Laat sy Liefde jou Lei: God kyk verby jou CV

Laat sy Liefde jou Lei: God kyk verby jou CV – Milanie Vosloo

God kyk verby jou CV

En Jesus sê vir die vrou: “Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.” Lukas 7:50

Ons Vader se liefde is algeheel-omvattend. Hier op aarde het Jesus op soveel maniere vir ons kom wys dat Hy by uitstek ‘n Genade-God vir sondaars, verloorders, swakkes en siekes was. Die mense wat deur die “slim” godsdienstige leiers verwerp is, het sy vriende geword; onaansienlikes en gewone mense was sy dissipels; hulle wat te swak was om self te loop, het Hy met een woord opgehef en diegene wat so siek was dat ander nie eens naby hulle wou kom, het Hy in sy groot teerheid omarm.

So vertel Lukas vir ons hoe die godsdienstige leiers letterlik van verontwaardiging gestik het omdat Jesus toegelaat het dat ‘n prostituut sy voete met olie salf. En hoe hierdie Seun van God eenvoudig die vrou in sy liefde toevou met die woorde: “Jou sondes is vergewe.”(7:48) Jesus se genadeliefde vra nie eers hoe jou CV lyk, watter beroep jy beoefen en hoe gereeld jy kerk toe gaan nie. By Hom is sondaars, onaansienlikes, mense uit alle vlakke van die samelewing welkom. Al wat Hy vra is: Hoe lyk die CV van jou hart? Staan daar in geskrywe: “Ek glo onwrikbaar aan Jesus Christus as my Verlosser en ek het Hom met my hele hart lief.”?

Sê vandag (weer): Jesus, U dankie dat U my Redder is … en dat U altyd by my is.

Dankie dat daar reeds op u tempelpoorte vir my geskrywe staan: “Welkom tuis, my kind.”

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Uit die boks-God!

Laat sy Liefde jou Lei: Uit die boks-God! – Milanie Vosloo

Uit die boks-God

“As julle My maar net gehoorsaam en toelaat dat Ek julle help, en sal julle baie hê om te eet.” Jesaja 1:19

Ons God is onvasgryplik. Geen mens sal ooit op hierdie aarde in staat wees om sy volle lof en heerlikheid te begryp en na waarde te besing nie. Want God ís wat Hy ís: Hy is die almagtige Heerser van die wêreld. Maar meer as dit, is ons Here ook die Koning van die Liefde. Daarom is Hy in staat om sondaars soos ons herhaaldelik te vergewe. Ondanks ons gebrokenheid en sondegeneigdheid stort Hy daagliks maar net weer en weer sy vergifnis, aanvaarding en onvoorwaardelike liefde oor ons.

Israel, die volk van God, het ‘n duisend maal hul rug op Hom gedraai. En ja, daar was kere wat Hy woedend en teleurgestel was oor hulle ontrou en hulle gestraf het. Maar telkemale lees ons hoe Hy in sy groot ontferming hulle weer in sy hart ingenooi het met woorde soos:

“Kom nou, laat ons die saak uitpraat … Maak nie saak hoe diep die vlek van julle sonde is nie, Ek kan dit verwyder: Ek kan julle skoon maak soos sneeu wat pas geval het. Selfs al is die vlek so rooi soos purper; Ek kan julle wit maak soos wol.” (Jesaja 1:18)

God sit nie mense in boksies met etikette wat sê: “Sondaar”; “Heilige”; “Satanskind” of “Mý kind” nie. Sy liefde is álmal-insluitend. Dis jóú-insluitend!

Dankie Meester, dat U keer op keer vir my sê: “Jy is en sal altyd my kosbare kind bly!”

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: God dink ánders!

God dink ánders! – Milanie Vosloo

God dink ánders!

“My gedagtes is anders as julle s’n, en julle paaie is nie my paaie nie,” sê die Here. “Want soos die hemel hoёr is as die aarde, so is wat Ek doen, hoёr as wat julle doen, en my gedagtes hoёr as julle gedagtes.” Jesaja 55:8-9

 

 

Ons wil so graag verstáán. Ons wil begrip hê vir ander mense en insig in God se werkinge hê. Om mense te verstaan, kan ‘n wonderlike ontdekkingstog wees en hou heerlike voordele. Mag ons nooit ophou om met beter begrip te leer nie. Om God egter 100% te verstaan, is egter nie moontlik nie. Hy is in sy soewereiniteit eenvoudig hemele groter as ons menslike verstand en vemoёns.

En tog … tóg sê hierdie selfde God in Jesaja vir ons: “Almal wat dors is, kom na die water toe …” en “Vra na die Here terwyl jy Hom nog kan vind. Roep Hom nou aan terwyl Hy nog naby is.” (verse 1,6). Dieselfde Vader wat ver bo ons verstand opereer en oor die hemelliggame regeer, kom staan langs ons, sit sy hand op ons skouer en nooi ons uit om met Hom te gesels en sy liefde vir ons in te drink. Hy sê as’t ware: Jy hoef My nie te verstaan voordat jy My vertrou en lief het nie!

Hoe wonderlik is die ándersheid van ons Here nie! Hoe bevoorreg is ons om in hierdie heilige God se teenwoordigheid te verskyn. Mag jy vandag heeldag sommer net bý Hom wees.

Skepper van die heelal, ek eer U!

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Net soos hy met leë hande die wêreld ingekom het, verlaat hy dit ook weer met leë hande

Net soos hy met leë hande die wêreld ingekom het, verlaat hy dit ook weer met leë hande – Coen Slabber

Ongeveer 30 miljoen stukke bagasie word jaarliks deur lugrederye verloor. Al hierdie stukke wat nie opgeëis word nie, beland uiteindelik in die Unclaimed Baggage Center in Scottsboro, Alabama. Hier kan mense hierdie stukke koop teen winspryse. Een kliënt beskryf dit as ‘n skattejag. Ongeveer 7 000 nuwe items kom elke dag daar aan.

Hierdie verlore bagasie herinner ons aan Prediker 5:9 – 19. Hier lees ons: As jy lief is vir geld, sal jy altyd nog meer wil hê. As jy baie besittings wil hê, sal jy nooit genoeg kry nie. Rykdom is nie die oplossing van ons probleme nie. Die ryke slaap maar min, want hy is altyd oor sy besittings bekommerd. Die arm werker slaap altyd lekker – of sy maag nou vol is of nie. As ons geld opspaar, bring dit vir ons probleme – jy kan alles binne ‘n oogwink verloor. Dan volg die vers waarmee ons begin het: Net soos hy met leë hande die wêreld ingekom het, verlaat hy dit ook weer met leë hande. Het dit enige nut om so hard te werk en te spaar?

As ons die bymekaarmaak van geld as belangrik sien – iets wat ons moet nastreef –  dan begin ons goed in plaas van vir God aanbid. Om te begeer, word dan ‘n lewenswyse. Dit is ongelukkig ‘n dors wat nooit versadig kan word nie. As ons dus oor geld en materiële dinge praat, is die Bybelse waardes eenvoud en tevredenheid.

Is tevredenheid sonder baie geld en goed moontlik? Die Prediker glo so: Die allerbeste ding wat met ‘n mens in sy lewe kan gebeur, is om te eet en te drink en die goeie dinge tussen al die swaarkry deur  te geniet. Let wel: hierdie is nie goed nie – dit is die allerbeste ding. Is rykdom dan verkeerd? Nee: Wanneer God die mens rykdom gee en hom boonop toelaat om dit te geniet en hom vreugde tussen al die swaarkry hier op aarde gee, is dit ‘n spesiale geskenk van God.

Wat is die belangrikste ding in my lewe? Alles wat God uit die middelpunt van my lewe verplaas, is vir my ‘n afgod. As dit geld is, sê die Prediker: Dit is sinloos. Alles kom tot niks. Vir baie mense is jou inkomste, jou huis, jou kar en jou status baie belangrik. Dit frustreer jou, want daar is altyd iemand wat meer kry as jy, wie se huis en kar groter is as joune en wie ‘n hoër status as jy het. Luister hoe sluit die Prediker hierdie gedeelte af: As God hom bly en gelukkig maak, dink hy glad nie aan hoe kort en swaar die lewe is nie. Wees tevrede.

[Aanhalings kom uit Die Boodskap.]

 

Skrywer: Dr Coen Slabber