8 Julie: Moenie afbreek nie, bou op. – Jan van der Watt

Rom 14:13-23 (fokus 14:13-23)

 Boks is ‘n snaakse sport. Al wat jy die hele tyd doen is om te kyk hoe hard jy die ander persoon kan slaan op die plekke waar dit die seerste maak. En wat jy die graagste wil doen is om hom heeltemal uit te slaan sodat jy die enigste een is wat in die kryt oorbly.

Daar is nogal parallelle tussen boks en kritiek lewer. Kritikasters wil met hulle woorde mense daar ‘slaan’ waar dit die seerste maak. Hulle wil eintlik hê dat die ander persoon na die gesprek nie meer op sy voete staan nie. Hy moet platgeslaan wees. Gewoonlik groei hierdie houding uit ‘n sterk minderwaardigheidsgevoel. Jy voel niemand sien jou raak nie. Daarom doen jy jou bes om almal plat te slaan sodat jy alleen in die kryt oorbly. Dan sal die mense jou darem raaksien, of so dink jy. Hierdie tipe van houding keur die Here natuurlik glad nie goed nie. Jy kan nie jouself probeer beter maak deur ander sleg te maak nie. Dit werk nooit nie.

Natuurlik gaan dit nie hier oor gesonde kritiek nie. Gesonde kritiek wil opbou. Dit is soos die afrigter in die bokskryt. Soms plant hy ook ‘n geniepsige hou, maar dan om vir die ‘leerling’ te wys hoe om homself beter te beskerm. Opbouende kritiek het sy plek.

As jy kritiseer, maak seker dat jy opbou en nie afbreek nie.




7 Julie: Jy is sowaar heilig. – Jan van der Watt

Rom 14:1-12 (fokus 14:1-12)

 In die Bybel lees ons mos van sekere plekke (die tempel), of van sekere mense (die priesters), of sekere dae (die Sabbat) wat heiliger is as die gewone alledaagse dinge. As jy voor hierdie dinge te staan gekom het, moes jy baie versigtig gewees het, want dan was jy sommer baie naby aan die Here. Ons dink baie keer dat dit vandag nog so werk. Die Here is in die kerk en as ek dus nie Sondag daar was nie, was ek nie by Hom nie; net die dominee of pastoor kan vir my bid, want hy is in direkte kontak met God…

Hoe anders het Jesus dinge net nie kom maak nie! Hy het Homself nie in ‘n kerk toegesluit of net met dominees of pastore gewerk nie. Nee, Hy het in elkeen van ons kom woon. Hy het jou persoonlike vriend geword. Die ‘Heilige Een’ is nou in jou. Hy is net ‘n gedagte ver. Daarom is die kerk nie méér heiliger as daar waar jy langs jou bed kniel om te bid nie… die Here is daar by jou net soos in die kerk. Hy is immers die een wat ‘n plek heilig maak. En Hy is ook nie meer by die dominee as by jou nie. Net so behoort elke dag van jou lewe aan hom; ja, elke oomblik van jou lewe behoort eintlik ‘n spesiale feesdag te wees waartydens jy aan die wonderlike teenwoordigheid van die Here in jou lewe dink. Daar hoef nie net een dag waar die Here nou spesiaal by jou is, daarvoor uitgesonder te word nie. Nee, dit is nou ‘elke dag’.

Christen, jy is heilig, want die Heilige is in jou!




6 Julie: Kniediep in liefdeskuld . – Jan van der Watt

Rom 13:8-14 (fokus 13:8-10)

 Neem ons altyd die Bybel ernstig op? Wel, in 13:8 staan dat ons niemand iets moet skuld nie. As ons dit moet doen, sit die meeste van ons sonder ‘n huis en ‘n kar. Om die waarheid te sê, ons hele samelewing loop op die wiele van skuld. Hoe nou gemaak?

Paulus is nie hier regtig teen skuld as skuld nie, maar teen wat skuld aan jou doen. As jy destyds iemand iets geskuld het, het jy jouself eintlik aan daardie persoon ‘uitverkoop’. Jy het dan ‘n verpligting teenoor hom gehad. So het hy dan ‘n houvas op jou lewe gekry en kon jou lekker manipuleer met die skuld. Hy kon jou selfs as slaaf laat verkoop of in die tronk laat gooi as jy nie betaal wanneer hy die geld wil hê nie (Matt 19:25,30). Paulus sê Christene moet hulleself nie so ‘uitverkoop’ aan ander nie, want netnou verwag ander dat Christene dinge moet doen waarvan Jesus nie hou nie. Dan is hulle in die moeilikheid. Christene moet dus nooit iets doen wat hulle vryheid wegneem om Jesus te dien nie.

Maar iets wat jy ander mense wel kan skuld is liefde. As ander sê: “Ek eis liefde van jou” en dan moet die Christen opdok en sommer baie gee ook. Daarvan hou die Here. Die Here het vir jou so baie van sy liefde gegee dat jy Hom nooit sal kan terugbetaal nie. Maar jy moet maar probeer, deur dit vir ander mense uit te deel.

 Al houvas wat ander mense op jou mag hê, is die houvas van liefde.




5 Julie: Wees ‘n goeie landsburger. – Jan van der Watt

Rom 12:9-13:7 (fokus 13:1-7)

 “Wees ‘n goeie landsburger. Gehoorsaam die owerhede wat oor jou aangestel is” (13:1). Nie almal voel ewe gelukkig met hierdie opdrag in die Bybel nie. Waarom sê Paulus dit tog?

Wel, wie gaan seker maak dat jou neus nie afgeskiet word as jy dit by die deur uitsteek nie? God het die staat ‘in diens geneem’ om te sorg dat dit nie gebeur nie. Dit is hierdie ‘diensknegte’ van Hom wat die strate veilig moet hou, wat jou met ‘n geruste hart in die winkels moet laat rondloop, wat die wette van die land so moet reël en toepas dat almal gelukkig is. Ja, hulle moet sorg dat jy veilig en rustig met jou alledaagse lewe kan aangaan. Dit is hulle taak om te sorg dat alles nie in chaos en anargie verval nie. Daarvoor het hulle die reg en mag om mense te straf en selfs dood te maak, alles met die doel om die samelewing gesond en reg te hou.

Juis daarom moedig Paulus Christene aan om goeie en voorbeeldige landsburgers te wees. Hulle moenie die taak van die staat nog moeiliker maak nie, want God wil juis hê dat alles in die samelewing reg moet verloop. Juis daarom noem Paulus die staat die dienaars van God – hulle moet sorg dat alles goed gaan. Met hierdie dienaars van God moet elke Christen saamwerk.

Natuurlik is dit ‘n probleem as hierdie dienaars nie meer doen wat God vra nie. Paulus bekommer hom nie hier daaroor nie. Johannes sou later iets daaroor in Openbaring 13 skryf.