15 Julie: Christenskap is ‘n spansport sonder sterre. – Jan van der Watt

1 Kor 3:1-15 (fokus 3:1-9)

 Christenskap is ‘n spanspel. Daarom kan ‘n Christen nooit godsdiens alleen in sy eie klein hoekie speel nie. God het vir jou ‘n plekkie in sy span. Daar wil Hy hê moet jy jou hart uitspeel.

Soos met enige spansport soek ons partymaal ook die “sterre” van die span uit, die bestes. Die gemeente in Korinte het dit ook al gedoen. Apollos is die beste, sê een. Nee, ek kies vir Paulus, sê die ander een (3:4), so asof die prestasies van God se span van die sterre afhang.

Nee, God se span het nie uitblinkers nie, net getroue, harde spelers. Elkeen wat sy deel getrou doen is vir God ‘n ster, want as almal saamwerk is daar geen keer aan die span nie. Die geheim is egter dat elkeen sy deel moet doen. Dit help nie almal probeer in dieselfde posisie speel nie. Soos Paulus dit op sye eie manier met ‘n tuinbeeld sê: die een gooi nat, die ander plant… (3:6-9). Dit help nie ons almal gooi nat nie, want dan is daar niks om te groei nie. As almal plant sal die saadjies van die droogte vrek. Nee, elkeen moet sy posisie ken en voluit daar speel.

Daarom is dit belangrik om vir jouself uit te maak waar jy in God se span moet speel. As jy nie opdaag nie, is daai posisie leeg. As jy in die verkeerde posisie speel, is daar te veel in die een en te min in die ander. Jy moet dus seker maak.

Watter posisie dink jy wil God hê moet jy in sy span speel?




14 Julie: In die studeerkamer van God deur sy Gees. – Jan van der Watt

1 Kor 2:1-16 (fokus 2:6-16)

 Sou dit nie lekker wees om in die studeerkamer van God te kon sit nie? Dan sou ons na al God se planne kon luister. Ons sou oor sy skouer kon loer en begrip kry van wie God is en wat Hy beplan.

Nou kom die verrassing: God het die deur van sy studeerkamer vir ons oopgemaak, wel op ‘n ander manier, maar die deur staan oop. Deur sy Gees kan ons nou alles verstaan wat daar in God se studeerkamer aangaan. So word ons “geestelike mense”, of mense wat hulle deur die Gees laat leer. Paulus argumenteer dat om werklik die goddelike dinge te verstaan, moet ‘n mens “goddelike oë” of geestelike sensitiwiteit ontwikkel. Dit is een van die belangrikste dinge wat die Gees vir jou doen. Hy stel jou in staat om die geestelike dinge te verstaan en te aanvaar. Hoe anders sal iemand verstaan dat Jesus aan die kruis deur sy bloed hom met God kan versoen, of dat selfopoffering vir jou naaste die beste ding is, of dat jy altyd die minste moet wees? Sulke dinge is nie in ‘n menslike studeerkamer uitgedink nie. Daarom is dit nodig dat God se Gees jou geestelike oë en verstand helder maak om dit te kan aanvaar.

As ons ons godsdiens net met ons verstand benader, gaan ons agterbly, want ons verstand kan nie so ver as God se studeerkamer dink nie. Nee, om God voluit te dien het jy meer nodig: geestelike oë en insig wat net van die Gees af kan kom.




13 Julie: Die lag van God. – Jan van der Watt

1 Kor 1:18-31 (fokus 1:18-31)

 Daar is ‘n boek met die naam “Die lag van God”. Dit vertel van ‘n klomp wetenskaplikes wat oor God gesels en natuurlik probeer bewys dat God nie regtig die wêreld kon maak nie, dat God nie kan bestaan nie, en so aan. God luister na hulle en elke keer kan God maar net lag oor hulle argumente. Hulle is maar net mense en nie God nie. Daarom redeneer hulle maar net soos mense en hulle argumente is maar net so slim as wat hulle koppe groot is. Nou probeer hulle God in hulle koppe inpas. Eintlik moet hulle sê: “as God ‘n mens sou gewees het, sou hy nie kon skep, of wonders kon doen nie”. Maar natuurlik is God nie ‘n mens nie.

Paulus het dit goed verstaan. Wat vir mense slim lyk, is vir God dwaasheid. God doen dikwels dinge wat vir mense totaal onverstaanbaar is (1:25). Ons moet dus nie verwag dat God altyd dinge gaan doen soos ons dit sou doen nie. Neem maar sy plan van verlossing. Hy kon ons as mense sekerlik op baie maniere gered het. Tog stuur Hy sy Seun om aan ‘n kruis te sterf vir ons sonde. Deur ‘n skandelike kruis ontplof sy verlossingskrag in die wêreld. Watter mens sou so plan gemaak het? Vir die Jode van destyds het dit geen sin gemaak nie en baie mense vandag nog sê hulle glo nie God sou dit gedoen het nie. Eintlik sê hulle met hulle argumente maar net: “as God ‘n mens was, sou hy nie…”

God is nie ‘n mens nie. Sý wysheid is nie óns wysheid nie. Daarom gaan ons telkens verras word as ons met God te doen het. Ons sal dikwels maar net voor ‘n misterie staan wat ons nie kan verstaan of verklaar nie, net kan aanvaar. God is God en nie ‘n mens nie.




12 Julie: Moet op mense nie vertrou nie. – Jan van der Watt

1 Kor 1:1-17 (fokus 1:10-17)

 Iewers in die Psalms staan daar dat ons nie op prinse of magtiges moet vertrou nie (Ps 146:3). Hulle sal jou keer op keer teleurstel. Dit is nou maar eenmaal so – mense se voete is van klei gemaak, ook predikante en pastore s’n.

Dit gebeur nogal dat mense te maklik van dominees geestelike helde maak. Die dominee of pastoor praat dan so mooi en is altyd so vriendelik. Daarom is die teleurstelling soveel groter as die dominee ook maar sy sonde en broosheid voor die gemeente moet bely, ja, as hy moet erken hy is nie die superheld van God wat die mense gedink het nie.

Die medisyne teen sulke teleurstellings is om nie in die strik te trap om in dominees vas te kyk as jy eintlik vir Jesus moet raaksien nie (1:10-17). Los die dominee dadelik wat te veel aandag op homself wil vestig en te min van Jesus wil wys. Hy self verstaan te min van die evangelie om jou regtig op die goeie pad te kan help. Niemand kan die plek van Jesus vat nie, nee, niemand kan eers in sy skaduwee staan nie. As jou pastoor nie die hele tyd vir Jesus laat skitter en jou sy goeie nuus laat hoor nie, kry ‘n ander een. Hierdie pastoor gaan jou nie red nie, al probeer hy. Jy het vir Jesus nodig om jou te red en as die pastoor in Jesus se pad staan, systap hom.

Moenie jou godsdiens aan mense bind nie; nie eers aan pastore of dominees nie. Bind dit aan Jesus. Dan sal jy ten minste nie teleurgestel word nie.