28 Oktober: Geen wonder ons kniel voor Jesus nie. – Jan van der Watt

Hebreërs 2:1-18 (fokus 2:14-18)

 As ‘n mens mooi daaraan dink, kan dit vreemd klink dat Christene ‘n mens, Jesus, aanbid. Sjoe, ons val voor ‘n Jood wat in die stofstrate van Palestina geloop het neer en sê ons sal alles vir Hom doen. Vir buitestaanders moet dit snaaks klink.

Natuurlik is Jesus ook God, maar waarom het Hy dan mens geword? Kon Hy nie maar as God sommer alles afgehandel het sonder om mens te word nie? God kan mos alles doen.

Die skrywer van Hebreërs verduidelik dat Jesus nie bang was om in die doodskuil van die duiwel in te stap nie. As Hy die duiwel wou oorwin, moes Hy hom in sy hart oorwin, daar waar sy krag vandaan kom (14-15). Die duiwel se krag lê in die feit dat as ‘n mens eers dood is, is jy dood. Daar kan jy nie uitkom nie. Vir Jesus om te wys dat Hy die krag het om die mag van die duiwel te breek, moes Hy in daardie doodskuil instap… en weer ander kant uitstap. Om dit te kon doen, moes Hy mens geword het. As mens het Hy ingestap en uitgestap, en as mense sal ons ook kan instap en uitstap.

Maar daar is nog meer. In die doodskuil van die duiwel het Jesus gevoel hoe dit is om mens te wees. Die duiwel het Hom van alle kante af aangeval, Hom probeer versoek, Hom laat swaarkry, laat ly… ja, al sy geheime toertjies van misleiding waarmee hy mense so maklik uitvang het hy met Jesus probeer, maar sonder sukses. Jesus was die sterker een, ook as mens.

Ja, as ‘n mens mooi daaraan dink, moes dit iets geweldigs gewees het vir Jesus om so in die doodskuil in te stap, met al die gevare en risiko’s. En dit vir ons, ja, nie vir Homself nie, maar vir ons. Geen wonder ons kniel voor Hom nie.




27 Oktober: Jesus is Koning. – Jan van der Watt

Hebreërs 1:1-14 (fokus 1:5-14)

 Wat maak die Christendom anders as enige ander godsdiens? Net Jesus. Ander godsdienste het ook liefde, tree ook goed op, is ook toegewyd aan hulle gode, probeer ook hulle bes, maar hulle het nie vir Jesus nie. En dit maak al die verskil. Juis daarom is dit te wagte dat daar by die vroeë Christene geen twyfel was oor wie Jesus is nie. Hulle moes dit buitendien vir ander kon verduidelik, want hoe anders sou hulle ander kon oorhaal om Christene te word?

Heb 1 is so hoofstuk waarin daar verduidelik word wie Jesus is. Hy is die Seun van God, nee, eintlik God self (1:5,8). Maar Hy is ook Koning. Dit word verduidelik in die vorm van ‘n antieke troonsbestyging. Kom ons kyk:

  • Die aankondiging: Jesus word aangekondig as die Seun van God, die Vader (1:5).
  • Opdragte aan die onderdane: Almal moet die Seun getrou dien (6-7).
  • Die taak en opdrag van die Koning: Hy moet vir altyd en ewig heers en sorg dat dit wat reg is in die koninkryk gebeur (8-9).
  • Die lofsang oor die goeie kwaliteite van die Koning: God self besing nou die lof van Jesus. Hy is die Skepper, sal vir altyd daar wees, is beter as almal… (10-12).
  • Die troonsbestyging self: God gee vir Jesus spesiale plek aan sy regterhand, daar waar die verslane vyande magteloos gaan lê (13).

Jesus is Koning, my Koning, jou Koning. En as die Koning vir jou is, wie kan teen jou wees?




26 Oktober: Wat maak jy met mense? . – Jan van der Watt

Filemon 1:1-25 (fokus 1:15-20)

 “Vee jy die kantoor uit?” vra iemand. “Nee, ek vee net die stof uit; ek los die kantoor”, kom die antwoord. Ons vee dikwels die kantoor en die stof uit as dit by mense kom. Ons kyk hoe hulle van buite lyk en as daar bietjie “stof” op hulle lê, vee ons hulle sommer stof en al uit ons lewens uit.

Dit het Jesus nooit gedoen nie, en Hy verwag ook nie dat sy mense dit sal doen nie. Geen wonder dat een hele boek van die Bybel, Filemon, gaan oor God wat in mense belangstel en nie in hulle status of klere nie; ja, hy stel in die mens onder die stof belang. Van stof kan ‘n mens maklik ontslae raak, maar nie van mense nie. Onesimus was ‘n wegloop slaaf. Slawe het aan die onderste lae van die samelewing behoort en as jy wegloop het jy nie meer die reg gehad om te lewe nie, want dan was jy nie eers meer ‘n goeie slaaf nie. Dan is jy doodgemaak. Maar in die hande van God word hierdie wegloopslaaf sy kind, word hy ‘n koningskind. God het deur die stof gekyk…

‘n Groot deel van die storie is dat Paulus geweet het God kyk dieper en stof af eerder as om uit te vee. Hy het nie die wegloopslaaf geïgnoreer, eenkant toe geskuif of “uitgevee” nie. Hy het God se liefde vir hom gegee, vir hom gehelp om in die oop arms van God in te stap. As Paulus dit nie gedoen het nie, sou Onesimus nie eers van daardie arms geweet het nie. Dan het Paulus nie alleen vir Onesimus gefaal nie, maar ook vir God.

Vee jy mense uit of stof jy hulle af?




25 Oktober: God se Binneversierder. – Jan van der Watt

Titus 2:15-3:15 (fokus 2:15-3:7)

 God het ‘n Binneversierder. Hy stel belang om elke Christen se lewe van binne so mooi te maak dat dit geskik is vir ‘n koning. Inderdaad, die Koning van die konings wil juis in jou kom woon, jou sy tempel maak. Daarom het ons die Binneversierder broodnodig en Hy is niemand anders as die Heilige Gees self nie (3:5-6).

Die Binneversierder werk op ‘n spesiale manier. Hy werk nie op sy eie nie, maar vra jou om saam te werk. Hy dwing jou ook nie, maar nooi jou uit. Hy begin gewoonlik by die vuilste dele in jou geestelike huis. As die muur vuil is, sal die huis nooit skoon kan lyk nie. As daar ‘n stukkende vuil stoel staan, sal ‘n mooi skildery nie veel help nie.

Daarom begin die regruk van jou geestelike lewe altyd met die “uitgooi” van ou meubels. Dit is ‘n fout om te dink die Here gaan tevrede wees met ‘n vuil muur van geskinder of met ‘n lendelam stoel van vloek. Dit moet uit. Die Heilige Gees dra dit nie skelm uit jou geestelike huis uit nie, want dan gaan jy dit maar net weer skelmpies indra. Die Heilige Gees vra jou om dit uit te dra, want dan is Hy seker dit is buite en sal nie weer met die agterdeur inkom nie. Om jou geestelike huis skoon te kry, beteken om van verkeerde dinge ontslae te raak, self ontslae te raak. As jy daai wil nie in jou het om te verander nie, sal min verander.

En as jy bereid is om die Binneversierder ‘n kans te gee en jy doen wat Hy vra, sal jou lewe anders begin lyk. Die verf van vriendelikheid sal jou mure versier, die meubels van geduld en liefde sal in jou huis begin rondstaan… en dan sal die Koning van die konings welkom begin voel in jou lewe.

Onthou, jy maak die verskil, al is dit onder die bekwame leiding van die Binneversierder. Maak jou huis skoon en hou dit skoon.