17 November: Waardeer mense vir wie hulle is en nie vir wat hulle dra nie. – Jan van der Watt

Jak 2:1-13 (fokus 2:1-7)

Moenie dink ons kry nie aspoestertjie verhale in die Bybel nie. Hier in hf 2 lees ons van twee mans wat by die kerk aankom: ‘n ryke met die pragtigste klere aan en ‘n arme. Die ryke word met oop arms ontvang en die beste plek gegee. Die arme moet maar daar eenkant gaan staan. Maar toe God daar kom, laat Hy die arme dadelik nader staan en die aspoestertjie verhaal begin. God gee vir hom een van die beste plekke, want vir God tel klere, geld en sulke dinge nie. Dit is nie waaraan Hy mense meet nie. Vir Hom tel mense as mense. Hy sien nie geld of status raak nie, maar mense. Almal is vir Hom ewe belangrik. So sien God die aspoestertjies van die lewe raak… mense by wie ander verbystap, mense in wie ander nie belangstel nie. By hulle stop God, want hulle is vir Hom belangrik.

Ons moet ook na mense kyk soos God dit doen. Ons mag nie dat klere of die blink dinge van die lewe die maatstaf word waaraan ons ander mense meet nie. Ons moet verby die klere, status en rykdom kyk en die mens raaksien. Dikwels is dit juis die mens in die ryk klere wat stukkend en gebroke is, wat regtig ons liefde en hulp nodig het. Maar as ons in sy klere of blink kar vaskyk sien ons nooit die mens in nood raak nie. Aan die ander kant neem ons dikwels die bietjie selfrespek wat die man met die arm klere nog oor het van hom weg deur hom eenkant toe te skuif, net omdat ons nie van sy klere hou nie.

Nee, God wil hê ons moet mense raaksien vir wie hulle is. Om dit so te stel, God het mense gemaak, en mense het klere gemaak. Ons moet eerder in sy skepsele belangstel as in die lappe wat deur mensehande geweef is.

Waardeer ‘n slag die mense rondom jou vir wie hulle is en nie vir wat hulle dra nie – van die hekwag tot by die baas in die groot kantoor. Mense is kosbaar. Hanteer hulle so.




16 November: Om te luister is ‘n kuns. – Jan van der Watt

Jak 1:19-27 (fokus 1:19-27)

Om te luister is ‘n kuns, want ons praat so graag; en as jy praat, kan jy nie lekker luister nie. Die ou spreuk sê mos: Jy het twee ore gekry en net een mond. Daarom moet jy dubbel so lank luister as wat jy praat.

Dit is nogal opvallend dat Jakobus ook sê dat gelowiges ander ‘n kans moet gee om te praat (19). Die gelowige se taak is dan om maar net rustig te sit en te luister. Daar is ‘n goeie rede voor. Om te luister wat iemand anders sê, beteken om die pad na sy hart te vind. Iemand se woorde word gebore uit die gedagtes en begeertes diep binne in hom. Om noukeurig daarna te luister maak vir jou die deure oop na daardie gedagtes en laat jou daardie begeertes self voel. Om iemand die kans te gee om met jou te praat en geduldig te luister neem jou op ‘n reis deur sy denke en gevoelens.

As jy mense wil wen of leer ken, gee hulle kans om te praat. Luister mooi as die persoon deur sy woorde vir jou ‘n kans gee om sy hart en gedagtes te sien. Veral Christene moet mooi luister, want deur te luister lei God ons in mense se binneste in waar ons soveel kan ontdek: ons kan daar die pyn en seerkry ontdek, die behoeftes en soeke… en met die ontdekkings kan ons God se genesing vir die mense bring. As ons nie luister nie, sal ons nie dit kan doen wat God regtig wil hê ons moet doen nie, naamlik, om sy genesing vir mense te gee waar hulle dit die nodigste het nie.

Luister is ‘n kuns… wat jou nader aan mense bring en hulle nader aan jou.




15 November: Ons God is groot!. – Jan van der Watt

Jak 1:9-18 (fokus 1:9-18)

Mense kan opstandig word, veral teen God. Wie van ons het nie al gehoor hoe mense wat in ‘n krisis kom God beskuldig van liefdeloosheid of dat Hy nie daar is as hulle Hom nodig het nie. Party sê selfs dat as God dit of dat doen, byvoorbeeld sonde straf, hulle nie “so ‘n God” kan aanbid nie. Dink net, hulle impliseer God voldoen nie aan hulle standaarde nie. Hy dop hulle toets! Nou wonder ek wie het hulle as eksaminatore of skeidsregters oor die lewende God van die heelal aangestel? Dit lyk vir my na ‘n “selfaanstelling”… en dit is bietjie arrogant, om die minste te sê.

Een ding wat ons altyd moet onthou, is dat God God is. Hy is eenvoudig nie ‘n mens nie. Sy weë is nie ons weë nie en sy gedagtes is nie ons gedagtes nie. Ons kan Hom nie raad gee nie en ook nie voorskryf nie. As sy skepsels kan ons Hom maar net aanvaar soos Hy is. Hy verander nie sy buie elke dag sodat ons onseker is wat om van Hom te verwag nie. Nee, Hy is Wie Hy is en so is Hy altyd. Hy het ook niks leliks of slegs in Hom nie (16). Die keuses wat Hy maak en wat Hy vir ons doen is altyd ten goede. Soms lyk dit vir ons vreemd dat God iets toelaat, maar ons moet onthou, God sien baie meer en kyk baie wyer as ons. Ons sien ‘n stukkie van die werklikheid raak; Hy sien alles.

Ons moenie onsself te vinnig as “beoordelaars van God” aanstel nie. Ons mag in ernstige verleentheid kom oor ons kortsigtigheid en arrogansie. Ons moet liewer dit wat ons uit die hand van daardie God ontvang – goed of sleg – met dankbaarheid aanneem, sonder om te veel te oordeel of te kla. Hy weet wat goed is vir ons en wil juis die goeie vir ons gee.

Ons aanbid ‘n groot God, wat ver sien, baie weet en vir ons lief is. Wat meer kan ons vra.




14 November: Vra die Here vir hulp en vertrou Hom daarvoor. – Jan van der Watt

Jak 1:1-8 (fokus 1:1-8)

Dit is moeilik om altyd te weet wat die Here wil hê. Dit is moeilik om te besluit waar om die lyn te trek tussen beleefdheid wat mense nie seermaak nie en die handhaaf van jou eie standpunt. Dit is moeilik om te besluit hoe ver om met vergifnis te gaan voor jou vergewensgesindheid net die ander persoon in sy kwaad begin sterk. Hoeveel en hoe lank moet jy vir bedelaars gee, selfs as hulle nie wil werk nie. Hoe lank moet jy na iemand luister wat net wil kla maar nie raad wil vat nie? Vir Christene is sulke vrae alledaags, maar moeilik. Ons soek antwoorde, want ons wil nie graag die Here teleurstel nie.

Ons hoef die Here nie teleur te stel nie, want Hy’t ‘n plan vir ons gemaak. Hy nooi ons uit om met Hom te kom praat as ons onseker is wat om te doen of wat Hy verwag (5). Daarvoor is gebed daar. Dit is verbasend hoeveel mense kan getuig van rustigheid en insig wat hulle uit hulle gebedstye saam met God gekry het. Daar hoor jy God dikwels baie duidelik in gebed, mits jy jou ore spits.

Daar is tog ‘n wesentlike gevaar: om met twyfel te bid. Dan gaan jy nooit seker wees wat die Here vir jou wil sê nie. Jy gaan altyd wonder. Nou gaan jy seker wees en dan weer nie, soos ‘n skippie wat jy nou sien en dan weer nie sien nie, soos dit in die golwe wegsak en dan weer verskyn. Dit is ‘n bose sirkel waarin niemand wil val nie: niemand wil met ‘n probleem worstel en dan elke 5 minute anders voel oor wat gedoen moet word nie.

Die beste raad wat Jakobus kan gee is: vertrou die Here. Gaan op jou knieë en vra die Here se raad, ja, soek dit. Luister fyn, oordink alles en as jy tot ‘n slotsom kom, aanvaar dat die Here jou ook in die besluit gehelp het. Besluit en aanvaar die konsekwensies. As jy die besluit in afhanklikheid van die Here geneem het, kan jy ook seker wees dat die Here die konsekwensies daarvan saam met jou sal dra.

As besluite vir jou moeilik raak, moenie die las alleen dra nie. Vra die Here om te help. Hulp gaan kom, daarop kan jy vertrou.