Die Handelinge van die Apostels: Paulus word na Rome gestuur (Hand 27:1-12) – Francois Malan

Die ‘ons’ in die volgende twee hoofstukke sluit Lukas in. Hy was blykbaar saam met Paulus op die tweede sendingreis van Troas af tot in Filippi (16:10-17), op Paulus se derde sendingreis terug van Filippi af na Jerusalem (20:5-15; 21:1-18) en hier van Sesarea af na Rome (27:1-28:16) waar die ‘ons’ gedeeltes in Handelinge voorkom. In die gedeeltes vertel hy as ooggetuie van wat gebeur het. In Kolossense 4:14, wat waarskynlik tydens Paulus se verblyf in Rome geskryf is, noem hy Lukas die geliefde dokter, wat ook sy groete aan die gemeente stuur, en in Filemon 24 as medewerker van Paulus. Na Paulus se moontlike vrylating in Rome, en tweede gevangenskap in Rome, kort voor sy dood sê Paulus: ‘Net Lukas is nog by my’ (2 Tim 4:11).

Die seereis word beskryf met talryke seevaart-vakterme waarvan die Griekse woorde hieronder aangedui word om Lukas se kennis van die terme en van die reis as ooggetuie aan te toon. ’n Belangrike tema is redding (26:10,22,31,34,43,44) en Paulus is hier die redder van sy reisgenote, anders as Jona wat vir die Here se opdrag wou vlug (Jona 1:3). In die Lukas-evangelie is redding ook ’n belangrike tema en word Jesus Verlosser (sōtêr) genoem.

27:1 Vir die reis na Rome word Paulus ook aan ’n welwillende offisier toevertrou (vgl. 27:3) soos in 23:23-24,32,33, wat hom vry op die skip laat beweeg (27:9-10, 21-22, 31,33-36), anders as die ander gevangenes (27:42). Die kommandant (owerste oor 100) van die Romeinse afdeling soldate in diens van Sy Majesteit (Sebastós) se naam was Julius. Die soldate wat hom vergesel het was aan boord saam met die matrose van die skip, die ander gevangenes en reisigers (waarvan Lukas een was, en ook Aristargus 27:2). Paulus word aan die gesag van die kommandant oorgegee (paradídōmi dieselfde woord wat Lukas gebruik het vir die oorgee van Jesus in die hande van sondaars deur Judas in Luk 22:4,6,21,48; deur die Sanhedrin Luk 24:20; deur Pilatus Luk 23:25; soos deur God bestem Luk 22:22; 24:7; 9:44).  

27:2 Die skip (ploîon enige soort skip) waarmee hulle uit Sesarea vertrek het, se tuishawe, waar die skip waarskynlik gebou is, was Adramittium, oos van Troas en Assus aan die westelike kus van die Romeinse provinsie Asië (deel van die huidige Turkye). Die skip het waarskynlik van Alexandrië af gekom en by Sesarea aangegaan op pad na sy tuishawe toe. Die skip sou langs die kus van Asië by die hawens aangaan om goedere en mense af te laai en op te laai. Die Masedoniër Aristargus van Thessalonika word in Hand 19:29 genoem as Paulus se reisgenoot tydens sy tweede sendingreis, wat deur die skare van Efese saamgesleep is na die arena. Hy was ook die gemeente in Thessalonika se verteenwoordiger wat met Paulus se derde sendingreis Thessalonika se kollekte saam met Paulus na Jerusalem toe geneem het (Hand 20:4). In Kolossense, wat Paulus uit die gevangenis geskryf het (Kol 4:18), noem Paulus hom ‘my

medegevangene’ (Kol 4:10) en in Filemon 24, wat met dieselfde geleentheid as Kolossense geskryf is, word hy Paulus se medewerker genoem. Julius het gemeen hy sal by een van die hawens op hulle reis ’n skip kry wat na Italië toe gaan (27:6).

27:3 Van Sesarea af reis hulle met die noordwaartse seestroom uit Egipte tot by die ou Fenisiese stad Sidon, ’n dag- en nagreis ver, 69 seemyle teen 3 seemyl per uur (met ’n gunstige wind kon tot 9 knope behaal word). Die Sidoniërs het vir Salomo hout in die Libanon gaan kap vir die tempelbou (1 Kor 5:6). Elia is tydens die droogte in Sarfat, ’n wyk van Sidon, deur ‘n weduwee versorg (1 Kon 17:9). Daar het Jesus die dogter van die Kanaänitiese vrou genees (Matt 15:21-28). Kommandant Julius laat heel welwillend sy onskuldige gevangene Paulus onder begeleiding (?) na sy vriende in Sidon gaan en om deur hulle versorg te word met wat hy nodig het (soos Feliks vroeër in Sesarea ook opdrag gegee het, Hand 24:23). Die mense van Sidon het reeds na Jesus kom luister (Mark 3:8) en daar is waarskynlik ’n gemeente gestig toe die gelowiges uit Jerusalem gevlug het, o.a. na Fenisië met die verdrukking wat ná Stefanus se dood ontstaan het (Hand 11:19).

27:4 Van Sidon af het hulle met ’n ompad na Mira, aan die lykant van die eiland Siprus verbygevaar (hupopléō aan die lykant verbyvaar), wat die teenwinde afgekeer het. In die somer is daar weste- en noordwestewinde en ’n weswaartse seestroom in die Middellandse See. Deur met hulle seilskip aan die oostekant om Siprus te seil het die eiland die winde afgekeer en die noordwaartse seestroom hulle aangehelp.

27:5 Toe hulle aan die noordekant van Siprus kom het hulle oor die oop see gevaar (diapléō van een kant na die anderkant vaar; pélagos oop see, oseaan) en teen die suidekant van die provinsies Silisië en Pamfilië gevaar, gehelp deur die weswaartse seestroom en landwinde in die nag. Hulle het al teen die kus van Klein-Asië tot by die hawestad Mira in die provinsie Lisië gevaar. Hier het hulle van die skip wat verder na Adramittium reis, afgeklim. 

27:6 In die hawe van Mira kry die kommandant ’n skip van Alexandrië in Egipte wat na Italië toe vaar (pléō vaar onder seil en/of roei). Die skip het waarskynlik veral koring van Egipte na Rome vervoer en was daarom heelwat groter as die vorige skip. Die aantal persone op die skip word in vers 37 aangegee as 276. In die laat somer het die westewind die skip waarskynlik van Alexandrië na Mira gedryf, of dat hulle die roete juis dié tyd van die seisoen gevolg het om agter die eiland Kreta teen die wind te skuil, en nie die direkte roete van Alexandrië na Sisilië aangepak het nie, wat dié tyd gevaarlik word (vgl. vers 17). Die kommandant het ‘ons,’ die soldate, gevangenes en die reisigers wat na Rome op pad was, aan boord van die skip laat gaan (embibázō). Die ‘ons’ verwys weer na Lukas as ooggetuie van die gebeure.

27:7 Vir verskeie dae het hulle stadig gevaar (braduploéō) en met moeite teenoor Knidus, aan die suid-westelike punt van Klein-Asië gekom. Daarvandaan is dit oop see na die Griekse Peloponnesus, maar hulle kon nie teen die westewind op soontoe vaar nie. Die skip kon toe suid-wes vorder tot teenoor Salmone aan die noord-ooste punt van die eiland Kreta. Hulle het by Salmone verby aan die lykant van Kreta gevaar (hupopléō).

27:8 Van Salmone af het hulle al teen die kus van Kreta gevaar (paralégomai is ’n tegniese skeepsterm vir al langs die kus vaar) tot by die plek wat Mooi Hawens genoem word, naby die stad Lasea. Die hawe is geleë aan die suidpunt van Kreta met twee baaitjies wat ’n bietjie beskerming teen die westewind en goeie beskerming teen die noord-weste wind bied. (Tans is daar ’n bergplek met olie vir verbygaande skepe. In 2011 was daar slegs 21 inwoners in die onherbergsame hawetjie). Dat dit tot vandag Mooi Hawens genoem word, is egter nie ’n ware beskrywing van die redelik onaantreklike plek nie. 

27:9 Baie tyd het verlore gegaan met die moeilike tog teen die winde in en die vaart (ploós) het gevaarlik geword. Van 11 September af is beskou as gevaartyd vir skeepsvaart, en van 11 November tot 10 Maart het skeepsvaart, veral van kleiner skepe, tot stilstand gekom. Die Vasdag wat al verby was, verwys na die Groot Versoendag (Lev 23:26-32 Jom Kippurim op die tiende van die sewende maand Tishi van die Jode. In 59 n.C. het die Groot Versoendag op 5 Oktober geval. Die aand van die negende word die lied Kol Nidrei ‘alle geloftes’ gesing. Op die tiende dag word versoening vir Israel gedoen met vas en offers aan die Here). Aan die begin van Oktober is die winter om die draai in die Noordelike halfrond. Paulus waarsku die kommandant en die skeepskaptein.

27:10 Paulus sien die gevaar wat vir die reis voorlê as hulle verder sou vaar:  Die vaart (ploós) sal skade ly as gevolg van die geweld van die wind en die see, en groot verlies meebring, nie slegs van die vrag (’n broodnodige vrag koring vir Rome) en die skip self nie (met die skip se eienaar op die skip. Rome het die invoer van koring uitgekontrakteer), maar ook van ons lewens (van almal op die skip). Die insig het die Here vir Paulus gegee deur sy waarneming van die verloop van die reis en die weersomstandighede. In 2 Korinthiërs 11:25-6 vertel Paulus dat hy reeds drie maal skipbreuk gely het, ’n nag en ’n dag die diepsee trotseer het en gevare op see beleef het. Daarom sê hy dat hulle liewers op die eiland Kreta moet bly (27:21), waarskynlik in die stad Lasea wat hulle sou kon akkommodeer vir die winterseisoen, daarom noem Lukas die stad in 27:8.

27:11 Die kommandant  het egter meer vertroue gestel in die kaptein van die skip (kubernêtês skeepskaptein, ’n tegniese skeepsvaartterm) en die eienaar van die skip (naúklêros nog ’n seevaartterm) as in die woorde van Paulus. Die twee manne was immers ou hande in die skeepvaart, en Paulus nie eers ’n matroos nie. Die kommandant weet egter nie dat die Here aan Paulus profetiese insig oor hulle reis vorentoe gegee het nie, wat hulle later wel moes erken.

27:12 Aangesien Mooi Hawens nie geskik was vir oorwintering nie, was die meerderheid (van die leiers) se advies dat hulle uit Mooi Hawens moet vaar (anágomai uitvaar, ’n skeepsterm) en dat hulle miskien die hawe Feniks, 80 km wes van Mooi Hawens, kan bereik om daar te oorwinter. Feliks was ’n hawe van die eiland Kreta wat oop was na die suidwestelike kant en die noordwestelike kant van die hawe, wat ’n mate van beskerming teen die winterwinde kon bied.

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Festus se reaksie (26:24-32) – Francois Malan

26:24  Terwyl Paulus Jesus se opstanding uit die Ou Testamentiese beloftes daaroor tot sy verdediging aanvoer, bars Festus met ’n groot stem los en sê: ‘Paulus, jy is mal’ (maínomai is om in ’n totaal irrasionele manier te dink en te redeneer). ‘Jou groot geleerdheid maak jou mal.’ Om van die opstanding van ’n man wat dood is, gesigte in die hemel en stemme uit die hemel te praat, is volgens hom onverenigbaar met gesonde verstand en redenering. Dat Paulus dit alles  bewys uit die Joodse geskrifte se voorspellings wat hy so goed bestudeer het, is vir Festus die sleutel tot Paulus se malheid. Sy baie studie en geleerdheid het hom onredelik mal gemaak. In 1 Kor 1:23-25 skryf Paulus dat die verkondiging van ’n gekruisigde Christus ‘vir die Jode ’n struikelblok is en vir die nie-Jode ’n dwaasheid. Vir diegene wat geroep is…is Christus egter die wysheid van God, want die wysheid van God is wyser as dié van die mense…’ (vgl. ook 2 Kor 4:3-6). Baie Jode het ook van Jesus gesê dat hy mal/kranksinnig is toe Hy gesê het dat Hy die volmag en opdrag van sy Vader gekry het om self sy lewe vir sy skape (Jode en nie-Jode) af te lê en dit weer op te neem (Joh 10:15-20).

26:25  Paulus antwoord eerbiedig dat Festus fouteer om sy getuienis as malheid af te maak. ‘Hooggeagte Festus ek is nie mal nie maar ek spreek woorde van waarheid en gesonde denke’ – die absolute teenoorgestelde van die siek denke van ’n mal mens. Daarby is die woorde wat die Heilige Gees vir Paulus gee, woorde van goddelike waarheid en wysheid.

26:26 Paulus roep die koning as getuie van die waarheid van sy woorde, teen Festus se uitroep dat Paulus mal is. Agrippa wat self as’n Jood beskou is (Josefus Bell 4.1.3) en langer as Festus in die Joodse land regeer, weet van die dinge wat gebeur het, van Jesus se prediking en wonders en van sy kruisiging, want dit het in die openbaar plaasgevind. Daarom sê Paulus dat hy met vrymoedighed met Agrippa kan praat, soos wat hy nou hier doen.

26:27 Paulus daag Agrippa uit om vir hom te getuig: ‘Koning Agrippa, glo u die Profete? Ek weet u glo.’  As hy die Profete se uitsprake sou glo, moet hy Paulus se getuienis oor die vervulling van hulle profesieë ook aanvaar.

26:28 Die vers het al verskillende Afrikaanse vertalings gehad: 1953 positief: ‘Jy beweeg my byna om ’n Christen te word.’ 1983 sarkasties: ‘Jy dink seker jy kan my sommer gou-gou ’n Christen maak.’  1996 Die Boodskap – positief : ‘As jy so aanhou maak jy my sommer netnou ’n Christen.’ 2006 Die Nuwe Lewende Vertaling – sarkasties: ‘Jy wil sommerso in ’n japtrap van my ’n Christen maak.’ 2009 Die Bybel vir almal – ontkenning: ‘Jy moenie dink dat jy my so maklik ’n Christen sal maak nie.’  2014 ‘n Direkte Vertaling – positief: ‘Met ’n bietjie meer oorreding maak jy my nog ’n Christen.’  

Die vers kan as ’n vraag gelees word of as ’n sarkastiese opmerking; ‘is jy besig om my in ’n kort tydjie te oortuig om my ’n Christen te maak?’ of sarkasties: ‘jy is in ’n kort tydjie besig om my te oortuig om my ’n Christen te maak,’ of dit kan ook vertaal word as: ‘jy is besig om my te oortuig om ’n kort tydjie as ’n Christen op te tree’ (poiêō kan beteken ‘maak om te wees,’ of ‘om op ’n sekere manier op te tree’) – dan is dit Agrippa se negatiewe antwoord op Paulus se uitdaging aan hom om openlik te erken dat hy die profete glo en daarom Paulus se verdediging behoort te steun.

26:29 Paulus sou sy begeerte in gebed aan God wil bekendmaak (eúchomai ‘begeer’ in ’n baie skaars potensieel vervulbare optatiewe vorm van die werkwoord) dat die goddelike oomblik vir Agrippa en sy hele gehoor mag aanbreek om soos hy te wees. Om soos hy die lig te sien om in Jesus te glo as die vervuller van God se belofte van die Christus, wat in die Profete en Moses opgeteken is oor die Messias. Of dit ’n klein tydjie of ’n lang tyd mag neem vir hulle om tot geloof in Jesus te kom maak nie saak nie, solank hulle deur geloof in Jesus in die lig begin lewe en die vergewing van sondes en ‘n ewige erfdeel van God ontvang (26:18). Paulus se begeerte sluit in dat hulle in Jesus sal glo sonder die kettings waarmee hy, wat in Christus vrygemaak is van sonde, onskuldig geboei is.

26:30 Die koning het opgestaan as teken dat die byeenkoms afgesluit is. Paulus het die laaste woord gehad en Agrippa het duidelik ongemaklik geword met die verloop van die verhoor, ook met Paulus se laaste wens en gebed tot God vir hom en die res van die gehoor. Die leiers, Agrippa, goewerneur Festus, en Bernice en die ander gaste het die gehoorsaal verlaat sonder dat iets gekom het van die voorondersoek wat in 25:26 beplan is, of dat Festus iets kon kry om aan die keiser te skryf. 

26:31 Paulus se gehoor sit ’n lewendige gesprek voort buite die saal. Die algemene oortuiging is dat Paulus niks gedoen het wat die doodstraf of dan gevangenisstraf verdien nie. Jode en heidene betuig onder mekaar dat Paulus onskuldig is. Waarom hy dan nie vrygelaat word nie, word in die volgende vers verduidelik. Vir Jesus se onskuldverklaring deur Herodes en Pilatus vgl. Lukas 23:14-15. So loop Paulus se pad soos sy Here s’n, vgl. Rom 8:17. 

26:32 Agrippa het geen raad vir Festus om ‘n goeie rede te kry om Paulus na Rome te stuur nie (25:26), maar vererger net Festus se dilemma met sy uitspraak: ‘Hierdie man kon losgelaat en ’n vry man gewees het (die betekenis van die perfektum vorm van apolúō. Die perfektum verwys na die verlede en die voortduur van die gevolge daarvan).’ Die uitspraak van Agrippa word in die oorspronklike beklemtoon. Daarmee betuig Agrippa baie duidelik Paulus se onskuld. Hy betreur eintlik Paulus se beroep op die keiser wat nou sy vrylating deur die goewerneur onmoontlik maak. Paulus was daartoe gedwing deur sy regters se onbetroubaarheid wat die Jode telkens ’n guns wou bewys (24:27; 25:9). Vir die evangelie was dit egter ook ’n middel in die hand van God om Paulus in Rome vir Hom te laat getuig, volgens God se plan en wil (23:11). 

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Paulus vertel van sy bekering (Hand 26:12-23) – Francois Malan

26:12 Na sy verhaal oor sy lewe voor sy bekering, begin die positiewe deel van sy toespraak. Dié berig oor Paulus se bekering is die kortste van die drie berigte daaroor in Handelinge (9:1-19; 22:4-16; 26:12-18). Elkeen van die drie berigte het ’n eie karakter wat aanpas by die gehoor aan wie hy dit vertel. Daar is ook taal- en stylverskille tussen die verhale om nie eentonig te word nie, en byvoegings wat die gebeure al duideliker beskryf. Voor Feliks en Festus (24:11-21 en 25:9) was sy bekering byvoorbeeld nie ter sake nie. Vir hulle het hy net aangetoon dat die Jode se aanklagte teen hom nie waar is nie, en dat die Christendom nie ’n gevaar vir die staat inhou nie. Voor die Jode en Agrippa (22:4-16 en 26:12-18) getuig Paulus van die wonderwerk wat God in sy lewe bewerk het.  

Toe Paulus soos ’n waansinnige die Jode in die buiteland wat in Jesus glo gaan agtervolg het, het hy na Damaskus gereis, met die gesag en volmag van die leierpriesters. Dit is ’n uitbreiding op 9:2 waar hy die hoëpriester om briewe genader het. Volgens 22:5 het hy briewe van die hele Raad ontvang; hier van die leierpriesters wat die dagbestuur van die Sanhedrin was, wat die besluit van die Raad uitgevoer het. Die hoof van die tempelwag het ook op die dagbestuur gedien.

26:13 Soos in 26:2 spreek Paulus Agrippa aan as ‘koning.’ Hoewel sy getuienis in die saal voor almal gelewer word, word dit op Agrippa, wat die leiding geneem het, toegespits. ‘Helder oordag (letterlik: middel van die dag), op pad (na Damaskus), o koning, het ek ’n lig uit die hemel gesien, helderder as die son, wat rondom my en my medereisigers geskyn het…’   Dit is nuwe elemente en bewoordings in Paulus se vertelling wat die verskyning helderder laat uitstaan om Agrippa te oortuig dat Paulus hom nie vergis het nie: ‘in die middel van die dag’ (hêméras mésês) wanneer die son die helderste skyn, teenoor 22:6 se onbepaalde ‘ongeveer die middaguur’ (perì mesêmbrìan) en 9:3 se ‘terwyl hy onderweg was.’  Dat die lig uit die hemel baie sterker as die son was, word hier bygevoeg. Dat die hemelse lig ook rondom sy reisgenote geskyn het, bewys dat dit nie slegs hy is wat die lig gesien het en die ervaring daarvan gehad het nie. Volgens 22:9 het hulle ook die lig gesien, wat nie in 9:7 gemeld is nie.

26:14 ‘Toe ons almal op die grond val’ – in 22:7: ‘ek het op die grond neergeval’ – ‘hoor ek ’n stem wat vir my in die Hebreeuse dialek sê (ter wille van Agrippa voor wie Paulus hier Grieks praat): ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Dit is vir jou hard om teen die prikkels te skop.’ Die tweede sin is ’n byvoeging by die vorige berigte. Dit is ’n Hebreeuse spreekwoord uit die boerdery waar beeste met ’n stok met ‘n skerp ysterpunt aangedryf was (vgl 1 Samuel 13:21 se osprikkels – in Hebreeus: dorban). Dit verwys na iemand wat hom teen gesag verset en in die proses homself beseer. Deur Paulus se vervolging van Jesus wat in sy volgelinge woon (Ef 3:17; Joh 14:23), beseer hy homself in sy weerstand teen Jesus soos ’n os wat teen sy eienaar of drywer skop. Jesus was reeds Paulus se eienaar wat hom uitgekies het om aan Hom te behoort (vgl. Jesus se woord aan Ananias in Hand 9:15 ‘Ek het hom uitgekies as instrument om my Naam uit te dra…).

26:15 Terwyl Paulus in die skerp lig op die grond lê, vra hy : ‘Wie is U Here?’ en die Here het gesê: ‘Ek (egō), Ek is (eimi) Jesus vir wie jy besig is om te vervolg (voortdurende teenwoordige tyd).’ Voor die stem uit die hemel erken Paulus dat hy met ’n hemelse wese praat (die ‘Ek is’ van Eksodus 3:14; Joh 8:24,28,58). En met Jesus se antwoord word Paulus oortuig dat Jesus uit die graf opgestaan het en aan die regterhand van God sit, soos die gelowige Jode wat hy vervolg, telkemale bely. Nou weet hy dat Stefanus se laaste woorde, wat hy gehoor het, waar is: ‘Kyk, ek sien die hemele geopen en die Seun van die Mens aan die regterhand van God staan’ (Hand 7:56) en sy gebed: ‘Here Jesus, ontvang my gees’ en sy voorbidding: ‘Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie’ (Hand 7:59-60).

26:16 Paulus se vraag aan Jesus in 22:10 word nie herhaal nie. Jesus se opdrag ‘staan op’ in 9:6 en 22:10 word uitgebrei met ‘en staan op jou voete’ om die sendingopdragte van die Here in verse 16b-18 aan te hoor. Die dubbele opdrag om te staan is soos die Here se opdrag aan Esegiël in hoofstuk 2:1-3. Die volgende opdragte in 26:16-18 vervang die vorige twee berigte in hoofstukke 9 en 22 oor Paulus se blindheid. Hier vertel hy van die gesigte wat hy gesien het. Dit stem in ’n mate saam met die Here se opdrag aan Ananias wat hy aan Paulus oorgedra het oor sy uitverkiesing om die Regverdige te sien en te hoor (Hand 22:14-15).

Die eerste opdrag: ‘Ek het aan jou verskyn omdat jy reeds vantevore aangestel is as dienskneg en getuie van wat jy reeds (van My – in Vaticanus en nie in Sinaïticus nie) gesien het en nog sal sien wanneer Ek aan jou sal verskyn’ (Hand 18:9; 22:17-21; 23:11; 2 Kor 12:1-4,7). Die Here het Paulus reeds vantevore ‘aangestel vir ’n spesifieke doel’ (procheirízomai). Daaroor skryf Paulus in Galasiërs 1:15 ‘Toe dit God behaag het – Hy wat my afgesonder het van voor my geboorte af (letterlik: uit my moeder se baarmoeder) en deur sy genade my geroep het – om sy Seun aan my te openbaar sodat ek Hom onder die heidene sou verkondig.’ Op die pad na Damaskus het die Here vir Paulus in sy diens aangestel as sy ooggetuie wat die opgestane Christus aan die regterhand van God gesien het (vgl. 1 Kor 15:8). Die ander apostels was ooggetuies net tot by Jesus se hemelvaart; Johannes het later op Patmos Hom aan die regterhand van God gesien (Openb 5:6-7; 6:1; 14:1,14; 22:8,16). 

26:17 Die Here se belofte en tweede opdrag: ‘Ek sal jou red/bevry uit die gevaar van die volk (laós volk van Israel) en van die heidene (nie-Jode ta ethnê) na wie Ek jou stuur…’ So het die Here ook aan die jong Jeremia belowe en hom uitgestuur (Jer 1:7-8; vgl. Gal 1:15-16,9 en 1 Kron 16:35). Om God en Christus se getuie te wees, hou ook gevaar en lyding in (9:16). Dit is die opgestane Jesus en die Vader wat met hulle goddelike gesag vir Paulus uitgekies en uitgestuur het. Dit is die basis van Paulus se geloof en die grond vir sy sekerheid oor sy roeping (vgl. Gal 1:1; 1&2 Kor 1:1;  Rom 1:1; Ef 1:1; Kol 1:1; 1&2 Tim 1:1; Tit 1:1).

26:18 Die doel van God met Paulus se sending na Israel en die heiden nasies word uitgebrei met die inhoud van sy diens: om hulle oë te open sodat hulle van die duisternis kan omdraai na die lig toe (epistréfō beteken om jou geloof en jou lewenswyse te verander met die fokus op waarheen jy moet draai, naamlik na God toe). In Jesaja 42:6-7,16 word dit van die Dienskneg van die Here gesê. Jesus is die ware Lig wat elke mens verlig (Joh 1:9), sodat hulle goeie lewe die lig vir die wêreld word (Matt 5:14-16; Ef 5:8; 1 Petr 2:9).

Die omkeer word in die volgende sin verduidelik as uit die mag of seggenskap (eksousía) van die Satan oor jou lewe na God toe. Satan is die Hebreeus-Aramese woord vir ‘teenstander’ wat die persoonsnaam vir die duiwel is. Hy is die teenstander van God. Paulus skryf later aan die Kolossense dat God hulle uit die mag van die duisternis gered het en verplaas het na die koninkryk van sy geliefde Seun (Kol 1:12-13). 

Hoe dit gebeur, word in die laaste sin verduidelik: deur hulle geloof in Jesus ontvang hulle vergewing van hulle sonde (weg van die duisternis af) en ontvang ’n erfdeel saam met die geheiligdes in die lig. Omdat hulle verhouding met God reggemaak word, is hulle kinders van God en mede-erfgename deur hulle geloofsband met die Seun van God (Rom 8:16-17; vgl Kol 1:13-20). So verduidelik Paulus die evangelie aan Agrippa, die goeie boodskap van Christus. Dit is Paulus se werk waarvoor God self hom geroep het en aan hom die opdrag gegee het om dit te verkondig.

26:19 Met die aanspreekvorm: ‘Koning Agrippa’ beëindig Paulus die opdrag wat Jesus aan hom gegee het. Hy verduidelik dat hy nie aan die opdrag wat hy in die visioen gekry het ongehoorsaam was nie – die dubbele negatief ‘nie ongehoorsaam’ is bedoel om ’n baie sterk verklaring te maak ‘ek het die opdrag verseker gehoorsaam.’ ’n Boodskap uit die hemel, moet ten alle koste gehoorsaam word. Dit is die regsgrond van die Christelike sending. Petrus en Johannes het aan die Sanhedrin gesê: ‘Of dit reg is voor God om eerder na julle te luister as na God, moet julleself oordeel’ (Hand 4:19) en later ‘ons moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense’ (Hand 5:29). Die Jode het geweet van opdragte van God en van die Engel van die Here uit die hemel aan bv. Abraham (Gen 22:1-2; 12, 15-18), Jakob (Gen 28:12-17) Laban (Gen 31:24,29), Moses (Eks 3), Jesaja (Jes 6), Jeremia (Jer 1), ens. God se opdragte was die fondament van die Joodse godsdiens. En nou het God sy wil en verlossingsplan aan Paulus bevestig en kan Paulus nie anders as om God se opdrag te gehoorsaam nie.

26:20  Die doel van Paulus se opmerkings in hierdie teks is juis om te wys dat sy prediking presies dieselfde is as die boodskap van die Profete en Moses (die hele Ou Testament, Hand. 26:22): bekering (metanoéō jou lewenswyse te verander as gevolg van ’n totale verandering van gedagte en houding oor sonde en hoe om jou verhouding met God reg te maak),en terugkeer (epistréfō) tot God en doen van werke wat by die bekering pas (vgl. Ef 2:10; Titus 2:14; 3:8). Johannes die Doper het al by die Jode aangedring om vrugte te dra wat by die bekering pas (Luk 3:8). Die belofte van die Here was dat Hy Paulus sal red uit sy volk en van die heidene na wie Hy vir Paulus stuur (26:17). Hier vertel hy aan Agrippa aan wie en waar hy sy opdrag vervul het: Damaskus (in die Joodse sinagoges, 9:19-20), Jerusalem (ook onder die Griekssprekende Jode 9:28-29), die hele landstreek van Judea (wat nie spesifiek in Handelinge bespreek is nie) en aan die heidene (tydens sy drie sendingreise (Hand 13, 16-21).

26:21 Die Jode het hom in die tempel gearresteer en probeer doodmaak. Dit was oor sy prediking dat die Jode ook tot bekering moet kom soos hulle van die heidene verwag het, ’n totale omkeer van hulle lewe, uit die duisternis na die lig; onder die heerskappy van die Satan uit na ’n lewe in vertroue op God (26:18). Omdat hulle kinders van Abraham was, het hulle geglo dat bekering nie vir hulle nodig is nie en dat hulle nie kinders van die duiwel is nie (vgl. egter Jesus se woorde in Joh 8:12,44). Hulle het gedink hulle lewe voor God is reg met hulle eie goeie werke, maar Johannes die Doper en Jesus het juis by hulle op bekering aangedring (Mark 1:4, 15) om vergewing van sonde te verkry deur in Jesus te glo. Om die kontras tussen die Jode en God se optrede teenoor Paulus te beklemtoon gebruik Lukas twee woorde met verskillende voorvoegsels vir twee teenoorgestelde handelinge wat met die woord ‘hand’ (cheír hand, in die mag van iemand) gevorm is: Die Jode wou Paulus doodmaak diacheirízomai; God het hom vooraf al vir ’n spesifieke doel uitgekies procheirízomai. In Galasiërs 1:15 sê Paulus dat God hom reeds voor sy geboorte afgesonder het vir die spesifieke taak (vgl Hand. 26:16).

26:22 Te midde van die Jode se knaende vervolgings en moordpogings ervaar Paulus tot op hierdie dag die hulp van God, soos die Here volgens 26:17 beloof het. Net daarom kan hy hier staan en getuig voor klein en ook groot (’n Semitiese uitdrukking vir alle mense oral op dieselfde wyse). Hier verwys dit ook na almal in die saal wat na hom luister en na die grotes/ soos Festus en Agrippa. Hy verkondig ook niks anders as wat die Profete gesê het gaan gebeur nie, en ook die woorde van Moses – Moses se woorde verwys na die eerste vyf boeke van die Bybel en die Profete na die res van die Ou Testament. Dit gaan hier in die besonder oor die toekomsverwysings in die Ou Testament, en die verwagting van die koms van ’n Gesalfde (Messias in Hebreeus en Christus in Grieks): gesalf as ’n profeet soos Moses (Deutr 18:15,18; Hand 3:22-24; 7:37), ’n koning soos Dawid (2 Sam 7:13,16,19; vgl. Dan 7:13-14 die Seun van die Mens se ewige heerskappy), ’n priester in die priesterorde van Melgisedek (Ps 110:1,4). Paulus bring juis die goeie nuus dat die beloofde Messias van die Jode gekom het in die Persoon van Jesus die Christus, die Here, God met ons (Immanuel van Jesaja 7:14, vgl. Matt  1:23).

26:23 Die inhoud van hierdie vers verduidelik wat Paulus beskou as die boodskap van die Profete en Moses nadat hy die opgestane Jesus in die hemel ontmoet het op die pad na Damaskus. Die verwagte Christus moes kom ly as die goddelike Hoëpriester wat Homself offer om die sonde van die wêreld op Hom te neem om ons met God te versoen – vgl. die vergewing van sonde in Hand 26:18 (Joh 1:29,36). Hy het as eerste uit die dood opgestaan as oorwinnaar oor God se doodstraf op die sonde (Gen 2:17; 3:19) – sodat ons ’n erfdeel saam met die geheiligdes kan kry (Hand 26:18). Daar was wel opwekkings uit die dood, maar dan van mense wat weer op aarde gelewe het en later weer gesterf het (vgl.1 Kon 17:21-22; 2 Kon 4:32-36; Joh 11:43-44). Jesus se opstanding is vir ewig en almal wat in Hom glo sal lewe omdat hulle aan Hom en sy opstanding verbind is (vgl 1 Kor 15:21-23). Dat die Christus moes ly en moes opstaan, verwys na God se plan vir die verlossing van die mensdom (Ef 1:3-14 ). Om aan sy volk en aan die heidene die lig te verkondig, verwys terug na Jesaja 9:1-6 wat in Jesus vervul is, na God se redding van Jode en nie-Jode as die lig wat verkondig en geglo moet word deur hulle wat in die duisternis lewe (Hand 26:18).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Paulus verdedig homself voor Agrippa (Hand 26:1-11) – Francois Malan

26:1 Festus eer Agrippa deur die leiding van die byeenkoms aan hom oor te gee (vgl. ook 26:30). Daarom rig Paulus sy verdediging en getuienis telkens aan Agrippa (26:2,7,13,19,27). Soos alle oë in die saal op Paulus gevestig was toe hy aan hulle voorgestel is (25:24 theōreite bly stip kyk na) is alle ore gespits tydens sy rede (vgl. 26:24). Jesus het aan sy dissipels gesê hulle moet hulle nie bekommer oor wat hulle moet sê as hulle gevange geneem en oorgelewer word nie, ‘maar wat ook al op daardie oomblik aan julle gegee word, dit moet julle sê; want dit is nie julle wat praat nie, maar die Helige Gees’ (Mark 13:11).

Met ’n onseremoniële ‘dit word jou vergun om vir jouself te praat’ (sonder ’n advokaat) stel Agrippa vir Paulus aan die woord. Die Jode se bekwame advokaat en leiers het vir Feliks gesê: ‘U sal self by hom agterkom waaroor ons hom aankla’ (24:8-9) omdat hulle nie ’n werklike klagte kon indien nie. Paulus het sonder ’n advokaat, soos die redenaars van destyds, sy geboeide hand uitgestrek (13:16; 21:40; vgl. ook 12:17; 19:17). Vir Paulus was dit ’n teken van sy afhanklikheid van die Here. Toe hy homself verdedig het, was die Heilige Gees sy advokaat wat hom bygestaan het en die regte woorde gegee het om vir Jesus te getuig. 

26:2 Volgens die gebruik van die antieke redenaars word ’n toespraak ingelei met woorde wat die gehoor positief teenoor hom sal beïnvloed. So spreek Paulus ook vir Agrippa aan as ‘koning,’ en dat hy homself gelukkig ag oor die gunstige omstandigheid (makários) ‘om myself vandag voor u te moet verdedig oor alles waarvan ek deur die Jode aangekla word’ (vgl. ook sy inleiding tot sy verdediging voor Feliks in 24:10).

26:3 Die vleiery van Agrippa oor sy besondere kennis (die woord ‘besondere’ kan ook verwys na Paulus se voorreg om voor Agrippa te verskyn) verwys na sy kennis van die Jode se gebruike en strydvrae. As afstammelinge van Esau was die Herodusse egter meer geïnteresseerd in gebruike en wette van die Romeine, wat die Herodusse oor die Jode aangestel het. Agrippa het sy jeug en opleidingstyd in die hof van keiser Claudius in Rome deurgebring. Maar sy tyd onder die Jode het hom die geleentheid gegee om meer van die Jode se leefwyse te leer. Festus en Agrippa het ook nie vir Paulus laat kom om hom oor godsdienstige sake te ondersoek nie. Maar Paulus se hele toespraak het eintlik gewentel om die Jode se godsdienstige gebruike en strydvrae wat hy hier met sy openingswoorde inlei. Vir Feliks het Paulus ook vroeër gevlei met sy lang jare se ondervinding onder die Jode (24:10). In 26:26-27 verwys Paulus egter na Agrippa se begrip en kennis van die Profete in verband met die opstanding uit die dood.

Paulus pleit dringend (deomai) by Agrippa om geduldig na hom te luister, want dit gaan ’n lang toespraak wees oor sake wat nie eintlik hulle belangstelling is nie.

26:4  Oor sy lewensloop vertel Paulus drie dinge wat belangrik is as sy uitgangspunte in sy godsdienstige uiteensetting. Eerstens sy trou teenoor die Jodendom. ‘Van die begin af’ het hy sy lewe onder sy volk deurgebring  – dit verwys waarskynlik na sy herkoms uit die Joodse gemeenskap in Tarsus. ‘Van sy jeug af’ in Jerusalem – toe hy aan die voete van Gamaliël kom sit het om die Ou Testament en die Jode se Mondelinge Tradisie, wat teen 200 n.C. in die Mishna opgeneem is, bestudeer het (Hand 22:3). Sy lewenswyse (bíōsis) en sy verbondenheid aan sy volk is by al die Jode bekend.

26:5  Die tweede belangrike saak is Paulus se godsdiens, sy getrouheid aan die Heilige Skrif volgens die Fariseërs se oortuiging, wat die Wet en die Profete aanvaar het as die Woord van God (Hand 13:7-8). As die Jode wou, kon hulle getuig dat Paulus van jongs af volgens die voorskrifte van die Fariseërs gelewe het, die groep wat hulle daartoe verbind het om streng volgens die Ou Testament te lewe.

26:6 Die derde en belangrikste sy van Paulus se lewe is sy hoop op die vervulling van God se belofte aan die Jode se voorvaders, en sy persoonlike verhouding met die lewende God wat besig is om sy beloftes te vervul. Daaroor staan hy nou aangekla. Ná die verwysing na sy jeug en lewe onder die Jode in die verlede, word hier na sy huidige posisie verwys. Hoewel hy dieselfde gelowige Jood is, staan hy nou (nun) aangekla. Die hoop word nie uitgespel nie, maar dit gaan oor die opstanding uit die dood as vervulling van God se beloftes (23:6), waarvan Jesus se opstanding uit die dood juis die vervulling is. Die hoop bring sekerheid dat God besig is om sy beloftes te vervul. Dit is die kern van Paulus se geloof en sy prediking (Hand 15:8,20- 22).

26:7 Met roerende emosionele woorde verwys Paulus na ‘ons twaalfstammevolk’ – Paulus sluit homself daarby in. Aan ‘ons’ stamvader Abraham, het God reeds agtien eeue tevore beloftes gegee. Paulus beskryf dit in Romeine 4: dié wat God se beloftewoord glo soos Abraham, Jode en nie-Jode, se sondes word hom nie toegereken nie (Rom 4:2-8,17-18). Dit is hulle wat glo in die God wat dooies lewend maak en Jesus uit die dood opgewek het (4:17,24). Deur die bloed van Jesus word ons van die oordeel gered, met God versoen en verlos (Rom 5:9-10). Die twaalf stamme hoop om die belofte van God te verkry deur Hom getrou (letterlik: nag en dag) te dien met hulle ritusse (latréuō), maar vir diegene wat nie op grond van die wet leef nie, berus die belofte op geloof, en word almal kinders van Abraham, soos met

 Abraham voor sy besnydenis (Rom 4:16-17). Vgl. ook Jesus se verwysing na Abraham en die opstanding in Luk 20:37-38. Op grond van die Jode se eie hoop op die lewe by God na die dood, word Paulus ernstig aangekla. Die Christene glo egter dat Christus die Weg is na God toe vir elkeen wat in Hom glo. Dit is die eintlike rede vir hulle aanklag teen Paulus. Johannes die Doper se pa, die priester Sagaria, het al geprofeteer dat die tyd van die kragtige verlossing deur vergewing van sonde aangebreek het (Luk 1:69,77). Paulus word nou op grond van die oeroue Joodse verwagting aangekla. Paulus wys die belaglikheid van die aanklag aan koning Agrippa uit. Agrippa regeer mos oor die Jode en stel selfs hulle hoëpriester aan en sit hom af as hoëpriester. Hy het waarskynlik in hierdie tyd vir Ananias afgesit en Ismael, seun van Fiabi, aangestel. Paulus staan tereg, nie omdat hy ’n vyand van die Jode is nie, maar omdat hy juis die vervulling van die Jode se eeuoue verwagting verkondig. Daar is nie ’n lidwoord ‘die’ voor die Griekse woord vir ‘Jode’ nie, wat kan aandui dat nie al die Jode agter die aanklag teen Paulus staan nie.

26:8 Paulus spreek die hele gehoor toe (‘julle’). As die profete van oudsher af voorspel het dat daar ’n opstanding en ’n oordeel sal wees en Israel ’n algemene opstanding van alle mense uit die dood verwag, hoekom dink julle dan dat God nie vir Jesus wat dood was, kon opwek nie? As hulle nie kan glo dat God Jesus uit die dood kon opgewek het nie, loën hulle ook die algemene verwagting van ’n opstanding van alle mense om deur God beoordeel te word – en dan is al hulle pogings om die Here te behaag met hulle voortdurende diens aan Hom, tevergeefs (vgl. ook  Kor 15:32b-35). Petrus het al vir die leiers van die volk en die familiehoofde en die hele volk van Israel gesê hulle moet weet dat God dié Jesus wat hulle gekruisig het, uit die dood opgewek het en dat deur Hom die lam man genees voor hulle staan as bewys daarvan (Hand 4:10).

26:9 Paulus verduidelik die stiksienigheid en dwaasheid van die Jode met sy lewe as Fariseër.  In verse 9-11 beskryf Paulus in besonderhede sy ywer om die tradisies van sy voorouers, soos hy gedink het, te handhaaf. Dit het hy bewys met sy vervolging van die Jode wat Christene geword het. Hy het by homself gedink (dokéō veronderstel, geglo) dat hy alles in sy vermoë moés doen teen die Naam van Jesus van Nasaret. Die ‘moes’ dui daarom dat hy geglo het dit is in opdrag van God dat hy die Naam van Jesus van Nasaret moes uitroei.

26:10 Die misplaaste oortuiging oor wat hy moes doen, het Paulus inderdaad in Jerusalem uitgevoer. In opdrag van die  dagbestuur (die leierpriesters) het hy baie van God se volk in die tronk laat opsluit (hoi hágioi verwys na die gelowiges se unieke verhouding met God, soos Israel die laós tou Theou, die unieke volk van God, genoem is). En wanneer die Christusgelowiges tot die dood veroordeel is, het Paulus ook daarvoor gestem. Paulus het met die steniging van Stefanus saamgestem (Hand 8:1). Voor die volk, van die trappies van die kaserne af het hy gesê dat hy hulle ook in die sinagoges laat slaan het (22:19). Of die doodstraf ook deur die Sanhedrin uitgevoer is, is onseker (vgl. Joh 18:31). Of Paulus ook in die Sanhedrin kon stem is ook onseker.

26:11 Paulus vertel dat hy in al die sinagoges die Jode wat in Jesus begin glo het dikwels gestraf het, om hulle te laat ly wat hulle verdien (timōréō) deur hulle te forseer om Jesus te laster, waarskynlik deur foltering met ’n gesel (vgl. Matt 10:17, en Paulus se eie ondervinding, 2 Kor 11:24; Deutr 25:3 ). Ek het so kwaad soos ’n mal mens geword   (emmaínomai) om hulle tot in buitelandse stede te agtervolg

Skrywer:  Prof Francois Malan