Die Verhouding Geloof en Verstand(2) – Bybelse Basis Van Ons “Redelike Geloof”

Die Verhouding Geloof en Verstand(2) – Bybelse Basis Van Ons “Redelike Geloof” – Hermie van Zyl

Die uitgangspunt waarmee ek werk, is dié van die eerste en groot gebod: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel, jou hele verstand, en al jou krag.” Nie net die hart nie, maar ook die verstand behoort aan God. Wanneer ons dus met geloofsoë na die wêreld kyk, is jou verstand/rede deel daarvan. 

Hierdie uitgangspunt van redelikheid en geloof wat hand en hand loop, is ingebed in Bybelse insigte, en soos volg te beredeneer:

Die Wysheidsliteratuur in die Ou Testament (Psalms, Spreuke, Prediker) is versamelde oud-Oosterse wysheid. Dit handel oor die praktiese lewenskuns, oor alledaagse getoetsde ervaring. En die merkwaardige is dat dit in dieselfde Bybel voorkom as sogenaamde bo-natuurlike kennis, soos die 10 gebooie (deur God gegee by Sinai), en die reddings- of wonderdade van God. Dit dui die redelikheid van Bybelse geloof aan. Daar is geen teenstrydigheid tussen algemene kennis en Godskennis nie.

Paulus (Nuwe Testament) maak ook gebruik van die algemene wysheid van sy tyd. Die sogenaamde deugde- en ondeuglyste wat by die moraalfilosowe van die Griekse wêreld voorgekom het, word in Galasiërs 5:19-21,22-23 deur Paulus aangewend as Godskennis: die praktyke van die sondige natuur (onsedelikheid, onreinheid, eens) teenoor die vrug van die Gees (liefde, vreugde, geduld, eens). Wat Paulus hier aanmerk as slegte praktyke en vrug van die Gees, het reeds wye erkenning geniet by die destydse nie-Christelike denkers. Hierdie opvattings het dus ‘n redelike basis. Dit is meer as slegs esoteriese openbaringskennis net vir gelowiges bedoel.

Die Hebreërboek giet die Ou-Testamentiese offerkultus, wat besig was om van die toneel te verdwyn, in nuwe denkkategorieë wat vir denkende Griekse gelowiges verstaanbaar sou wees. Byvoorbeeld, dit stel Jesus voor as ‘n hemelse hoëpriester wat die allerheiligste van die hemelse tempel ingegaan het.

Bostaande belig die organiese karakter van hoe God sy spesiale kennis geopenbaar en in Bybel laat opteken het. Die insigte kom van God, maar is deur gewone menslike denkprosesse oorgelewer. Dit het soms lank gevat vir Goddelike insigte om deur te breek. Neem byvoorbeeld die geloof aan die opstanding van die dooies. Mens vind omtrent niks hiervan in die Ou Testament nie. Deur Israel se ervaring van die lewende God ontstaan egter die gedagte dat mens nie verdwyn na jou dood nie, maar in ewige gemeenskap met God lewe. Binne Israel heers daar egter nog lank ‘n stryd hieroor. In Nuwe-Testamentiese tye was die Sadduseërs en die Fariseërs nog haaks hieroor. Dis eers met Jesus se opstanding dat die volle werklikheid hieroor vir gelowiges deurbreek. Daarna word dit deur betroubare getuies oorgelewer (1 Korintiërs 15:3-8) en word dit deel van ons Christelike geloof. Dus, ‘n kernwaarheid van die Christendom dra die karakter van betroubaarheid (verifikasie deur ooggetuies), toetsing en langdurige bespreking.

Daar is ook kontrole in geloofswaarhede deurdat dit altyd deur die geloofsgemeenskap getoets word. Geloofsinhoud is dus nie maar bloot insidentele en persoonlike opinies nie. Byvoorbeeld, volgens 1 Korintiërs 14:29 moes profete mekaar se uitsprake oor en weer beoordeel of dit werklik van God kom. En in Lukas 1:1-4 lees ons van uitgebreide navorsing wat gedoen is.

Inderdaad die Bybel is Gods woord in mensetaal. Oor tyd heen is hierdie kennis oorgelewer, deur die geloofsgemeenskap getoets, en het dit deel van die Bybelse tradisie geword. Geloof en redelikheid gaan hand aan hand. En dit maak van die Christendom ‘n redelike godsdiens. Dit is nie onlogies en onredelik om in God te glo nie.

Samevatting: Daar is ‘n merkwaardige ooreenkoms tussen Bybelse getuienis en wetenskap. Dit is nie so dat net die wetenskap met getoetsde gegewens werk en die Bybel met ‘n ander soort kennis – kennis wat net van God kom en dus nie getoets kan word nie. Dis ‘n halwe waarheid. In die Bybel kry ons weliswaar openbaringskennis . Maar die wyse waarop hierdie kennis opgeteken is, is ook die neerslag van eeue se getoetsde tradisies. Dis nie bloot insidentele, persoonlike opinies nie. Oor geslagte heen het dit deel geword van mense se werklikheidsbelewing. Daarom daag dit ons uit om dit ook op redelike gronde te aanvaar as ‘n getroue weergawe van wat ons van God kan ken. Net soos wat daar algemene erkenning is vir wetenskaplike insigte wat oor tyd heen deel geword het van ons algemene kennis, behoort daar ook groter erkenning te wees vir die tyd-getoetste Bybelse insigte.

Natuurlik, as ons sê Bybelse geloofswaarhede is redelik, is dit nie die soort logika wat ons in ‘n wiskundesom aantref nie. Mens moet dit nog steeds glo, daardeur oortuig word, dit jou eie maak. Maar as jy dit glo, begin jy verstaan dat dit redelik is om so te glo en te leef. 

 

Outeur: Prof Hermie van Zyl

 




Die Verhouding Geloof en Verstand(1) – Basiese Opsies

Die Verhouding Geloof en Verstand(1) – Basiese Opsies – Hermie van Zyl

Die verhouding geloof en verstand/wetenskap is ‘n eeuelange debat. Die debat kan uit verskillende hoeke benader word, maar een van die kernvrae is: Is dit redelik (logies) om in die God van die Christendom te glo? 

Agter so ‘n vraag sit die aanname dat God nie bewysbaar is nie, want Hy is mos nie waarneembaar met ons menslike sintuie nie. Daarmee word gesê: Slegs dit wat ons met ons sintuie kan waarneem, is waar, eg en bestaan. Dus, wanneer ons in God glo, glo ons teen alle verstand en redelikheid in; dis ‘n sprong in die duister; ons glo maar, want so is ons van kleinsaf geleer, maar ons kan eintlik nie met sekerheid sê of ons reg is nie. By gebrek aan iets anders/beters, hou ons maar vas aan dit wat ons het. Dis darem beter as om in niks te glo nie.

As dit oor die verhouding tussen geloof en rede/verstand/wetenskap gaan, is daar basies drie opsies:

1. Geloof en rede/verstand staan téénoor mekaar. Geloof en verstand leef nie in dieselfde huis nie, maar in aparte huise/domeine. Dis ook waar die gedagte vandaan kom dat die wetenskap die enigste domein is wat met egte, ware kennis werk, want dis getoetsde, geverifieerde kennis. Jy kan ‘n eksperiment uitvoer en bewys wat jy weet. Maar godsdiens is nie egte kennis nie, dis bloot ongetoetsde, persoonlike opinies. Jy kan dit glo as jy wil, maar moenie verwag almal moet dit erken nie. Ek gun jou om te glo wat jy glo (dis mos demokraties!), maar dit het geen dwingende krag dat dit die waarheid is nie. Dit is ook nie noodwendig ‘n getroue weergawe van die werklikheid nie.

2. ‘n Ander siening van die verhouding (‘n sagter opsie as die vorige): Geloof en rede staan nie teenoor mekaar nie, maar vul mekaar aan. Geloof begin daar waar kennis ophou of te kort skiet. Met ander woorde, geloof se plek word wel erken, maar dis ‘n soort vuller van die leemtes of gapings in ons kennismondering. Die implikasie hiervan is: soos wat kennis uitbrei, word geloof uitgeskuif na die rand van ons bestaan; ons het dit nie meer nodig nie. Daar word dan van God gepraat as The God of the gaps – God opereer net daar waar ons nie self antwoorde op probleme het nie. Ons het God dus nodig vir al die onbeantwoorde vrae van die lewe, maar ook nie meer vir lank nie. Hierdie siening lê ook aan die wortel van ‘n gesekulariseerde Europa: voorheen was God nodig, maar nou het hulle God nie meer nodig nie, want hulle voorsien self in hulle behoeftes.

Ek is bevrees dat baie mense, selfs Christene, met een of beide van bostaande twee sieninge van die verhouding tussen geloof en rede leef. Hulle leef dualisties, dit wil sê,  met verskeurde harte, in twee verskillende wêrelde wat niks met mekaar te doen het nie, en probeer nooit die twee wêrelde met mekaar versoen nie. Dis waar die ding van Sondag- en Maandag-Christene vandaan kom: Sondag dien jy God in die kerk, maar Maandag en die res van die week dien jy Mammon (die geldgod). Dan is jy ‘n harde besigheidsman/vrou waar Christelike beginsels geen rol speel nie.

3. Daarom, derde opsie: Geloof en rede staan nie teenoor mekaar nie; geloof is ook nie ‘n aanvulling van die leemtes in ons kennis nie; maar geloof is die basis van alle kennis, dis die vertrekpunt van ons kennis, dis ‘n manier van kyk na die wêreld. Reeds Anselmus, aartsbiskop van Canterbury in die 12e eeu, het gesê: credo ut intelligam: “ek glo sodat ek kan verstaan.” Ons sê mos: ek soek bewyse, ek wil eers verstaan, dan sal ek glo. Anselmus sê: Dis eers wanneer mens glo in God dat die wêreld vir jou verstand begin sin maak.

Daarom maak ek ‘n saak daarvoor uit dat geloof nie maar net ‘n persoonlike gevoel of opinie is nie, maar dat dit, en daarmee saam die Christelike godsdiens, ‘n redelike basis het. Dis redelik om te glo soos wat Christene glo, dit maak sin om die lewe te benader met geloof in God. Die Bybelse basis vir hierdie standpunt word in die tweede aflewering beredeneer. 

 

Outeur: Prof Hermie van Zyl

 




TBN TV – Vraag

TBN TV – Vraag

Marguerite van Niekerk vra:

Die TBN TV kanaal (op DSTV) het my baie verwar en onseker laat voel. Moet ek as kind van God daarna kyk? Is dit nie teenstrydig met die Woord van God nie? Baie dankie vir die diens. Ek dink mense het regtig n behoefte daaraan.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die vraag raak ʼn baie wyer probleem aan as net die TBN kanaal. ʼn Kanaal kan nie regtig teenstrydig met die Woord van God wees nie, maar wel die materiaal wat op ʼn TV kanaal aangebied word. Kom ons neem ʼn voorbeeld: om te gaan fliek is nie teen die Woord van God nie, maar as ʼn mens ʼn fliek gaan kyk wat godslasterlik is of wat jou in jou geestelike lewe of gemoed afbreek, sou ʼn mens weer moet dink. Die Here wil nie hê dat sy  kinders moet seerkry nie. Dit gaan dus hier veral oor wat iets aan ʼn mens self doen – bou dit jou op of breek dit jou af.

Daar is dus twee dinge wat duidelik hier ʼn rol speel.

  •          ʼn Ding kan eenvoudig teen God wil wees, omdat dit verkeerd is en ʼn mens weet dit, onder andere uit God se Woord. Dan moet ʼn mens dit nie doen nie.

ʼn Ding, soos ʼn televisieprogram, ʼn gesprek, ʼn tydskrif, selfs ʼn hangertjie of armband, mag my nie opbou nie. Dit pla my en ek voel nie lekker om dit te kyk nie – my gewete pla my daarna. Dan moet jy dit liewer nie doen nie – waarom wil jy as dit jou nie opbou nie. Vir ander Christene mag dit miskien nie pla nie, maar dit is nie jou saak nie. Jy kan wel jou standpunt in ʼn gesprek stel, maar jy hoef nie jou opinie op ander af te dwing nie. Dus: as dit jou pla, moet dit nie doen nie en dan hoef jy ook nie sleg te voel daaroor nie. Lees gerus Romeine 14:1-9Die Boodskap vertaal dit veral mooi:

“…n Christen wie se geloof sterk is, het nie ʼn probleem om verskillende soorte kos te eet nie. Maar ʼn Christen wie se geloof nog nie so groot is nie, sal weier om kos te eet wat deur die Jode as onrein beskou word, of kos wat deur ongelowiges aan hulle afgode gewy is. Nou moet hierdie gelowiges egter nie die fout maak om mekaar te veroordeel oor wat hulle eet, of oor wat hulle nie eet nie, want God het plek vir albei van hulle… mense wat in God glo, al doen hulle dit op ʼn ander manier as jy, sal gered word. Die Here sal daarvoor sorg.

Daar is mense wat sê dat sekere dae heiliger as ander dae is. En daar is mense wat sê dat alle dae presies dieselfde is. Geen dag is vir hulle heiliger as ʼn ander dag nie. Elkeen moet in hierdie geval maar self besluit wat reg is. Wat wel belangrik is, is dat albei van hulle God se eer voorop sal stel. Wat ek bedoel, is dit: as jy besluit om een dag heiliger as ʼn ander dag te hou, doen dit dan tot eer van God. As jy besluit om alle kos te eet, doen dit tot eer van God. Sê vir Hom dankie daarvoor. As jy egter besluit om sekere soorte kos nie te eet nie omdat dit met jou geloofsbeskouinge bots, doen dit ook tot eer van God. Sê dan vir God dankie vir daardie kos wat jy wel eet. Onthou, nie een van ons leef of sterf vir onsself nie. Nee, ons almal staan in voltydse diens van die Here. Daarom moet ons voluit vir Hom leef en doodgaan. Letterlik alles wat ons doen, moet tot eer van die Here gedoen word, want ons behoort aan Hom, geheel en al“.

  •          Marguerite, jou gesindheid waarmee ʼn mens dinge doen, is sentraal belangrik in alles wat ʼn Christen doen. Lees wat sê Paulus in Kolossense 3:17 (Die Boodskap):

Jesus moet uit julle hele lewe straal. Of julle praat of iets anders doen, Jesus moet daarin gesien kan word. Julle lewe moet een groot dankie vir God wees. En dit kan alleen so wees as julle alles doen asof Jesus elke tree saam met julle gee.

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Bybelvertalings – Vraag

Bybelvertalings

Vraag:

Daar is so baie verskillende weergawes/vertalings van die Bybel. Watter weergawe/vertaling is die regte een? Ek het gehoor ‘n mens moet versigtig wees watter een jy lees? Mag hierdie webtuiste GROOT EER vir die Here wees, dat Christene, en alle mense meer en meer van die Here sal leer. Vriendelike groete.

Prof Jan van der Watt antwoord:

Vertaling beteken om dit wat in een taal staan in ‘n ander taal om te skakel. Daar is natuurlik verskillende maniere waarop ‘n mens dit kan doen. Dit kan as ‘n lang lyn voorgestel word met twee uiterstes: Aan die een kant is daar die ‘letterlike vertaling’ en aan die ander einde die ‘vrye vertaling’.

  • Letterlike vertaling beteken dat ʼn mens eenvoudig die woorde uit die een (oorspronklike) taal met woorde uit die ander taal vervang. Die 1933 (ou) Afrikaanse vertaling is hoofsaaklik so gedoen.
  • Met vrye vertaling word daar heeltemal op die boodskap gekonsentreer. Soms word dit ook ʼn parafrase genoem. Daar word gevra wat die oorspronklike skrywer aan sy mense wou sê. As die vertaler dit vasgestel het, word daar gevra hoe ʼn mens dieselfde boodskap in goeie Afrikaans aan vandag se mense kan oordra – natuurlik met vandag se taal en uitdrukkings. As daar uitdrukkings in die oorspronklike taal gebruik word wat nie vir die moderne lesers bekend is nie, kan selfs ʼn verduidelikende woord of wat bygesit word. Dit gaan immers daaroor dat die hedendaagse leser dieselfde boodskap as die oorspronklike lesers moet hoor. Die Boodskap en Die Nuwe Testament vir Kinders  is byvoorbeeld sulke vertalings.
  • Daar is ook vertalings wat dinamies-ekwivalent genoem word. Die 1983 Afrikaanse vertaling probeer so vertaal. Dit beteken dat hulle probeer om waar moontlik letterlik te vertaal, maar as dit nie goeie sin maak of die betekenis goed weergee nie, dan word die vertaling aangepas en meer “dinamies” gemaak. Dit is dus ʼn manier van vertaal wat tussen die 1933/53 vertaling en die Boodskap lê. Die Nuwe Lewende Vertaling lê ook in die tegniek redelik naby aan die dinamies-ekwivalente manier van vertaal, hoewel daar soms vryer vertaal word.

Nou die vraag: watter vertaling moet ʼn mens lees? In Afrikaans kan ʼn mens al die vertalings langs mekaar lees – elkeen help hou om iets meer te verstaan. As jy belangstel in hoe die Grieks oorspronklik gelyk het, moet jy die letterlike vertaling (1933) lees. As jy meer belangstel in wat die boodskap van die Bybel is, moet jy die Boodskap lees 

 

Outeur: Prof Jan van der Watt