Christus staan sentraal in God se sending

Augustinus.

Christus staan sentraal in God se sending

Die persoon en werk van Jesus Christus is noodsaaklik as ons die sending van God wil verstaan. Hoekom? Want Jesus is die sentrale figuur in die verlossingswerk van God. Sentraal in die evangelie staan nie ‘n idee nie, maar ‘n Persoon.

Sentraal in God se sending staan nie optrede deur mense nie, maar die werk wat God reeds deur sy Seun deur sy menswording gedoen het. Christus is die middelpunt van God se sending en ons is voordeeltrekkers van wie Hy is en wat Hy gedoen het. Kolossense 1:15 – 20 sal ons baie help om dit alles te verstaan.

  • Die menswording van Jesus
  • Jesus, gebore in Betlehem en grootgeword in Nasaret is die beeld van God wat self nie gesien kan word nie. Nog meer: God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon. Die feit dat die ewige God gekies het om in ‘n menslike liggaam te woon, gaan ons verstand te bowe. Maar vir die vervulling van God se sending was dit noodsaaklik. Die menswording is beide genadig en noodsaaklik. Deur God se aankoms in die wêreld in die vorm van ‘n mens aanvaar hy die offerwerk wat niemand anders kan doen nie – dit is genade.

  • Jesus Christus se unieke vermoë tot versoening
  • As gevolg van sy Goddelike wese, is Hy die grootste onder alle mense. In wese is Hy God en daarom kan Hy ons met God versoen. Maar: Hy is die Eerste, die een wat uit die dood opgestaan het. Hy alleen het die dood oorwin en dus kan Hy vrede bring vir diegene wat Hom vertrou.

  • Jesus Christus maak vrede deur die kruis
  • Die kruisiging en opstanding staan sentraal in God se sending – deur hierdie unieke gebeurtenis versoen God ons met Hom. Christus kan dit doen, want Hy is volkome mens en volkome God.

  • Jesus Christus is die Hoof van die kerk
  • Ons as gelowiges het die opdrag gekry om versoening te verkondig wat deur Iemand anders bewerk is. Hy het die werk voltooi en ons getuig van daardie werk. As lidmate van die kerk moet ons bemoedig wees dat Hy ons nie aan ons eie lot oorgelaat het nie. Jesus Christus bly betrokke by die versoeningswerk wat nog tussen God en individue aan die gang is. Hy voeg gelowiges saam in ‘n geloofsgemeenskap om verlossing te verkondig en om te dien sodat ander ‘n prentjie van sy genade in ons lewens kan sien.

    Die doel van die sending is bereik, want Jesus is ‘n unieke Verlosser wat in ons plek gesterf het. Hy bemagtig ook sy kerk.