Chris Baker

He who despairs of the human condition is a coward, but ge who has hope for it is a fool – Albert Camus (Sjoe dit is darem bitter. Gelukkig is gelowiges, want hulle het hoop)

Chris Baker

Nog nooit van hom gehoor nie? Ek het pas van hom geleer. Hy was ‘n tatoeerkunstenaar. As volwassene kom hu tot bekering. Maar wat kan hy as tatoeerkunstenaar vir Jesus Christus doen?

Lede van bendes het dikwels tatoeëermerke om hulle lidmaatskap van ‘n spesifieke bende te bevestig. Dit maak dit baie moeilik vir hulle om sommer hulle lidmaatskap van ‘n bende te beëindig. Chris het aangebied om hierdie merke te bedek of te verander sodat dit onherkenbaar is.

 

‘n Ander groep wat dikwels getatoeëer is, is slagoffers van die handel in mense – veral vir seks. Hierdie mense het dikwels tatoeëermerke in hulle nek of op hulle rug – soms selfs ‘n stafiekode (barcode). Chris ontwerp mooi blomme om die merke te bedek. Die aaklige merke van ‘n seksslaaf word vervang met ‘n blom – die beeld van skoonheid en kleur. Dit is ‘n simbool van ‘n nuwe lewe – ‘n lewe vry van die verlede.

Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom (2 Korintiërs 5:17).

Hoe dikwels hoor ons nie die ou verskoning nie: “Ek kan niks vir Jesus Christus doen nie, want ek het nie nodige vaardighede wat Hy verlang nie. Sy standaarde is so hoog ek sal net ‘n gemors maak.” Chris is ‘n goeie voorbeeld: God kan almal gebruik.