30 September: Halfgebakte Christenskap is vir niemand goed nie. – Jan van der Watt

1 Tes 2:1-20 (fokus 2:1-4)

Niemand het ooit gesê dat om Christen te wees is maklik nie. Kyk maar na Paulus – as daar nou iemand is wat moes vasbyt vir alles wat hy werd is, was dit hy (2:3).

Ons samelewing is anders as Paulus s’n. Hy het tussen heidene geleef wat God nie geken het nie. Ons leef elke dag tussen mense wat al van God gehoor het; of hulle dit nou by ‘n troue of met kersfees gehoor het, of selfs meer gereeld in die kerk kom, hulle weet van God. Tog is die verskil tussen ons en Paulus nie so groot nie… baie van hierdie ‘Godkenners’ met wie ons elke dag te doen kry, ken God ook maar nie. Hulle koppe mag van God weet, maar nie hulle harte nie. En dit loop uit op ‘n Christenskap wat geen hartklop het nie… Christenskap wat ‘daar’ is, maar nie lewe nie. En dit steek ‘n mens nie so maklik weg nie.

In ‘n sekere sin is dit dus ook vir ons vandag‘n bietjie moeiliker as vir Paulus. Wat dit moeiliker maak is juis hierdie semi-Christelike atmosfeer waarin ons leef. Wat mense vir Christenskap uitgee, is dikwels so half-gebak, so sonder lewe. Mense tree Christelik op, maar ook nie en dit maak jou onseker en deurmekaar. As dit hulle pas is hulle eerlik, maar ook net as dit hulle pas. As hulle met jou besigheid wil doen, vertel hulle jou hoe groot Christene hulle is, maar as die handtekeninge eers op die kontrak is, speel die Christenskap van daai besigheidsman met jou wegkruipertjie – jy kan dit net nie meer kry nie. Dit maak die Christenskap goedkoop en plaas ook vraagtekens oor wat eerlike Christene doen.

Ons kan nie veel hieraan doen nie, behalwe om te sorg dat ons Christenskap nie so halfgebak is nie. Ons moet konsekwent Christelik bly deur vas te staan in die Here. Vasbyt is nie altyd maklik nie, maar dit is die moeite werd.




29 September: Integriteit. – Jan van der Watt

1 Tes 1:1-10 (fokus 1:6-10)

 Christenskap se ander naam is integriteit, met ander woorde om in alle omstandighede onwrikbaar en eerlik te bly wat jy is. Jy is soos ‘n huis op ‘n rots of ‘n boom wat diep gewortel staan: winde van verandering laat jou nie jou mantel elke keer in ‘n ander rigting draai nie. Jan-nee, integritiet laat jou altyd bly wie en wat jy is… en natuurlik is jy wat die Here Jesus jou gemaak het.

Maar daar is ‘n ander kant ook. Niks moet die woorde “Pasop!” so duidelik oor iemand se gesig skryf as wanneer wat hy verskil van wat hy doen nie. ‘n Mens is nooit regtig seker waar jy met so iemand staan nie.

Dis nie hoe God wil hê Christene moet wees nie. Christene se woorde en dade moet ooreenstem. In 1:6 sê Paulus hy is bly dat die gelowiges in sy voetspore volg (sien ook Fil 3:17). Ons mag voel hy is te arrogant om homself so as voorbeeld van ware Christenskap te gebruik, maar ons moenie te vinnig oordeel nie. Paulus het verstaan dat jy nie een ding kan sê en ʼn ander kan doen nie. Wat jy glo moet uitkom in wat jy leef. As jou lewe anders lyk as wat jy sê dit moet wees, bewys dit mos dat jy nie regtig in jou eie woorde glo nie. Almal het geweet Paulus glo onwrikbaar in sy Here. Paulus het geweet hy glo só onwrikbaar dat daar niks anders in die lewe is wat hy wil doen as om net aan hierdie Here gehoorsaam te wees nie. Daarom nooi hy ander uit om te doen wat hy doen… en dit is om die Here se wil in alles te soek.

Doen wat jy sê omdat jy is wat Jesus jou gemaak het. Dit is Christelike integriteit.




28 September: Bid vir ander. – Jan van der Watt

Kol 4:2-18 (fokus 4:2-18)

Het jy al van die hemelse posdiens gehoor? Dit is die posdiens wat nooit staak nie, pos raak nie daar weg nie, en dit word altyd betyds afgelewer. Boonop kos dit niks. Paulus vertel dat die posdiens spesialiseer in die aflewering van “spesiale geskenke”. Jy moet die geskenke egter in ‘n spesiale verpakking sit… jy moet dit in gebed toedraai. Gratis kan jy stukkies bemoediging of krag of troos vir ander deur hierdie hemelse posdiens stuur deur voorbidding vir hulle te doen.

Voorbidding is om vir mense “geskenke” van versterking en liefde te stuur wat dit nodig het. Niemand anders as God self gaan lewer dit af nie. Die geskenke kan nooit oud word nie en is altyd nommer pas, daarvoor sorg God self. So laat God jou pad deur ander mense se lewens loop sonder dat jy noodwendig naby hulle hoef te wees. God is naby hulle en daarom kan jy Hom maar net vra, en Hy sal help.

Bid daarom vir ander wat dit nodig het. Vra die Here om te help. So kan ons op ver paaie gaan reis deur gebed… by ons kind wat duisende kilometer weg is, by ʼn ouma wat iewers alleen in haar kamer sit, by ʼn man of vrou wat spesiale wysheid nodig het vir die moeilike vergadering by die werk… Vra en die Here sal gaan aflewer, meer as wat jy ooit kan droom.

Voorbidding is die manier waarop ʼn mens op goddelike paaie na ander kan ry. Moet dus nie vergeet om gereeld op daardie reis te gaan nie. Bid vir ander.




27 September: Jesus is ook op jou gesinsfoto. – Jan van der Watt

Kol 3:12-4:1 (fokus 3:18-4:1)

Daar is min dinge wat op reis jou hart so met ʼn punt kan laat trek en die knop in jou keel so vinnig groter kan laat word as ʼn fototjie van jou gesin daar ver by die huis. Dit is jou mense en jy hoort eintlik by hulle.

In 3:18-4:1 kry ons so ‘n gesinsfoto van ʼn tipiese Christelike gesin. Paulus praat van vroue, mans, kinders, werkers en so aan – almal is daar. Op die oog af lyk die foto maar doodgewoon en of daar niks snaaks op is nie, tot ons dit so bietjie van nader bekyk. Daar op die foto, so tussen en by almal staan Jesus ook. En Hy hou almal bymekaar, want ons gesin is sy gesin ook. Hy wil deel wees van alles wat ons is en doen en dit is juis wat so ‘n gesin “Christelik” maak. In die gedeelte (3:18-4:1) loop die woord “Here” soos ʼn goue draad deur feitlik elke sin – dit word aan feitlik elke ander naam vasgebind. So wil die Here sy gesin gerusstel – Hy is by elke lid van die gesin en is vir elkeen daar. Daarom moet elke lid van die gesin ook naby Hom bly. Dit help mos nie dat die Here daar is en ons steur ons nie daaraan nie. Nee, ons moet na mekaar toe leef. Daarom kan en mag niks in die Christelike gesin sonder Hom gebeur nie – Hy wil en moet deel daarvan wees. In ʼn Christelike gesin het Jesus altyd ʼn plek. Dit maak die Christelike gesin spesiaal, want hulle doen alles saam met Jesus.

Dra Jesus se foto saam met jou in jou geestelike binnesak… en as jy onseker raak of begin twyfel, haal dit uit en kyk daarna. Dan sal jy sien jy is nie alleen nie – Jesus is by jou; Hy is en bly deel van jou lewe. Daaraan hoef jy nooit te twyfel nie.