23 April: Op reis na Jesus. – Jan van der Watt

Joh 2:13-3:10 (fokus 2:13-22)

Paastyd was reistyd vir die ou Jode. Dan is hulle Jerusalem toe, want die tempel was daar. By die tempel het hulle naby God gevoel; kon hulle hulle sondes soveel beter bely; soveel meer seën ontvang. Daarom het hulle gereeld op reis gegaan, tempel toe.

Ons hoef nie meer na ver geboue te reis om by God uit te kom nie. Ons hoef nie te wag vir Sondag dat ons kan kerk toe ry om God se nabyheid en seën te ervaar nie. Daarvoor het Jesus gesorg.

Lank terug het Jesus alles verander toe Hy gesê het: “Breek die tempel af… en na drie dae bou ek ʼn nuwe” (2:19-20). Hy het van Homself gepraat wat na drie dae uit die dood sou opstaan (2:21). Die opgestane Here het God se “nuwe tempel” geword, dáár waar God spesiaal naby aan ons kom en ons sy liefdevolle teenwoordigheid kan ervaar. Hierdie “Tempel” hoef jy nie iewers in ʼn kerk of katedraal te gaan soek nie, want Hy laat Hom nie in kerke of katedrale toesluit nie. Jy hoef nie op reis te gaan soos die Jode van ouds om iewers in ‘n gebou nader aan God te voel nie. Nee, Jesus is nou by jou; om die waarheid te sê, Hy is in jou. Of jy agter die stuurwiel van jou kar, op die sitplek van ʼn trein of die stilte van ʼn hotelkamer is, Jesus is daar. Jy hoef nie ‘n lang reis aan te pak om Hom te vind nie. Al reis wat jy moet maak is na die binnekamer van jou hart. Daar sal jy Hom kry. Kyk nou met die oë van geloof en jy sal Hom daar by jou sien.

Jou reis na Hom is nou net ‘n gebed ver. En dit is ‘n reis wat jy gereeld moet maak.




22 April: Kom saam met Jesus en kom kyk. – Jan van der Watt

Joh 1:35-2:12 (fokus 1:35-42)

Ons almal het al verdwaal en dis nie so lekker ervaring nie. Aan die ander kant vee min dinge in die lewe die bekommernis so vinnig van jou gesig af as die woorde:  “Kom saam; ek sal jou wys waar dit is.” Dit is asof hierdie woorde van hoop die lig aan die einde van die tonnel – wat netnou so flouerig was – skielik sommer helder laat skyn.

Jesus bring vir ons ook sulke helder hoop. Hy laat mense wat na God soek nie onseker daar staan nie, maar sê: “Kom saam en kom kyk” (1:39). Dit is nie woorde wat jou wil dwing nie, maar jou in liefde uitnooi. Op daardie oomblik dat jy Jesus se uitnodiging aanvaar en die reis saam met Hom aanpak, verander jou donker tonnel ook in helder lig, goddelike lig. Dan is jou verdwaal en gesoekery na God op ʼn einde, want jy het die regte adres gekry. Die wonder van alles is – die deur by daardie adres, waar Jesus is, staan ook spesiaal vir jou oop. Jy hoef nie verdwaal of onseker te voel nie. “Kom saam met Jesus en kom kyk!”




21 April: Die eindbestemming se naam is Jesus. – Jan van der Watt

Joh 1:1-34 (fokus 1:1-18)

Mense bly maar soekers… soekers na God. Diep binne-in ons weet ons dat ons alleen by God regtig rus vir ons siele sal vind. Daarom bly ons siele onrustig op reis, soekend, vraend, tastend. Dit is ʼn reis met net een eindbestemming: God self! As ons sy stem hoor, op sy skoot neersak, sal ons weet, ons is dáár.

Maar hierdie is ʼn ironiese reis: dit is nie omdat ons so goed kan soek dat ons sal vind nie. Nee, dit is omdat God self op reis gegaan het, op soek na ons. Ons het Hom nie gevind nie, maar Hy het ons kom vind. Ons het nie na die eindbestemming toe gegaan nie, maar die Eindbestemming het na ons toe gekom. Daarvan vertel Johannes ons: Jesus het mens geword… en onder ons kom woon (1:14). Met Jesus se koms het God weer sy tent tussen ons kom opslaan sodat ons daar sy genade en heerlikheid kon leer ken.

Jy hoef nie te ver te soek nie – die eindbestemming se naam is Jesus. By Hom vind jy God.




20 April: Laat jou getuienis groei. – Jan van der Watt

Luk 24:28-53 (fokus 24:36-49)

Goudvisse is baie aanpasbare diere. As jy ʼn goudvissie in ʼn klein bakkie sit word dit ʼn paar sentimeter lank. Daai selfde vissie kan in ʼn reus van ʼn vis verander in ʼn groter dam. Jy moet dit net ruimte gee.

Die Here gee sy dissipels ruimte – soveel as wat hulle wil hê. In 24:47 het Hy die hele wêreld se grense vir hulle afgebreek. Geen grenspos, doeanebeampte, berg of kloof moet hulle terughou nie. Die wêreld lê oop voor hulle… om te gaan verkondig!

Jou getuienis gaan ook net so groot wees soos die ruimte wat jy jouself gee. As jy kies om jou getuienis in die privaatheid van jou lewe toe te sluit sal jou getuienis-vissie maar klein wees. Die Here wil jou eerder in die “oseaan” loslaat waar daar nie grense is nie. En die goeie nuus is: ʼn mens hoef nie op reis te gaan om die “oseaan” te gaan soek nie. Dit is rondom jou – daar waar jy op die oomblik is. ʼn Mens moet net jou getuienis toelaat om daar “vry te swem”. God sal sorg dat dit groot word.