Die Apostoliese Geloofsbelydenis (10)

Die Apostoliese Geloofsbelydenis (10)

Ons gaan hierdie jaar begin deur meer in diepte na die Apostoliese Geloofsbelydenis te kyk. Ek gaan onder andere van Derek Vreeland se Primal Credo (2011) gebruik maak.

Die kerk: Ek glo aan ‘n heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges.

 

Ons gemeenskappe staan vol kerkgeboue. Om saam met mede-volgelinge van Jesus in ‘n spesiale plek bymekaar te kom, is belangrik vir ons geestelike groei. Dit is ‘n sigbare herinnering dat daar meer aan die lewe is as besigheid, inkopies, vermaak, ens. Ongelukkig kan die gebou ons fokus van wat die ware kerk moet wees, wegtrek. Die kerk is mense.

Dit skep vir ons ‘n probleem. Baie mense sien die kerk as die plek waar jy vriende ontmoet en so ‘n ietsie van God leer. Hierdie is ‘n selfsugtige motivering – ons wil ons begeertes gedryf deur ons verbruikersmentaliteit bevredig. Wat nodig is, is dat ons ons priesterlike identiteit aanvaar en God deur die plaaslike gemeenskap dien.

God het die kerk tot stand gebring om vir die wêreld te wys hoe ons moet leef – verhoudings, die huwelik, die gesin, geregtigheid ens. Ongelukkig word die kerk so dikwels deur interne struwelinge gekenmerk. Dit vereis nederigheid en selfopoffering. Sien die samelewing reg en geregtigheid in die kerk?

Die kerk is ook ‘n algemene kerk. Dit beteken ons glo aan ‘n groter kerk as net ons eie plaaslike gemeente. Dit bestaan uit mense dwarsoor die wêreld wat in Jesus glo, die Skrif liefhet en die belydenis aanvaar. Maar wat van al die verskillende denominasies? Die belydenisse is die basis waarop ons die eenheid in die kerk behou. Ons kan verskil oor kerkleierskap of die vorm van openbare aanbidding, ens. Ons mag egter nooit toelaat dat hierdie nie-noodsaaklike elemente die belangrikste elemente in die lewe van die kerk word nie.