Die aard van geloof

 

For Jesus, Scripture is powerful, decisive, and authoritative because it is nothing less than the voice of God. —Kevin DeYoung

 

Die aard van geloof

Die genesing van die offisier se slaaf in Lukas 7 maak sekere dinge aangaande geloof vir ons duidelik:

  • Soos die gelowiges wat hierdie evangelie lees, het die offisier Jesus vertrou sonder dat hy Hom ooit ontmoet het. Hy het van Jesus gehoor. Hy glo dit wat hy gehoor het en tree op in geloof.
  • Die offisier bewys sy liefde vir ander – hy is bereid om homself te verneder sodat sy slaaf genees kan word. Hy besef die eer van die wêreld – hy is immers ‘n offisier in die magtige Romeinse weermag – is waardeloos. Daarom sy nederig versoek aan Jesus. Nederigheid was nie ’n deug onder die Romeinde en Grieke nie. In die konteks van die Bybel beteken nederigheid dat ek myself sien as ’n skepsel van God. Toe die offisier van die begeerte om belangrik te wees, afsien, maak dit die pad vir hom oop om God se genade te ontvang.
  • Die offisier glo egter nie dat hy so onwaardig is dat hy nie vir Jesus kan nader om sy slaaf te genees nie.
  • Die offisier verstaan Jesus se gesag en verhouding tot God. Hy besef dat tyd en ruimte geen verskil aan wat Jesus sê, mag maak nie – Hy kan die slaaf met ‘n woord gesond maak.
  • As offisier was hy daaraan gewoond om in bevel te wees, maar hy ontvang genade toe hy nie langer in beheer wil wees nie.
  • Die genesing van die slaaf wys dat God nie bevooroordeeld is nie: God trek immers niemand voor nie (Romeine 2:11). Dit wys vir ons dat ’n heiden groter geloof as God se kinders kan hê. Johannes die Doper verkondig: En al die mense sal die verlossing sien wat van God kom (Lukas 3:6). Hierdie belofte word nou waar.

By ‘n Romeinse offisier leer ons ‘n paar kernwaarhede oor geloof.