Die Apostoliese Geloofsbelydenis (6)

Die Apostoliese Geloofsbelydenis (6)

Ons gaan hierdie jaar begin deur meer in diepte na die Apostoliese Geloofsbelydenis te kyk. Ek gaan onder andere van Derek Vreeland se Primal Credo (2011) gebruik maak.

Dood: Ek glo in Jesus Christus … wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het

 

Kruisiging is dikwels gebruik as straf vir gewelddadige misdade en opstoking van opstande. Die kruis was ‘n simbool van geweld, vernedering en dood. Maar dit geld nie in Jesus se geval nie – Hy was onskuldig. Nou word die kruis die simbool van geloof, hoop en liefde. Die kruis word die simbool van die Christelike geloof. Die kruis openbaar God se liefde vir ons op ‘n onvergeetlike wyse. Aan die kruis sien ons Jesus as die Verlosser van die wêreld.

Ons sal nooit Jesus se kruisdood volkome verstaan nie, maar een ding weet ons: Hy self het ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees (1 Petrus 2:24). So oorwin Hy die sonde en die dood. Jesus het self gesê: Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê (Johannes 15:13).

Hy het ter helle neergedaal. Hierdie woorde is die bron van baie argumente. By sy geboorte daal Jesus uit die hemel na die aarde neer. Nou daal Hy van die aarde na die plek van die dooies.

Wat ‘n vertroosting dat ons God weet wat die dood is. Hy kan Hom nie alleen met ons stryd teen die dood vereenselwig nie – Hy het die dood vir ons oorwin. Die dood is so koud, so finaal, maar vir Jesus was dit nie die einde nie.

Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal!

Dood, waar is jou oorwinning?

Dood, waar is jou angel?

(1 Korintiërs 15:54 – 55).