Die Handelinge van die Apostels: Van Malta na Rome (Hand 28:11-15) – Francois Malan

28:11 Nadat hulle drie maande op die eiland gebly het, die winter verby was, en die skeepsvaart weer op dreef gekom het, het hulle vertrek (anágomai ’n skeepsterm) met ’n skip wat op die eiland oorwinter het. Volgens Plinius 23-79 n.C. se nat.hist. het die skeepsvaart op die 7e Februarie elke jaar begin. Drie maande tevore was dus ongeveer die begin van November wat Paulus-hulle op Malta gestrand het. Soos die skip waarmee hulle uit Mira vertrek het ’n Alexandrynse boot was (27:6), so ook hierdie skip, wat waarskynlik ook ’n vrag koring na Rome vervoer het. Op die boeg van die skip was beelde uitgekerf van die Dióskuroi ‘tweeling here,’ naamlik die Griekse gode Kastor en Polluks, twee seuns van Zeus, wat vereer is as beskermers van skeepsvaart en matrose, en wat uit nood op see red (Polluks het Zeus gevra om onsterflikheid te kry en toe is twee sterre na hulle vernoem, Polluks die groot rooi ster en Kastor die kleine in die Gemini=Tweeling stergroep).

28:12 Hulle is nou op pad van die eiland Malta af na Rome in Italië. Sirakuse, die hoofstad van Sisilië, lê aan die suid-oostelike kus van die eiland wat aan die voet van Italië lê. Dit is die eerste hawe op hulle nuwe reis. Hier gaan hulle aan wal (katáchomai tegniese skeepsterm) om goedere af te laai en ander op te laai.

28:13 Van Sirakuse op die eiland Sisilië vaar hulle tot by Regium op die suidelike punt van die vasteland van Italië. Die werkwoord periérchomai beteken eintlik om ‘om iets te vaar.’ Noord-oos van Sirakuse lê die beroemde tweeling rotse, die 12 meter hoë Skilla 70 meter van die kus af en 5 meter hoë Garibdis 50 meter van die kus af. Skepe kan van Sirakuse af tussen hulle deurvaar na die oop see, of met ’n wye draai om hulle vaar. Die twee name kom van Homerus se reis van Odusseus wat tussen die twee gevare van die Skilla en die Garibdis moes deur vaar. Later skrywers plaas die twee gevare in die straat van Messina tussen Sisilië en Italië, met Skilla op Sisilië se noordelike landpunt Skillaeum en Garibdis die gevaarlike draaikolk buite die hawe van Messina aan die noordpunt van Sisilië regoor Regium.

Nadat hulle vir ‘n dag in Regium was, het daar die volgende dag ’n suidewind opgesteek wat hulle binne die verbasende kort tydjie van twee dae die ongeveer 350 km tot by die hawe Puteoli aangedryf het. Waar die Here hulle met ’n woeste noord-ooste stormwind na Malta aangedryf het om te oorwinter, stuur Hy nou ’n kalm suidewind om hulle vinnig by Puteoli naby die stad Napels te bring (soos met hulle twee dae se vaart van Troas af tot in Filippi, Hand 16:11 teenoor die vyf dae van Filippi na Troas, Hand 20:6). Puteoli was destyds die belangrikste hawe waar skepe uit die ooste en suide hulle vrag afgelaai het. Later het die hawe Ostia wat keiser Claudius (41-54 n.C) reeds laat bou het en baie nader aan Rome was, belangriker geword vir oorseese-handel.  

28:14 In Puteoli vind Paulus-hulle ’n gemeente van Jesus Christus wat hulle dringend uitnooi om vir sewe dae by hulle oor te bly. Die ‘ons’ verwys waarskynlik na Lukas, Paulus en Aristargus, met of sonder Julius of een van sy soldate? (vgl. Hand 27:1-2,31). Dat die kommandant geen beswaar daarteen gehad het nie, wys sy welwillendheid teenoor Paulus. En so het Paulus-hulle in Rome aangekom. Die reis van Puteoli na Rome is te voet afgelê soos uit die volgende verse blyk, ’n vyf dae reis vir ’n rustige staptoer.

28:15 Na die sewe dae in Puteoli het die nuus van Paulus se aankoms in Italië reeds die gemeentelede in Rome bereik. Van hulle het Paulus toe langs die pad gaan ontmoet. Paulus-hulle stap van Puteoli tot by die nabygeleë Capua op die Via Campana; daarvandaan op die Via Appia wat tot in Rome loop; by die Markplein van Appius (Forum Appii), 69 km van Rome af ontmoet die eerste gemeentelede uit Rome hulle; daarvandaan stap hulle groter groep tot by die herberg met die naam Drie Herberge (Tres Tabernae) wat vir oorslaapreisigers ingerig is, 53 km van Rome af. Hier kry die tweede groep gemeentelede uit Rome vir Paulus-hulle. Toe Paulus die twee groepe gelowiges ontmoet, het hy God gedank wat vir hom as gevangene so ’n warm ontvangs gereël het en hy het moed geskep oor wat vir hom voorlê. Hy was nog nie vantevore in Rome nie, maar die gemeentelede het teen die tyd lankal Paulus se brief aan die Romeine ontvang, en sou gelees het van sy begeerte om hulle sien (Rom 1:11-12). Hulle reaksie daarop maak Paulus dankbaar teenoor die Here vir hulle liefde en toegeneentheid en die moeite wat hulle gedoen het om hom te kom ontmoet. Hy skep ook moed vir sy bediening wat voorlê en vir sy getuienis vir Jesus voor die keiser (Hand 27:24; 9:15; 26:16). 

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Paulus oorwinter op die eiland Malta (Hand 28:1-10) – Francois Malan

28:1 ‘Na ons (Lukas vertel) uit die uiterste gevaar gered is, het ons uitgevind dat die eiland Malta genoem word.’  Van die Malta-groep van drie groterige eilande en ’n klomp klein eilandjies is Malta die grootste, 27 km x 14.5 km, geleë  80 km suid van die Italiaanse eiland Sisilië waarheen hulle na die winter sou vaar op pad na Rome (28:12,16), en 1 103 km noord van Libië waar die Sirtis geleë is waarvoor hulle gevrees het (27:17). Malta is meer as 800 km van Kauda af.

28:2 ‘Die inboorlinge van die eiland het ons buitengewone (letterlik: wat nie ondervind word nie – negatief om die besondere graad van ‘kindness’ aan te dui) vriendskap (filanthrōpía) laat ondervind’ – ‘inboorlinge’ Grieks barbaroi nie-Grieke, want hulle taal klink bara-bara, onverstaanbaar vir ’n Griek, en daarom ook beskou as van ’n laer beskaafde kultuur (vgl. die Afrikaanse woord: barbare; vgl. ook 1 Kor 14:11 oor wedersydse onverstaanbaarheid). Die vriendelikheid van die ‘barbare’ staan lynreg teenoor die onvriendelikheid van die natuur wat hulle vir 14 dae moes verduur. ’n Hartlike welkom-ontvangs op die barre kus! Die Here het vir die skipbreukelinge ’n vriendelike ontvangs gereël na sy woeste wind wat hulle geteister het. Die inboorlinge het hulle almal vriendelik verwelkom met ’n vuur wat hulle aangesteek het toe hulle die groot groep deur die water sien aankom van die gestrande skip af, in die reën en die koue van die winter wat aangebreek het. Vir die moeë deurdrenkte groep wat sidder van die koue was die warm vuur die grootste weldaad van hulle vriendelike ontvangs.

28:3 Paulus beweeg soos ’n vry man. Hy help om die vuur te stook, duidelik nie met ’n ketting geboei nie (vgl. 26:29), maar met ’n giftige slang wat aan sy hand hang. Die slang wat deur die hitte van die vuur uit sy winterslaap wakker geword het, het uit sy skuilplek gekom tussen die groot hoop droë takke wat Paulus op die vuur gegooi het en met sy tande aan Paulus se hand vasgebyt om homself uit die vuur te red.

28:4 Toe die inboorlinge die gedierte sien klou aan sy hand het hulle vir mekaar gesê hy is verseker ’n moordenaar. Hierdie man is uit die see gered, maar Díkê, die Griekse naam vir die godin van strafgeregtigheid wat mense straf vir onreg, het hom nie laat lewe nie.

28:5 Die inboorlinge verwag dat Paulus enige oomblik sal dood neerslaan, maar al wat hulle sien is Paulus wat die gedierte in die vuur afskud en dat geen onheil hom tref nie. Volgens Lukas 10:19 het Jesus gesê: ‘Kyk, Ek het aan julle twaalf gesag gegee om op slange en skerpioene te trap, en ook oor al die mag van die vyand. Niks sal julle enige skade kan aandoen nie.’ Dit is wat hier gebeur het.

28:6  Die inwoners van die eiland ken blykbaar die uitwerking van slanggif en dat dit dodelik kan wees. Daarom verwag hulle óf ’n geleidelike werking van die gif wat eers laat opswel (die werkwoord pímpramai kan ook brand met koors, aandui, vgl 28:8) óf ’n vinnige werking met ’n skielike dood. Maar hoe langer hulle gewag het en gesien het niks ongewoons of sleg gebeur met hom nie, het hulle gedagtes begin verander tot ’n totale ommeswaai. Waar hulle seker was dat hy ’n vyand van god is, sien hulle Paulus self nou as ’n god. Iemand wat immuun is teen gif, is onsterflik in hulle bygelowige denke. Hulle gedagtes oor Paulus verander van ’n moordenaar tot ’n god. In Listra het die Likaoniërs ook gedink Barnabas en Paulus is gode, Zeus en Hermes, ná die genesing van die lam man (Hand 14:11-12).

28:7 Die tweede toneel wat op die eiland afgespeel het, geskied op ’n landgoed wat nie ver van die plek is waar Paulus die slang in die vuur afgeskud het nie. Die baai waar hulle gestrand het aan die Noord-Weste van die eiland word tans nog St Paulus Baai genoem. Die eienaar van die landgoed is ook die hoofman van die eiland (letterlik ‘die eerste’ Malteser). Sy naam was Publius ( die Latynse woord publicus verwys na die staat – vgl. die Afrikaanse woord publieke eiendom teenoor privaat eiendom). Publius het ‘ons’ vriendelik ontvang en vir drie dae vriendelik as sy gaste onthaal. Lukas verduidelik nie of die ‘ons’ al 276 skipbreukelinge insluit nie. 

28:8 Publius se pa het in die bed gelê met koors (puretois mediese meervoud term) en diarree. Soos Jesus Petrus se skoonmoeder genees het (Luk 4:38-39) gaan Paulus ook na die siek vader. Hy bid tot God om die man te genees, lê sy hande op die sieke dat God deur hom kan werk, en genees hom (vgl. Hand 5:12 oor die wonders wat deur die hande van die apostels plaasgevind het; en hoe God deur die hande van Paulus besonder kragtige dade in Efese verrig het, Hand 19:11). 

28:9 Nadat Jesus die skoonmoeder van Petrus in Kapernaum genees het, het almal hulle siekes wat aan allerhande kwale gely het, na Hom gebring. Hy het hulle een vir een die hande opgelê en hulle gesond gemaak (Luk 4:40). Net so het die nuus oor die genesing van Publius se pa gou deur die eiland versprei. Toe het die res van die eiland se mense wat siektes gehad het, na Paulus toe gekom en is genees. Paulus werk nie meer soos ’n gevangene nie, maar soos ’n magtige geneser wat rondom hom die seën van God uitbrei.

28:10  As teken van hulle respek en dankbaarheid het hulle vir ‘ons’ met baie gawes ondersteun en toe ons met die skip sou vertrek (anágomai ’n skeepsterm) het hulle aan boord geplaas wat nodig was. So het die Here voorsien.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Skipbreuk (Handelinge 27 vers 39-44) – Francois Malan

27:39 Toe dit begin dag word het hulle (die matrose) die land gesien waarvan hulle deur die nag gehoor het hoe die branders daarop breek (27:27). Hulle het egter nie die land herken nie, want hulle gewone roete het nie by die eiland Malta aangedoen nie. Hulle het met besorgdheid gewaar dat daar ’n baai was met ’n strand (aigialós wat nie noodwendig ’n ámmos ’n sandstrand is nie) want hulle het nie geweet of dit ’n sandstrand of ’n rotsagtige strand is nie. Hulle wou die skip daarop laat strand (eksōthéō ’n skeepsterm om ‘n skip op die land te laat grondvat) indien dit moontlik was (die optatiewe vorm van die werkwoord dúnamai dui onsekerheid aan). Die huidige St Paulus-baai aan die noord-westelike kus van Malta is rotsagtig en het geen goeie sandstrand nie. Vir die stranding tref hulle drie maatsreëls:

27:40 Eerste maatreël: Die matrose kap die toue af om die sleepankers in die see te los, wat hulle by Cauda laat sak het om hulle spoed te probeer verminder (27:17), sodat die skip vryelik deur die wind gedryf, vinniger en verder op die land kan vorder. Tweedens: terselfdertyd het hulle die bande losgemaak wat die twee roere aan die agterkant van die skip aan mekaar gebind het om tydens hulle vaart te help rem. Losgemaak kan hulle gebruik word om die skip tot ’n mate te stuur. Derdens: hys hulle die voorseil sodat die wind die skip vinniger kan dryf om verder uit die see op land in te kom en hulle tot ’n mate die skip op die strand af kan stuur.

27:41 Die wind het die skip egter op ’n klipbank laat strand (epikéllō ’n tegniese skeepsvaarterm vir strand) met see aan weerskante van die skip. Die boeg van die skip (prōira voorkant van die skip) het op die rots vasgesteek en kon nie beweeg nie. Die agterstewe van die skip (prúmna) is in stukke geslaan deur die geweld van die golwe, wat van weerskante teen die skip afgestorm het. Met die see weerskante van die skip sorg die Here dat die mense nie op die rotse moet afspring nie. Die stukke van die agterstewe voorsien ook planke waarop die mense land toe kon dryf.

27:42 Die matrose het reeds probeer om soos rotte die sinkende skip te verlaat en hulle poging is deur Paulus gefnuik (27:30-32). Nou is dit die soldate wat ’n probleem het met die gevangenes wat kan ontsnap as hulle van die skip af sou kon wegswem tot op die eiland. As ‘n gevangene ook nog met ’n ketting aan ’n soldaat gebind was, was die uitswem vir albei lewensgevaarlik. Met ’n ontsnapping is die soldate se lewe in gevaar omdat hulle hulle plig sou versuim het en daarvoor met hulle lewens sou moes boet, volgens die Romeinse gebruik (vgl. 12:18-19; 16:27). Daarom wou hulle die gevangenes doodmaak. Dit is ’n nuwe bedreiging vir Paulus se lewe in aangesig van die redding vir die hele skip se bemanning en passasiers (27:24).

27:43-44 Die kommandant het hulle egter gekeer omdat hy Paulus se lewe wou spaar. Hy was immers verantwoordelik vir Paulus se lewe. Die kommandant neem die leiding en gee toe opdrag dat die mense wat kan swem eerste oorboord moes spring en uitswem land toe en daarna moet die res, wat nie kan swem nie, op los planke of op enigiets van die skip land toe gedryf word deur die wind en die seestroom. Die gevangenes is duidelik nie geboei nie.

En so het die wonder gebeur wat die Here aan Paulus gesê het dat al 276 mense voltallig uit die gevaar van die geweldige veertiendae lange storm, die skipbreuk en die swem of dryf tot op die land, gered is – 275 mense word deur die Here gered ter wille van die Here se dienskneg Paulus en die verlossingsplan van die Here om hom voor die keiser in Rome te laat getuig oor Jesus, die Seun van God (27:24-25).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Storm op die see (Hand 27:13-38) – Francois Malan

27:13 ’n Ligte suidewindjie begin waai teen Kreta se suidelike kus. Daarom het hulle gedink hulle sal hulle doel, die hawe Feliks bereik, deur al teen die suidekant van Kreta te vaar om nie in die oop see ingewaai te word nie. Hulle het die anker gelig en so na as moontlik (asson) al langs die suidelike kus van Kreta na Feliks wes van Mooi Hawens begin vaar (paralégomai tegniese skeepsterm ‘langs die kus vaar’).  

27:14  Dit was egter nie lank nie of ’n geweldige stormwind (tufōnikós die oorsprong van die naam Tifoon, die legendariese vader van die wind, storms en vuurspuwende berge) het van die land se kant op hulle afgestorm. Die wind is genoem Noord-Ooster, Eurakilon (’n mengsel van die Griekse euros ‘Oos-Suid-Oos’ en Latynse Aquilo ‘Noord-Noord-Oos.’ Sommige manuskripte het Euroklidon ‘Oosvloedgolf’). Dit was ’n wind wat orkaansterkte (117+ km/u ) kon hê en blykbaar van oorkant die eiland en vanaf die 2 456 meter hoë berg Ida in Kreta op hulle afgestorm het. Die wind dryf hulle juis suid, weg van die kus van Kreta af, die diepsee in. (Nahum 1:3 sê die Here kom in rukwind en storm. Asaf het teen die vyande van die Here gebid: ‘agtervolg hulle met u stormwind, bring hulle in verwarring met u orkaan. Laat hulle met skande daarvan afkom, sodat hulle U Naam mag aanroep, Here! (Ps 83:16-17; vgl. Jesus wat die storm stilgemaak het, Luk 8:23-25). Die winde is ook boodskappers van God.

27:15 Die skip is van koers af gedwing (sunarpázō) en kon nie in die gesig van die wind kyk nie (mê antofthalméō). ‘Ons het ons aan die wind oorgegee en is deur die krag van die wind meegevoer.’ Die matrose wou blykbaar die skip omdraai om terug te vaar Mooi Hawens toe, maar die wind het dit onmoontlik gemaak, hulle moes die seile stryk en hulle is die oop see in, waar die wind die skip ookal rondgegooi het.

27:16 Die wind het hulle om die klein eilandjie Kauda gewaai (huidige Gaúdos, ongeveer 80 km suid-wes van Mooi Hawens af) sodat hulle aan die suidekant, die lykant daarvan bereik het, wat hulle ’n bietjie teen die Noordweste wind beskerm het (hupotréchō lykant, skeepsterm vir die kant wat teen die wind beskerm word). Toe kon hulle met groot moeite die sloep onder beheer kry – die klein bootjie wat agter die skip aan ’n tou gesleep is, is seker deur die wind teen die skip gestamp en hulle moes hom op die skip kry dat hy nie stukkend gestamp word nie.  

27:17 Nadat hulle die sloep tot op die skip opgetrek het, het hulle toue onder die skip deurgetrek en vasgemaak om dit teen die geweld van die water en teen sandbanke te beskerm. Hulle was juis bang dat hulle op die sand van die Sirtis sal strand (ekpíptō ’n skeepsterm vir ‘van koers af gedryf word en strand). Die Sirtis was twee vlak baaie aan die noordekant van Afrika, die groot Sirtis aan die kus van Libië en die klein Sirtis aan die kus van Tunisië, teen die Sahara woestyn. Die vlak water trek met die gety terug en skepe steek permanent vas in die sand. Toe het hulle die ding stadig laat sak – wat die ding (skeuos enige soort instrument) is, word op verskillende maniere geraai. Dit kan o.a, verwys na die dryfanker wat die spoed van die skip kon verminder. So is hulle deur die wind verder gedryf. 

27:18 ‘Omdat ons so geweldig deur die storm geteister is’ het hulle, die matrose, noodmaatreëls begin toepas. Die volgende dag het hulle die vrag van die skip oorboord gegooi (ekbolê is ’n tegniese term vir vrag oorboord gooi). Die kosbare vrag koring uit Egipte vir Rome wat die doel van die vaart is, word oorboord gegooi so asof die hoop om Rome te bereik vervaag het. Dit word egter gedoen om die skip en die lewens te red (vgl. die eerste van Paulus se waarskuwings in 27:10). Daarmee word die skip baie ligter, kan makliker deur die wind rondgeslinger word, maar dit kan help dat die skip nie sink nie (vgl. Jona 1:5). 

27:19 Op die derde dag het hulle selfs van die skeepstoerusting uitgesmyt (rhíptō met geweld uitgooi), om die skip nog ligter te maak. Dat die matrose uit hulle eie dit gedoen het, wys dat hulle hoop op oorlewing besig was om te taan. Hulle begin die ondergang van die skip verwag. Dit is ook die begin van die ondergang van die skip, as gevolg van die ‘kundige’ oordeel van die kaptein en die eienaar van die skip, wat haastig in Rome wou kom en nie na die Here se gesant se woorde wou luister nie (27:11).

27:20 Daarby was dit so donker dat die son en die sterre vir baie dae nie geskyn het nie.Vir die antieke tyd se matrose wat nog sonder ’n kompas was (waarskynlik tot na die jaar 1000 n.C. in Europa), was die verduistering van die son en sterre waarvolgens hulle hulle rigting bepaal het, erger as die storm. Die stormweer, waarskynlik met digte wolke, koue, weerlig en wind het nie in die minste sy krag verloor nie. ‘Alle hoop dat ons gered sou word is op die ou end ons ontneem.’ Selfs Lukas se hoop op redding (’n belangrike tema in Handelinge) het verdwyn.

27:21 Die enigste wat in die tyd kop gehou het was Paulus. As gevolg van die mense se angs en dat hulle sonder hoop op redding uit die dreigende lewensgevaarlike situasie was, was hulle vir ’n lang tyd nie lus om te eet nie (asitía) en moontlik ook seesiek. Maar Paulus het in die siedende storm tussen hulle opgestaan en hulle daaraan herinner dat hy hulle gewaarsku het om nie van Kreta af weg te vaar nie (anágomai skeepsterm) om hierdie skade en verlies te vermy (27:10), maar dat hulle sy waarskuwing in die wind geslaan het. Hy noem dit terwyl hy bewus is dat hulle nie sy woorde as God se waarskuwing gehoorsaam het nie (vgl. 27:23). Sy aanklag was bedoel om hulle tot inkeer te bring om na hom te luister.

27:22 Maar nou dring Paulus by die hoopverlore mense aan ‘skep moed en wees blymoedig (euthuméō) want daar sal geen lewensverlies onder julle wees nie.’ Die rede daarvoor word in die volgende twee verse aangegee. Die skip sal egter vergaan, soos die vrag wat hulle reeds uitgegooi het (27:18). Die skade en verlies waarteen Paulus hulle gewaarsku het, tref die twee manne op wie die kommandant meer vertrou het as op Paulus, die kaptein van die skip en die eienaar van die skip. Wat die lewensverlies betref, wat Paulus in sy vooruitsig gesien het (27:10), het daar ’n nuwe goeie wending gekom waaroor hulle kan moed skep en blymoedig wees.

27:23  Dié nag wat pas verby was, het ’n engel aan Paulus verskyn, ’n boodskapper van die God aan wie hy behoort (letterlik: wie s’n ek is) as God se boodskapper op aarde, vir wie hy dien en vereer as die Here van sy lewe. Dié engel het by Paulus kom staan met die hoopvolle boodskap wat hy moet oordra aan dié mense sonder hoop op die skip. Saam met sy trooswoord bely Paulus sy persoonlike verhouding met God.

27:24 Paulus gee die boodskap van die engel letterlik weer. Dit begin met die engel se versekering: ‘Moenie vrees nie Paulus. Jy moet nog voor die keiser verskyn (parístêmi gebring word).’ Dit het die Here reeds in Hand 23:11 belowe en Hy sal sy belofte gestand doen. Daarmee word Paulus verseker dat die Here sal sorg dat hy hierdie skipbreuk oorleef. Die verdere belofte van die Here word ingelei met ’n sterk beklemtoning deur die engel om die besonderse ingryping van die Here om hulle te red te beklemtoon:  ‘En kyk! dit is seker! God het aan jou genadiglik en mildelik gegee (charízomai) en almal saam met jou.’ Dat God die geskenk aan Paulus gee is moontlik ’n aanduiding dat Paulus vir sy reisgenote gebid het en dat God sy gebed, wat onmoontlik gelyk het, uit genade aan hom as geskenk gegee het. So het Abraham vir Sodom gebid en het die Here vir Lot en sy twee dogters en die stadjie Soar saam met hulle gespaar uit die vyf stede in die vlaktestreek: Sodom, Gomorra, Adma, Seboim en Soar (Gen 19:22,29). Dit alles spreek van die mildheid van God se genade aan dié wat Hom liefhet. Paulus se insig dat daar lewensverlies sou wees (27:10), het God uit sy milde genade omgekeer, en gaan Hy veel meer doen as wat Paulus verwag het. 

27:25 Daarom herhaal Paulus sy oproep van vers 22: ‘Skep moed!’ Paulus vertrou op God dat Hy sy woord wat Hy aan hom gegee het sal uitvoer, dat Hy dit ook net soos (letterlik: op die manier) aan hom vertel is, sal uitvoer. So wil Paulus by sy hoorders vertroue in God opwek. Ps 33:4 sê: ‘die woord van die HERE is reg, en al sy werk is betroubaar.’ 

27:26 ‘Ons moet (volgens God se besluit) egter op een of ander eiland deur die wind op die kus af gedryf word (epipítō skeepsterminologie: van koers af gewaai, strand).’  Paulus kondig die skipbreuk aan as God se besluit waaroor hy hulle gewaarsku  het (27:21). Daarmee straf die Here die skeepskaptein en die eienaar van die skip wat teen Paulus se advies besluit het om die see te trotseer. Maar om op die wye oop see, te midde van die geweldige storm, op ’n eiland 476.6 seemyl (882 km) van Clauda af te strand, is weer eens God se genade deurdat Hy die skommelende skip met die wind op die eiland afstuur. As die Noord-Ooster meer noord was, sou hulle op die Sirtis beland het, maar die wind het al meer oos en selfs ’n bietjie suid gedraai na Malta toe, al nader na Rome toe, God se bestemming vir Paulus. As hulle in Mooi Hawens of Feniks sou oorwinter het, sou dit baie langer geneem het om Rome te bereik. 

27:27 ‘Toe dit al die veertiende nag word wat ons deur die wind op die Adriatiese See heen en weer gedryf word (diaférō), het die matrose teen middernag vermoed (sonder sekerheid) dat hulle besig was om iets baie belangriks (tís), land! te nader.’ As kenners van die see kon hulle dit waarskynlik uit die geluid van die golwe wat op die land breek aflei.

27:28 Die matrose het ’n peiling geneem (bolízō skeepsvaartterm, ’n tou met ’n stuk lood onderaan, ’n dieplood, word laat sak om te sien hoe diep die seebodem is). Met die eerste peiling was die see twintig vaam (orguiás) diep – ’n vaam is die lengte van twee uitgestrekte arms van vingerpunt tot vingerpint, ’n bietjie meer as 1.85 meter. 20 vaam sou ongeveer 36 meter diep wees. Toe hulle ’n bietjie verder weer ’n peiling neem, vind hulle die diepte van die see is 15 vaam, ongeveer 27 meter. Dit beteken dat hulle vinnig op pad is land toe wat ’n strandingsgevaar inhou.

27:29 Die lesings bring hoop en vrees, die hoop dat hulle kan land. Maar vir eers oorheers die vrees dat hulle op rotse afstuur, wat die skip kan beskadig en hulle lewens op die rotse verpletter. Hulle laat sak vier ankers tot op die vlakkerwordende seebodem. Gewoonlik word ankers van die boeg af laat sak, maar hulle laat die ankers van die agterstewe af (prúmna) sak om die spoed van die skip te probeer verminder wat deur die wind van agter af aangedryf word (27:15). En toe het hulle gebid/begeer/gewens dat die dag aanbreek (eúchomai bid met die gedagte om iets te vra, of: om te begeer met ’n vroom begeerte).

27:30 Terwyl dit nog donker was wou die matrose ongemerk van die skip af wegvlug omdat hulle bang was die skip en almal gaan teen die rotse verpletter word. Die ander mense op die skip laat hulle oor aan hulle lot. Kras selfsug is nie ongewoon wanneer mense in nood is nie. Hulle het die sloep van die skip af (27:17) wat hulle aan die begin uit die see opgetrek het, 27:17) in die water laat sak sodat hulle daarmee kon vlug en ’n plek langs die kus kan gaan soek waar hulle veilig kon gaan land. Hulle het egter voorgegee dat hulle ankers van die boeg (prōira voorste punt van die skip) af, met die sloep ’n ent van die skip af wil laat sak om die skip aan weerskante van die boeg te anker.

27:31 Paulus sien deur hulle plan en waarsku die kommandant en sy soldate. Die voorwaarde waarop almal op die skip gered sal word, is dat almal op die skip by Paulus sal bly. Die engel se woord aan Paulus was juis: ‘En kyk! God het aan jou geskenk almal saam met jou’ (27:24). As almal by Paulus bly, bewys dit dat hulle op die belofte van die Here aan Paulus vertrou (27:24-25). Almal se redding hang daarvan af of hulle by Paulus bly, want God se guns het hulle almal aan die redding van Paulus se lewe verbind. Die matrose is ook die kundiges wat sal weet hoe om tydens die skipbreuk op te tree (27:40).  

27:32 Die soldate se lewe is in gevaar as die matrose vlug. Daarom kap hulle die toue, waarmee die matrose die sloep laat sak, met hulle swaarde af. Die sloep, wat hulle by Kauda uit die see opgetrek het en op die skip vasgemaak het, val terug in die onstuimige see. Hulle hoop op redding op die sloep verdwyn met die sloep, en is hulle ook net op die Here se belofte van redding aangewys, soos die hele bemanning.

27:33 Op die vorige merkwaardige toneel van die matrose wat die skip soos rotte wil verlaat, volg die volgende merkwaardige toneel. Dit is nog donker, die storm woed nog aaneen, alles is nog onseker, die groep is in twee verdeel tussen matrose en soldate, die bekommerde groep mense het almal vir dae nie geëet nie. Die gevangene Paulus neem die leiding. Met sy onwrikbare geloof en hoop op God luister hulle na hom, skep hulle weer moed, begin saam eet en saam regmaak vir die dag se nuwe geweld. ‘Voor dagbreek het Paulus by almal aangedring om elkeen sy deel van die kos te gebruik. Hy het gesê dit is al die veertiende dag wat hulle in spanning oor die gevaar en gespook om die skip te beveilig sonder kos bly, sonder om iets te eet.’ Dit onderstreep die geweld waaraan die skip en sy mense onderwerp is, en die beeld van die mag van die woord en voorbeeld van die apostel van Jesus Christus teenoor die mag van die natuur (vgl. Jesus wat die storm stilgemaak het; Luk 8:23-24).

27:34  Paulus herhaal sy vorige waarskuwing en belofte (27:21-22) en dring nou by almal ernstig aan (parakaléō kan beteken: ernstig vra, of om bymekaar te roep – wat hier moontlik altwee veronderstel word) om te eet metalambánō trofês is eintlik om jou deel van die voedsel te ontvang. Dit veronderstel ’n gemeenskaplike maaltyd en vrede tussen die twee groepe. Die ete is deel van hulle redding uit die gevaar en die herstel van hulle liggaamskragte – ook van hulle versoening met mekaar. Paulus belowe dat niemand van hulle ’n haar van sy kop sal verloor nie (vgl. Jesus se woorde in Luk 21:18 en 12:7). Dit is ’n Hebreeuse uitdrukking ook in die Ou Testament, vgl. 1 Sam 14:45; 2 Sam 14:11; 1 Kon 1:52; vgl. Dan 3:27  wat beteken ‘niks sal so iemand oorkom nie, geen skade sal so iemand tref nie’).

27:35 Paulus bevestig sy vermaning en belofte deur voor te gaan, ’n voorbeeld te stel, self brood te neem, God voor hulle almal hardop te dank vir die brood en vir hulle redding, die brood te breek en self daarvan te begin eet. Terwyl die storm woed en die gevaar van skipbreuk al groter word, gaan Paulus kalm en rustig voort om te eet as teken dat hy op God se uitredding vertrou. Hy bely ook sy geloof deur God voor almal hardop te dank vir hulle redding en vir die voedsel (vgl. Jesus se dankgebed telkens voor die maaltyd; Luk 9:16; 24:30; 22:17). Paulus is nou duidelik die leier van die hele groep reisigers.

27:36 Almal het bemoedigde mense geword en hulle het saam geëet – hulle deel van die voedsel aangeneem. Hulle het Paulus se vermaning aanvaar. As teken dat hulle moed geskep het en hulle stryery gelos het, het hulle Paulus se voorbeeld gevolg en saam geëet.

27:37 Hier gee Lukas die getal van al die persone op die skip: 276 aan wie die skeepskombuis voedsel verskaf het, wat Paulus se voorbeeld gevolg het en wat lewendig uit die storm op die land aangekom het – geen haar van enigiemand het geval van die groot getal skipbreukelinge nie (vgl. Lukas 12:7).

27:38 Toe hulle genoeg van die voedsel geëet het, het die matrose die skip ligter gemaak deur die (laaste) van die koring (wat vir kos gehou is) in die see te gooi. Volgens 27:18 het hulle al by Kauda begin om die skeepsvrag oorboord te gooi. Hoe ligter die skip, hoe makliker kan hulle land. Die sloep is reeds weg, waarmee hulle op die laaste stuk van die vlak water kon roei. Die oorboordgooi van die koring om die skip nog ligter te maak vir stranding was ook ’n teken van hulle vertroue dat hulle behoue sal bly wanneer hulle gaan skipbreuk ly en nie weer op die skip gaan eet nie.

Skrywer:  Prof Francois Malan