Inspirasie deur die Heilige Gees.

Inspirasie deur die Heilige Gees. – Herman Grobler

Ons twyfel geensins daaraan dat die skrywers van die Nuwe Testament deur die Heilige Gees geïnspireer is nie.  Die vraag is hoe ons dit moet verstaan.

Volgens Joh.14:26 kom die Heilige Gees die apostels alles leer en herinner aan Jesus se woorde en in Joh.16:13 dat Hy hulle in die volle waarheid sal lei. In Luk. 24:45 open Jesus die verstand van die dissipels om die skrif te verstaan. Paulus skryf in 2 Tim. 2:7 dat dit die Seun van God is wat ons verstand gegee het om die ware God te ken. So het die Heilige Gees aan die skrywers van die Nuwe Testament die insig gegee om die Ou Testament te verduidelik en toe te pas in die lig van Christus se dood en opstanding. Wanneer Paulus raad gee oor die huwelik, sluit hy dit af met die opmerking in 1 Kor. 7:40 “…en ek meen dat ek ook die Gees van God het.”

Oor die betrokkenheid van die Heilige Gees in die lewe en werk van die apostels, is daar geen twyfel nie. Kom ons egter by skryf van die Nuwe Testament self, bestaan daar twee standpunte.

Die een siening is dat die Heilige Gees woord vir woord gedikteer het, en dat die Bybelskrywers soos ‘n tikmasjien net die woorde neergeskryf het. Dit word die meganiese inspirasieleer genoem. Dit sou beteken dat die skrywers van die Nuwe Testament self geen aandeel in die bewoording van die tekste gehad het nie. Dit sou ook beteken dat letterlik elke woord van die Heilige Gees afkomstig moes wees. Verder sou dit daarop neerkom dat die Bybelskrywers gereduseer word tot willose skryfmasjiene. ‘n Woord-vir-woord inspirasie-benadering slaag nie daarin om die uniekheid van elke skrywer se werk te verklaar nie. Die uiteinde van hierdie benadering sou beteken dat ons elke woord van die oorspronklike geskrif (outografie) moet vasstel om seker te wees van wat God ons wou meedeel.

Die ander benadering is die organiese inspirasieleer. Hiervolgens het die Heilige Gees van binne in die skrywers se eie gees, gemoed en verstand gewerk, en hulle só geïnspireer om neer te skryf wat God wil hê ons moet lees. Dit verklaar waarom die skrywers se eie taalvoorkeure, eie gawes, talente en skryfstyl in hul geskrifte duidelik sigbaar is. God het in Sy alwysheid besluit om die mens in te skakel in Sy hele verlossingsplan en selfs die bekendmaak van Sy wil. Van die begin af was Hy bewus van die mens se feilbaarheid en foute. Van die begin af het Hy die mens toegelaat om, ten spyte van foute deel te wees van die bekendmaak van Sy wil. Hoe ook al, ons aanvaar die Nuwe Testament sonder enige twyfel as Woord van God, gelyk in gesag met die Ou Testament.

In die oorskryf van die oorspronklike geskrifte het God ook die mens met foute en al ingeskakel. Ook hierin het die Heilige Gees steeds gewaak oor sy Woord. Daarom is daar, ten spyte van letterlik duisende verskilletjies, geen twyfel aan die wil van God self nie. Ook in die oorskryf het daar foute ontstaan, maar God het genoeg manuskripte vir ons laat bewaar sodat ons vandag genoeg materiaal het om die oorspronklike woorde te kan bepaal. Ons hoor die Wil van God ten spyte van menslike oordragfoute, soos ‘n Predikant wat homself verspreek. Die Gees van God laat Hom nie bind deur die menslike foute nie – selfs nie in die hele ketting van neerskryf, kopieer en vertaal van die Woord nie.

Kenners van die Bybelgeskrifte wys vir ons daarop dat die verskillende manuskripte tot ons beskikking, soms verskil. Ons sien hierdie verskille ook in die verskillende uitgawes van die Bybel in Afrikaans. Daar is mense wat hierdie verskille wil misbruik om ons aan die egtheid van die Bybel te laat twyfel. En tog is daar geen antieke geskrif wat deur meer of beter bewyse gestaaf word, as juis die Nuwe Testament nie. Wanneer ons eerlik en objektief na die ontstaan van die Nuwe Testament kyk, vind ons logiese antwoorde wat die meeste van ons twyfel en kommer beantwoord. As ons al die aspekte in ag neem, kan ons makliker verstaan hoekom daar verskille ontstaan het. Dit help ons om die verskille te evalueer. Só kan ons met feitlik totale sekerheid, elke woord van die oorspronklike geskrif bepaal.

In ons uitdaging om die oorspronklike teks so getrou moontlik te herkonstrueer, moet ons met ‘n oop gemoed alle moontlikhede ondersoek. Daarby moet ons ook die werklikheid van hoe die eerste lesers en kopieerders die geskrifte van die Nuwe Testament gesien het, in ag neem. Die rol van die Heilige Gees as Inspirator moet ook in ag geneem word. Ook in die evaluering van die verskille is die Heilige Gees steeds betrokke. God waak oor Sy Woord. Ook in die vertaal daarvan in ons moderne tyd en moderne tale. Niemand hoef ooit te twyfel aan wat God self aan ons bekend wil maak nie.

 

Skrywer: Herman Grobler

 




Wanneer moet ons in die Ou Testament met hoofletters aandui dat ‘n profesie ook na Jesus verwys?

Wanneer moet ons in die Ou Testament met hoofletters aandui dat ‘n profesie ook na Jesus verwys? – Herman Grobler

Vir baie van ons is hierdie ‘n sensitiewe saak, maar watter implikasies kan dit inhou? Hoe moet ons daaroor oordeel?

Wanneer ons in die Ou Testament met Skrifgedeeltes te doen het wat in Christus vervul word, is daar ‘n belangrike oorweging wat in ag geneem moet word. Die Ou Testament bestaan uit boeke wat in die eerste plek in sy tyd ‘n rol en vervulling gehad het. Ek verkies om daarna te verwys as die grondvlak waarop dit staan. In Jesaja 7:10-13 het ons ‘n duidelike gesprek tussen Jesaja en koning Agas waarin die Here vir Agas opdrag gee en as’t ware uitdaag om ‘n teken te vra wat die oorwinning oor die Arameërs sou bevestig. God het dit immers belowe! Wanneer Agas nie die moed het om ‘n teken te vra nie, gee die Here self aan hom ‘n teken, in vers 14-16. Die teken is dat ‘n jong vrou wat nog nooit gebaar het nie, haar eerste seuntjie sal hê. Die profesie was dat Aram en Efraim vernietig sou word nog voordat hierdie seuntjie groot genoeg is om tussen goed en kwaad te onderskei. Wie presies hierdie seuntjie was, weet ons nie met sekerheid nie, maar dit was ‘n werklike gewone seuntjie wat gebore is, groot geword het en gesterwe het. Voordat hy so vyf of ses was, het die Here die Arameërs verslaan en is hierdie belofte vervul. As dit nie destyds gebeur het nie, het die Here mos deur Jesaja aan Agas ‘n valse belofte gegee.

Vanuit die Nuwe Testament kom iets anders na vore. Matteus haal hierdie selfde teken aan as ‘n profesie wat hy op Jesus se geboorte toepas. Dit is die dieper vlak van die oorspronklike profesie wat aan Agas gegee is. Matteus wys daarop dat ‘n jongvrou wat nog nooit omgang met ‘n man gehad het nie, ‘n kind sal hê. Die lewe wat in haar verwek word, is uit die Heilige Gees. Hy is ons Verlosser, Jesus die Seun van God.

Die vraag is nou hoe ons die Ou Testament moet sien en vertaal. Hierdie profesie is immers op ‘n dieper vlak in Jesus vervul. Moet ons dit nét as ‘n profesie oor Jesus sien? Of moet die profesie in Jesaja steeds sy oorspronklike historiese betekenis behou? Dit was tog ‘n direkte belofte wat werklik in Agas se tyd vervul is. Indien ons die woorde wat na die seuntjie verwys, in Jesaja met hoofletters skryf, skakel ons óf daardie seuntjie en belofte uit, óf maak ons van hóm een of ander Goddelike wese, wat tog nie kan nie.

Moet ons alle verwysings in die Ou Testament wat óók na Jesus verwys, of profesieë wat op ‘n dieper vlak óók in Jesus vervul word, met hoofletters skryf?

Wat sou jy doen as dit jou taak was om die nuwe Bybel te vertaal?

 

Skrywer: Herman Grobler

 




Hoofletters wanneer na Jesus verwys word,of nie?

Hoofletters wanneer na Jesus verwys word,of nie? – Herman Grobler

Wanneer ‘n Bybelvertaler besig is om die Bybel te vertaal, word hy telkens gekonfronteer met vrae wat op die oog af maklik vanuit ons gevoel beantwoord kan word. Maar wanneer ons ‘n bietjie dieper dink is dit nie so eenvoudig nie. Wanneer moet hy hoofletters gebruik, en wanneer nie?

Om hierdie vraag te antwoord moet ons die beginsel daaragter verstaan. Ek verduidelik dit met ‘n kontemporêre voorbeeld:

‘n Joernalis voer ‘n gesprek met iemand wat hy nie ken nie. Hier is wat gebeur het:

Eers ‘n ent in die gesprek in, besef die joernalis dat hy met ‘n predikant praat. “Ekskuus, dominee, ek het nie besef u is ‘n dominee nie, en ek het u sommer ‘gejy’ en ‘gejou’! Vergewe my asseblief.”

As ‘n verslaggewer nou ‘n berig oor hierdie gesprek moes voorberei, moet hy skryf: “Die joernalis vra die dominee toe: ‘meneer, waar het jy toe jou opleiding ontvang?’” Of moet die verslaggewer skryf: “Die joernalis vra die dominee toe: ‘Dominee, waar het u toe u opleiding ontvang?’”

Moet die verslaggewer die woorde van die joernalis aan die dominee by latere kennis terugskouend aanpas, of by die direkte werklike woorde bly wat gebruik was? Dit is die kern van ‘n belangrike probleem by die verstaan en vertaal van die Bybel.

Moet die vertaler die direkte woorde wat iemand sou gebruik het, aanpas omdat ons vandag besef met wie of van wie gepraat is?

Kyk na die vrou by die put. Aan die begin kon sy nie besef het wie Jesus was nie. Daarom sou sy Hom “gemeneer”, en “gejy” en “gejou” het. Maar terugskouend weet òns Wie dit is met Wie sy gepraat het! Moet ons haar woorde aanpas, of by die woorde bly wat sy werklik sou gebruik het?

Die Griekse woord “Hoe sou jy dit vertaal het?

 

Skrywer: Herman Grobler

 




Verskille in die Bybel

Verskille in die Bybel – Herman Grobler

Daar is ook verse wat op die oog af lyk of die tweede deel daarvan nie neergeskryf is nie, of dat dit dalk per ongeluk weggeval het. Vind mens dan ‘n paar verse verder ‘n stelling wat in sekere opsigte met hierdie “halwe stelling” ooreenstem, kan dit maklik gebeur dat iemand kon besluit om die “halwe stelling” aan te vul en so te “korregeer”. Is dit wat moontlik in die eerste vers van Galasiërs drie gebeur het?

Die sinsnede in donker kom nie in moderne vertalings voor nie:

1933/53 Ou Afrikaanse Vertaling: “O, onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig?

1983 Nuwe Afrikaanse Vertaling: “Julle Galasiërs, is julle dan so sonder begrip? Wie het julle verstand benewel? Jesus Christus is so duidelik aan julle verkondig dat julle Hom as’t ware aan die kruis kon sien hang!

Hierdie variasie is nie deur moderne vertalers van die Bybel geskep nie. Dit bestaan reeds eeue lank. Maar elke Bybelvertaler moet met erns probeer vasstel wat God oorspronklik deur Paulus laat neerskryf het. Kom ons ondersoek hierdie verskil tussen ouer en moderne vertalings en probeer verklaar hoe hierdie verskil kon ontstaan het. Dan het ons grond onder ons voete wanneer ons kies watter weergawe ons aanvaar.

Met nugtere denke gebruik ons die volgende drie objektiewe kriteria.

1. Eksterne getuienis:

Eerste kyk ons na die manuskripte self.

Die Latynse 1592-Vulgaat wat tot vandag toe die amptelike Rooms Katolieke Teks is, het ook hierdie weergawe. Een Siriese vertaling (616 n.C.) en sekere manuskripte van Hieronymus (†420 n.C.) het ook hierdie weergawe.

Voor die jaar 800 n.C. het ons dus net een Griekse manuskrip met hierdie sinsnede in, terwyl vier daar sonder is. Die weergawe sonder die sinsnede word ook sterk deur die antieke vertalings ondersteun.

2. Interne gegewens.

Die oorspronklike weergawe sou dus eerder die een sonder die sinsnede in hoofstuk drie wees.

3. Intrinsieke gegewens.

Die derde kriterium wat ons gebruik is om na die konteks te kyk.

Aan die begin van Galasiërs drie hanteer Paulus die vraag of die Galasiërs die Heilige Gees ontvang het deur die wet te gehoorsaam, of deur Jesus te glo wat so duidelik aan hulle verkondig is dat hulle Hom as’t ware aan die kruis kon sien hang. Hy vra die Galasiërs wie dan hulle verstand benewel of betower het. Hulle was seker van die waarheid maar nou is hulle in die war! Hierdie sinsnede pas pragtig binne hierdie konteks.

In hoofstuk vyf verse een tot ses stel Paulus ook die ou bedeling van die wet en besnydenis teenoor die nuwe bedeling van vryheid en juis nie besnydenis nie. Hy maan die Galasiërs baie sterk daarteen dat hulle nie vanuit “geloof en liefde” hulle weer onder die “juk van diensbaarheid” te laat bring nie. Dan volg vers sewe: “Julle het goed geloop: wie het julle verhinder om die waarheid gehoorsaam te wees?” Hier pas die oproep om die waarheid gehoorsaam te wees inderdaad omdat hier ook ‘n direkte teenstelling ter sprake is.

In albei hierdie dele pas hierdie stelling soos ‘n handskoen. Die intrinsieke gegewens help ons dus nie om ‘n keuse te maak nie.

Gevolgtrekking:

Die meeste ou Griekse manuskripte asook die meeste antieke vertalings het nie hierdie sinsnede in hoofstuk drie nie. Dis ook ondenkbaar dat enige kopieerder hierdie sinsnede doelbewus daar uit sou verwyder. Dis ook baie aanvaarbaar dat iemand doelbewus hierdie sinsnede vanuit hoofstuk vyf hier kon inplaas.

Volgens hierdie feite, wat is u mening? Watter weergawe sou ooreenstem met wat God oorspronklik laat neerskryf het?

 

Skrywer: Herman Grobler