Die Handelinge van die Apostels: Die Jode sleep Paulus uit die tempel (Hand 21:27-36) – Francois Malan

21:27 Toe die sewe dae (van hulle reiniging) beëindig is met die tweede besprinkeling met reinigingswater op die sewende dag, het Paulus se swaarkry, wat in 20:23 voorspel is, begin. Jode uit Efese (v29) waar Paulus vir drie jaar gewerk het, in hulle oë die verraaier van sy volk en die wet en die tempel, het hom in die tempel gesien. Dit was waarskynlik toe hy in die voorhof van die Israeliete besig was om te betaal vir die offer van die vier manne se beëindiging van hulle toewyding aan die Here. Die Jode uit die diaspora, Paulus se doodsvyande (Hand 9:23; 14:19), het vir die Pinksterfees na Jerusalem toe gekom (Hand 20:16). Hulle het die hele menigte feesgangers tot ’n oproer opgesweep en die hande aan Paulus geslaan.

21:28 Die buitelandse Jode het hard geskreeu: ‘Manne, Israeliete, help!’ so asof hulle en alles wat vir hulle heilig is in die grootste gevaar verkeer. ‘Israeliete’ is die verbondsnaam wat teruggaan na Jakob se stryd teen God en teen mense, by die Jabbokrivier (Gen 32:28). ‘Kom help ons teen hierdie man wat almal orals (pántas pantachei gelykluidende woordspeling) leer teen die volk (laós die volk van God) en teen die wet (nómos, wet van Moses) en teen hierdie plek (tópos plek, die tempel).’ Dit is ’n herhaling van dieselfde toneel en van dieselfde aanklagte wat die lede van die sinagoge van die Libertyne teen Stefanus ingebring het, ten aanhore van Saulus (Hand 6:11-14). 

Om sake te vererger skreeu hulle: ‘Boonop het hy Grieke (nie-Jode) ingebring in die heiligdom’ (hierón hier waarskynlik vir die binneste voorhof wat 3 meter hoër as die buitenste voorhof van die heidene geleë was en met ystertraliewerk geskei was. Daar was ook ‘n kennisgewing in Grieks en Latyn by die 12 trappe na die binneste voorhof wat gelui het: ‘Geen nie-Jood mag die ruimte binne die grens (sorêg in Hebreeus/drúfaktos in Grieks) en die terras om die tempel betree nie. Wie daar betrap word sal self die gevolg dra, naamlik die doodstraf’). ‘So het hy (Paulus) hierdie plek ontheilig!’ skreeu hulle (vgl. Eseg 44:9 vir die verbod teen ontwyding van die eerste tempel deur onbesnede uitlanders; Jes 56:6-7 vir die verwelkoming van gelowige nie-Jode in die Here se huis van gebed vir al die volke, in die tweede tempel. Jesaja se woorde word volgens Markus 11:17 deur Jesus aangehaal met sy reiniging van die tempel se voorhof van die heidene). Dit is ironies dat hulle Paulus beskuldig van ontheiliging van die tempel toe hy pas gereinig was om in die tempelterrein in te gaan met die vier Joodse christene. 

21:29 Lukas verduidelik waar die misverstand van die Jode uit Efese vandaan gekom het. Hulle het vir Trofimus, die Efesiër, wat Asië se kollekte vir Jerusalem se arm Joodse christene gebring het (Hand 20:4), vroeër saam met Paulus in die stad gesien (vir Trofimus vgl. 2 Tim 4:20). Hulle het gedink dat Paulus hom in die tempel ingebring het. Hulle het geglo dat Paulus die tempel as ontmoetingsplek met die Here afgeskryf het. 1 Korinthiërs 3:16-17, wat Paulus uit Efese geskryf het, lui soos volg: Weet julle nie dat julle ’n tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God skade aandoen, sal God hom skade aandoen, want die tempel van God is heilig, en dié tempel is julle (die gemeente, vgl. ook 1 Kor 6:19-20 dat elke gelowige se liggaam ook ‘n tempel van God is).’ Jesus is al aangekla omdat Hy sou gesê het dat Hy die tempel wat met hande gebou is, sal afbreek en binne drie dae weer opbou (Mark 14:58; Matt 26:60-61; vgl. Joh 2:19-21 dat Jesus gesê het die Jode moet die tempel afbreek). 

21:30  ‘Die hele stad is tot ’n oproer aangepor, daar was ’n samedromming van die volk (laós) wat vir Paulus gegryp het, en hom uit die tempelterrein gesleep het..’ (imperfektum werkwoord wat voortgang van sleep aandui tussen al die punktuele verlede tye). Hulle doel was om hom buite die heiligdom dood te maak (v31) om nie die heiligdom met sy bloed te besoedel nie (2 Kon 11:15). Onmiddellik is die hekke gesluit’ – om die heiligheid van die tempel te bewaar teen oproer en moord.

21:31 Die burg Antonia – deur Herodus so genoem na sy vriend Marcus Antonius – was die soldate se kaserne teenaan die noord-westelike hoek van die tempel in Jerusalem met twee stelle trappe af tot by die tempelterrein. Met die Jode se feestye het die goewerneur meer soldate van Sesarea af na Jerusalem gestuur om die orde te handhaaf. Die kontingent kon tussen 600 en 1 000 soldate uitmaak. Op die dakke van die pilaargange van die tempelterrein was daar wagposte van die soldate. Die hoof van ‘n afdeling soldate (owerste oor 1 000, chiliarg) het van die oproer in die stad verneem. Die soldate was juis daar om korte mette met oproere te maak.

21:32 Die kommandant het dadelik uit die burg Antonia met sy soldate en hulle afdelingshoofde oor 100 Romeinse soldate (hekatontarg) op die oproeriges afgestorm, net toe die volk besig was om van Paulus die offerande van hulle woede probeer maak het. Toe die Jode die kommandant en die soldate sien, het hulle met hulle aanhoudende slae op Paulus opgehou. Paulus vertel in 2 Korinthiërs 11:24 dat die Jode hom drie maal met stokke geslaan het. Hierdie was waarskynlik een van die drie keer. Aan die einde van sy lewe skryf Paulus in 2 Timotheur 3:11 ‘Watter vervolgings ek ook al verduur het – die Here het my van alles gered!’ Hier het die Here weer op die kritieke oomblik ingegryp om sy getuie deur die Romeinse soldate uit die hande van die Jode te red.

21:33 Toe die kommandant by Paulus kom, het hy hom gearresteer en beveel dat Paulus met twee kettings gebind moet word. Waarskynlik was Paulus aan twee soldate weerskante van hom vasgeketting omdat die kommandant gemeen het dat Paulus ’n gevaarlike opstandeling is wat die rede vir die oproer is (vers 38). Ágabus se profesie het gesê die Jode sal hom bind en aan die heidene oorgee (Hand 21:11). Dit word amper net so vervul. Die kommandant doen navraag by die skare wie die man is en wat hy gedoen het dat hulle hom so slaan, maar kry verskillende antwoorde, soos uit vers 34 blyk. 

21:34 Met die deurmekaar antwoorde wat hy uit die luidrugtige skare kry – party het seker nie eers geweet waaroor die oproer gaan nie – kon hy nie mooi agterkom wat aangaan nie, en besluit om vir Paulus na die burg Antonio te neem vir ondervraging onder geselhoue (22:24) om by die waarheid uit te kom. Die kommandant is duidelik versigtig regverdig om nie oorhaastig ’n besluit oor optrede te neem nie. Volgens Handelinge was die christene baie beter en regverdiger behandel deur die Romeine as deur die Jode.

21:35 Toe hulle by die trappe kom moes die soldate Paulus dra om hom uit die wilde wrede hande van die Jode te hou,  wat daar met geweld om hulle saamgedrom het.

21:36 Lukas skilder die gebeure van die dag. Die volksmassa was so opgewerk dat hulle die soldate gevolg het na die burg en by die trappe Paulus en die twee soldate omsingel het, sodat die soldate Paulus moes optel om oor die Jode se koppe die trappe te bestyg. Die skare skreeu aanmekaar ‘Weg met hom!’ Dit is nie soseer ’n opdrag aan die soldate nie, maar die uiting van hulle gevoelens oor Paulus. Hy moet vernietig word. Maak hom dood. Hulle wil hom ten alle koste dood hê (Hand 22:22; 23:12; 25:3). So het die Jode voor Pilatus ook oor Jesus geskreeu ‘Weg met Hom!” (haire autón, Luk. 23:18). Jesus en sy leer moes as godslasteraar vernietig word (Mark 14:64; Matt 26:65-66; vgl. Deutr 13:1-10), so ook Paulus, Jesus se getuie.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Handelinge van die Apostels: Paulus in Jerusalem (Hand 21:15-26) – Francois Malan

21:15 Na die hele paar dae wat hulle in die hawestad Sesarea gebly het (21:10), en Paulus en sy metgeselle hulle berustend en gelowig aan die wil van die Here oorgegee het, het hulle gereedgemaak vir die 100 km reis na Jerusalem in die bergwêreld (episkeuádsomai ‘gereedmaak,’ – die weinig gebruikte woord, wat in die Bybel slegs hier gebruik word, het die gedagte van gereed wees of gereedmaak met ’n doel). Die gereedmaak kan verwys na hulle inpak vir die reis, maar ook na hulle innerlike gereedheid vir wat op hulle wag deurdat hulle berus in die wil van die Here.

21:16 Paulus se geselskap van nege (7 verteenwoordigers van gemeentes wat bydraes stuur, plus Paulus en Lukas – ‘ons’) word uitgebrei met ’n paar van die gemeentelede van Sesarea – vir veiligheid? Die dissipels uit Sesarea neem Paulus-hulle na die huis van Mnason (’n algemene Griekse naam, maar die enigste keer hier in die Bybel). Hy het oorspronklik uit Siprus gekom, soos Barnabas (4:36). Party verklaarders meen hy het in ’n stadjie op pad na Jerusalem gewoon, omdat 100 km nie in een dag afgelê kan word nie, nie eers as hulle te perd sou gery het soos in Hand 23:23-24 nie. Van Sesarea af kon hulle òf via Samaria, Neapolis (Nablus), Sigem, òf via Antipatris en Lidda na Jerusalem gereis het en dat Mnason in een van dié stede gewoon het. Maar die natuurlikste verklaring sou wees dat Mnason in Jerusalem gewoon het. Hy was òf lankal ’n dissipel òf van die begin af ’n dissipel (altwee betekenisse van die woord archaios), nl. vanaf die Pinksterdag met die uitstorting van die Heilige Gees (Hand 2:41 of moontlik ’n bekeerling van Stefanus uit die Sinagoge van die Libertyne (vrygelate slawe; Hand 6:9). Na die vervolging verby was, het hy waarskynlik teruggekom om in Jerusalem te woon. Hy was moontlik ‘n Hellenistiese Joodse christen, soos Filippus in Sesarea. Hulle het Paulus se reisgenote, van wie sommige nie besny was nie, gemaklik ontvang, eerder as ’n streng Joodse christen wat probleme sou gehad het om die nie-Joodse metgeselle van Paulus te ontvang. Mnason het Paulus se geselskap gasvry ontvang (ksenízō om aan vreemdelinge gasvryheid te bewys). 

21:17 Met hulle aankoms in Jerusalem het die ‘broers’ hulle met vreugde ontvang. Mnason was waarskynlik een van die groep (Griekssprekende gelowiges?) van die Jerusalemgemeente wat hulle hartlik ontvang het.

21:18 Die volgende dag is verteenwoordigers van die buitelandse gemeentes na die leiers van die Jerusalemgemeente, Jakobus en die ouderlinge van die gemeente, waarskynlik om die kollekte van die verskillende gemeentes vir die arm gelowiges in Jerusalem te gaan oorhandig (Hand 24:17), en Paulus het saam met hulle gegaan. Jakobus, die broer van Jesus (Mark 6:3; vgl. Hand 1:14; 12:17; 15:13; Gal 2:9-10,12; Jak 1:1) was ná die vervolging van die christene in Jerusalem die leier van die gemeente. Die apostels het nie permanent in Jerusalem aangebly nie, maar het oor die hele Romeinse ryk versprei (vgl. die bespreking van die apostels se verspreiding by hierdie kommentaar oor Handelinge 1:13-14). 

21:19 Hulle, die gemeenteleiers word eers gegroet. Soos in Hand 15:12 gee Paulus in besonderhede verslag van sy werk onder die heidene. Hy beskou dit as God se eie werk deur Paulus se bediening en bied dit ook so aan – letterlik: ‘hy het ten volle en duidelik vertel, een vir een, wat God onder die heidene gedoen het deur sy (Paulus se) bediening (diakonía diens). Die ganse sendingbediening is God se eie werk wat Hy deur sy diensknegte verrig.

21:20 Die hoorders, Jakobus en die ouderlinge, het God geprys vir wat Hy deur Paulus onder die heidene gedoen het. Dit was die kritiese oomblik waarvoor Paulus die gemeente in Rome se gebede gevra het dat sy diens aan Jerusalem vir die heiliges daar aanvaarbaar sal wees (Rom 15:31). Dat die leiers van die Jerusalemgemeente die kollekte aangeneem het wat die gemeentes onder die heidene aan hulle geskenk het, beteken dat hulle die christene uit die heidendom aanvaar het as mede-christene. In wedersydse liefde is hulle saam aan God verbind. Die gewers het die kollekte bymekaargemaak as hulle dankoffer aan God (2 Kor 9:5). Die gewers se vrygewigheid lei tot oorvloedige danksegging aan God deur die Jerusalemmers (2 Kor 9:12-15). Saam dank hulle God vir sy gawe, wat nie deur woorde beskryf kan word nie (2 Kor 9:16).

Daarop gee Jakobus en die ouderlinge hulle verslag oor wat intussen in Jerusalem en omstreke gebeur het en spreek Paulus aan met erkenning dat hy hulle medegelowige is: ‘Jy sien, broer, hoeveel duisende daar is onder die Jode wat tot geloof (in Christus) gekom het en nou christene is (dit is die krag van die perfektum deelwoord pepisteukótōn), en almal is diep toegewydes en yweraars (dzêlōtaí) van die wet. Dit verwys na die wet wat God deur Moses aan Israel gegee het. Hulle is soos die Fariseërs wat hulle aan die wet as die openbaring van God se wil toegewy het, ook nadat hulle gelowig geword het (vgl. Hand 15:5, 21). Die besluite van die vergadering van Hoofstuk 15 is deur hulle beskou as slegs van toepassing op die heidene wat tot bekering gekom het (vgl. Hand 15:19,23,28), en nie op hulle, Jode wat in Jesus glo, nie.

21:21 Die ouderlinge vertel toe vir Paulus van die (skinder) storie oor hom in die gemeente. Dit loop soos volg: 1 die ouderlinge vir Paulus: 2 mense het aan die christen-yweraars vir die wet ’n storie oor Paulus vertel; 3 dat Paulus aan die Jode wat in die buiteland leef sou leer om die wet wat Moses gegee het, te los…. Letterlik:  ‘Aan hulle (aan die christen-Jode wat ywer vir die wet) is oor jou vertel dat jy besig is om al die Jode (wat) tussen die heidene (leef), te leer (didáskō) om afstand te doen van (die wet van) Moses en te sê om nie hulle kinders te besny nie en nie in die gebruike (van die Jode) te wandel nie.’ 

Die verwyt dat Paulus aan die Joodse christene in die buiteland leer om nie meer volgens die wet te lewe nie (apostásia afvalligheid), was ’n onregverdige skinderstorie. In 1 Kor 9:20 sê Paulus: ‘Vir die Jode het ek soos ’n Jood geword om Jode te wen; vir diegene onder die wet, soos iemand onder die wet – al staan ek self nie onder die wet nie – om diegene onder die wet te wen.’ Dat hy die besnydenis verbied het, word geloën deur die besnydenis van Timotheus (Handelinge 16:3). Hy het wel die Jode se verwagting dat hulle op grond van nakoming van die wet geregverdig kon word, afgewys. Dit kan slegs verkry word deur in Jesus Christus te glo (vgl. Paulus se teregwysing van Petrus in Gal 2:15-16; vgl. ook Rom 9:31-32; 10:1-4).

21:22 Jakobus en die ouderlinge vra ’n retoriese vraag wat eintlik ’n inleiding is op hulle plan wat hulle aan Paulus voorlê in vers 23: ‘Wat moet gedoen word om die saak reg te stel? Die Jode wat die storie gehoor het sal sekerlik hoor dat jy (Paulus) gekom het en nou hier is.’

21:23 Die voorstel van Jakobus en die ouderlinge word gewoonlik verklaar as net ’n manier waarop Paulus sal bewys dat hy as christen nog die Joodse wet onderhou, soos vers 24 sê. Lukas sê egter nie waaroor die gelofte van die vier Joodse christene gegaan het nie (euchê ’n gelofte aan God om iets te doen en as dit nie gedoen word nie, Goddelike sanksies teen die persoon sal volg). Later is daar in Jerusalem 40 Joodse manne wat hulle met ’n eed verbind het (anathematízō om die straf van God te dra as hulle nie hulle belofte uitvoer nie) om nie te eet of te drink totdat hulle Paulus doodgemaak het nie (Hand 23:12-13). Miskien het die vier Joodse christene se gelofte ook ’n verband met die skinderstorie oor Paulus gehad, dat hulle dit ook geglo het en aan die Here belowe het om te keer dat Paulus daarmee voortgaan. Dit kan meer duidelikheid gee oor hoekom Paulus se reiniging saamgegaan het met die reiniging van die vier. Ná Paulus se verblyf onder heidene was hy in die oë van die Jode onrein. Die vier manne kon hulle eed om Paulus uit die weg te ruim beëindig toe hulle sien dat hulle ’n valse skinderstorie oor hom geglo het.

21:24  Die plan lui lettterlik: ‘Neem hierdie (vier manne), laat jou saam met hulle ritueel gereinig word, en betaal vir hulle sodat hulle die kop geskeer kan word’ – hulle was waarskynlik te arm om die offers self te voorsien. ‘Kop skeer’ is Lukas se kort opsomming van Numeri 6:5,13-15,18 se voorskrifte vir ’n Nasireër: dat sy hare en baard nie geskeer mag word nie, totdat die tyd van sy wyding aan die Here verby is. Dan moet hy sy offergawe na die tent van ontmoeting bring: ’n jaaroud lam,’n jaaroud ooilam, ’n ram, ’n mandjie ongesuurde brood, ’n ringbrood met ’n bybehorende graanoffer en drankoffers. Daar by die tempel moet hy ook sy hare afskeer en saam met die maaltydoffer verbrand. Nadat hulle Paulus se hele storie gehoor het, wou hulle moontlik hulle toewyding aan die Here daaroor beëindig. Die besonderhede word egter nie deur Lukas so uitgespel nie. 

Die reinigingsseremonie behels volgens Numeri 19:12-13 dat die persoon op die derde en die sewende dag met reinigingswater besprinkel word. Die bereiding van die reinigingswater word in Numeri 19:2-9 beskryf. Paulus moes gereinig word van sy omgang met die heidene in die buiteland. Die vier manne moes gereinig word van hulle verkeerde gedagtes en plan teen Paulus. Na die sewe reinigingsdae volg die beëindiging van hulle gelofte aan die Here.

Nadat Paulus die hele reinigingseremonie saam met die vier manne deurgegaan het en vir hulle offers betaal het om hulle geloftetyd te beëindig, sou almal, die hele christelike gemeente in Jerusalem, weet dat Paulus lewe volgens die voorskrifte van die wet van Moses en dat die skinderstorie oor hom nie waar is nie.

21:25 Wat Jakobus en die ouderlinge van Paulus vra, geld volgens hulle gedagtes alleen vir die gelowiges uit die Jodendom. ‘Maar wat die gelowiges uit die heidense volke betref, ons het ’n brief gestuur dat ons meen/besluit (krínō) het dat hulle hulle van afgodsoffers moet weerhou en van bloed en wat verwurg is en van hoerery’ (Hand 15:29). Dit is nie die hele boodskap in die brief nie. Die brief het begin met ‘Die Heilige Gees en ons het daarom besluit om geen verdere las op julle te lê nie, behalwe die volgende vereistes (epánagkes noodsaaklikes)…’ Ná die vier sake waarvan hulle hulle moet weerhou is aan die slot van die brief geskryf: ‘As julle julle hieraan hou, sal julle goed doen’ (eu goed in die sin van voordelig) vir die eenheid van die hele christelike kerk, vir die gelowige nie-Jode en ook vir die gelowige Jode vir wie die vier dinge ’n gruwel is. Die verdere las wat die vergadering nie op hulle wou lê nie is dat die christene uit die heidendom besny moet word en die wet van Moses moet onderhou. Dit was die christen Fariseërs se aanvanklike vereiste (Hand 15:5). Twee van die vier vereistes, afgodsoffers en hoerery, was deel van die heidene se lewenswyse, wat deur die Here se tien gebooie verbied is vir Israel. Die weerhouding van bloed en verwurgde diere sonder bloedlating vloei voort uit God se verbond met Noag en raak dus alle mense (Gen 9:4-6).

21:26 Reeds die volgende dag begin Paulus en die vier manne hulle reiniging, wat sewe dae sou neem. Na daardie dae kon hy na die tempel gaan om die beëindiging van die sewe dae van hulle reiniging te gaan aankondig. Hy het toe die offers vir elkeen van hulle vier verskaf sodat hulle by die tempel hulle offers aan die Here kon bring en hulle hare afskeer as teken dat die tyd van hulle wyding aan die Here verby is (Numeri 6:5,13,18).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Paulus se reis na Jerusalem (Hand 21:1-14) – Francois Malan

21:1 Lukas sê nadat ‘ons’ van hulle af vertrek het (van die ouderlinge van Efese af, wat saam met hulle gehuil het) en aan boord gegaan het, het ons reguit (suid) koers gehou na die eiland Kos, die volgende dag (suid-oos) na Rodos en vandaar (oos) na Patara. Lukas sit die beskrywing van Paulus se reis van Korinthe na Jerusalem voort. Die stede van Milete af is waarskynlik ’n aanduiding van waar die skip aangedoen en hulle oornag het. In hoofstuk 21 en veral in hoofstuk 27 maak Lukas gebruik van ’n aantal tegniese seevaartterme wat deur seevarende volke goed verstaan word.

Kos is die belangrikste stad van die eiland Kos en so ook Patara, die hawestad van Lisië. Die eiland Kos in die Egeïese see is 45×11 km groot. Die eiland Rodos in die Middellandse See is 80×18 km groot en 18 km suid van die vasteland. Die kolos van Rodos, die 30 meter hoë beeld van die god Helios met sy twee voete weerskante van die hawe is in 280 v.C. gemaak. Dit was een van die sewe wonders van die Antieke Wêreld. Dit het die god Helios vereer wat hulle in 305 v.C. sou gehelp het om die aanval op hulle uit Siprus af te weer. In 226 v.C. is dié beeld deur ’n aardbewing verwoes. Die ou hawestad Patara met sy beroemde 18 km lange sandstrand, is op een van die suidelikste punte van Klein-Asië se vasteland. Die ruïnes van die ou stad word tans nog opgegrawe deur Turkse argeoloë.

21:2 In Patara soek en kry hulle ’n skip (eurískō kan ook beteken dat hulle die skip onverwags gevind het) wat na Fenisië toe sou oorvaar. So lei die Here hulle na die skip wat die Here vir hulle bestem het om met Pinkster in Jerusalem te wees (vgl. Hand 20:16). Hulle vorige skip was waarskynlik te klein vir die 480 seemyl oortog oor die Middellandse See na Tirus. Die kleiner skepe is gebruik om net tussen hawens wat ’n dagvaart uit mekaar is, te vaar. Hulle het aan boord gegaan van die groter skip wat meer voorrade vir die lang vaart kon saamneem, en het vertrek. Manuskripte uit die sesde en sewende eeu n.C. voeg die hawestad Myra, oos van Patara in, sodat hulle daarvandaan na Tirus toe sou gevaar het.

21:3  Toe hulle al die eiland Siprus aan hulle linkerkant (bakboord) kon sien, het hulle suid van Siprus verbygevaar en in die hawestad Tirus (‘rots’ waarop die stad gebou is) in die provinsie Sirië geland. In vers 2 word die land Fenisië genoem, ‘die land van purper,’ genoem na die seevarende handelstad se vernaamste uitvoerproduk. Alfabetskrif het ook begin by die Fenisiërs. Hulle skrif het slegs medeklinkers gehad en is van regs na links geskryf. Daaruit het Griekse skrif ontwikkel wat van links na regs gelees word, en uit die Griekse skrif het die Latynse skrif ontwikkel, wat ons in Afrikaans gebruik. Deesdae val Tirus in Libanon. Tirus was die bestemming van die vrag van die groter skip wat Paulus-hulle in Patara gekry het. Oorspronklik het die grootste deel van die stad op ’n eiland gelê. Maar Alexander die Grote het in 300 v.C.’n sandwal in die see gebou om die stad in te neem, en die wal het sedertdien breër geword soos sand daarteen gespoel het, sodat die eiland permanent aan die vasteland verbind was in Paulus se tyd. 

21:4 Lukas sê ‘ons het die dissipels (in die stad Tirus) gaan soek en gevind en sewe dae by hulle gebly…’  In Hand 11:19 word vertel dat die gelowiges, wat uit Jerusalem gevlug het ná die dood van Stefanus en van Saulus se vervolging van die mense van die Weg, tot in Fenisië die woord aan Jode verkondig het (volgens Lukas 6:17 was daar reeds mense uit Tirus en Sidon wat na Jesus kom luister het). Volgens Hand 15:3 het Paulus en Barnabas op pad na Jerusalem die gemeentes in Fenisië besoek en vir hulle vertel van die bekering van die heidene op hulle eerste sendingreis. Nou benut Paulus die week wat die skip afgelaai en opgelaai word om die gemeente se geloof te versterk. Maar die Heilige Gees gebruik die gemeente om Paulus andermaal te waarsku oor wat vir hom voorlê in Jerusalem, soos in 20:23. Omdat hulle oortuig was dat moeilikheid vir Paulus wag, het hulle uit besorgdheid oor hom gesê: ‘Moenie opgaan na Jerusalem toe nie.’  

21:5 Toe die skip klaar gelaai was, was hulle tyd by die gemeente om. Toe hulle na die skip toe gegaan het om te vertrek, het almal van die gemeente, mans, vroue en kinders, saam met hulle uit die stad gegaan, op die strand gekniel en saam met Paulus-hulle tot die Here gebid, soos by Milete (Hand 20:36).

21:6 ‘Nadat ons mekaar gegroet het, het ons aan boord dié skip (waarmee hulle hier aangekom het) gegaan en hulle (die gemeente) het teruggegaan na hulle eie (huise) toe.’ Deurgaans praat Lukas nou van ‘ons’ as een van Paulus se metgeselle.

21:7 Die volgende hawe suid van Tirus, wat die skip aandoen en blykbaar vir ’n dag aflaai en oplaai, is Ptolemaïs, die ou stad Akko (van Rigters 1:31), net noord van Karmelberg. In Paulus se tyd was dit ’n aftreeplek vir Romeinse soldate. Die dag en twee nagte wat hulle daar oorgebly het by gemeentelede was weer ‘n geleentheid om die gelowiges se geloof te versterk. Die ou stad is herdoop tot Ptolemaïs ter ere van Ptolemeus van Egipte wat een van Alexander die Grote se generaals was wat Egipte gekry het om oor te regeer na Alexander se dood. Vandag is dit deel van die staat Israel, naby Haifa, Israel se grootste hawe.

21:8 Die volgende hawestad suid van Ptolemaïs is Sesarea, wat deur Herodes die Grote as hawe vir Israel opgebou is en die setel van die Romeinse goewerneurs was (Hand 12:19). Hier het Paulus-hulle in die huis van Filippus gaan bly, een van die oorspronklike sewe medewerkers van die apostels wat deur die gemeente in Jerusalem gekies is om te help met die versorging van die Helleniste weduwees (6:5). Filippus het ook die werk in die stad Samaria onder die Samaritane begin (Hand 8:4), die Ethiopiese eunug, ’n godvresende uit die heidendom op die eensame pad na Gasa gedoop (Hand 8:38) en daarna in Sesarea gaan bly (Hand 8:40). Hier het Petrus deur sy medewerkers uit Joppe die Romeinse offisier Kornelius en sy familie en naaste vriende laat doop; (10:1,48) almal nie-Jode wat deur die Here tot bekering gelei is deur die werk van sy gelowiges.

21:9  Filippus het vier maagdelike dogters gehad wat deur God gebruik was om sy woord en wil bekend te maak. Die vier ongetroude dogters was profetesse – die teenwoordige tyd van die deelwoord profêteúō dui aan dat dit ’n voortgaande bekendmaking van God se woord was. Eusebius (III.31.3-5 en in III.39.9) vertel dat in biskop Polycratus se brief aan biskop Victor van Rome, en Proculus in sy gesprek met Gaius, altwee sê dat Filippus se graf in Hiërapolis is; ook dié van sy vier dogters wat in die Heilige Gees geleef het en oud geword het as profetesse in Hiërapolis. Hulle het blykbaar later in Hiërapolis gaan werk (vgl. Kol 4:13). Die profete van die Nuwe Testament het hoofsaaklik die woorde van die apostels aan die gemeentes oorgedra om hulle op te bou, te bemoedig en te vertroos (1 Kor 14:3,37). Eintlik behoort elke gelowige ’n profeet te wees wat die woord van God, soos deur die apostels oorgedra, goed verstaanbaar aan die gemeente verduidelik (1 Kor 14:24-25). Die profeet se woorde moes deur mede-profete beoordeel word (1 Kor 14:29-33). Soms het die Here aan so ’n profeet ’n besondere boodskap gegee, soos bv. in die volgende vers. 

21:10 Lukas is ooggetuie van die volgende toneel (vgl. ‘ons’). Paulus-hulle vertoef ’n hele paar dae in Sesarea by Filippus en sy dogters. Toe daag Ágabus uit Judea daar op. Hy is ’n profeet wat ‘n boodskap van God vir Paulus bring. Volgens Handelinge 11:27-29 het dieselfde profeet Ágabus uit Jerusalem die swaar hongersnood oor die hele wêreld voorspel, wat ook in 46-48 n.C. tydens die regeringstyd van keiser Claudius gebeur het. Dit het die eerste kollekte vir die gemeente in Jerusalem tot gevolg gehad.

21:11 Nou voorspel Ágabus met ’n sprekende voorbeeld dat Paulus in Jerusalem aan hande en voete geboeid deur die Jode aan nie-Jode oorgegee sal word, soos hulle Jesus aan Pilatus oorgelewer het (Matt 27:1; Mark 15:1; Joh 18:12,24). Om die boodskap van die Heilige Gees wat hy oordra te verduidelik en te beklemtoon, neem hy Paulus se gordel/belt (zōnê ’n lang stuk gevoude materiaal of ’n belt van leer wat ook ’n beursie kan bevat, Matt 3:4; 10:9) en bind sy eie voete en hande daarmee. Paulus is toe nie deur die Jode in Jerusalem met sy eie gordel geboei nie, maar in rasende woede het hulle probeer om hom dood te maak oor die dinge wat hy hulle geleer het (didáskō). Die Here het hom deur die Romeinse soldate uit die kloue van die Jode gered. Die Romeine het hom met kettings geboei (Hand 21:30-33; 23:10). Jesus se voorspelling oor Petrus se dood in Johannes 21:18-19 gebruik ook die beeld van ’n binding met ’n gordel wat sy dood aan ‘n kruis gesimboliseer het. Ágabus se inleidingswoorde ‘So sê die Heilige Gees’ volg die Ou-Testamentiese ‘So sê die Here,’ en Jesus se goddelike uitsprake: ‘Ek sê vir julle.’

21:12 Lukas sê ‘Toe ons dit hoor het ons (al Paulus se metgeselle) en al die plaaslike mense (Filippus en sy vier dogters en van die gemeentelede van Sesarea) vir Paulus gesmeek (parakaléō dringend en met ’n goeie manier te vra) om nie van die kusdorp Sesarea na Jerusalem wat op die bergreeks geleë is, op te gaan nie. Die teenwoordige tyd van die werkwoord beteken dat hulle Paulus aanhou versoek het en dit met trane soos die volgende vers aandui. Petrus het Jesus ook destyds probeer oortuig om nie na Jerusalem te gaan nie (Matt 16:21-22). Die gemeente in Tirus het Paulus reeds gewaarsku om nie na Jerusalem te gaan nie (Hand 21:4). So het die Here Paulus voorberei vir wat op hom wag (vgl. ook Hand 20:23).

21:13 Die aandrang van die gemeente word sterker as by die vorige gemeente (21:4). Paulus reageer op sy vriende se trane: wat doen julle deur so hard te huil en my hart te laat breek! Is hulle mikpunt dat hy saam met hulle sal begin huil en van sy plan om na Jerusalem te gaan af te sien?  Sunthrúptō tên kardïan ‘om die hart te breek’ is ’n idioom vir ‘om groot hartseer en smart te veroorsaak.’ Die versoek van sy vriende kom wel nie in so ’n  skerp vorm soos Petrus se bestraffing van Jesus in Mattheus 16:22 om nie na Jerusalem op te gaan vir sy dood nie. Maar soos Jesus, is Paulus nie net bereid om gevange geneem te word nie, maar ook om in Jerusalem te sterf ter wille van die Naam van die Here Jesus (vgl. Jesus se uitroep oor Jerusalem in Luk 13:34). Jesus het Petrus ook hard bestraf as Satan, sy teenstander, wat vir Hom ’n struikelblok is op sy pad om vir die sonde van die wêreld te gaan sterf (Matt 16:23). Die Here Jesus se Naam verwys na sy Persoon en sy reputasie, dit waarvoor Jesus as die Here God gesterf het en uit die dood opgestaan het – die Here wat Paulus op die pad na Damaskus ontmoet het en sy siening en ganse lewe omgekeer het  (Hand 9:3-5).

21:14 Daarop het ‘ons’ geswyg, opgehou om hom te probeer oortuig. Die rustige gelowige houding van Paulus het sy helpers en die gemeente omgeswaai sodat hulle ook soos Jesus kon sê: ‘Laat die wil van die Here geskied’ (vgl. Luk 22:42). Jesus is dwarsdeur Handelinge besig om sy wil en heilsplan vir sy kerk deur sy volgelinge deur te voer. Hier in Sesarea gee sy volgelinge hulle gelowig oor aan Paulus se wyse leiding.

Paulus se verwagting dat moeilikheid in Jerusalem op hom wag, het hy al in Korinthe geskryf in sy brief aan die Romeine 15:30-32. Die weergawe in Handelinge begin by die Jode wat ’n komplot teen hom gesmee het met sy vertrek vanuit Korinthe, wat hom toe ’n ander pad na Jerusalem laat volg het (Hand 20:3). Daarby het die Heilige Gees van stad tot stad aan hom bevestig dat gevangenskap en swaarkry op hom wag (Hand 20:23). Die ouderlinge van Efese het almal baie gehuil by hulle finale afskeid van mekaar (Hand 20:37). By Tirus het die gemeente onder leiding van die Gees aan hom gesê om nie na Jerusalem te gaan nie (21:4). Hier in Sesarea het Ágabus hom kom waarsku (21:11), waarop die gemeente hom gesmeek het om nie na Jerusalem op te gaan nie (21:12). Dit het Paulus net al sterker oortuig dat die Here hom in Jerusalem wou hê.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Paulus se afskeidspreek Deel 3 en slot (Hand 20:32-38) – Francois Malan

20:32 Die derde deel van Paulus se rede, sy vooruitskouing op die toekoms, word ingelei met ‘En nou…’   Omdat hy nie langer by hulle kon bly nie, vertrou hy hulle toe aan die sorg van God. Die oorgawe van die gemeente en sy ouderlinge aan die sorg van God eggo die gemeente in Antiogië se oorgawe van Barnabas en Paulus aan die genade van God vir die eerste sendingreis (Hand 14:26) en die broers in Antiogië wat vir Paulus en Silas aan die genade van die Here opgedra het vir die tweede sendingreis (Hand 15:40). God sal hulle versorg deur die woord van sy groot genadewerk wat Paulus aan hulle verkondig het oor Christus se verlossingswerk (dit is die boodskap van die Here se genade van Hand 14:3; die evangelie van God se genade van Hand 20:24). Die boodskap oor Christus se sterwe, opstanding en hemelvaart om vanuit die regterhand van God oor die heelal te regeer en in ons kom woon het met sy Heilige Gees is altyd opnuut teenwoordig (vgl. Matt 18:20 en 28:20 oor Christus se teenwoordigheid; Joh 14:17,23 oor God se inwoning in ons). Deur dié woord bou God die enkeling en die gemeente op (vgl. Hand 9:31) om al meer op God te vertrou en soos Jesus te word (2 Kor 3:18). Dit verwys na die onmiddellike toekoms van die gemeente (vgl. Moses se seën volgens Deutr 33:3-5). Die volgende sin verwys na die hemelse toekoms wat God aan die Efesiërgelowiges as erfenis  sal gee saam met al die geheiligdes wat hulle aan God toegewy het (vgl. Paulus se brief aan die Efesiërs 1:14-19; 5:5; Rom 8:17; Hand 26:18). 

20:33-34 As voorbeeld vir die ouderlinge van Efese om in die toekoms na te volg, herinner Paulus hulle aan sy optrede tydens die drie jaar by hulle. Hy het niemand se goud of silwer of klere begeer nie – oud-Oosterse rykes se rykdom het nie slegs uit goud en silwer wat gesteel kon word bestaan nie, maar ook uit mooi klere wat deur motte gevreet kon word (Matt 6:16; vgl. Josua 7:21).  

Paulus het van sy reg tot onderhoud nie ten volle gebruik gemaak nie, om soveel mense as moontlik te wen (1 Kor 9:18-19; vgl. ook 2 Kor 11:7-9). Met handewerk het hy in sy eie en sy mede-arbeiders se behoeftes voorsien. Paulus was ’n tentmaker (vgl die verklaring by Hand 18:3).

20:35 Met sy voorbeeld en onderrig aan hulle het Paulus aan hulle gewys dat ’n mens deur hard te werk die swakkes prakties moet help (Ef 4:28).

Die ouderlinge se leer en lewe moet met mekaar ooreenstem (vgl. Rom 15:1-2). As motivering vir die soort optrede verwys Paulus hulle na ’n woord van die Here Jesus wat hulle moet onthou en dit in hulle optrede toepas. Jesus sou gesê het: ‘Dit is meer geseënd om te gee as om te ontvang.’ Hierdie woorde kom nie in die Evangelies voor nie, maar woorde van Jesus in die Evangelies het dieselfde strekking, bv. Luk 14:12-14; 6:20; 33-36,38; 18:28-30. Volgens Joh 21:25 was dit nie moontlik om alles wat Jesus gedoen het, neer te skryf nie. Daar was egter woorde van Jesus wat slegs mondelings oorgelewer is. Paulus se woorde aan die ouderlinge van Efese word afgesluit met ’n woord van Jesus self om hulle te motiveer om hard te werk om ook die armes te kan help (vgl. 2 Thess 3:7-13).

20:36 Paulus sluit sy ontmoeting met die ouderlinge af met ’n gebed waaraan almal deelgeneem het om op hulle knieë voor die Here te vra om sy leiding en sorg oor die ouderlinge en die gemeente van Efese en oor almal wat op elke plek die Naam van ons Here Jesus Christus aanroep (soos in 1 Kor 1:2; vgl. Paulus se kommer oor al die gemeentes in 2 Kor 11:28).

20:37-38 Na die afsluiting van Paulus se laaste boodskap aan die ouderlinge met die gesamentlike gebed tot die Here, skilder Lukas ’n roerende en aanskoulike prentjie van hulle afskeid van Paulus. Al die leiermans van die gemeente het hardop gehuil en hom kom omarm om elkeen aan hom ’n drukkie te gee (omarm – letterlik: val hom om die nek – wat ’n sterk emosie uitdruk. Hulle het gehuil – die woord klathmós beklemtoon die harde geluid van hardop huil) en hom op die wang gesoen (soos vandag nog in die Midde-Ooste); alles uitdrukkings van egte toegeneentheid en waardering (vgl. Gen 33:4; 45:14-15. Die woord  katafiléō is nie die gebruiklike heilige kus nie, maar kom uit ’n smartlike liefdesdrang; ). So neem hulle bedroef afskeid van hulle groot apostel in die verwagting dat hy gaan sterf en dat hulle hom nie weer sal sien nie, soos hy gesê het (20:25). Hulle vergesel hom tot by die skip vir sy reis na gevangenskap en lyding wat op hom wag (20:22-23).

Paulus word in die kort opsomming van sy boodskap andermaal bekendgestel as die Here se dienende instrument. Soos die Heilige Gees hom lei, volg hy met oorgawe ten spyte van kwaai teenstand, bedreigings, en die verwagting van lyding wat vir hom voorlê. Daarby is daar ook die diepe verbondenheid aan hom deur die gemeente in Efese, wat saam met hom ly. In die brief wat hy later aan die Efesiërs skrywe besing hy die onmeetlike onbegryplike liefde van Christus en dat ons dit mag ken (Ef 3:14-19).

Skrywer:  Prof Francois Malan