6 Junie: Praat maar net oor die Here. God sal vir die res sorg. – Jan van der Watt

Hand 18:1-28 (fokus 18:1-11)

In Hand 18:5 lees ons hoe hard Paulus probeer het om die Jode van die evangelie te oortuig. Hy het regtig alles ingesit met sy redenasies, maar dit wou net nie werk nie (18:6). Toe sê die Here vir Paulus hy hoef nie self so hard te probeer nie. Hy kan maar die slim redenasies los en bloot net oor die Here praat (18:9). Dit is genoeg. Alles hang immers nie net van homself af nie… God is ook daar. Toe Paulus dit snap het die evangelie ontplof. So moes Paulus leer dat die dinamiet van die evangelie nie in ons lê nie, maar in die God wat agter daardie evangelie sit.

Dit is moeilik om te dink dat daai stukkie getuienis van my, daai klein stukkie wat ek vir ander “van die Here vertel” genoeg is om die evangelie te laat ontplof. Maar dit werk so, want God sit daaragter. ʼn Russiese polisieman uit die kommunistiese tyd vertel dat hy op ʼn trein gesit en toevallig iemand daar oor Jesus hoor praat het. Die boodskap het so vreemd geklink dat dit by hom bly vassteek het. Later het dit hom begin pla. In ʼn tronk loop hy toe twee gevangenis raak wat so anders was as die ander… en hulle het oor dieselfde Jesus gepraat. Toe kon hy nie anders nie – hy wou ook so wees… En God het die vuur in hom aangesteek. Vandag is hy ʼn dominee iewers in Rusland…

Praat maar net oor die Here – dit is genoeg. God sal vir die res sorg.




5 Junie: Mense wil nou maar eenmaal voor altare buig. – Jan van der Watt

Hand 17:22-33 (fokus 17:22-27)

Mense kan nie sonder gode klaarkom nie; of anders gestel: mense kan nie sonder een of ander altaar klaarkom nie. Hulle voel dat hulle hulle tyd en energie vir een of ander “iets” (ʼn afgod) op die altaar moet lê. So is ons as mense nou maar eenmaal. Ons verkoop maklik ons siele. Ons sien dit al in Atene waar die mense sommer ʼn ekstra altaar vir die onbekende god gebou het omdat hulle bang was hulle het dalk een te min (17:23).

Ironies genoeg is die “godsdiens” vir wie mense vandag die vinnigste altare bou “sekularisasie” (ongeveer 8,5 miljoen “bekeerlinge” per jaar). Sekularisasie is as mense God se altare eenkant toe skuif omdat hulle nie meer glo in ‘n God wat iets te doen het met hulle lewens nie. Hulle bou dan vir hulleself ander altare: daar is die altare wat hulle met meer en meer geld hoër en hoër bou. God is nie nodig nie, want hulle dink hulle kan sommer alles koop. Hulle bid nie meer vir reën of vra God om hulle te help as hulle by die hospitaal ingaan nie. Nee, reën kom van hoë en lae drukke in die natuur af en dokters maak ‘n mens gesond. Vir hulle het dit niks meer met God te doen nie. Hulle buig liewer voor die altare van die wetenskap. So maak die altare van sekularisasie God se altaar onnodig, ten minste in die oë van die mense.

Mense kan nie sonder ʼn god klaarkom nie. Hulle wil maar voor altare buig. Hulle draai hulle rug op God se altaar, net om voor ʼn ander god s’n neer te val… en hierdie ander gode name: geld, eiewaan, luuksheid, egoïsme, – ja, alles dinge waarvoor hulle hulle siele verkoop.

Dis maar ʼn vrot ruil om die ware God se altaar vir sulke altare te verruil!




4 Junie: God vergeet jou nie. – Jan van der Watt

Hand 17:1-21 (fokus 17:1-9)

Paulus het dit nie altyd maklik gehad nie. Die moeilikheid het hom byna soos ‘n skaduwee agtervolg, waar hy ook al gegaan het, of hy nou op pad was Filippi, Tessalonika of Berea toe; die moeilikheid was daar. Maar waar was God dan? Kon Hy die moeilikheid dan nie gekeer het nie?

Paulus het nooit getwyfel dat God hom help of sal help as dit nodig is nie. Maar ons twyfel of wonder soms. Die probleem is dat God ons dikwels help, maar ons kyk die hulp mis omdat ons sy oplossings nie wil aanvaar nie. Ons wil die pad wat Hy ons wys nie loop nie. ʼn Vloed het eenmaal ʼn baie gelowige man se dorpie getref. Op die dak van sy huis het hy gevra dat God hom moes red. Mense kom toe met ʼn boot, maar hy sê hulle moet verder ry, want God sal hom kom red. Nog ʼn boot het gekom en later ʼn helikopter, maar die man het volgehou dat God hom sal kom red. Die man het later verdrink en in die hemel vra hy die Here waarom Hy hom nie gehelp het nie. Die Here antwoord toe: “Ek het vir jou twee bote en ʼn helikopter gestuur. Wat meer wou jy hê?”

Die groot strome van die lewe wat dikwels in snaakse rigtings spoel kan ons maar een ding weet: God vergeet nie… sy bote en helikopters is daar om ons te help. Jy moet hulle net nie miskyk omdat jy iets anders wil hê nie.




3 Junie: Doen jou bes vir die Here. – Jan van der Watt

Hand 16:1-40 (fokus 16:25-34)

Toe Paulus in Filippi in die tronk geland het, het God die tronkdeure vir hom laat oopswaai. Dit het die Filippense oortuig dat hy ʼn man van God is (16:26,30). As hy ʼn paar jaar later die brief aan die Filippense skryf, sit hy weer in die tronk, maar hierdie keer swaai die tronkdeure nie oop nie! Dit het die mense laat wonder. Wil God hom nie meer help nie? Is hy nog ʼn man van God, want waar is God nou?

In sy brief verduidelik Paulus wat eintlik gebeur. God maak nog tronkdeure oop, maar op sý manier (Lees Fil 1). As die tronkdeure hierdie keer weer sou oopswaai, sou net Paulus daarbuite op die strate gepreek het. Hierdie keer het God anders gewerk – Hy het eers aan die binnekant van die tronk gewerk, want dit was waar Hy Paulus nou wou gebruik. Paulus het in die tronk vriende gemaak met die polisie en hulle het van hom begin hou. Daarom het hulle nie meer omgegee dat die ander Christene daar buite in die dorp nou vrylik begin preek het nie. Hulle het hulle nie gevang nie, maar gelos om te preek. In plaas van een prediker, Paulus, was daar nou baie wat tussen die mense daarbuite gepreek het. Paulus se tronkdeure moes toe bly, sodat daardie Christene se “tronkdeure van vrees” kon oopswaai en die evangelie deur baie vrylik verkondig kon word.

Dit is nou regtig God aan die werk! Sy weë is nie altyd ons weë nie. Maar ons kan altyd maar sy weë vertrou. Hy weet die beste. Daarom moet ons nie te vinnig begin kritiseer as dinge vir ons lyk of dit verkeerd begin loop nie. God het ‘n plan en doel. Ons moet net ons deel so goed as moontlik doen daar waar ons nou is, watter kant van die tronkdeure dit ook al is. Doen jou bes vir die Here.