Dag 4: Berugte vroue in Jesus se voorgeslagte

 

Dag 4: Berugte vroue in Jesus se voorgeslagte

Die Billy Graham Center for Evangelism het ‘n aantal leraars gekry om vir 25-dae stukkies te skryf vir Advent. Ons gaan oor die volgende 25 dae elke dag een van hierdie stukkies plaas.

[Advent word gewoonlik toegepas op die vier weke voor Kersfees. Latyn: ad – na + venire – kom. Dit dui dus op die naderende koms van Christus – sy eerste en tweede koms.]

 

In Matteus 1 Kry ons Jesus se geslagsregister. Tussen al die manlike voorsate is daar ook vyf vroue. Hoekom?

  • Tamar is deel van Jesus se bloedlyn deurdat sy haarself as ‘n prostituut vermom het en haar skoonpa, Juda, verlei het. Sy het swanger geword (Genesis 38).
  • Ragab was ‘n prostituut in Kanaän. Sy en haar familie was die enigste oorlewendes na Israel se aanval op Jerigo. Sy het die spioene van Israel gehelp om te ontsnap. Nadat sy in Israel geïntegreer is, trou sy met Salmon en word so deel van Dawid se voorgeslag.
  • Rut was ‘n Moabiet. Die Moabiete het hulle kinders aan hulle god Kemos geoffer. As gevolg van ‘n tragedie en haar lojaliteit eindig sy in Betlehem. Daar trou sy met Boas, die oupagrootjie van Dawid.
  • Batseba, die vrou van Urija. Dawid het haar verlei en haar man laat doodmaak. So word sy ook ‘n voorsaat van Jesus.
  • Maria word swanger voor haar huwelik met Josef. Oor hierdie skandaal sou die mense geskinder het. Sy moes seker allerhande beledigings verduur het.

 

Hierdie vroue het een ding in gemeen: oneer/skande. Maar hulle het almal ook iets anders ondervind: God se verlossende genade. Hierdie genade is vir elkeen van hulle deur die toekomstige werk van Jesus aan die kruis gekoop. Voordat Matteus die Kersverhaal begin wys hy eers vir ons vyf vroue om vir ons te wys waarom Jesus gekom het: om dié wat verlore is te soek; om sondaars te vergewe; om sy vyande te versoen; om vreemdelinge sy kinders te maak.

Die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van Dawid, die Seun van Abraham (Matteus 1:1).