Christene moet groei – Inleiding

Something more is needed than merely belonging to this Church, or that Church, to take a man to heaven –  J. C. Ryle

 

Christene moet groei – Inleiding

R. C. Sproul het ‘n kort boekie – Five Things every Christian needs to grow – geskryf. Hierin identifiseer hy vyf dinge waarin ‘n Christen moet groei. Ons gaan ‘n paar blogs hieraan spandeer.

 Om ‘n Christen te wees beteken om ‘n lewende verhouding met die God van die heelal te hê. Dit begin as ‘n mens ‘n nuwe skepping in Hom word en in geloof vir Jesus Christus as Here aanvaar. Maar, soos atlete, moet Christene ook oefen, opofferings maak en sekere dissiplines aanvaar. Ons toewyding aan hierdie dissiplines sal ons doeltreffendheid in ons diens aan ons Here bepaal.

 

Atlete sweet en offer vir jare op om die geleentheid te kry om aan die Olimpiese Spele deel te neem – en dalk ‘n medalje te wen. Hierdie is ‘n ondervinding wat net ‘n paar ervaar. God se mense sal nie die wêreld se toejuiging ontvang nie, maar eendag sal hulle hoor: Mooi so goeie en getroue slaaf.

Paulus het dikwels die beeld van ‘n atleet gebruik: Weet julle nie dat atlete wat aan ‘n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan so dat julle die prys kan wen. Almal wat aan ‘n wedstryd deelneem, ontsê hulleself allerlei dinge. Hulle doen dit om ‘n verganklike oorwinnaarskroon te verkry, maar ons ‘n onverganklike (1 Korintiërs 9:24 – 25).

Soos atlete moet Christene met toewyding aandag aan sekere dissiplines gee. Voorbeelde van hierdie dissiplines is Bybelstudie, gebed, aanbidding, diens en rentmeesterskap. Ons gaan in die volgende aantal blogs na hierdie dissiplines kyk. Ons gaan by Bybelstudie begin.

Geniet die wedloop.