Christene en polemiek

It costs a man just as much or even more to go to hell than to come to heaven (Soren Kierkegaard).

Christene en polemiek

[Polemiek = stryd tussen voor- en teenstanders van ‘n meestal aktuele saak – HAT.]

Is dit ‘n onchristelike aktiwiteit? Christene  het nog altyd geargumenteer – vir ‘n goeie rede. Baie van die groot geeste in die kerkgeskiedenis was polemici – dink aan Augustinus, Acquino, Luther, Calvyn en baie ander. Hulle was groot omdat hulle kon argumenteer.

 

Ons moet egter nadink oor ons basiese gesindheid en benadering tot polemiek Vra jouself voortdurend af: “Stem my woorde ooreen met Jesus se opdrag dat ek my vyand moet liefhê?” Hier is drie gesindhede wat my benadering tot elke bespreking moet kenmerk:

  • Humor. Daar moet ‘n mate van humor is ons besprekings wees. Dit beteken nie dat ons besprekings nie ernstig is as ons betekenisvolle sake hanteer nie. Dit sê net dat ons argumente nie deur vrees of trots gedryf word nie. Dit is nie ‘n teken van ‘n gebrek aan respek of neerbuigendheid nie. As jou hart deur God gevul is, kan jy met humor en genade praat, want wat ook al die uitkoms van die argument is, is jy veilig in die arms van God. So dikwels argumenteer Christene vanuit hulle onsekerhede wat beteken hulle is sonder humor en wil net vergeld. Niemand wil met so ‘n persoon argumenteer nie. aan die een kant respekteer jy die ander persoon en aan die ander kant is jy nie te ernstig oor jouself nie.
  • Passie gewortel in die waarheid van die evangelie en ‘n liefde vir mense. Lees Paulus se briewe. Hy is passievol vir die saak van die evangelie. Hy stel sy saak kragtig – hy wil die erns van die saak duidelik kommunikeer. Sy brief aan die Galasiërs is ‘n goeie voorbeeld. As die mense die passie in jou stem hoor, besef hulle die erns van die saak. Paulus se brief kommunikeer nie net die waarheid nie, maar ook ‘n dringendheid. Ons wil graag hê dat mense van ons hou. Passievolle betrokkenheid met ander mense oor die waarheid kan intimiderend wees. Ons is so bang ons gee aanstoot of kom liefdeloos oor. Ons mag nooit argumenteer net om te argumenteer nie. So dikwels word ons in onsinnige argumente vasgevang en dit oor dinge waaroor niemand opgewonde moet raak nie. apatie en die onwilligheid om ‘n moeilike gesprek met iemand te voer, is nie die pad van liefde nie. Die waarheid is iets waaroor ons met reg passievol kan wees.
  • Beginselvas. Ons moet eerlik wees; ons moet onaanvaarbare karikature van ander vermy. Ons moet dié wat van ons verskil respekteer Moenie altyd die slegste interpretasie van wat hulle sê, maak nie. Daar is geen rede vir ‘n gebrek aan integriteit in ons kommunikasie nie – selfs met diegene van wie ons ernstig verskil

 

Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie, en moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou sondige mens en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot volle kennis van God … Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing (Kolossense 3:8 – 10, 16).