Die Apostoliese Geloofsbelydenis (5)

Die Apostoliese Geloofsbelydenis (5)

Ons gaan hierdie jaar begin deur meer in diepte na die Apostoliese Geloofsbelydenis te kyk. Ek gaan onder andere van Derek Vreeland se Primal Credo (2011) gebruik maak.

Geboorte: En in Jesus Christus … wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria

 

Jesus se geboorteverhaal in Betlehem gryp steeds die verbeelding van mense aan, want dit was ‘n ongewone verhaal. Hy is ontvang van die Heilige Gees. In Matteus 1 lees ons dat ’n engel van die Here vir Josef sê: Moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees. Josef is nie Jesus se biologiese vader nie. God is die Vader van die Seun deur die Heilige Gees. Hierdie drie vorm ‘n eenheid al is hulle drie persone.

Die belydenis verwys na die maagd Maria. Maria verdien die eer dat sy die persoon is wat deur God die Vader gekies het om deur die krag van die Heilige Gees aan Jesus geboorte te gee. Deur haar gehoorsaamheid het die Seun hierdie gebroke wêreld betree. Luister net na Maria se woorde toe die engel vir haar vertel het dat sy swanger sal word en die seun Jesus in die wêreld sal bring: Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het (Lukas 1:38).

Die maagdelike bevrugting van Maria bly een van die groot geheimenisse van die verhaal van Jesus Christus. Luister na Augustinus se preek tydens Kersfees:

Hy lê in ‘n krip en tog rus die wêreld in sy hande. As baba was Hy sprakeloos, en tog was Hy die Woord self. Hom wat die hemele nie kon vashou nie, lê rustig in die skoot van ‘n enkele vrou. Sy dra Hom wat haar oor die heelal dra, op haar heup.

(Johannes 1:14).