“Weer gebore” of “van Bo gebore”?

“Weer gebore” of “van Bo gebore”? – Herman Grobler

Ons het verlede week na die drie hoofredes gekyk waarom Bybelvertalings van mekaar verskil. Kom ons kyk na ‘n spesifieke geval waar die verskil nie baie opsigtelik is nie, maar tog van belang.

 

 

Somtyds het ‘n woord meer as een betekenis-klemtoon. In Johannes 3:3 sê Jesus dat iemand wat nie aan ‘n bepaalde voorwaarde voldoen nie, nie die Koninkryk van God sal “sien” nie. Jesus bedoel dit natuurlik nie visueel nie, maar dat so iemand nie sal “ingaan” nie. In Afrikaans dra die woord “sien” hier ook die selfde betekenis as in Grieks. Ons verstaan presies dieselfde as wat die eerste lesers in die Grieks sou verstaan het.

Maar dit is nie altyd die geval nie. Die voorwaarde waaraan ‘n mens moet voldoen, is juis so ‘n geval. Die Griekse woord “anōthen” wat daar gebruik word, dra twee klemtone wat nie in Afrikaans met een woord herhaal kan word nie. Dit kan verstaan word as: “Weer gebore” of “van Bo gebore”. In so ‘n geval is die vertaler genoodsaak om ‘n keuse te maak.

Wat het Jesus bedoel? Moet ‘n mens “weer gebore” word, of “van Bo gebore” word om die Koninkryk van God binne te gaan?

 

Ons kyk eers na die manier wat sommige Afrikaanse vertalings Joh. 3:3 vertaal:

 

1933/53 Ou Afrikaanse Vertaling: Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.

 

1983 Nuwe Afrikaanse Vertaling: Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”

 

Die Bybel vir almal: “…weer gebore…”

 

NLV: “…Ek verseker jou, as iemand nie van bo gebore word nie…”

 

Interliniêr: “Amen, amen, Ek sê vir jou: as iemand nie van bo gebore word nie…”

 

Die Boodskap: “…nog ‘n keer gebore…”

 

Die eerste gebruik van die woord “anōthen” het met posisie te doen. Dit dra dan die betekenis “van bo af”, wat eintlik na die Hemelse verwys. Dit bring ‘n vertikale rigting van bo na onder mee.

Joh. 3:31: “Hy wat van bo kom, is bo almal;

Joh. 19:11: “U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie.”

Jak.1:17: “Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer

Jak. 3:15: “Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie

Jak. 3:17: “Maar die wysheid van bo is ten eerste rein,”

Dit kan ook net “van die bokant af” beteken.

Mat. 27:51 en Mark. 15:38: “En die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur van bo tot onder.

Joh. 19:23: “…maar die onderkleed was sonder naat, van bo af in een stuk gewewe.

 

Die tweede gebruik van “anōthen” het met tyd te doen. Dit dui die verband met ‘n vroeër toestand of gebeurtenis aan, en dui ‘n horisontale beweging in tyd, van toe tot nou aan.

Luk. 1:3: “… nadat ek van voor af alles noukeurig ondersoek het,”

Hand. 26:5: “…omdat hulle my van dié tyd af geken het,”

Gal. 4:9: “…hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien?

 

Die vraag voor ons is om te bepaal of  “anōthen” in Joh. 3:3 en vers 7 verstaan moet word in verhouding tot posisie, of tyd.

Grammatikaal kan dit verwys na posisie, met die gevolg dat dit ‘n vertikale beweging van Bo, of van God af na onder, na die sondaar sou aandui.

Maar net so wel kan dit verwys na ‘n vroeëre gebeurtenis, nl. die menslike geboorte. Dit sou dan verstaan word as ‘n horisontale beweging in tyd, van die natuurlike geboorte na die geestelike geboorte van die sondaar in die huidige tyd.

Albei moontlikhede sal ‘n legitieme vertaling van  “anōthen” verteenwoordig.

Gevolglik moet ons uit die konteks probeer vasstel watter die beste vertaling sou wees.

 

In sy gesprek met Nikodemus kom Jesus onmiddelik by die kern uit nl. die sien of ingaan in die Koninkryk van God, en stel dit dat ‘n totale nuwe entiteit geskep moet word. Dit beskryf Hy na analogie van die geboorte.

Nikodemus het onmiddelik verstaan dat Jesus na die natuurlike geboorte verwys, vandaar sy verwysing na die onmoontlikheid vir ‘n volwasse man om weer die moederskoot binne te gaan. Soos Nikodemus dit verstaan het, lyk dit of “anōthen” eerder in terme van tyd verstaan moet word. Gevolglik sou “weer gebore” die beste in vers 3 pas.

Hierop antwoord Jesus dat ‘n mens uit “water en gees” gebore moet word, want “Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.” In vers 7 is dit duidelik dat Jesus na die geestelike geboorte verwys, en sou “anōthen” eerder na posisie verwys. Hier sou “van Bo gebore” beter pas.

Maar dit sou nie logiese sin maak indien die vertaler in vers 3 “anōthen” in sy tydsbetekenis “weer gebore”vertaal, en dieselfde woord enkele verse verder, in vers 7, in sy ruimtelike betekenis “van Bo gebore” vertaal nie. Die vertaler is genoodsaak om ‘n keuse te maak!

 

‘n Christen moet van God gebore wees. Word dit die beste beskryf as “weer gebore” of as “van Bo gebore”?

 

Indien dit jou taak was om hierdie deel te vertaal, wat sou jou keuse wees?

 

Skrywer: Herman Grobler

 




Waarom Bybels verskil

Waarom Bybels verskil – Herman Grobler

Vir mense vanuit die Gereformeerde tradisie is die “Sola Scriptura”, alleenlik die Skrif, ‘n beginsel van groot belang. Die volle Woord, niks bygevoeg nie, maar ook niks weggelaat nie!

Wanneer ons egter na die Bybel kyk, sien ons soms ingrypende verskille tussen ouer vertalings van die Bybelgenootskap, soos die 1933/53 Ou Afrikaanse Vertaling, teenoor moderne vertalings soos die 1983 Nuwe Afrikaanse Vertaling en die Bybel vir Almal. Ons kan dieselfde verwag met die komende 2016 Die Bybel: ‘n direkte vertaling (BDV).

Onafhanklike vertalings soos die Nuwe Lewende Vertaling, die Interliniêre Bybel en die Boodskap toon dieselfde tendens. Meeste van hierdie verskille kom ook in ander tale voor. Die Bybelvertalers self is hoog bekwame en edel kinders van die Here. Daarom is die verskille nie toevallig nie, maar het ‘n logiese verklaring.

In hierdie reeks artikels gaan ons kyk hoe hierdie verskille in die Nuwe Testament kon ontstaan het, en hoe ons die bewoording van die oorspronklike manuskripte kan vasstel. Ek het reeds sowat 100 verskille intensief bestudeer. Na my opinie kan ons die oorsake onder die volgende kategorieë indeel:

1. Taalontwikkeling. Die 1933-Ou Afrikaanse Vertaling is ‘n skamele 5 jaar na die erkenning van Afrikaans gepubliseer. Daarin word sekere woorde gebruik wat ons nie in die algemene spreektaal gebruik nie. Vir mense wat gereeld die Ou Vertaling gebruik, klink dit bekend maar oor die presiese betekenis is daar onsekerheid. Het jy al ooit “goedertierenheid” in ‘n gewone gesprek gebruik, of iemand anders dit hoor gebruik? Wat sou dit beteken? Uit die 154 verse in die Ou Afrikaanse Vertaling waar dit voorkom, haal ek Ps.5:7 aan: “Maar ek, deur die grootheid van u goedertierenheid mag ek in u huis ingaan…” Die 1983 vertaling het dit vertaal met “groot liefde”. Op ander plekke vind ons in plaas van “goedertierenheid”, troue liefde, My trou, getrouheid, goedheid en so meer.

In ander gevalle het die Ou Vertaling sinsnedes wat vir my onverstaanbaar is. Kyk na die donker gedeelte in 2 Kor.2:17: “Want ons is nie soos baie wat handel dryf met die woord van God nie; maar as opregtheid, maar as uit God, in die teenwoordigheid van God, spreek ons in Christus.” Ek verstaan hierdie sin werklik nie. God wil tog ondubbelsinnig met ons kommunikeer, sonder dat ons hoef te twyfel oor wat Hy bedoel, of iemand hoef by te roep om dit vir ons te kom verduidelik, nie waar nie?

2. Vertalingsbenadering. Omdat tale verskil, en grammatika nie dieselfde is nie, is ‘n absoluut woord vir woord vertaling onmoontlik. Kyk gerus in die Interliniêre Bybel na Joh. 3:16 en mens besef dat ‘n woord vir woord vertaling onverstaanbaar is. Ek haal aan: “So want Hy het liefgehad die God die wêreld…”. Aan die ander kant het woorde ook nie altyd dieselfde betekenis inhoud nie. So sal woorde soos priester, predikant, dominee, pastoor en leraar nie in alle gevalle met dieselfde woord in Engels gebruik kan word nie. Daar is dikwels ‘n mate van beskrywing nodig. Alle vertalings moet gevolglik op ‘n lyn tussen ‘n direkte woord-vir-woord vertaling en ‘n vrye vertaling of parafrase geplaas word. Die 1983-vertaling benut die “dinamies ekwivalente” benadering waar eerder gedagte vir gedagte vertaal word. In Openbaring 2-3 word die briewe aan die sewe gemeentes elk aan die “angellos” van die gemeente gerig. Die bedoeling in Openbaring is duidelik nie ‘n hemelse wese wat daagliks in God se teenwoordigheid kom nie, maar die menslike voorganger of leier van die gemeente. Daarom vertaal die 1983 eerder met “leraar” as die direkte vertaling “engel”.

3. Die Griekse Bronteks. Die Bybelvertaler moet besluit watter Griekse teks hy sal gebruik om as basis te dien vir sy aanbieding van wat God laat neerskryf het. Soos in alle handgeskrewe kopieë bestaan daar letterlik duisende variasies van die Griekse tekste. Hoewel die kopieerders deur die eeue met groot versigtigheid hul kopieë gemaak het, het foute en variasies soms onbewus, maar soms doelbewus ontstaan. Sulke variasies word noodwendig in opvolgende manuskripte oorgedra.
Toe Desiderius Erasmus in 1516 die eerste gedrukte Griekse Nuwe Testament saamgestel en uitgegee het, kon hy slegs ses Laat Middeleeuse manuskripte in die hande kry. Drie wat die evangelies en Handelinge bevat het, vier met die briewe en slegs een onvolledige manuskrip vir Openbaring. Hy moes na goeddunke tussen die variasies kies en het selfs ‘n hele paar eie veranderinge aangebring wat in geen manuskrip hoegenaamd voorkom nie. Waar sy manuskrip op Openbaring onvolledig was, het hy uit die Latynse Vulgaat sy eie Griekse vertaling gemaak en selfs ‘n woord geskep wat nie in Grieks bestaan nie! Kort na die publisering van Erasmus se teks, is uitgewys dat dit talle foute en tekortkominge bevat, maar die voordeel van ‘n beskikbare teks teen bekostigbare prys het dit laat voortstu. ‘n Halwe eier is immers beter as ‘n leë dop! Sy gedrukte teks is later die Textus Receptus of “ontvangde teks” genoem. Vanweë die gerief van hierdie gedrukte Nuwe Testament, is dit algemeen vir vertalings gebruik. Ook ons 1933/53 Ou Afrikaanse Vertaling het dit as grondteks gebruik.

Tans gebruik Bybelgenootskappe en meeste ander vertalers van die Nuwe Testament eerder die Nestle Aland Teks, of die United Bible Societies se teks. Hierdie tekste neem die ongeveer 5894 Griekse manuskripte in ag, asook meer as 18000 antieke vertalings en die aanhalings van meer as 200 ou kerkvaders. Die variasies word by elke vers onder aan die bladsy in hul tekskritiese apparaat geplaas sodat die vertaler ‘n oorsig het oor al die manuskripte tot ons beskikking. Nou is hy nie uitgelewer aan die lukraak keuse van iemand wat net insig in enkele manuskripte gehad het nie. Die gebruik van ‘n ander grondteks is die oorsaak vir die meeste ingrypende en ernstige verskille tussen ouer en moderne vertalings.

Om ‘n finale keuse tussen die variasies te maak, is ‘n uiters verantwoordelike maar ook delikate uitdaging. Ons wil immers by “Sola Scriptura” uitkom! Ons wil immers vasstel watter van die variasies die grootste moontlikheid bied om die oorspronklike bewoording van die Nuwe Testament te verteenwoordig.

In hierdie reeks gaan ons kyk na die variasies en die gronde waarop ‘n keuse gemaak word. Ek nooi lesers van hierdie blog uit om vrae en teksverse wat hulle hanteer wil hê, aan my deur te gee sodat ek die feite op die tafel kan plaas.
Dan is ons nie uitgelewer aan die propaganda vir die een of ander vertaling nie.
Kom ons vat hande en bestudeer die feite objektief.

Sola Scriptura! Soli Deo Gloria!

 

Skrywer: Herman Grobler




“GROEN”-TEOLOGIESE PERSPEKTIEWE IN DIE BYBEL?

“GROEN”-TEOLOGIESE PERSPEKTIEWE IN DIE BYBEL? – Kobus Kok

1. Inleiding

Deesdae is alles groen! Ons is op soek na groen motors, groen geboue, groen gasstowe, groen swembaddens en selfs groen boeke – boeke wat uit herwinde papier gemaak is. Ek weet van ʼn sekere uitgewer wat net herwinde papier benut. Nou die dag het ek en my vrou vir ons seuntjie “groen” klere gekoop by ʼn winkel wat daarop aanspraak maak dat dit herwinde en natuurlike materiaal gebruik.

 

Die vraag is of ons enige iets uit die Bybel kan leer oor “Groen” wees? Die ander vraag is hoe mens te werk gaan om so ʼn “Groen” perspektief te ontgin? Dit is ʼn belangrike vraag, omdat die Bybelse wêreld en ons wêreld nie net kultureel nie, maar ook histories, in terme van tyd, duisende jare verwyder van mekaar is. Ons hedendaagse probleme was nie eers op hulle radar nie.

Hierdie artikel is vir diegene geskryf wat meer “akademies” na die saak wil kyk en gee so bietjie meer diepte perspektiewe as gewoonlik. Dit doen ook as ʼn leerervaring sodat u kan sien hoe ons tipies so ʼn vraag sal benader. Dikwels kry u net die punt van die ysberg, en los ons die “kombuiswerk” by die huis. Vandag wil ek so bietjie vir u wys hoe die “kombuiswerk” lyk wat die “gebakte koek” voorafgaan.  

 

1. 1. Uit die aard van die saak was die ekologiese krisis nie op die radar van die vroeë “Christelike” beweging nie. Soos ons almal weet beteken dit egter nie dat die huidige sensitiwiteit vir die herstel van die aarde, nie raakvlakke het met dit wat ons reeds in die Nuwe Testament of vroeë kerklike literatuur vind nie. Dit hang net af hoe gesofistikeerd mens se hermeneutiese raamwerk (verstaansraamwerk) en metodologie is. Persoonlik dink ek dat Edward Schillebeeckx se “kritiese korrelasie” metode ons hermeneuties die beste met die betrokke vraag kan help. Sy kritiese korrelasie metode trek die verband tussen “toe” (verede) en “vandag” (hede) deur altwee deur die lens van die ander in kritiese dialoog met mekaar in verband te bring.

 

In die Nuwe Testamentiese wetenskaplike veld het geleerdes (bv David Horrell [sien hier onder]) die laaste paar jaar uit die aard van die saak vinnig begin om oor die ekologiese krisis te besin. Daar is basies twee perspektiewe: Daardie geleerdes wat meen dat dit heeltemal anachronisties (ongetrou aan die antieke tyd) is om enigsins die vraag oor die ekologie aan die Bybelse teks te vra; en ander wat meen dat dit wel implisiet en selfs eksplisiet in die Bybelse tekste na vore kom. Myns insiens het die Bybel baie implisiete perspektiewe wat ons kan help om ʼn “Groen” teologie te ontwikkel, in pas met die derde millennium. Die teks wat die sterkste gebruik kan word in die projek is Kolossense 1:15-20vv wat hier onder bespreek word, in gesprek met Romeine 8 en selfs Johannes se evangelie, soos ek hier onder breedvoerig sal verduidelik.

 

2. Definisie/woordgebruik

Waar om te begin? Wel, ons kan by ʼn basiese woord of definisie begin, soos die Griekse woord oikodomê. Die assosiatiewe, denotatiewe en konnotatiewe aspekte van die woord en die begrip kan natuurlik ook aangewend word om die “Sache” (Basiese saak) van “bou/konstrueer/rekonstrueer/selfs versorg” te ondersoek. Daar is dus baie implisiete konsepte wat assosiatief met die projek in verband staan en waarna mens kan kyk. Indien mens na die woord oikodome kyk in Band 5 van Kittel en Friedrich se Theological Dictionary of the New Testament, sien mens vinnig dat, en hoe die woord in Hellenistiese literatuur, Joodse literatuur (soos Philo), Bybels, Buite-Bybels en vroeë kerklike literatuur (aangeheg in addendum A1) voorkom. Ek heg ook Arendt et al se Teologiese woordeboek se resultate by in addendum A3.

 

Indien mens die semantiese betekenis van die begrip ondersoek, soos dit in Louw en Nida voorkom, kan die leksikale betekenismoontlikhede van die begrip, wat die assosiatiewe en konnotatiewe aspekte verdiskonteer, handig te pas kom. Ek heg dit ook aan as addendum A2. Hulle plaas die woorde οἰκοδομήc,ῆςf onder die semantiese sub-domein 74.15 wat resorteer met die semantiese domein 75 wat handel oor “to make able/capable” en ons dus as “bemagtiging” kan tipeer. Dit vorm die teenoorgestelde van “afbreek” en het die denotatiewe betekenis van “opbou” of “restoureer” of selfs “om te versterk” in plaas daarvan “om te verswak” (Kyk ook Louw en Nida 45.1).

 

Bogenoemde kontoere van die definisies en hulle implisiete semantiese betekenisse sal my lei tot die argument wat ek kortliks hier onder sal uitbou.  

 

3. Voorkoms van die woord en haar verbuigings in die nuwe testament

 groen1groen2

Vertalings van die woord sien soos volg daarna uit:groen3

4. Sommige interessante NT perspektiewe

4. 1. So vroeg as 1954 het Joseph Sittler al opgemerk dat dit nodig is dat ons ʼn “teologie vir die aarde” moet ontwikkel wat vanuit ʼn holistiese teologiese perspektief  die aarde kan sien as synde verweef met God se verlossende werk. In 1961 het dieselfde Sittler by die Wêreldraad van Kerke se byeenkoms Kolossense 1 geneem om die punt te maak dat die kosmiese Christologie, wat met die skeppingsaksie in verband staan, ʼn leerstellige basis skep van waaruit daar ʼn “teologie vir die aarde” geskep kan word. Myns insiens kan Kolossense 1:15-20 ʼn besondere rol speel in so ʼn teologie. Die teks is die bekende himne (lied) en dui aan dat Christus die beeld van die onsigbare God is, die eersgeborene van die ganse skepping. Interessant gaan die teks dan oor in ʼn verduidelikende of redegewende verklaring wat ingelei word deur die Griekse hoti (omdat) konstruksie. Die skrywer argumenteer deur middel van ʼn datief (in/deur) en akkusatief (vir) dat alles op die aarde en die hemel in en deur Christus geskep is. Verder word die werkwoord vir skep in ʼn passief uitgedruk, wat beteken dat ons hier met ʼn Goddelike passief te doen het. In ʼn aktiewe vorm van die Griekse werkwoord doen die subjek die aksie van die werkwoord. In die passief word iets van buite aan die subjek gedoen. In die geval is dit God wat die aarde in en deur Christus skep. Die aarde het dus die skepping “ontvang” en is nie die subjek wat die aksie van die skepping self doen nie. Dit maak die Skepping dus afhanklik van die een wat die aksie van die werkwoord doen, naamlik God, in en deur Jesus Christus. Verder word dit in ʼn perfektum vorm uitgedruk wat beteken dat dit ʼn aksie is wat plaasgevind het in die verlede maar steeds ʼn toestand/state of affairs skep wat geldig is in die hede (vgl. τὰ πάντα διʼ αὐτοῦ καὶ εἰς αὐτὸν ἔκτισται in 1:16). Die perfektum is een van die mooiste maniere om iets soos uitverkiesing uit te druk: die feit dat God ons in die verlede uitverkies het, maar ons steeds in die “toestand” of “status” van uitverkose mense verkeer. Die skrywer van Kolossense gaan selfs verder en sê dat alle dinge nie net in/deur en vir/tot hom geskep is nie, maar ook dat “in hom hou alle dinge in stand” (τὰ πάντα ἐν αὐτῷ συνέστηκεν). Agter laasgenoemde stelling lê ʼn geweldige pregnante antieke debat oor die kosmos, veral in die Griekse filosofie. Nog steeds gaan die skrywer verder met ʼn intensifisering van die argument deur die geweldige hoë Christologiese stelling te maak dat die volheid van God dit goed gevind het om in hom te woon (ὅτι ἐν αὐτῷ εὐδόκησεν πᾶν τὸ πλήρωμα κατοικῆσαι). Hier word die woord κατοικῆσαι gebruik wat “familie” is van die woord oikodomei in die sin dat beide die basis van oikos dra. Maar dan, kom die sterkste en mooiste na vore, as die skrywer van Kolossense deur middel van die hoti (ὅτι) [omdat) en καὶ die voorafgaande verbind met dit wat na die καὶ (en) volg, naamlik dat God deur hom (lw. Weer διʼ αὐτοῦ) alle dinge (τὰ πάντα ἐν τοῖς οὐρανοῖς καὶ ἐπὶ τῆς γῆς) met homself wil versoen (διʼ αὐτοῦ ἀποκαταλλάξαι τὰ πάντα), en in die proses vrede (εἰρηνοποιήσας) wil maak nie net met mense nie maar met die ganse skepping – dit wat in die hemel en dit wat op die aarde is. Meer kosmologies kan mens nie kry nie. Die woorde versoen en vrede veronderstel assosiatief dat gebroke relasie versoen word. As God se agente, as tekna tou Theou (kinders van God), is ons gestuurde agente wat God se restouratiewe visie moet uitleef. Die NT het van die begin af die gedagtegang gevolg dat mense se hande en voete die kanaal is waardeur God se restouratiewe genesingshandelinge vloei. Daarom is daar min twyfel dat ons minstens in Kolossense ʼn kosmologiese visie van restourasie, vrede en versoening het wat breër verstaan kan word as die kerk of net mense. In Kolossense kry ons die prentjie van ʼn God wat met die ganse skepping besig is en wat sy mense ook wil deel maak van sy besig wees.

4. 2. Myns insiens kan die visie van Johannes ingetrek word in die ekologiese debat omdat Johannes 1:1-18, soos Kolossense, Jesus direk verbind met die skeppingsaktiwiteit (kyk Joh 1:3-4). Jesus se genesingshandelinge in Johannes getuig almal van hoe Jesus gebrokenheid restoureer en gemarginaliseerdes herstel. Die visie van Johannes se Jesus is die van restourasie en die skep van lewe. Dit is die belangrike – dit is die “Sache” wat deur middel van Schillebeeckx se kritiese korrelasie die brug tussen die verlede en die hede kan bou en dialogies-kreatief sake soos die vernietigende ekologiese krisis deur middel van die heuristiese kategorieë ter sprake kan aanspreek. In Johannes se dualisme is lewe die teenoorgestelde van dood en vernietiging. As Agent van Lewe is Jesus die bemiddelaar en beliggaming van God se wesenlike leweskeppende aard. Die siekte van mense was die “gevallestudie” wat Johannes gebruik het om die “Sache” (Saak) aan te toon dat Jesus gebrokenheid restoureer. Dit gebeur ook in die “herstel” of “restourasie” van Petrus (ʼn teks wat dalk bygevoeg is, maar nie te min).

 

In Johannes se verhaal beland die lewe-skeppende Jesus uiteindelik self aan die kruis en “beliggaam” die gebrokenheid. Maar dan vind die opstanding plaas, en anders as in die Sinoptiese evangelies is Jesus die een wat sy eie lewe weer optel (Joh 10:17vv) – juis omdat Johannes se Jesus die bron van lewe is (vgl. Joh 1:4). Die verskyning aan die dissipels ondersteun verder die tese dat Jesus die bron van lewe is wat gebrokenheid restoureer. Die dissipels verkeer agter geslote deure in Johannes 20 in vrees (

 

5. Die eerste “Christene” as Jode

In die laaste paar jaar beklemtoon Nuwe Testamentiese wetenskaplikes die belangrikheid van die feit dat die term “Christen” anachronisties in terme van die eerste eeu was. Die term  

Met ander woorde, dit is duidelik dat die kosmologie en die eskatologie van die Joods-denkende Bybelskrywers verdiskonteer moet word indien ons by hulle wil kers opsteek oor kontemporêre ekologiese krisis omstandighede. In hulle denke was daar wat die Duitsers soos Michael Wolter ‘n “Begründungszusammenhang” noem – dit is ’n inter-relasionele verband tussen identiteit en etos wat alles ingebed was in ’n bepaalde Joodse manier van kyk na die wêreld. Mens moet dus eintlik die die hele pakkie vat, en indien mens dit nie doen nie dan is mens reduksionisties, etnosentristies en anakronisties met die teks besig. Die vraag is dus steeds die kritiese korrelasie vraag, en daarom dink ek dat Schillebeeckx se benadering die meeste kan help omdat hy erns maak met die kontemporêre wêreldbeeld en die antieke wêreldbeeld en die twee met mekaar in kritiese dialoog bring.

 

In die Joodse denke was die beskerming en die versorging van die aarde ’n belangrike saak (kyk maar net Gen 1:26-28; vgl. Met Openb 4:1-11). Die antieke mense was geweldig afhanklik van die land en selfs in die wette van die Jode word die Sabbatsjaar ingebou (Lev 25), ’n konsep wat ten doel het om die land te “genees”. In die Joodse simboliese universum  sien ons dus duidelik die spore van mense mense wat besef het dat die aarde nie geëksploiteer moet word, of gedomineer moet word nie, maar eerder versorg en gerestoureer moet word. Vir die Jode was die konsep van herstel en rus belangrik. Dit het aangesluit by ’n teologiese selfverstaan – “omdat God…. daarom doen ons so….”

 

In die Nuwe Testamentiese etiek onderskei ons tussen identiteit, etos (leefstyl) en etiek, op grond van die wyse waarop Aristoteles oor die etiek gepraat het. Die antieke mens as diadiese of groepsgeorienteerde individu, het sy/haar persoonlikheid altyd in terme van die groep en in lyn met die waardes van die groep gevorm. Van moderne individualisme was daar nie sprake nie. Die identiteit van die Jood was ’n kollektiewe verstaan van identiteit. In die Joodse kollektiewe verstaan van identiteit was God die skepper-God en mense het deur middel van  hulle konkrete leefstyl hulle identiteit uitgeleef. Hulle het ook geglo “wat jy doen sê wie jy is, en wie jy is sê wat jy doen”. Dus, ons kan aanneem, dat in die wesenlik Joodse Christus-volgers in die eerste eeu, het die Joodse gedagte van die omgee van die gemarginaliseerdes en die gee van tiendes steeds gefunksioneer, behalwe dat dit deur die lens van die Christusgebeure gereinterpreteer is. Net so sou die “aardse” teologie van versorging van mens en natuur (vgl. Gen 2:15) in hulle denke ’n rol gespeel het (vgl. Rom 8:19-23). Was hulle dus “ekologies sensitief”? Ja, natuurlik – in die ware sin van die woord. Daarom is dit redelik veilig om te argumenteer dat die NT skrywers soos hulle Joodse tydgenote ‘n “Bybels [OT]-ekologiese etiek” sou hê, en dat die mens die verantwoordelikheid het om dit “wholesome” te bestuur (vgl. Lev 25). Die vroeë Christene, soos ons sien uit al die aanhalings uit Jesaja, sou bewus gewees het van Jesaja se mooi visie van ’n toekoms waarin daar vrede tussen die mens die natuur sal wees (Jes 11:6-7; Kyk ook 65:6vv). Inherent in hierdie gerestourede “aardse” teologie is die belofte van God se geregtigheid en bevryding wat sal aanbreek – ’n tyd waarop die gevangenis bevry sal word, die armes verlos sal word. In die evangelies is dit Jesus wat hierdie visie laat realiseer – en die Jesus wat sy volgelinge oproep om dieselfde te doen. By Paulus sug die aarde steeds (Rom 8:19-23), maar word gelowiges opgeneem en ingetrek in die restouratiewe plan van God vir die ganse skepping (vgl. Pauliniese tradisie in Kol 1:15-20).

 

6. Verdere Bronne:

Prof. David Horrell is ‘n bekende Nuwe Testamentikus aan die Universiteit van Exegeter wie se werk mens gerus kan raadpleeg (kyk gerus http://humanities.exeter.ac.uk/theology/staff/horrell )

 

  • Horrell, D.G, Hunt, C. & Southgate, C., 2008, ‘Appeals to the Bible in Ecotheology and Environmental Ethics; A Typology of Hermeneutical Stances’, SCE 21, pp. 219-238.
  • Horrell, D.G., 2010, Ecology and the Bible, Equinox.
  • Horrell, D.G., 2011, ‘Ecological ethics’, in Green, J.B., Dictionary of Scripture and Ethics, pp. 255-260, Baker Academic, Grand Rapids.  

 

Skrywer: Prof Kobus Kok

 




Die teleologiese argument vir die bestaan van God (7)

Die teleologiese argument vir die bestaan van God (7) – Gerhard van Rooyen

 

Gevolgtrekking:

Die teleologiese argument vir die bestaan van God is beperk in die doeltreffendheid daarvan. Dit kan op die meeste ‘n aanduiding gee dat daar moontlik ‘n God bestaan, maar dit kan nie ‘n oortuigende bewys daarstel vir God se bestaan nie.

Dit hang uiteraard ook af of ‘n mens orde of ontwerp in die skepping sien al dan nie. Vir die gelowige blyk die getuienis van ontwerp in die wêreld bevestiging te wees dat geloof in God redelik is en dat dit nie onredelik is om te glo nie. Of ‘n mens egter die geloofsprong wil maak na ‘n Intelligente Ontwerper (en God ) is steeds ‘n geloofstap wat nie alle onpartydige waarnemers sal maak nie (Case-Winters 2003:214). In die verband het Anton van Niekerk die volgende gesê :”Die geloof in die God van die Bybel is egter geen wetenskaplike teorie nie en die belydenis dat God die skepper van hemel en aarde is, is geen wetenskaplike hipotese nie. Dit is eerder ‘n verwoording van ‘n geloofsinsig in die misterie wat die grondslag lê van ons werklikheid – ‘n geloofsinsig wat nie volledig uitpluisbaar is in ‘n sluitendende wetenskaplike sisteem nie” (Van Niekerk 2005: 192 ). McGrath is dus korrek in sy kritiek op Dawkins dat ‘n mens nie deur middel van die wetenskap (insluitende die teleologiese argument vir God se bestaan) die bestaan al dan nie, van God kan bewys nie .

 

BIBLIOGRAFIE

1. BROWN ,C. 1990 Christianity & Western thought Volume 1 Downers Grove Intervarsity Press

2. CASE-WINTERS, A. 2003 “Design” in VAN HUYSSTEEN, J.W.V. (Editor – in Cluef): Encyclopedia of Science and Religion: New York. MacMillan Reference

3. DARWIN, C.R. 1958 The autobiography of Charles Darwin 1809-1882 with the original omissions restored:Edited and with an appendix and notes by his grand-Daughter Nora Barlow London: Collins

4. DARWIN, F and SEWARD , A .C.(ed) 1903 More letters of Charles Darwin-A Record of his work in a series of hitherto unplubished letters.Vol 1. London : John Murray

5. DAWKINS, R. 1988 The Blind Watchmaker. London: Penguin Books.

6. DAWKINS, R. 2006 The God Delusion. London: Bantam press.

7. Du Toit, C.W. 2003 ” Interpreting nature naturalistically without dismissing God: critical look at alternative models” in Du Toit,C W (Editor): Design,information and complexity in creation .Pretoria: Unisa

8. GEISLER, N.L. 1974 Philosophy of Religion. Grand Rapids: Zondervan

9. GOULD, S.J. 1992 Impeaching a Self-Appointed Judge. Scientific American Vol 267 92-94

10. HIMMA, K.E. 2006 Design Arguments for the Existence of God: The internet encyclopaedia of Philosophy. www.iep.utm.edu/d/design/htm 09.06.2007

11. HUME,D 1947 Dialoges concerning natural religion,edited with an introduction by N K Smith ( 2nd ed). London : Thomas Nelson

12 KANT, I. 1929 Critique of pure reason (Translated by N.K.Smith.) London:Macmillan and Co.

13. MCGRATH, A 2005 Dawkins” God: Genes, Memes and the Meaning of Life. Oxford: Blackwell

14 MCGRATH, A. 2006 The order of things: Explorations in scientific theology. Oxford: Blackwell

15. MCGRATH, A with MCGRATH, J.C. 2007 The Dawkins Delusion? Atheist Fundamentalism and the denial of the divine. London: SPCK

16. PALEY,W 1805 Natural theology:Evidences of the existences and attributes of The Deity (9th ed) London : R.Faulder

17. PALMER, M. 2001 The Question of God – An introduction and sourcebook.  London and New York: Routledge

18. PLANTINGA, A. 2007 The Dawkins Confusion: Naturalism ad Absurdum. Books and Culture Vol 13 No 2 21-29 . www.christianitytoday.com/bc/2007/002/1.21html 17.10.2007)

19. POOLE, M . 2007 Users guide to science and belief. Oxford : Lion Hudson

20. VAN NIEKERK, A 2005 Geloof sonder sekerhede Wellington : Lux Verbi.BM