Die 144 000 uitverkorenes – Francois Malan

Michele
vra:

Wie is die 144000 wat in die Bybel
genoem word?

Antwoord

Prof
Francois Malan antwoord:

In Openbaring
7:1-8 word die 144 000 genoem in verband met die verseëling van die gelowiges.
In die taal van Openbaring dra elke mens ‘n teken: óf die seël van God, óf die
merk van die dier (13:16). Die merke is nie letterlike tatoeëermerke nie, maar
simbole wat gesien kan word in die mense se lewenswyses, hulle norme, waardes
en geloof. Die merke op die voorkop wys wat in die mense se koppe aangaan (vgl.
Eseg. 9:4-6).

Die afdruk van
‘n seëlring in klei of was, het eienaarskap aangedui (dokumente is met die
seëlring van bv. die koning gewaarmerk, vgl. 1 Kon 21:8; Ester 3:10,12; 8:8.
Slawe is gemerk met die merktekens van hulle eienaars. Dié mense, wat met die
seël van God verseël is, word beskerm teen die vernietiging van die plae (9:4),
soos die Israeliete se bloed aan die kosyne hulle teen die tiende plaag ,
die  dood van die eersgeborenes, beskerm
het (Eks 12:12-13). Die bloed van die Lam (Openb 7:14) gee aan die gelowiges
hulle identiteit as God se eiendom, sy slawe, en dra die merkteken dat hulle
navolgers van die Lam is.

Vanuit die aardse perspektief  hoor Johannes die getal 144 000 wat
met die seël gemerk is om hulle te beskerm teen die plae op die aarde tydens
die vervolging. Vanuit die hemelse perspektief sien hy ‘n ontelbare
skare voor die troon en die Lam. Die ontelbare skare wat Johannes sien (Openb
7:9), verklaar die getal wat hy gehoor het (7:4-8). Die 144 000 verteenwoordig
al die gelowiges
, almal wat aan God behoort, van die tyd voor en na
Christus se eerste koms na die aarde.

Die simboliese getal 144 000 word saamgestel uit
12x12x10x10x10. Dit verteenwoordig die gelowiges uit die 12 stamme van Israel
(vgl. die 12 stamname van die 12 poorte van die nuwe Jerusalem, Openb  21:12) en die gelowiges in die die kerk,
verteenwoordig deur die 12 apostels van die Lam, wie se name op die fondamente
van die stadsmuur staan (Openb 21:14). Die stamname van Israel en apostelname
verteenwoordig saam al die gelowiges van die Ou Testament se tyd en al die
gelowiges van ná Christus se koms in die nuwe Jerusalem. Die getal 10 wys na
die afgerondheid van die volle getal gelowiges. Drie maal die afgeronde getal
10 wys na God die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Die simboliek van
10x10x10 x12x12= 1 000×144= 144 000 verteenwoordig God se volle getal
volgelinge van die begin van die skepping tot by die herskepping met Jesus se
wederkoms. In Openb 7:1-8 hoor Johannes van die 144 000 as God se weermag op
aarde wat oorwin oor die sonde. Hulle is die getuies van God se verlossing deur
die Lam en van sy liefde om mense tot bekering te roep. In Openb 7:9-17 sien
Johannes dieselfde volle getal van God se oorwinnaars wat in die hemel triomfeer
(vgl. Luk 15:7,10). God vrywaar nie sy eiendom teen die vervolging en geweld op
aarde nie, maar rus hulle met sy Gees toe om as oorwinnaars te volhard op grond
van die Lam se offer en opstanding.

Johannes hoor van ‘n sensusopname, God se ‘roll call,’ van 12 000 uit elke stam van Israel, wat ingesluit word met die woord  ‘verseëldes’ aan die begin van die lys by die Judastam en aan die einde by die Benjaminstam. Die welluidende herhaling van ‘verseëldes’ beklemtoon dat niemand van God se volk makeer nie. Die twaalf name verteenwoordig God se volle getal volgelinge op aarde met die simboliese merk op hulle voorkoppe, wat na hulle denke en geloof in hulle Eienaar, God, wys. Die nuwe Israel sluit alle gelowiges van die Ou- en Nuwe Testamentiese tyd in onder die name van die stamvaders, soos uit Openb 7:9 gesien word.

Skrywer: Prof Francois Malan