om na ander mense te kyk en dan jouself op die skouer te klop oor jou sogenaamd sterk geloof! Hierdie illusie kan juis in ons hart ontspring in tye wanneer dit uitstekend met ons geloofslewe gaan en wanneer ons dalk vir ‘n wyle vergeet dat ons geloof ‘n gawe en ‘n louter stuk genade is.

 

Wanneer ons die verhaal van Daniёl lees, is dit insiggewend om te besef dat Daniёl nie net op sy knieё was toe hy onstellende leeukuil-tye beleef het nie. Nee, Daniёl was in totale afhanklikheid en nederigheid voor sy God selfs toe hy wonderlike oorwinnings behaal het en geeёr is as die enigste een wat koning Nebukadneser se drome kon ontleed. Dit was op so ‘n hoogtepunt in sy lewe wat hy met groot nederigheid erken: Die geheim is vir my verklaar, nie omdat ek slimmer is as enige iemand anders nie, maar omdat God wil hê dat die koning moet verstaan waaroor hy gedink het.” Daniёl 2:30

Opregte geloof leef altyd in volkome oorgawe en nederigheid uit die genadehand van God. En gee daarom onder álle omstandighede eer aan die Een deur wie alles is en sal wees.

Genade-God, help my om altyd te onthou dat ek is wat ek is, om U ís.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Wie is in beheer: jy of God?

Laat sy Liefde jou Lei: Wie is in beheer: jy of God? – Milanie Vosloo

Wie is in beheer: jy of God?

Hy maak dinge oop wat diep en weggesteek is; Hy weet wat in die donker gebeur en by Hom is daar lig. Daniёl 2:22

“Is dit die wind wat die bome laat beweeg of is dit die beweging van die bome wat die wind laat waai?” vra Chesterton. Dom vraag!, sou ons sê, totdat ons die dieper geloofsbetekenis daaragter verstaan. Want trap ons nie maar almal soms in die strik om te dink dat óns wonderlike vertroue, gehoorsaamheid en gebed God in beweging kan sit nie?

Dis menslik om te dink dat óns goeie lewe en opregte geloof ‘n invloed op God behoort te hê. En dat Hy, namate ons op ons geloofreis vorder, meer geneё behoort te wees om na óns te luister en óns wil te doen. Dit terwyl die orde van geloof allermins oor mý en God gaan. Geloof gaan oor dit wat God met, in en deur my doen.

Dis God alleen wat aan ons die gawe van geloof gee, dis Hý wat ons bekwaam en gewillig maak om sy wil te doen en dis net Hy wat ons in staat stel om Hom te verheerlik. Elke beweging op ons geloofspad kom van God af, elke stukkie groei in ons geloofslewe vind deur Hom plaas en elke vorm van Geesvervulling is suiwer sý genade.

Mag ons altyd onder die besef leef dat dit die wind van God is wat ons geloofstakke laat waai … en nie anders om nie!

Here, ek weet: U ís in beheer … ook van my geloofsvorming.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Glo jy … ongeag die uitkoms

Laat sy Liefde jou Lei: Glo jy … ongeag die uitkoms – Milanie Vosloo

Glo jy … ongeag die uitkoms?

Nebukadneser het gesê: “Loof Sadrag, Mesag en Abednego se God! Hy het sy engel gestuur om hulle wat op Hom vertrou het, te red. Daniёl 3:28a

Jy ken die verhaal van Daniёl se drie vriende, Sadrag, Mesag en Abednego wat, vanweё hul oortuigde geloof in God, in die brandende oond gegooi is. En jy onthou hoe die engel hulle ongedeerd – sonder dat ‘n haar geskroei het of hulle na rook geruik het – uit die vlammende oond laat stap het. Maar het jy al raak gelees wat hulle gesê het vóórdat hulle die vuur binnegestap het? In Daniёl 3:17 hoor ons hoe hulle vir koning Nebukadneser sê: “Die God wat ons aanbid, kán ons uit u hand bevry, U Majesteit. En selfs … al red Hy ons nie … sal ons nie u gode vereer nie.” (Daniёl 3:17) Duidelik het hierdie drie manne se geloof nie gegaan oor wat God vir hulle kan doen nie. Dit het vir hulle gegaan oor die God van hul geloof. Hulle het God vertrou … ongeag die uitkoms van hul gebede en wense.

Bybelse geloof word nie gebou op ons omstandighede, ons aardse voorspoed, die uitkoms van ons gebede of die seёn wat ons ontvang nie. Dit word gebaseer op ons absolute vertroue op God wat God ís en sal bly. Kom ons bid dat Hy ons sal help om te blý glo ongeag wat die toekoms inhou.

Hemelse Vader, my geloof is soms kleiner is ‘n mosterdsaadjie! Dis dan wanneer ek maar net kan vra: Kom my ongeloof te hulp asseblief.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

Skrywer: Milanie Vosloo