Dank God omdat Hy God is

 

It is usually considered good practice to examine a thing for one’s self before echoing the vulgar ridicule of it. —J. Gresham Machen

 

Dank God omdat Hy God is

Ons het almal baie om voor dankbaar te wees, maar bedank ons ooit vir God omdat Hy God is: dat daar ‘n God is en dat Hy ons God is. Hier help die psalms ons baie. Psalm 103 dank God omdat Hy die Verlosser-Koning is. In Psalm 104 word Hy as die Skepper-Koning gedank. Kom ons kyk nader na Psalm 104:

  1. Dank God vir sy betrokkenheid by die wêreld (104:1 – 4)

God is so hoog, so verhewe, maar tog is Hy betrokke – so naby. Hy gebruik die fisiese wêreld om Homself te openbaar. Die lig is sy kleed en die hemel sy tent. Waar ons die wolke sien, daar is Hy. As ons die wind voel, daar is Hy.

 

  1. Dank God dat Hy die wêreld gemaak het (104:5 – 7)

Hier beskryf die psalmis God se sistematiese en pragtige organisasie van die skeppingsproses. Hy het eenvoudig die waters aangespreek en hulle neem hulle plek in.

 

  1. Dank God vir sy heerskappy oor die wêreld (104:8 – 10)

Die heidense kultuur van destyds het die wêreld as swak en kwesbaar gesien – dit is voortdurend deur onvoorspelbare en onbeheerbare natuurkragte bedreig. Dis nie waar nie. God bepaal waar elke ding moet kom; Hy stel die grense vas – selfs van die magtige see; Hy maak seker dat alles op hulle plek bly.

 

  1. Dank God vir sy voorsiening in die wêreld (104:11 – 15)

God gee oorvloedige reën – die aarde word versadig. Die psalms dank God vir die manier waarop Hy dit stuur, dit kanaliseer en verseker dat dit by die diere, voëls en mense kom. Hy voorsien ook vir die oeste en bome. God gee nie net wat ons nodig het nie, maar ook vir ons plesier: Wyn om mense se harte bly te maak, olie om die gesig te versorg, kos om die mens nuwe krag te gee.

 

  1. Dank God vir sy beskerming van die wêreld (104:16 – 18)

Hy gee skuiling aan die grootste tot die kleinste skepsels. Hy gee skuiling in bome (voëls), berge (klipbokke), rotse (dassies), ens.

 

  1. Dank God dat Hy die wêreld reguleer (104:19 – 23)

God reguleer die seisoene, dag en nag en selfs die dier-mens siklus – as dit donker word, roer al die diere in die bos; as die son opkom gaan die mens na sy werk toe.

 

  1. Dank God vir die wye verskeidenheid van die wêreld (104:24 – 26).

U het baie dinge geskep, Here, die aarde is vol van wat U gemaak het. Kyk na God se diversiteit en bestudeer sy kreatiwiteit. Doen ons dit kan ons nie anders as om Hom te dank nie. Ons moet elke dingetjie wat God geskep het, gebruik om God te dank.

 

  1. Dank God vir sy goedheid aan die wêreld (104:27 – 28)

Hulle is almal van U afhanklik, U gee hulle kos op hulle tyd. Hy gee so baie dat Martin Luther by geleentheid gesê het dat God ‘n baie groot kombuis moet hê.

 

  1. Dank God vir die vernuwing van die wêreld (104:29 – 30)

Maar as U U terugtrek is dit klaar met hulle, as U hulle asem wegneem, is hulle dood. Maar ook dit is onder God se beheer. Hy neem lewe, maar Hy gee ook lewe. Voortplanting is nie net ‘n natuurlike proses nie – God se Gees is betrokke by die vernuwing van die skepping.

 

  1. Dank God vir sy toekomstige verlossing van die wêreld (104:31 – 35)

God kan ‘n aardbewing of vuurspuwende berg laat begin deur net na die aarde te kyk. Daarom pleit die psalmis: Mag hierdie bepeinsings van my vir Hom aanneemlik wees … Mag die sondaars van die aarde af verdwyn, mag die goddeloses ophou om te bestaan. Hy kyk vooruit na God se nuwe skepping – die nuwe hemel en die nuwe aarde.

 

Is dit nie tyd dat ons God dank omdat Hy God is nie? Kyk na wat Hy in die skepping doen en verander dan elke nuwe insig in ‘n loflied. Mag die werk van die Here Hom vreugde verskaf; ons word uitgenooi om deel te word van sy vreugdelied.