Die begin van kersfees – die fees van die Lig

Die begin van kersfees – die fees van die Lig (Shireen van der Watt)

 

In die westelike deel van die Christendom het die heidense voorgeskiedenis veroorsaak dat Kersfees vandag nog in die middel van die winter gevier word. In 313 nC word die Christendom ‘n wettige godsdiens in die Romeinse Ryk toe Keiser Konstantyn ‘n Christen word. Later in die vierde eeu word dit ook tot staatsgodsdiens verklaar. So vervang die God van die Christendom die Romeinse gode en godsdiens. Die ou bygelowe in die ander gode is egter nie met een veeg uit die lewens en gedagtes van die mense gevee nie. Dit het Christelike sendelinge eeue geneem om die heidense godsdiens en heidense gebruike in Europa uit die gedagtes van die mense te kry. Kersfees was een manier om dit te doen en dit is sommer vinnig gedoen.

 

Pre-Christelike Europeërs het elke jaar op die langste nag van die winter tydens die wintersonkeerpunt feeste gevier ter ere van die songod. Van nou af word die dae langer en son begin die donker verdryf. Dit moet gevier word, want nou is die lente, lewe en son oppad. Al was die Christendom die staatsgodsdiens, het die gewone mense die fees aan die einde van Desember bly vier. Dit was natuurlik ’n probleem, want die Christene wou nie ’n fees vier wat vir ’n heidense god bedoel is nie. Die leiers van destyds het toe die plan bedink om die fees ’n ander betekenis te gee. Waarom nie fees vier ter wille van die ware ‘Lig van die wêreld’ nie? So het die inhoud van die fees verander na die fees wat Jesus vereer. Sy geboorte en nie die terugkoms van die songod nie het toe die inhoud van die fees geword. Van toe af was dit nie meer ’n heidense fees nie, maar ’n Christusfees. Jesus se koms wat die Lig vir die wêreld bring word tot vandag toe gevier. So word Jesus se oorwinning oor alle afgode ook gevier. Die oorwinning beteken dat heidense gebruike met Christelike gebruike vervang is – 25 Desember (ongeveer 325 nC) staan dus in die geskiedenis vas as die dag van die oorwinning van Jesus oor die heidense gode van daardie tyd.

 

Niemand weet presies wanneer Jesus gebore is nie, want in Jesus se tyd is daar nie verjaardae gevier soos vandag nie en hulle het ook nie detail kalenders gehad soos vandag nie. Kersfees is dus vir die Christene ’n simboliese dag, ’n dag waar daar aan Jesus en sy oorwinning gedink word. Dit maak nie saak dat dit nie die presiese dag van Jesus se geboorte is nie, want dit is nie die dag nie, maar die betekenis van die dag en die betekenis van Jesus wat gevier word. Dit maak kersfees een van die wonderlikste dae van die jaar, juis omdat dit maak dat mens kan nadink… oor die Lig in jou lewe.