Dawid en Goliat (1 Samuel 17)

Ignorance of God and ourselves is the great principle and cause of all our disquietude; and this arises mostly not from want of light and instruction, but for want of consideration and application. — John Owen

Dawid en Goliat (1 Samuel 17)

Ons hou almal van stories waar die sogenaamde “underdog” teen alle verwagting groot hindernisse oorkom en wen. Een van die bekendstes van hierdie stories is dié van Dawid – die jong skaapwagter uit Israel – en Goliat – die reuse Filistyn uit Gat.

Israel en die Filistyne stry oor ‘n stuk land. Die Filistyne geniet die tegnologiese voordeel: Daar was geen smid in die hele Israel nie, want die Filistyne het gesê die Hebreërs sal swaarde of spiese maak (13:19). Die israeliete moes selfs na die Filistyne gegaan het as hulle hulle landbouimplemente wou laat slyp het.

 

Wat weet ons van Goliat? Hy was ‘n baasvergter (17:4). Hy was ‘n man van “die plek tussen-in.” As ‘n man in die plek tussen twee leërs staande bly aan die einde van die geveg, is hy ‘n baasvegter – ‘n kampioen. Goliat was doeltreffend in baie sulke situasies. Goliat se grootte moes tot hierdie sukses bygedra het. Hy was egter ook goed bewapen en beskut. So ‘n lang beskrywing van ‘n vegter se mondering – sy helm, sy harnas en  die bronsskerms voor sy bene – is ongewoon in die Hebreeuse Bybel. Ons kry dit egter in die Griekse literatuur.

Goliat kom uit Gat. Volgens Josua 11:22 was Gat die plek van die Enakiete – ‘n antieke ras van reuse wat vrees by mense ingeboesem het. Goliat is inderdaad ‘n formidabele teenstander. Asof hierdie beskrywing van sy wapenrusting en voorgeslagte nie genoeg is nie, word hy ook as ‘n intimiderende spreker voorgestel, Hy beledig die leër van Israel en vir Dawid – selfs voor die geveg nog begin. Luister net wat sê hy vir Dawid: Kom ‘n bietjie hier dat ek jou vleis vir die roofvoëls en vir die wilde diere kan gee (17:44).

Goliat daag die Israeliete uit om ‘n vegter te identifiseer om teen hom te veg. Die volk wat verloor word dan slawe van die ander volk. Nou nie juis ‘n maklike taak vir ‘n vegter met baie ondervinding nie. Daarom moes Dawid eers vir Saul oortuig dat hy vir die taak opgewasse is. Hy vertel vir Saul van sy ondervindings met leeus en bere terwyl hy sy pa se skape opgepas het. Dawid se woorde is indrukwekkend en Saul gee toestemming dat hy teen Goliat kan veg. Nog meer indrukwekkend is Dawid se woorde aan Goliat: Ek kom na jou toe in die Naam van die Here … Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan verslaan en jou kop van jou lyf afkap (17:45 – 47). Dawid weier om Saul se uitrusting aan te trek. Hy neem egter sy slingervel, vyf gladde klippies en sy kierie. Geen wonder Goliat is ontsteld nie: Is ek ‘n hond dat jy met kieries na my toe kom? (17:43). Goliat sien nie die klip wat sy voorkop indring nie en hy het vooroor geval op die grond.

Soos Dawid beloof het, kap hy Goliat se kop af met die reus se eie swaard. Dawid vat die kop van die Filistyn en bring dit na Jerusalem. Dit is interessant want Jerusalem was nie deel van Israel se grondgebied nie. Eers in 2 Samuel 5 neem Dawid Jerusalem in en word dit deel van Israel.

Hierdie is ‘n oorbekende storie, maar daar is tog ‘n paar feite waarvan ons moet kennis neem:

  • Die Filistyn het veertig dae lank … regoor die Israeliete gaan staan (17:16). Noag het na veertig dae die venster van die ark oopgemaak (Genesis 8:6); Moses was 40 dae op Sinai-berg (Eksodus 24:18). Dawid is in goeie Bybelse geselsskap as Hy Goliat konfronteer.
  • Hy het Dawid in die naam van die Filistynse gode vervloek (17:43). Een van hierdie gode was waarskynlik Dagon. Goliat en Dagon het iets in gemeen (1 Samuel 5:4). Dagon verloor sy kop voor die verbondsark en Goliat verloor sy kop in die konfrontasie met Dawid.
  • Hoekom sou Dawid nou juis vyf klippies opgetel het. Is dit een vir elke boek van die tora (Genesis tot Deuteronomium)? Is dit omdat sekere mense beweer dat Goliat vier broers gehad het? Of was hy maar net versigtig dat as hy die teiken mis hy nog klippies oor het?
  • In 2 Samuel 21:19 – 22 lees ons: In ‘n ander geveg teen die Filistyne in Gob het Elganan seun van Jaäre-Oregim van Betlehem vir Goliat die Gatiet doodgemaak. Het ons hier met ‘n teenstrydigheid te doen?
  • In 1 Samuel 21:9 duik die swaard van Goliat weer op. Dawid is besig om vir Saul te vlug en kom in Nob aan. Daar was die swaard van Goliat intussen gebêre. Dawid neem die swaard vir hom, want hy het geen wapens gehad nie. Dawid vlug verder en kom in Gat – Goliat se geboortedorp – met Goliat swaard aan.