Die aarde brand

Die aarde brand – Francois Malan

Jan Smith vra: 

Psalm 37 verse 9, 11 en 29 sê dié wat die Here verwag, die ootmoediges, die regverdiges sal die aarde besit. Jesus sê in Matteus 5 :2 aan die wat arm is, behoort die koninkryk van die hemele en die sagmoediges sal die aarde beërwe. Petrus sê: 2 Petrus 3;7 en 10: Die teenswoordige hemele en aarde word weggelê om deur vuur verbrand te word en die hemele sal met ‘n gedruis verbygaan en die elemente sal brand en vergaan en die aarde met al die werke daarop. Vraag: Hoe moet mens dit vertolk asseblief?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Psalm 37 bemoedig die gelowiges wat deur die goddeloses (skelms en skurke v1) verdruk en bedreig word (v11,12,14), en sien hoe goed dit gaan met die goddeloses, terwyl die gelowiges swaar kry. Die voorspoed van die goddeloses is tydelik (v2,9,10,35,38). Dit is die Here wat besluit oor die lewe van die mens (23), en op die lang duur sorg die Here vir die gelowiges wat geduldig op Hom wag, en wat daagliks voortgaan met hulle werk in getrouheid aan die Here en sy woord (v3-7,23,24). Moenie kwaad word nie (v8), kry jammer en help (21), wees vrygewig (26), doen wat goed is (27), praat met wysheid (30). Hy sorg vir die gelowige wat op Hom vertrou en sy vreugde in die Here vind (3,4,7). Hy sal jou onskuld laat duidelik word (6) en jou in besit van die land laat bly (9,11,18,29,34) selfs in tye van gebrek sal hulle genoeg hê, want die Here sorg vir hulle (19,22); as jy val sal jy nie bly lê nie, want die Here help jou op om weer die land te besit (24,34);  jy sal altyd behoue bly (28) en ‘n toekoms hê (37). Die Here red en help en bevry die regverdiges (39,40) – daarom moet ons op Hom wag en in vertroue voortgaan op die regte pad, selfs as dit met ons sleg gaan.

Toe Jesus na hierdie psalm verwys het Hy gesê: geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel (Mat 5:10). Hierdie koninkryk het begin met sy koms na die wêreld en gaan voort tot in ewigheid, met God as die koning wat oor ons lewe regeer en vir ons sorg as ons Vader, ook vir ons daaglikse brood (Matt 6:9-13. Vgl. Ps 37:19).

Matteus 5:3 praat van ‘die armes van gees’, soos in Psalm 34:19 se ‘gebrokenes’ (letterlik: gebroke gemoedsgesteldheid) wat in die 1983-vertaling verduidelik is as ‘dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is’ – aan hulle behoort die koninkryk van die hemel; dit wil sê hulle lewe reeds onder die koningskap van God as hulle Vader, en Jesus as hulle Verlosser, met die Heilige Gees wat hulle daagliks lei en versterk om soos kinders van God te lewe en die verkeerde te los – dit is hulle ingesteldheid.

Matteus 5:5 is in die 1983-vertaling verduidelik as: geseënd is die sagmoediges (juis die mense van Ps 37:9,11, wat hulle vertroue op die Here stel), want hulle sal die nuwe aarde ontvang.’ Die eerste belofte van die land as erfenis is reeds aan Abraham gegee (Genesis 13:17; 15:18; 17:8. Hebreërs 11:9-10 verduidelik dat Abraham nooit die land in besit geneem het nie, want hy het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is). In Jesaja 65:17; 66:22 is reeds gewys na ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde, en Openbaring 21:1 praat van die nuwe aarde waar die Here by ons kom woon. Hierby sluit 2 Petrus 3:7,10 aan, wat verwys na die ou hemel en aarde wat verbygaan, om vervang te word met die nuwe nuwe hemel en nuwe aarde, waar daar nie meer dood sal wees van plante, diere, of mense nie. Daarvan sê Romeine 8:18-25 dat die hele skepping en die mens uitsien na die dag waarop ons van die verganklikheid bevry sal word, om vir ewige by God te lewe.

 

Skrywer: Prof Francois Malan