1 November: Die Here se boere werk hard. – Jan van der Watt

Heb 6:4-7:10 (fokus 6:4-12)

ʼn Lui boer sal jy van ver af uitken. Hy is met allerhande ander dinge besig, behalwe om te boer. Hy sal ywerig vir jou vertel waarmee hy so besig is, maar as dit by doen kom is die energie klaar.

Christen-wees is soos boerdery. Wat jy saai sal jy maai. Daarom vergelyk Hebreërs lidmate in ‘n gemeente met twee landerye waarop albei genoeg reën val (6:7-8). Op die een staan daar ʼn pragtige oes; op die ander is daar net bossies en dorings. Beide groepe mense sit in die kerk en die seën van die Here reën op hulle. Hulle hoor sy Woord, neem deel aan die sakramente, ervaar die liefde van God en die gemeente. Die een persoon reageer terug… met liefde, toewyding, diens aan die Here. Sy land staan pragtig in die oes. Die ander een reageer ook terug… maar met niks wat jou laat dink die persoon aan die Here behoort nie: dit is net bossies en dorings waar jy kyk. So kan twee persone langs mekaar in die kerk sit, die een met ‘n oes op sy lande en die ander met dorings en bossies.

Oor die oes is die Here bly, maar Hy kan niks met bossies en dorings doen nie, behalwe om dit af te brand (6:7-8). Die persoon wat leef asof die Here nie daar is nie, sal so sterf ook – sy land sal afgebrand word. Ja-nee, of ʼn mens vir die Here leef of nie maak al die verskil, nie of jy net op die kerkbanke sit en “natreën” nie.

Hoe kan jy gelowiges dus uitken?… aan hulle lande wat in oes staan. Ja, ons dade red ons wel nie, maar wys duidelik of ons gered is; of ons in gehoorsaamheid aan die Here leef (6:12). ‘n Mooi oes aan die een kant of dorings en bossies aan die ander kant sê baie oor ons verhouding met die Here, of ons glo of nie.

Jy kan die Here se boere uitken. Hulle oes staan hoog.




31 Oktober: Moenie in die wegspringblokke bly sit nie. – Jan van der Watt

Hebreërs 5:1-6:3 (fokus 5:11-6:3)

Die Here wil hê ons moet volwasse Christene word en ons kan dit alleen word as ons in ons kennis van God groei. Die logika is eenvoudig: hoe meer ons van Hom weet, hoe beter kan ons Hom dien, want godsdiens is mos om te doen wat die Here gelukkig maak.

Dit is juis hier waar baie van ons in ons wegspringblokke bly sit (6:1). Ons kom nie weg nie en is maar tevrede met die bietjie kennis wat ons het. Ons is soos die seuntjie wat toe iemand hom vra wat sy hond se naam is, antwoord: “Ek weet nie, hy wil nie sê nie”. Self wil ons geen moeite doen om meer uit te vind nie en dit pla ons ook nie. Die Bybel staan op die rak of lê dit in die kas, maar dit praat nie met ons nie. So gaan ons beslis nie uitvind wat daarin staan nie.

‘n Mens kan van babakos seker aan die lewe bly… ook geestelik (5:13): jy kan oor en oor sê dat die Here jou gered het, of dat Hy ongelowige mense gaan straf. Dit weet almal. Maar daar is baie meer om in die Woord te ontdek. Om die waarheid te sê, soos jy die Woord ontdek, leer jy jouself ook sommer ontdek. Later lees jy nie net die Woord nie, maar die Woord begin jou ook lees. Dit is dan dat geestelike groei begin plaasvind, wanneer jy en God se boodskap inmekaar begin groei, ja, wanneer God se Woord deel word van jou.

Soos jy kos nodig het, het jy die Woord nodig. As jy egter wil groei en sterk word, moet jy ‘n goeie dieet volg. Net so moet jou Woord-dieet reg wees. Jy moet genoeg en gereeld van die regte kos eet. Net jy kan besluit om dit te doen en dit dan doen ook.




30 Oktober: God se Woord is soos ‘n skerp mes. – Jan van der Watt

Hebreërs 4:1-16 (fokus 4:12-13)

 Min dinge is so irriterend as beterweterige Christene, veral as hulle jou begin intimideer deur te sê: “Die Gees het vir my dit of dat oor jou gesê”. Natuurlik praat die Gees met ons en ons moet mooi luister sodat ons sy stem nie dalk mis nie. Maar daar is mense wat die stem van die Here met hulle eie stem verwar. As iets in hulle kop opkom, dink hulle sommer dit is die Here. Nou ja, dit kan die Here wees, maar dit kan ook nie. Hoe weet mens?

Die Here se Woord is soos ‘n skerp mes (12) wat alles kan oopsny. Niks kan geheim bly nie. Daarom is die Woord van die Here die ideale “toets” vir “boodskappe” van die Gees. Deur die “boodskappe” deur die “meslem van die Woord” te sit, sal ‘n mens dit tot in sy kern kan oopsny. Daar sal ‘n mens kan sien of dit eg is of nie. As dit nie in alle opsigte met die Woord ooreenstem nie, moet ‘n mens maar versigtig wees.

Met ander woorde, die Gees sal nie vir jou ‘n boodskap gee wat nie die toets van die Woord kan deurstaan nie. ‘n Boodskap van die Gees sal ook nooit liefdeloos afgelewer word of jou in dinge in wil manipuleer waarvan jy nie seker is of die Here dit regtig wil hê nie. As die Here wil hê jy moet iets doen, sal Hy nie net die “boodskapdraer” oortuig nie, maar ook vir jou.

Gebruik God se skerp mes, sy Woord, en toets… nie net wat ander sê nie, maar ook wat in jou eie lewe aangaan.




29 Oktober: Praat mekaar moed in. – Jan van der Watt

Hebreërs 3:1-19 (fokus 3:7-19)

 Iemand vra eendag vir ‘n ou wat altyd vir ure op sy eie in ‘n hoekie van ‘n koffiewinkeltjie sit wat hy doen. “Ek dink”, sê hy. “Hoekom dink jy so?” vra die ander man. “Omdat ek ‘n probleem het”. “Wat is jou probleem?” vra die ander man weer. “Ek dink te veel”, kom die antwoord. So maak ons baie keer ook. Ons dink en dink oor ons godsdienstige probleme maar praat met niemand daaroor nie…

Deel van Christenwees is om te praat, met mekaar te praat, oor probleme te praat, raad te vra, uitweë te soek uit moeilike situasies. Dit kom nie deur net in jou eie dop gekruip te wees en daar oor alles na te dink nie, maar veral deur met ander te praat. Het jy al agtergekom hoe ‘n gesprek kan verander as iemand op ‘n mooi manier oor die Here begin praat. Nie lank nie, of almal praat daaroor en dan leer ‘n mens ook sommer baie. Nou praat ek natuurlik nie van ‘n situasie waar almal om die vuur staan, rugby luister en bier drink nie. Situasies pas ook maar mos by tipe gesprekke.

Mense bly maar skaam en ongemaklik, veral as dit by dinge van die Here kom. Hulle is bang dit pas nie om oor jou eie pad met die Here te praat nie. Hulle is bang mense dink jy dweep of is skynheilig, want daardie mense ken waarskynlik jou foute ook baie goed. Ons wil nie praat nie en so verloor ons een van die grootste gawes wat die Here vir ons gegee het… ander mense. En onthou, Hy praat dikwels deur ander mense met ons. So verloor ons eintlik sy stem ook.

Hebreërs draai nie hieroor doekies om nie. Ons moet mekaar moed inpraat en help (13). Daarom moet ons geleenthede maak om met mekaar te praat. Dan sal jy agterkom jy is nie die enigste een wat sukkel met sekere dinge in jou lewe nie; net so sal jy kan hoor wat ander gedoen het om probleme op te los, en miskien werk dit ook vir jou.

Moenie jouself in ‘n hoekie vasdink nie; gaan dink en praat saam met ander. Skep vir jou sulke geleenthede. Dit kan jou baie help, want dit is ook die Here se raad vir jou.