Laat sy Liefde jou Lei: God doen dinge anders

Laat sy Liefde jou Lei: God doen dinge anders – Milanie Vosloo

God doen dinge ánders

Filippus het toe by hierdie skrifgedeelte begin en die evangelie oor Jesus aan hom vertel. Handelinge 8:35

God se manier van werk kan soms vir ons onverstaanbaar lyk. Veral as ons daaraan gewoond is om dinge op ‘n sekere manier te doen en Hy dan iets anders van ons verwag. Dan sê ons maklik: “Ag nee, God, nie nou nie … nie só nie!.”

Handelinge 8:26 – 40 vertel die verhaal van Filippus wat onverwags deur die Gees van sy koers af gestuur word. Terwyl Filippus suksesvol aan die werk is in Samaria, roep die Gees hom om na die verlate pad tussen Jerusalem en Gasa. Hy kan maklik wonder waarom hy, terwyl hy besig was om so aktief in die koninkryk te werk, na ‘n alléénpad in die woestyn gestuur word. Dan gebeur dit dat God, juis dáár, vir Filippus ‘n interessante uitdaging stuur. Hy kom op daardie woestynpad ‘n onbekeerde Etiopiёr tee wat Jesaja 53 sit en lees. Op Filippus se vraag: “Verstaan u wat u lees?”, antwoord die Etiopiёr: “Hoe kan ek as niemand dit vir my verduidelik nie?”. Hoe ongelooflik sinvol word God se manier van werk op hierdie oomblik nie! Want daar en dan kan Filippus die Skrif aan die hom verklaar en die evangelieboodskap aan hom bring. So word hierdie Minister van Finansies van Etiopiё die eerste bekeerde in Afrika!

God se opdragte maak áltyd sin. Nie altyd volgens ons terme nie, maar sonder uitsondering, áltyd volgens sy hemelse plan.

Vader, help my om U te volg … selfs wanneer ek nie verstaan nie.

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Wanneer klein groot is

Laat sy Liefde jou Lei: Wanneer klein groot is – Milanie Vosloo

Wanneer klein gróót is

Ek het daarna nagedink oor alles wat ek bereik het, oor al die moeite wat ek gedoen het. Ek het besef hoe sinloos dit alles is. Prediker 1:11

Wanneer ons in ’n loopbaan staan en daaraan gewoond is om met groot transaksies te doen te kry, indrukwekkende projekte aan te pak en heeltyd tussen stimulerende en intelligente mense te werk, raak ons so half verslaaf aan sukses-behaling. Dan is dit asof ons nie sonder die energie en dryfkrag van die werksomgewing kan bestaan nie.

Wanneer ons dan om een of ander rede uit daardie loopbaangedrewe wêreld beweeg en dinamika van die arbeidswêreld ons nie meer omring nie, is dit maklik om betekenisloos te begin voel. Ewe skielik is daar mos nie meer strukture wat ons menswees (en eiewaarde!) in stand hou nie.

Sulke tye is dit noodsaaklik om te fokus op dié dinge waarvoor jy nie tyd gekry het toe jy jou loopbaan nagejaag het nie. Dinge wat dalk irrelevant lýk, maar wat tog so belangrik is. Dan is dit die tyd om te gaan stilstaan by die klein goedjies wat voorheen by jou verbygegaan het, om tyd te maak vir die mense wat jy voorheen afgeskeep het of om ‘n betekenisvolle verskil in ander se lewens te maak.

Soms is “onbelangrike dinge” juis die mees belangrike. Soms is klein goedjies eintlik die gróót goed. Want meestal is die sogenaamde onbelangrike die gróót dinge in God se oë.

Here Jesus, help my om verder as die nou te kyk sodat ek sal weet wat wérklik belangrik is.

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: God se spoedgrens vir jou lewe

Laat sy Liefde jou Lei: God se spoedgrens vir jou lewe – Milanie Vosloo

God se spoedgrens vir jou lewe

Toe seёn God die sewende dag. Hy het bepaal dat dit afgesonder moet word van die ander dae omdat Hy op daardie dag gerus het nadat Hy sy skeppingswerk gedoen het. Genesis 2:3

Sommige tye in ons lewe is ons uiters produktief en kry ons ’n duisend dinge gelyktydig gedoen terwyl ons ander kere sommer net in ’n min- of níks-doen-fase is. Wanneer ons gewoond daaraan is om altyd teen die spoed van lig te hardloop, is ons geneig om sommer gou skuldig te voel wanneer ons ‘n minder produktiewe tyd ingaan. Tog is dit juis ons Vader se manier om vir ons te sê: “My kind, dis tyd om jou pas te verstadig. Want wanneer jy te lank te veel doen, hardloop jy buite die spoedgrens van mý wil vir jou lewe.”

Weet jy wanneer om rem te trap? Het jy die vermoё om soms “nee” te sê vir werk en “ja” te sê vir rus … vir kwaliteittyd aan jou Meester se voete? Dis so belangrik om te weet wanneer jy oor die spoedgrens van jou lewe gaan sodat jy betyds halt kan roep. Wanneer jy dan bederf word met ‘n stadiger-leef-fase, is dit ewe belangrik dat jy jou bederftyd sal geníét …. sonder om skuldig te voel. Onthou, sulke tye word aan jou gegee sodat jy weer aandag kan gee aan dié dinge wat werklik saak maak.

Leef jou rotteresies-seisoen met versigtigheid en jou sklipad-fase met waardering. Albei kan vervullend wees.

Here Jesus, leer my om teen die regte spoed rég te leef.

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Leef positief

Laat sy Liefde jou Lei: Leef positief – Milanie Vosloo

Leef positief

“Moenie bang wees nie, Abram, want Ek sal jou beskerm en jou beloning sal groot wees.” Genesis 15:1b

Oor baie dinge in die lewe het ons nie beheer nie. Maar oor baie wél. Soos ons gedagtes en ingesteldheid teenoor dinge. Ons kan in enige situasie kies of ons moedeloos en negatief gaan wees en of ons ‘n gesindheid van “môre-sal-dit-beter-gaan” gaan handhaaf. ‘n Paar maniere om dit te doen is:

  •  Bid. Bid in moeilike tye meer as ooit, vertel God hoe jy voel en vra dat Hy aan jou die insig en krag sal gee om weer anders na die lewe te kyk.
  •  Dink positiewe gedagtes soos “Ek kán hierdeur kom!” “Ek sál oorleef.” “God ís aan my kant!”
  •  Maak nuwe planne. Wanneer die lewe jou teleurgestel en omgestamp het, is dit tyd om met ‘n nuwe visie aan die toekoms te dink en daar rondom te beplan.
  •  Werk aan môre. Beplan wat jy gaan doen en doen dan wat jy beplan het. 

Abram moes in opdrag van God weg van sy familie na ‘n onbekende land toe trek, Hy moes op ‘n stadium ernstige twis hanteer, amper ‘n eeu wag vir die geboorte van Isak en vele ander moeilike situasies te bowe kom. Abram hét, want Hy het elke keer gekies om met ‘n positiewe gesindheid vas te hou aan God se beloftes van trou.

Jy kan ook altyd kies of jy bly lê en of jy met nuwe vuur die toekoms tegemoet gaan.  

God van Vreugde, help my om die lewe élke keer weer positief te benader.

 

Skrywer: Milanie Vosloo