04 Oktober: Sonde is soos ‘n slaappil. – Jan van der Watt

1 Thes 5:6-28 (fokus 5:6-11)

 “Sonde is soos ‘n slaappil. Dit sus ‘n mens aan die slaap sodat jy God glad nie raaksien of hoor wanneer Hy met jou praat nie” (5:7).

Ek het nog van min Christene gehoor wat sê hulle wil graag sondig. Tog kan ons die goeie voornemens nie altyd uitleef nie en sondig ons maar dag na dag. Ons probeer onsself soms regverdig deur lang redenasies waarom wat ons gedoen het eintlik nie verkeerd was nie. Dit is amper soos die visserman wat na ‘n lang dag by die viswaters by die viswinkel stop en ‘n mooi vis koop. Hy wil nie graag vir sy vrou jok as sy vra of hy darem ‘n vis huistoe gebring het nie. Ons bedek die een probleem net met ‘n ander een.

Dit is die probleem met sonde. As ons nie versigtig is nie, bekruip dit ons in ons slaap. Later kom ons nie eers meer agter ons doen dit nie. Ons het allerhande verskonings: “My vrou, dis eintlik jou skuld dat ek in ander vroue begin belangstel…”; “Die diens is deesdae so swak, ‘n mens kan nie help om kwaad te word nie”; “As jy nie ook maar ietsie onderdeur die tafel sit of ‘n witleuentjie hier en daar vertel nie, kry jy niks gedoen nie…”. Dit is tekens van mense wie se oë vir hulle eie sonde toegaan. Later gaan hulle so diep slaap dat hulle nie eers meer gaan agterkom hulle doen verkeerd nie.

Die beste genesing vir sonde is om nie aan die slaap gesus te word nie. In hierdie gedeelte vergelyk Paulus dit met ‘n op en wakker soldaat. Met jou wapens van geloof en liefde aan jou sy, vol verwagting dat die “Groot Generaal” enige tyd gaan opdaag kry die sonde nie ‘n kans om naby jou te kom nie.

Oppas, jy kan gou in die strik van die sonde val of in sy arms aan die slaap raak sonder dat jy regtig wil. As jy eers ‘n bietjie toegee of jouself ‘n bietjie probeer regverdig is jy besig om die pil te sluk… en dan gaan jy slaap!




03 Oktober: Christene het ‘n ander toekoms. – Jan van der Watt

1 Thes 4:13-5:5 (fokus 5:1-5)

 Christene is toekomsmense. Dit is een van die dinge wat Christene anders maak as ander mense. Christene glo nie in reïnkarnasie waar jy doodgaan en dan maar net weer na dieselfde lewe toe terugkom om op hierdie ou aarde voort te sukkel nie. Ons glo ook nie dat ons soos ‘n klomp geeste iewers in ‘n skaduweebestaan die ewigheid gaan verslyt nie. Nee, die Christen het ‘n ander toekoms, ‘n heerlike toekoms saam met God.

Jesus het die toekoms vir elke Christen moontlik gemaak toe hy die deure van die dood oopgebreek het. Vir almal wat in Hom glo sluit die dood jou nie vir ewig toe nie, maar is die dood net die pad deur na die ewige lewe by God. Die deure wat jou sou keer is deur Jesus oopgebreek, jy kan maar deurstap.

Maar dit is nie net ‘n mooi boodskap vir dooies nie. Jesus kom sy mense, dood of lewend, spesiaal haal. Een of ander tyd gaan die wêreld se voordeurklokkie lui en dan is Jesus daar. Daarom moet Christene elke dag met die oog op die toekoms leef. Dit moet dag vir dag in hulle agterkoppe wees: Jesus kom weer en as Hy kom moet ek reg wees. Hy moet my nie onkant vang nie. Die Here wil my nie gaan soek op plekke waar Hy nie wil kom nie of uit ‘n huwelik gaan haal waar Hy Homself gaan skaam om in te stap nie. Nee, Hy sal my besig wil kry met sy dinge. Ek moet niks hê om weg te steek nie.

As ons vergeet: “Jesus kom weer”, kan ons gedagtes maklik begin dwaal en ons voete ook. Om doodgewoon elke dag die hemel dop te hou of Jesus nie kom nie, sal jou gedagtes fokus. Dit sal jou elke dag herinner aan jou toekoms en jou motiveer om solank in daardie rigting te stap met alles wat jy dink en doen, ‘n wonderlike toekoms in.




02 Oktober: Laat jou liefdesvlam opflikker. – Jan van der Watt

1 Thes 4:1-12 (fokus 4:1-8)

 ‘n Huwelik is harde werk en vat baie energie. Dit vat baie energie om alles te laat werk, maar dan is die goeie vrugte wat jy pluk ook baie. Party mense spandeer ook baie negatiewe energie in hulle huwelik en dit is sleg. Om die hele tyd te baklei en te stry en te dreig en wat nog alles is nie lekker nie. Die probleem is dat ons later niks meer moois in ons lewensmaat kan raaksien nie. Dit is soos die outjie wat by die bulhond gesit en gesigte trek het. Toe sy ma vir hom vra hoekom hy dit doen sê hy: “Die bulhond het eerste begin”. Selfs as jou huweliksmaat niks bedoel nie en normaal optree irriteer dit jou al en reageer jy snaaks.

Die huwelik is die een plek waar Paulus wil hê gelowiges moet baie energie spandeer, maar nie sommer enige energie nie, positiewe liefdesenergie. Al kyk die bulhond jou hoe ook al aan, jy moet jou mooiste glimlag opsit. Dit beteken nie dat julle nooit van mekaar gaan verskil nie, maar selfs dan moet julle probeer om dit so te doen dat julle mekaar nie seermaak of vernietig nie, maar eerder slyp en beter maak.

In die gedeelte is daar egter veral een saak wat Paulus spesiaal noem en dit is die seksuele (4:3-6). Ons almal dra ‘n vlammetjie van romantiek in ons – dit is die vlammetjie wat aangesteek word as ons iemand sien waarvan ons baie hou. Ietsie trek jou aan en daardie ietsie word later al hoe groter tot jy voel jy wil jou arms om daai persoon sit en teen jou vasdruk (en nou praat ek nie van die druk wat ‘n ma haar kind gee nie). As jy getroud is moet jou romantiek-vlammetjie net vir jou vrou of man brand. Om dit vir iemand anders te laat brand, beteken dat jy dit eers moet uitdoof vir jou huweliksmaat. As dit eers gebeur is jy in die moeilikheid. Dit is onder andere dan dat jou huweliksmaat jou begin irriteer en jou positiewe energie in jou huwelik negatief begin raak.

In plaas daarvan om gesigte vir mekaar te trek, laat die vlam van romantiek liewer opvlam. Dit is ‘n belangrike deel van die lig wat die huwelik op die regte pad hou.




01 Oktober: Sterk van binne. – Jan van der Watt

1 Thes 3:1-13 (fokus 3:11-13)

 Die tenk was een van die wapens wat die Eerste Wêreldoorlog geswaai het. Soos ‘n superskilpad het die tenk ‘n staaldop gehad wat feitlik niks kon deurdring nie. Op die slagveld kon die soldate binne in veilig sit en met hulle kanon dan verwoesting saai. As die vyand so ry tenks sien aankom het, het hulle gehardloop. Wat anders kon jy doen?

Christene is nie tenks nie, maar hulle behoort op die slagveld van die lewe net so ondeurdringbaar te wees. Die verskil is egter, hulle staal kom van binne en nie van buite nie. As die Here hulle van binne sterk maak sal die sonde van buite geen krapmerk op hulle kan maak nie (3:13). Ja, deur in jou binneste al nader aan die Here te beweeg maak jou in die buitenste lewe al hoe sterker. So kan ons op die slagveld van die lewe ‘n verskil gaan maak, sonder dat ons bang is die vyand skiet ons stukkend. Voor die sonde ‘n krapmerk op ons kan maak, kan ons ons visiere van liefde op ander stel (2:12).

Vir ‘n Christen om ondeurdringbaar is vir die sonde te wees, moet hy of sy heeltemal deurdringbaar vir die Here wees. Dit is ‘n Christen wat sy binneste in die hande van die Here sit om sterk te maak. Dit is iemand wat die Hemelse Ingenieur toelaat om al die verstellings en aanpassings in jou lewe te maak wat jou so toerus dat die sonde se koeëls van jou wegskram sonder om ‘n merkie te maak. Sulke mense laat die stryd teen die sonde in die wêreld swaai.