Deuteronomium 11 – Herrie van Rooy

Jan vra:

In Deut 11 hou die Here die seen en die vloek aan Israel voor. Seën as hulle luister na die gebooie van die Here en vloek as hulle nie luister na die gebooie van die Here nie en afwyk om agter ander gode aan te te loop wat hulle nie geken het nie.

En dan as hulle in die beloofde land ingaan moet hulle die seën op die berg Gerisim lê en die vloek op die berg Ebal.

Wat sou die berge met hulle besetting van die beloofde land te doen gehad het en hoe is die aksie van die seën en vloek uitgevoer, asseblief?

 

Antwoord

Prof Herrie van Rooy antwoord:

Die saak wat in Deut 11 aangeraak word, van die vloek en die seen op die twee berge, word verder uitgewerk in Deut 27. Dit gaan oor ‘n seremonie van verbondshernuwing in die beloofde land. Die twee berge was wes van die Jordaan, in die gebied wat ingeneem sou word. Deuteronomium self speel af oos van die Jordaan en is as geheel ‘n hernuwing van die verbond. Dit moes egter in ‘n seremonie wes van die Jordaan bevestig word. Die twee berge was naby Sigem, bekend uit die dae van die aartsvaders as ‘n plek van aanbidding. Die volk is in twee groepe verdeel en op die twee berge geplaas. Daar moes hulle dan luister na die seeninge en vloeke wat die leviete sou uitspreek en dit dan met ‘amen’ bevestig. Volgens Deut 27 is net die vervloekinge uitgespreek en moes die volk dit dan bevestig. Die verdeling van die volk in twee groepe, volgens die stamme, maak dit duidelik dat die volk moes kies tussen twee moontlikhede, gehoorsaamheid aan God of ongehoorsaamheid. Die volk moes besef dat ongehoorsaamheid oordeel sou bring.

Skrywer: Prof Herrie van Rooy