11 Julie: Moenie die duiwel ‘n houvas gee nie – Jan van der Watt

Rom 16:1-27 (fokus 16:17-23)

 Dit is amper asof party mense sinne in die Bybel doelbewus mis lees, veral as dit by die duiwel kom. Sulke mense wil so graag ‘n “gogga-maak-vir-baba-bang” storie hê dat hulle die hele tyd loop en rondvertel hoe sterk die duiwel is. Dit is duiwelbesetenheid voor en demone wat jou lewe deurmekaar krap agter. Dit wil lyk of hulle die baie dele in die Bybel miskyk wat duidelik sê dat God baie sterker as die duiwel is, meer nog, dat die duiwel se mag gebreek is (16:20).

Moenie ‘n fout maak nie. Die duiwel is nie uitgeklop nie. Hy probeer nog vir oulaas hard om Christene te mislei en op die verkeerde pad te kry, soos Paulus hier ook sê (16:17-20). Maar dit is een ding om dit te probeer en ‘n ander ding om dit reg te kry. Christene is immers aan die Wenner, Jesus, se kant en sy genade is soos ‘n skild rondom hulle. Glo my, die duiwel kom peuter nie sommer by mense wat so naby Jesus staan nie. Hy het immers klaar gevoel hoe dit voel om onder die krag en oordeel van Jesus deur te loop.

Hoe nader jy aan die Here leef, hoe minder kans het die duiwel om ‘n houvas op jou te kry. Dit is eintlik elke Christen se meesterplan vir oorwinning oor die duiwel – bly naby díe Een wat hom reeds oorwin het. Dan is jy veilig en hoef vir niks bang te wees nie.

Die duiwel kan jou nie beetkry nie, nie as jy naby Jesus leef nie. Jy hoef ook nie vir die duiwel bang te wees nie, nie as jy jou by die Wenner skaar nie. “Baba” hoef nie vir “gogga” bang te wees as “baba” in Jesus se arms lê nie.




18 Julie: Snuffel die sonde uit. – Jan van der Watt

1 Kor 5:1-8 (fokus 5:6-8)

 Baie van ons is spesialis “sondebelyers”. Ons doen dit in die kerk (sommer so met die lied wat ons na die wetsbediening sing), in ons gebede voor ons gaan slaap en selfs partymaal voor ons eet. Here, vergeef ons ons oortredinge en sonde…

Nou ja, sondebelydenis sonder om met mening van daai sonde in jou lewe ontslae te raak is soos om water in ‘n stukkende emmer te tap sonder om die gat in die emmer reg te maak. Dit help regtig nie veel nie.

Sonde is soos kanker. As jy dit nie heeltemal uitsny nie, groei dit weer en soms erger as tevore. Die probleem is mos dat ons daaraan gewoond raak. Die eerste maal dat ek vloek voel ek baie ongemaklik, maar die tweede maal gaan dit makliker, dit weet ons almal. Dan voel ek nie meer so sleg nie en is ook nie so vasberade om van die vloek ontslae te raak nie. Juis daarom wil die Here hê ons moet die sonde sommer vinnig uitsnuffel en dadelik daarvan ontslae raak, heeltemal ontslae raak, in alle geval voordat jy daaraan gewoond begin raak. As jy daai eerste maal vloek en jy vra die Here om verskoning, moet dit sommer ook die laaste maal wees. Daar moet nie eers ‘n ou klein stukkie, ja, ‘n effense gedagtetjie om weer te vloek agterbly nie. Dit is die enigste manier. So moet dit ook met oneerlikheid, geskinder, woede en wat nog alles in jou lewe gaan. Dit moet vinnig en effektief uitgesnuffel en van ontslae geraak word.

As jy sonde bely, doen dit ordentlik; moenie soos ‘n emmer met ‘n gat in wees nie. Snuffel daai sonde uit en raak heeltemal daarvan ontslae.




10 Julie: Bid asseblief vir my – Jan van der Watt

Rom 15:14-33 (fokus 15:22-33)

 Die Here neem jou ernstig, veral as jy op sy skoot sit en in gebed dinge van Hom vra. As  jy Hom dus iets vra, aanvaar Hy dat jy ernstig is daaroor, so ernstig dat jy jou deel sal doen om dit wat jy vra waar te maak. In God se oë is jy dus altyd bereid dat Hy jou kan gebruik vir dit wat jy vra; anders sal jy dit mos nie vra nie.

Dit bring ons by voorbidding. Dat ons vir die mense rondom ons moet bid is een van die duidelikste opdragte van die Here. Paulus vra dit ook van sy mede-gelowiges (15:30-31). Maar as ons vir ander bid beteken dit dat ons onsself bereid verklaar om deel van hulle lief en leed te word. Om te bid dat die Here iemand help, beteken eintlik dat ons vir die Here sê dat ons bereid is om daardie persoon te help. As ons vra dat die Here kos vir iemand gee, sê ons eintlik dat ons bereid is om daardie kos aan te dra. As ons bid dat die Here iemand moet troos, moet ons bereid wees om die skouer te wees waarop daardie persoon kan huil.

Voorbidding maak jou lewe onlosmaaklik deel van ander se lewens. Wees dus versigtig waarvoor jy bid – die Here mag dalk net van jou verwag om juis dit te doen waarvoor jy vra.




9 Julie: Jy’t ‘n toekoms; God het beloof…. – Jan van der Watt

Rom 15:1-13 (fokus 15:7-13)

 

Eenmaal op ‘n 4×4 safari het ons voertuig diep in die Soutpansberge gebreek op ‘n bospaadjie wat eintlik nie ‘n paadjie was nie. Daar’t ons gesit. Uiteindelik het ‘n man op ‘n perd daar verbygekom en beloof om hulp te gaan soek. Sy belofte was al hoop wat ons gehad het. So het ons maar daar sit en wag en elke nou en dan gesê: “Hulle sal kom help. Die man het mos gesê”. Daai woorde het ons aan die gang gehou en gesorg dat ons nie moed verloor nie.

Dit is presies waarvan Paulus praat as Hy sê dat ons op God kan hoop (15:13). Hy het beloof dat Hy weer sal kom en dit moet ons moed gee. Wat ons nog verder moed moet gee is die verskil tussen die man op die perd en God. Ons kan seker wees dat God nie sy woord sal breek nie. Wat Hy sê sal gebeur, daarvan kan ons seker wees. Ons hoop staan op baie vaste fondamente.

Daarom is een van die uitstaande kenmerke van alle gelowiges hulle onwrikbare hoop op die toekoms. As dit miskien op ‘n dag swaar gaan, kan gelowiges opkyk en uitkyk na God se toekoms wat vir hulle wag. Uit hierdie toekoms wat wink, kan hulle krag kry vir wat nou vir hulle wag. Ons mag dus nooit die wonderlike toekoms wat saam met God vir ons wag uit die oog verloor nie. Ja, God se beloftes moet ons in die bospaadjies van hierdie lewe aan die hoop hou, sodat ons nooit moed verloor nie.

Daar wag ‘n wonderlike toekoms vir jou as Christen. God het dit beloof.