Die Apostoliese Geloofsbelydenis (5)

image_pdfimage_print

Kindness makes a person attractive. If you would win the world, melt it, do not hammer it. —Alexander MacLaren

 

Die Apostoliese Geloofsbelydenis (5)

Ons gaan hierdie jaar begin deur meer in diepte na die Apostoliese Geloofsbelydenis te kyk. Ek gaan onder andere van Derek Vreeland se Primal Credo (2011) gebruik maak.

 

Geboorte: En in Jesus Christus … wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria

 

Jesus se geboorteverhaal in Betlehem gryp steeds die verbeelding van mense aan, want dit was ‘n ongewone verhaal. Hy is ontvang van die Heilige Gees. In Matteus 1 lees ons dat ’n engel van die Here vir Josef sê: Moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees. Josef is nie Jesus se biologiese vader nie. God is die Vader van die Seun deur die Heilige Gees. Hierdie drie vorm ‘n eenheid al is hulle drie persone.

 

Die belydenis verwys na die maagd Maria. Maria verdien die eer dat sy die persoon is wat deur God die Vader gekies het om deur die krag van die Heilige Gees aan Jesus geboorte te gee. Deur haar gehoorsaamheid het die Seun hierdie gebroke wêreld betree. Luister net na Maria se woorde toe die engel vir haar vertel het dat sy swanger sal word en die seun Jesus in die wêreld sal bring: Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het (Lukas 1:38).

 

Die maagdelike bevrugting van Maria bly een van die groot geheimenisse van die verhaal van Jesus Christus. Luister na Augustinus se preek tydens Kersfees:

Hy lê in ‘n krip en tog rus die wêreld in sy hande. As baba was Hy sprakeloos, en tog was Hy die Woord self. Hom wat die hemele nie kon vashou nie, lê rustig in die skoot van ‘n enkele vrou. Sy dra Hom wat haar oor die heelal dra, op haar heup.

 

Hoe kan die almagtige God ‘n klein babatjie wees? Maria, ‘n mens van vlees en bloed, gee geboorte aan Jesus, ‘n ware menslike wese. Hy het nie ‘n bonatuurlike, geestelike liggaam gehad nie; Hy lyk soos enige ander baba. Wat dit wonderlik maak, is dat Hy ‘n mens geword het terwyl Hy God gebly het. Hy is nie ‘n halwe mens en ‘n halwe God nie – Hy is volledig mens en volledig God.

 

As dit so is, moet ons nie dit wat Hy sê ernstig opneem nie? As dit so is, is Hy is tog die middelpunt van ons geloof – die middelpunt van ons hele bestaan. Jesus lyk soos ons – Hy het ‘n menslike gesig, hande en voete; Hy het menslike emosies. Al verskil is dat Hy nooit gesondig het nie. Hy is, soos ons versoek, maar anders as ons het Hy nooit aan versoeking toegegee nie. Jesus se menslike geboorte bring God naby aan ons – Hy kan die mensdom red.

 

Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid (Johannes 1:14).

 

image_pdfimage_print